Wys tans plasings met die etiket verloën. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket verloën. Wys alle plasings

29 Maart 2026

Nader aan God 02 – Nader aan God deur genade

 


Lees: 

Luk. 22:31-34; Luk. 22:54-62; Joh. 21:15-19

Inleiding

Waar staan jy in jou verhouding met God? Ons lewens raak soms so besig en gejaagd dat ons nie eers agterkom dat ons besig is om weg te dryf van God af nie.

Daarom is dit nodig dat ons net weer so bietjie stilstaan by wat dit beteken om nader aan God te beweeg, want op die uiteinde is ons grootste doel in die lewe om in ’n verhouding met God saam te leef en ons dag tot bestaanstryd maak so maklik dat ons dit uit die oog verloor.

Om nader aan God te kom, begin by die erkenning van hoe ver ons eintlik weg gedryf het. In die verhaal van Petrus en die dramatiese gebeure waarin hy betrokke was kort voor Jesus gekruisig is, leer ons om net weer opnuut na onsself te kyk om ons prioriteite in die lewe weer raak te sien.

Hierin sien ons ook dat ons nie deur ons eie krag en inspanning nader aan God kan beweeg nie. Inteendeel, dit is juis dit wat ons so dikwels verder van God af laat beweeg. Ons het nodig om raak te sien dat ons net deur God se genade nader aan Hom kan beweeg.

Hierdie verhaal van Petrus kort voor Jesus se kruisiging wys vir ons hoe om nader aan God deur sy genade te beweeg.

Jesus is hier in gesprek met sy dissipels tydens die laaste Paasmaal wat Hy saam met hulle gevier het kort voor Hy gekruisig is. Hy is besig om hulle voor te berei vir dit wat gaan kom. Alhoewel Hy reeds vir hulle by vorige geleenthede verduidelik het, het hulle nog nie regtig verstaan nie.

Ons hoor in Mat. 26:31 dat Jesus vir die dissipels sê dat hulle Hom op daardie selfde aand in die steek sal laat. Lukas voeg egter ’n belangrike detail van daardie gesprek by soos ons hoor in Luk. 22:31:

Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

Jesus waarsku hier oor die geestelike oorlogvoering. En dis iets wat ons so maklik miskyk, geliefdes. Ons is so vasgevang in die rasionele denkraamwerk van ons tyd dat ons dikwels vergeet dat ons in ’n geestelik oorlog betrokke is.

In Ef. 6:12 hoor ons:

Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.

Hierdie geestelike stryd is maar nog steeds net dieselfde stryd wat reeds daar in die Paradys begin het. Die satan probeer om ’n wig tussen die mens en God in te dryf.

Ons moet egter nie die fout maak om te dink dat die satan kan doen net wat hy wil nie. Hy kan net doen wat God hom toelaat om te doen. Verder ook moet ons ook verstaan dat God hom nie toelaat om sy bose doelwitte te bereik nie.

Die beeld wat Jesus hier gebruik is die kaf van die koring te skei. Nadat koring geoes en getrap is om dit los te maak, is dit in ’n sif of ’n vlak mandjie geplaas. Die persoon het hierdie sif dan gewelddadig heen en weer geskud.

Jesus waarsku Petrus dat hier ’n baie moeilike toets voorlê. Petrus kyk egter mis dat dit ’n geestelike stryd is en hy dink dat hy die toets sal deurstaan deur sterk te probeer wees, want hy sien dit net as ’n fisiese uitdaging soos ons hoor in Luk. 22:33:

Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

Jesus sê ook vir Petrus hoe hy die stryd moet aanvoer. Gebed dat jou geloof versterk kan word.

Hoe jy die geestelike stryd benader bepaal of jy nader aan God beweeg en of jy weg van God af beweeg.

Jesus waarsku Petrus soos ons hoor in Luk. 22:34:

“Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”

Die satan se motief was vernietiging. Hy wou Petrus so hard "skud" in die hoop dat hy heeltemal uitmekaar sou val en sy geloof weggooi.

En aanvanklik lyk dit of die satan in sy doel slaag. Daar waar die dinge begin warm raak het vir Petrus het sy bravade hom in die steek gelaat. Nou was dit vrees wat hom gedryf het. Hy vergeet wat Jesus net ’n paar uur van tevore vir hom gesê het.

En is dit nie maar ook hoe dit dikwels met ons gaan nie geliefdes? Daar waar ons in die spervuur beland en die koeëls om ons koppe begin vlieg, vergeet ons van God. Dan probeer ons maar net om op enige manier daaruit te kom en soms begin ons ook twyfel of God regtig vir ons omgee.

Die draaipunt vir Petrus het gekom nadat hy die haan hoor kraai het en dit het hom laat opkyk waar hy in Jesus se oë vasgekyk het. En dis waar Petrus God se genade raakgesien het.

Jesus het nie met oordeel en verwyt na Petrus gekyk nie. Jesus se kyk het nie vir Petrus gesê: “sien jy nou! Ek het jou mos gesê nie!” Nee, geliefdes met daardie kyk het Jesus vir Petrus gesê: “Onthou, ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie sal begewe nie!”

Selfs daar waar Jesus in sy eie krisis was op pad na die kruis en Godverlatenheid toe, het Hy nog steeds tyd gehad vir Petrus om inderwaarheid vir hom te sê: “Ek doen dit vir jou!”

En dit was die keerpunt vir Petrus wat hom tot inkeer laat kom het. Geliefdes, het jy al die haan hoor kraai? Het jy al opgekyk na Jesus toe? Het jy al saam met Petrus bitterlik gehuil?

Dit was nie Petrus se bravade en sterk wees wat hom deur die krisis gedra het nie. Dit was God se genade.

Satan wou Petrus skud om hom te vernietig en dit is wat hy met ons ook wil doen. Maar weet dat God nie toelaat dat satan se bose planne slaag nie.

God laat toe dat ons soos kaf geskud word, maar vir ’n ander rede as wat die satan graag wou hê. God laat die sifting toe om ons kaf te verwyder: ons oormoed en vertroue op eie krag en ons valse bravade sodat die koring van geloof en vertroue in God se genade oorbly.

In Joh. 21:15-19 sien ons nog verder hoe groot God se genade is. Petrus het Jesus drie maal verloën. Drie maal vra Jesus vir Petrus of hy Hom liefhet en drie maal kry Petrus die geleentheid om dit te bevestig en drie maal gee Jesus vir Petrus die opdrag om te gaan werk in God se Koninkryk. Dan som Hy dit op met sy opdrag in
Joh. 21:19: “Volg My!”

Slot

Hoe beweeg mens nader aan God? Nie deur eie krag en bravade om vir God te bewys hoe goed ons is nie.

Weet dat ons betrokke is in ’n geestelike stryd, maar weet ook dat die vyand, die satan nie mag oor ons het nie en daarom moet ons nie toelaat dat ons deur vrees oorweldig moet word nie.

God se genade in Jesus Christus sê vir ons: “ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.”

Die kernpunte wat ons moet onthou is dat moet bid dat ons geloof sterk bly. Verder dat daar waar ons soos koring geskud word, dat ons moet vashou aan ons geloof en vertroue in God.

Daar waar ons wegdwaal, en begin twyfel in God omdat die lewe moeilik raak, kyk op na Jesus en sien sy liefde en genade raak.

Onthou sy opdrag om te werk in die Koninkryk van God om Jesus se liefde in jou lewe sigbaar te maak vir die wêreld.

Beweeg nader aan God deur sy genade deur ’n volgeling van Jesus te wees.

Amen


27 Maart 2015

By die Here is daar weer ’n geleentheid om weer te begin

15 Maart 2015 GKE
Mar 14:26-31 : Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Teksvers Mar 14:29
Luk. 22:54-62: Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en                 ellende.
Teksvers Luk. 22:62
Joh. 21:15-19 Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Teksvers Joh. 21:19
Sing        Lofsang:   Ps. 8 v 1 & 4          (OAB)
              Na wet:           Ps. 91 v 1 & 3   (OAB)
              Na gebed  Ps. 86 v 1 & 3        (OAB)
              Tydens Nagmaal Ps. 23 v 3 & Ps. 116 (OAB)
              Slotsang   Ps. 18 v 1 & 2        (OAB)


Inleiding
Die verhaal van Petrus is kenmerkend van ons lewens saam met ons Here. Dit is ’n verhaal van bittere teleurstelling. ’n Verhaal van hartseer. ’n Verhaal van vergifnis. ’n Verhaal van ’n nuwe lewe saam met ons Here.

Voordat hy Jesus ontmoet het was Petrus ’n eenvoudige visserman sonder enige geleerdheid. Sy ontmoeting met Jesus verander sy hele lewe. Hy het ’n nuwe mens met nuwe doelwitte en prioriteite geword. Hy het egter nie ’n volmaakte mens geword nie, maar het nog altyd Simon Petrus gebly.
Simon die seun van Johannes,
Simon die voortvarende een.
Simon die een wat eers gedoen en dan gedink het.
Simon die een wat Jesus in sy uur van nood en benoudheid bitter teleurgestel het
       .

Wanneer ons na die lewe van Petrus kyk dan sien ons, ons eie lewens saam met die Here raak. Alhoewel ons ontmoeting met die Here ’n nuwe mens van ons gemaak het, bly ons nog steeds wie ons is. Die Here verander nie ons persoonlikheid en menswees nie. Hy gebruik dit in sy diens. Ons het nie nou skielik volmaakte mense geword na ons ontmoeting met die Here nie. Wat wel verander is dat ons nou nuwe doelwitte en prioriteite in ons lewens het.

In ons voorgelese gedeeltes hoor ons dat daar drie fases in Petrus se lewe saam met Christus was.
1) Die eerste fase was die tyd van sy voortvarendheid.
    Kom ons noem dit die fase van voortvarende oppervlakkige Christenwees.
2) Die tweede fase is Petrus se verraad & berou.
     Kom ons noem dit die dieptepunt van my sonde en ellende.
3) Die derde fase is waar Petrus vergifnis ontvang.
     Kom ons noem dit God se genade in ons lewens.

Petrus se voortvarendheid – Voortvarende oppervlakkige Christene
Nadat Jesus sy dissipels van sy dood en opstanding vertel hoor ons in Mar 14:29 hoe Petrus ewe selfvoldaan verklaar:
“Al sal hulle ook almal van U afvallig word, ek sal nie.”

Kenmerkend van Christene wat in hierdie fase is, is ’n selfvoldane trotsheid. Dis tipies daai houding van die Fariseër wat saam met die tollenaar gebid het soos ons hoor in Luk 18:11 & 12:
O God, ek dank U dat ek nie soos ander mense is nie: diewe, bedrieërs, egbrekers, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week en ek gee ’n tiende van my hele inkomste.’

Dis die Christene wat baie maklik hulle medebroers en susters veroordeel omdat hulle manier van aanbidding nie volgens hulle oordeel korrek is nie.

Hoe maklik beland ons self nie ook daar nie? My lewe is reg, kyk maar self hoe goeie lewe ek ly! As die ander in die gemeente maar net soos ek kon wees soos Petrus verklaar, “al sal hulle ook, ek sal nie!”

’n Christen met so ’n houding en gesindheid is nie baie bruikbaar in God se koninkryk nie en doen selfs die koninkryk skade aan deur mense af te sit met hulle arrogansie en selfvoldaanheid. Die Here waarsku ons ook inderdaad daarteen soos ons hoor in 1 Kor. 10:12:
Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie.

Dit is inderdaad wat ook met Petrus gebeur het soos ons in die volgende deel van sy verhaal hoor.

Petrus se verraad & berou – Die dieptepunt van my sonde en ellende

Kan u, uself indink hoe Petrus gevoel het toe hy opkyk en hy kyk in die hartseer oë van Jesus vas? Ons hoor so ietsie daarvan in Luk 22:62:
En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.



Dit was nie maar net ’n oppervlakkige berou nie. Dit wat ons so maklik doen wanneer ons met ons sonde gekonfronteer word: ja ek het dit of dat gedoen, maar ......  en dan voer ons allerlei verskonings aan om ons sondige gedrag te regverdig. Hierdie oppervlakkige berou is nog steeds deel van die voortvarende oppervlakkige Christen!

Petrus het ’n diepe berou gehad waar hy in absolute wanhoop besef het wat sy sonde aan die Here gedoen het. Geliefdes, het u al opgekyk en die pyn en hartseer in Jesus se oë raakgesien? Besef ek werklik die erns van my sonde wat ek daagliks teenoor die Here begaan? Is ek al op daardie punt dat ek vra: “hoekom doen die Here nog moeite met my?”

Geliefdes, voordat ek nie die dieptepunt van my sonde ellende ervaar nie Voordat dit my nie aan my hart gryp nie, voordat ek nie op daai punt is waar ek besef wat het ek nou gedoen nie, sal ek nooit werklik die diepere betekenis van God se genade ervaar nie. Ek sal nie werklik verstaan wat Jesus aan die kruis vir my deurgemaak het nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Is ek op daai punt waar ek in absolute wanhoop oor my sonde treur? Is daar by my daai absolute sielesmart oor die elende wat my sonde aan ander mense gedoen het?

Nie die oppervlakkige spyt wat eintlik daaroor gaan dat ek jammer is omdat ek uitgevang is nie, maar daardie diepe berou oor my lewe? Sien ek die hartseer in Jesus se oë raak en gryp dit my aan die hart? Dis wat verootmoediging is. Daardie diepe besef in my dat ek nie die mens is wat ek graag wil wees nie. Dat ek nie die goeie mens is wat ek so graag aan ander voorhou om te wees nie.

Het ek al soos Petrus buitentoe gegaan en bitterlik gehuil oor my sonde en ellende? Wanneer ek op daardie punt kom is ek reg vir die genesende salf van God se genade. Dit bring ons by die derde deel van Petrus se verhaal:
Petrus ontvang vergifnis - God se genade
Petrus het Jesus langs ’n vuur verloën en nou langs ’n vuur ervaar Petrus die helende salf van God se genade. Drie maal vra die Here vir Petrus of hy Hom liefhet en driemaal antwoord Petrus positief. Wanneer Jesus vir Petrus vra of hy Hom liefhet, vra Hy vir Petrus of hy lojaal teenoor Jesus is en of hy bereid is om homself op te offer. Die derde maal antwoord Petrus deur middel van totale onderwerping wanneer hy erken dat Jesus alles weet.

Petrus het Jesus regtig lief, hoe skeef en krom sy optrede ook al is. Hy ken Jesus en het Hom werklik lief, al is sy menslike pogings vol gebreke. Jesus verwyt nie. Hy beskuldig nie. Hy vra: Het jy my waarlik lief????????? Dis die vraag wat elkeen van ons vanoggend moet beantwoord: “het ek Jesus waarlik lief?”

Die wonder van God se genade is dat Hy nie verwag dat ons volmaak moet wees voordat ons in sy diens kan staan nie. Al is ons menslike pogings ook krom en skeef, het Hy ons onvoorwaardelik lief. Daarom moet ons nie by die dieptepunt van ons sonde en ellende in wanhoop bly vassteek nie. My diepe berou bring my by die wonder van God se genade waar ek waarlik sy liefde ervaar.

Jesus sluit sy gesprek met Petrus af met die opdrag “Volg My!” En ja dit is nie altyd ’n maklike pad om Jesus te volg nie soos Hy Petrus ook gewaarsku het. Maar dit is die moeite werd want dit sal jou lewe verander!!!!

Alhoewel die pad moeilik is, is ons nie alleen nie. Die Heilige Gees is daar om ons oor die pad te help. Ons doen dit nie in eie krag nie, maar in sy krag. Al wat ons moet doen is om te bid en die Here waarborg ons dat Hy ons gebed sal verhoor. As ek tot die Here bid “Here help my om U te volg, waar U ook al gaan”, dan sal Hy dit doen! Maak nie saak wat in my verlede lê nie, daar is vir my ’n nuwe begin by Jesus.
Hy sê vir ons “Volg My!”

Kom ons volg Hom!
Amen