29 Maart 2026

Nader aan God 02 – Nader aan God deur genade

 


Lees: 

Luk. 22:31-34; Luk. 22:54-62; Joh. 21:15-19

Inleiding

Waar staan jy in jou verhouding met God? Ons lewens raak soms so besig en gejaagd dat ons nie eers agterkom dat ons besig is om weg te dryf van God af nie.

Daarom is dit nodig dat ons net weer so bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg, want op die uiteinde is ons grootste doel in die lewe om in ’n verhouding met God saam te leef en ons dag tot bestaanstryd maak so maklik dat ons dit uit die oog verloor.

Om nader aan God te kom, begin by die erkenning van hoe ver ons eintlik weg gedryf het. In die verhaal van Petrus en die dramatiese gebeure waarin hy betrokke was kort voor Jesus gekruisig is, leer ons om net weer opnuut na onsself te kyk om ons prioriteite in die lewe weer raak te sien.

Hierin sien ons ook dat ons nie deur ons eie krag en inspanning nader aan God kan beweeg nie. Inteendeel, dit is juis dit wat ons so dikwels verder van God af laat beweeg. Ons het nodig om raak te sien dat ons net deur God se genade nader aan Hom kan beweeg.

Hierdie verhaal van Petrus kort voor Jesus se kruisiging wys vir ons hoe om nader aan God deur sy genade te beweeg.

Jesus is hier in gesprek met sy dissipels tydens die laaste Paasmaal wat Hy saam met hulle gevier het kort voor Hy gekruisig is. Hy is besig om hulle voor te berei vir dit wat gaan kom. Alhoewel Hy reeds vir hulle by vorige geleenthede verduidelik het, het hulle nog nie regtig verstaan nie.

Ons hoor in Mat. 26:31 dat Jesus vir die dissipels sê dat hulle Hom op daardie selfde aand in die steek sal laat. Lukas voeg egter ’n belangrike detail van daardie gesprek by soos ons hoor in Luk. 22:31:

Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Jesus waarsku hier oor die geestelike oorlogvoering. En dis iets wat ons so maklik miskyk, geliefdes. Ons is so vasgevang in die rasionele denkraamwerk van ons tyd dat ons dikwels vergeet dat ons in ’n geestelik oorlog betrokke is.

In Ef. 6:12 hoor ons:

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Hierdie geestelike stryd is maar nog steeds net dieselfde stryd wat reeds daar in die Paradys begin het. Die satan probeer om ’n wig tussen die mens en God in te dryf.

Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die satan kan doen net wat hy wil nie. Hy kan net doen wat God hom toelaat om te doen. Verder ook moet ons ook verstaan dat God hom nie toelaat om sy bose doelwitte te bereik nie.

Die beeld wat Jesus hier gebruik is die kaf van die koring te skei. Nadat koring geoes en getrap is om dit los te maak, is dit in ’n sif of ’n vlak mandjie geplaas. Die persoon het hierdie sif dan gewelddadig heen en weer geskud.

Jesus waarsku Petrus dat hier ’n baie moeilike toets voorlê. Petrus kyk egter mis dat dit ’n geestelike stryd is en hy dink dat hy die toets sal deurstaan deur sterk te probeer wees, want hy sien dit net as ’n fisiese uitdaging soos ons hoor in Luk. 22:33:

Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

Jesus sê ook vir Petrus hoe hy die stryd moet aanvoer. Gebed dat jou geloof versterk kan word.

Hoe jy die geestelike stryd benader bepaal of jy nader aan God beweeg en of jy weg van God af beweeg.

Jesus waarsku Petrus soos ons hoor in Luk. 22:34:

“Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die satan se motief was vernietiging. Hy wou Petrus so hard "skud" in die hoop dat hy heeltemal uitmekaar sou val en sy geloof weggooi.

En aanvanklik lyk dit of die satan in sy doel slaag. Daar waar die dinge begin warm raak het vir Petrus het sy bravade hom in die steek gelaat. Nou was dit vrees wat hom gedryf het. Hy vergeet wat Jesus net ’n paar uur van tevore vir hom gesê het.

En is dit nie maar ook hoe dit dikwels met ons gaan nie geliefdes? Daar waar ons in die spervuur beland en die koeëls om ons koppe begin vlieg, vergeet ons van God. Dan probeer ons maar net om op enige manier daaruit te kom en soms begin ons ook twyfel of God regtig vir ons omgee.

Die draaipunt vir Petrus het gekom nadat hy die haan hoor kraai het en dit het hom laat opkyk waar hy in Jesus se oë vasgekyk het. En dis waar Petrus God se genade raakgesien het.

Jesus het nie met oordeel en verwyt na Petrus gekyk nie. Jesus se kyk het nie vir Petrus gesê: “sien jy nou! Ek het jou mos gesê nie!” Nee, geliefdes met daardie kyk het Jesus vir Petrus gesê: “Onthou, ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie sal begewe nie!”

Selfs daar waar Jesus in sy eie krisis was op pad na die kruis en Godverlatenheid toe, het Hy nog steeds tyd gehad vir Petrus om inderwaarheid vir hom te sê: “Ek doen dit vir jou!”

En dit was die keerpunt vir Petrus wat hom tot inkeer laat kom het. Geliefdes, het jy al die haan hoor kraai? Het jy al opgekyk na Jesus toe? Het jy al saam met Petrus bitterlik gehuil?

Dit was nie Petrus se bravade en sterk wees wat hom deur die krisis gedra het nie. Dit was God se genade.

Satan wou Petrus skud om hom te vernietig en dit is wat hy met ons ook wil doen. Maar weet dat God nie toelaat dat satan se bose planne slaag nie.

God laat toe dat ons soos kaf geskud word, maar vir ’n ander rede as wat die satan graag wou hê. God laat die sifting toe om ons kaf te verwyder: ons oormoed en vertroue op eie krag en ons valse bravade sodat die koring van geloof en vertroue in God se genade oorbly.

In Joh. 21:15-19 sien ons nog verder hoe groot God se genade is. Petrus het Jesus drie maal verloën. Drie maal vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet en drie maal kry Petrus die geleentheid om dit te bevestig en drie maal gee Jesus vir Petrus die opdrag om te gaan werk in God se Koninkryk. Dan som Hy dit op met sy opdrag in
Joh. 21:19: “Volg My!”

Slot

Hoe beweeg mens nader aan God? Nie deur eie krag en bravade om vir God te bewys hoe goed ons is nie.

Weet dat ons betrokke is in ’n geestelike stryd, maar weet ook dat die vyand, die satan nie mag oor ons het nie en daarom moet ons nie toelaat dat ons deur vrees oorweldig moet word nie.

God se genade in Jesus Christus sê vir ons: “ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”

Die kernpunte wat ons moet onthou is dat moet bid dat ons geloof sterk bly. Verder dat daar waar ons soos koring geskud word, dat ons moet vashou aan ons geloof en vertroue in God.

Daar waar ons wegdwaal, en begin twyfel in God omdat die lewe moeilik raak, kyk op na Jesus en sien sy liefde en genade raak.

Onthou sy opdrag om te werk in die Koninkryk van God om Jesus se liefde in jou lewe sigbaar te maak vir die wêreld.

Beweeg nader aan God deur sy genade deur ’n volgeling van Jesus te wees.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking