23 Mei 2012

Dit is net deur die krag van die Heilige Gees dat sy kerk lewe en groei


20 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Hand. 1:1-15 & 2:1-15 ; Teksvers: Hand. 1:8

Sing    Lofsang: Ps. 66 v   1          (OAB)
           Na wet:    Ps. 130 v 1 & 2   (OAB)
           Na gebed Sb. 4-8 v 1 & 2   (Sb 5 in swart Psalmboek)
           Slotsang  Ps. 105 v 1 & 3   (OAB)

Ons het in die week weer die hemelvaart van ons Here herdenk. Met Jesus se hemelvaart het daar ’n baie duidelike skeidslyn in die geskiedenis van die mensdom aangebreek. Die tyd tussen die derde en die laaste van die groot gebeure in die mensdom se geskiedenis het aangebreek. Die vier groot gebeure in die wêreld se geskiedenis is:
i   Die Skepping
ii   Die sondeval
iii  Christus se eerste koms as mens na die aarde toe
iv  Christus se wederkoms wanneer Hy kom om die wêreld te oordeel en om sy uitverkore kinders na Hom toe te neem.
Die tyd waar Christene deur die Gees die koninkryk van Jesus Christus vestig waar hulle ook al kom het aangebreek.

Maar voordat die kerk kon uitgaan om teenoor die hele wêreld van Jesus se koninkryk te getuig; soos ons in ons teksvers hoor; moes daar eers ’n belangrike gebeurtenis plaasvind. Christus moes sy Gees stuur soos Hy beloof het in Joh. 14:16
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Voordat die Heilige Gees gekom het, het die volgelinge van Jesus hulle eenkant afgesonder en hulle het volhard in gebed soos ons hoor in Hand. 1:12-15. Die kerk was ook baie klein, net omtrent 120 gelowiges.

Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag sien ons egter ’n heel ander prentjie van die kerk. In plaas daarvan om hulle af te sonder, gaan hulle uit en getuig soos ons hoor in Hand. 2:14 & 15:
Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre.
Hulle het hulle ook nie laat afskrik deur negatiewe kommentaar nie. Alhoewel daar sommige mense was wat hulle van dronkenskap beskuldig het, het hulle hul nie daaraan gesteur nie. Petrus getuig selfs in die aangesig van teenkanting.

Die gevolg hiervan is wonderbaarlik soos ons hoor in Hand. 2:41:
Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.
Binne ’n dag groei die kerk van 120 na meer as 3000 en dit het ook nie daar opgehou nie. In Hand. 4:4 hoor ons dat binne enkele dae daarna die getal gelowiges aangegroei het tot omtrent vyf duisend. Spoedig het die kerk oor die hele Romeinse ryk versprei soos ons hoor in die res van die boek Handelinge. Daarvandaan het die kerk oor die hele wêreld heen versprei.

Daar is egter ook ’n ander sy van hierdie sukses verhaal. In die week het ek gelees hoe die kerk in Amerika krimp. Die afgelope jaar het daar ongeveer 3000 gemeentes ontbind. Hier in Suid-Afrika lyk die prentjie ook nie veel beter nie. Die lidmaattal daal of bly konstant ten spyte daarvan dat die land se bevolking bly toeneem.

Nou is die vraag: “Hoekom gebeur dit?” In die lig van ons teksvers kan ons maklik sê dat dit gebeur omdat die kerk nie gehoor gee aan die sending opdrag nie. Dit is waar, maar dit is nie die oorsaak nie, dit is maar slegs ’n simptoom van die onderliggende rede. Kom ons luister net weereens mooi wat die Here vir ons in ons teksvers sê.
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Uit ons teks is die antwoord duidelik. Dit is slegs wanneer die krag van die Heilige Gees aktief werksaam is dat die kerk op so ’n manier van Christus se wonderdade getuig dat ongelowiges daardeur by die kerk bygevoeg word.

Hoe lyk ons situasie? Is ons getuienis oor die verskil wat Jesus in ons lewens gemaak het effektief of selfs erger, het ons getuienis daaroor stil geraak? Ons is so geneig om te dink dat sending in ver lande moet plaasvind. Ons teksvers wys egter vir ons dat daar ’n volgorde is. Eers in Jerusalem, dit wil sê hier by ons, in ons eie dorp. Daarna Judea en die uithoeke van die wêreld. Hoeveel mense is ons op Reddersburg? Ongeveer die helfte is lidmate by die vier gemeentes op die dorp. Waar is die ander? Maar nog nader. Hoeveel van ons wie se name in die lidmaat register is, is maar net op papier lidmate?

Wat is die rede dat daar ’n louheid of selfs ’n doodsheid in die kerk is? Dit kan tog nie wees omdat ons nie die Heilige Gees ontvang het nie. God se beloftes staan tog vas en na die Pinkster gebeure het elke gelowige die Heilige Gees ontvang. Die uitstorting van die Heilige Gees is nie iets wat weer en weer moet gebeur nie! Die Here sê vir ons wat die rede is. In Ef. 4:30 hoor ons dat ons die Gees kan bedroef en in 1 Tess. 5:19 hoor ons dat ons die werking van die Gees kan teenstaan. Wanneer ons dit doen dan kan ons tog nie verwag dat die Gees se krag in ons werksaam moet wees nie, want die Gees werk nie met dwang nie. Hy werk uit liefde en liefde dwing nie.

Hoekom bedroef ons die Heilige Gees? Sonde is die oorsaak dat ons die Gees bedroef en teenstaan. Sonde veroorsaak dat ons verveeld raak met God en sy reëls. Herken ons die sonde in ons lewens? Erken ek nog enigsins dat daar sonde in my lewe teenwoordig is? Dit is eers as ek op daardie punt kom wat ek besef dat ek sonder God verlore is, dat ek werklik by God se genade kan uitkom. Dit is eers wanneer God se genade in my lewe lewendig is dat ek werklik daarvan kan getuig. Eers wanneer ek in verwondering besef hoe groot God se genade in my lewe is, dat ek werklik kan begin leef uit daardie genade en dat ek werklik die krag van die Heilige Gees in my lewe kan ervaar.

Deur die Nagmaal wys die Here op ’n sigbare wyse vir ons hoe sy genade lyk sodat ons geloof in Jesus se verlossing daardeur versterk kan word. Daardeur word ons weereens herinner aan Christus se soenverdienste en deur geloof kry ons deel daaraan. Kom laat ons aansit by die tafel van die Here sodat ons daardeur ook kan ervaar hoe die krag van die Heilige Gees in ons lewens ’n werklikheid word.
Amen

Die Heilige Gees is altyd by ons as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger


Joh. 14:15-31 Teksvers Joh. 14:16 & 17a
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

Wat beteken Jesus se hemelvaart vir ons? Voor sy hemelvaart het Jesus ’n baie belangrike belofte gemaak soos ons hoor in Joh. 14:18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.
En in Joh. 16:7 hoor ons:
Dit is tot julle voordeel dat Ek weggaan, want as Ek nie weggaan nie, sal die Voorspraak, die Heilige Gees, nie na julle toe kom nie; maar as Ek gaan, sal Ek Hom na julle toe stuur.
Jesus se hemelvaart beteken dat die Heilige Gees altyd by ons gaan bly.

In ons teksgedeelte hoor ons wat dit vir ons beteken. Daar hoor ons hoe Jesus sy dissipels voor berei op die gebeure wat binnekort gaan plaasvind. Daar is vier belangrike dinge wat hulle moet weet:
i      Hy moet gekruisig word,
ii     Hy sal opstaan uit die dood,
iii     Hy moet opvaar na sy Vader toe waar Hy aan sy regterhand sal sit as Koning van die heelal en
iv     Hy sal weer terug kom.
In Joh. 14 is Jesus veral besig om sy dissipels op sy Hemelvaart voor te berei. Na drie jaar wat hulle heeltyd saam met Hom was, moet hulle hoor dat hy nie maar saam met hulle gaan wees nie en daarom sê Hy twee keer in Joh. 14:1 & 27 dat hulle nie ontsteld of bang moet wees nie.  In ons teksverse hoor ons waarom hulle nie ontsteld moet wees nie.
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.

Jesus gaan wel weg, maar in sy plek kom die Heilige Gees om altyd by ons as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger te wees. Die Griekse woord; Parakletos; wat in die 83 vertaling met Voorsorg vertaal is, is moeilik om met ’n enkele woord in Afrikaans te vertaal. In die 33/53 vertaling is dit met Trooster vertaal en in sommige Engelse vertalings word dit met Raadgewer vertaal terwyl ander dit weer as Helper vertaal. Al hierdie vertalings is reg want Parakletos dra al hierdie betekenisse. Verder beteken dit ook Bemoediger, Advokaat, Verdediger.

In die tyd van Jesus was daar ’n duidelike onderskeid tussen die ryk mense en die arm mense. Die ryk mense kon hulself in die samelewing handhaaf want hulle kon regsverteenwoordiging bekostig terwyl die arm mense absoluut uitgelewer was omdat hulle nie kon bekostig om hulle regte te verdedig nie. Daarom het die gebruik ontstaan dat daar ’n “Parakletos” vir hulle aangestel word. So ’n persoon het dan namens die armes opgetree om hulle regte beskerm. Dit is dan ook wat die Heilige Gees vir ons kom doen. Christus het ons nie as weeskinders agter gelaat nie. Hy het die Heilige Gees gestuur om ons te vertroos, te bemoedig, te help en namens ons in te staan by die Vader.

Watter troos hou die wete dat die Heilige Gees altyd by ons bly, vir ons in? Ons vind ons troos in die sekere beloftes wat die Here vir ons in hierdie teksgedeelte gee. Ons hoor dat ons nie as weeskinders agtergelaat sal word nie en dat die Heilige Gees altyd by ons sal bly. Hiermee saam ook die belofte van vrede soos ons hoor in Joh. 14:17
Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.

Dit gee aan ons die sekere wete dat ons nie alleen staan in hierdie wêreld nie. Maak nie saak hoe groot die aanvegtinge is nie, ons weet verseker dat God ons nooit in die steek sal laat nie. Die verskil tussen die ware vrede van God en die wêreldse vrede is die troos dat ons weet dat ons nooit alleen is nie. Die wêreld se troos bestaan uit leë woorde wat jou aanmoedig om jouself te help. Jy moet maar die probleme hanteer en allerlei sinlose selfhelp programme word aan jou voorgehou. Teenoor dit is die ware vrede van God wat jou verseker dat jy nooit alleen staan nie en dat die Heilige Gees jou dra deur die moeilikhede in die lewe.

’n Verdere troos wat die Heilige Gees vir ons inhou, is dat ons Christus sal sien ten spyte daarvan dat Hy nie meer vir die wêreld sigbaar is nie. Die wêreld wil met hul oë sien en met hul hande vat, maar ons sien Jesus deur ons geloofsoë. Die Heilige Gees gee vir ons die geloof wat God vra. Ons glo in die oorwinning en verlossing van Jesus Christus.

Hiermee saam is ook die belofte dat Christus weer sal terugkom. Ons hoef egter nie sy wederkoms te vrees nie, want dit hou geen oordeel in vir diegene wat in Hom glo nie. Die Heilige Gees plant die liefde vir God in elkeen van ons wat glo se harte en daarom is ons verseker van God se liefde soos ons hoor in Joh. 14:23:
“As iemand My liefhet, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woon.
Elkeen wat in Jesus se soenverdienste aan die kruis en sy opstanding glo hoef nie bang te wees vir God se oordeel nie. Die wat egter nie in Jesus glo nie sal nie die liefde van God ervaar nie, maar wel die volle oordeel van God oor die sonde.

Saam met Christus se verlossing kom daar ook ’n verantwoordelikheid. Ons moet sy opdragte uitvoer soos ons telkemale in ons teksgedeelte hoor (vgl Joh. 14:15; 21; 23). Johannes spel ook baie duidelik uit wat Christus se opdragte is, soos ons hoor in Joh. 13:34:
Ek gee julle ’n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.
en ook in Joh. 15:12
Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
Hierdie opdrag word weer in Joh. 15:17 herhaal:
Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!”
Ons verantwoordelikheid is dat ons mekaar moet liefhê soos wat God ons liefhet. Dit beteken dat ons bereid moet wees om vir mekaar te moet opoffer. Ons idee van liefde is so dikwels dat ek ander sal help solank dit net nie iets van my vra nie. Jesus wys egter vir ons wat ware liefde is. Hy het sy lewe vir ons opgeoffer! Ons kan Jesus se opdrag uitvoer omdat die Heilige Gees in ons woon soos ons ook hoor in Joh. 14:26:
wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak, die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Christus se hemelvaart troos ons omdat ons die Heilige Gees as ons Trooster, Helper, Bemoediger en Pleitbesorger ontvang. Dit beteken dat ons nooit alleen is nie en dat ons daarom deur die krag van die Heilige Gees al die stampe en stote van die lewe kan hanteer, want Hy dra ons deur die swaar tye in die lewe.

Die krag van die Heilige Gees stel ons ook in staat om ons liefde aan God te bewys deurdat ons sy opdrag om mekaar lief te hê, kan nakom. Deur God se liefde wek die Heilige Gees ons op tot ’n nuwe lewe wat Christus deur sy soenverdienste aan die kruis vir ons verdien het. Christus se hemelvaart is ons versekering dat die krag van die Gees ook in ons lewe ’n werklikheid is. Ons deel daarin deur ons geloof in Jesus Christus. Laat ons daarom opnuut weer glo in Jesus oorwinning en verlossing deur die kruis en opstanding heen.
Amen

13 Mei 2012

Word wakker uit julle doodslaap!


Word wakker uit julle doodslaap!
13 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Open.:1-6 Teksvers: Open. 3:2

Sing    Lofsang:  Ps. 8 v 1 & 4       (OAB)
           Na wet:     Ps. 40 v 4            (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 7          (OAB)
           Slotsang   Ps. 84 v 3            (OAB)

Inleiding
Julle het die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood! Wat ’n verskriklike aanklag teen die kerk. Op die oog af volgens julle reputasie net in naam lewendig, maar eintlik is julle lankal dood! Dit is die aanklag wat Jesus teen die gemeente van Sardis gebring het. In die brief aanhef spreek Jesus weereens op ’n unieke wyse die gemeente aan wat spesifiek by daardie gemeente pas, net soos Hy met elk van die ander gedoen het, soos ons hoor in Open 3:1:
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis:
So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:

Die sewe Geeste verwys na die volheid van die Heilige Gees en dit simboliseer die besondere teenwoordigheid van die Here self. Dit is net die volheid van die Heilige Gees wat die sluimerende en dooie Sardis weer tot lewe kan opwek. Die sewe sterre verwys na verwys simbolies na die sewe voorgangers waardeur Christus sy boodskap aan die gemeentes bring, dit wil sê Christus se boodskap kom deur die prediking na die gemeentes toe.

Anders as die ander gemeentes was die Gemeente in Sardis nie onder bedreiging of intimidasie van die heidense godsdienste of die Jode nie. Hulle was relatief welaf want Sardis was bekend as ’n sterk stadsvesting en sy handelsware soos goud en tekstielware. Op die oog af het dit gelyk of dit goed gaan met die gemeente, maar Jesus wys hulle daarop dat daar ’n baie ernstige probleem is. Hulle is geestelik dood! Anders as die ander gemeentes het Sardis ook nie sterk punte waarvoor hulle geprys kan word nie en dit dui vir ons op die erns van hul situasie.

Wat is die oorsaak van Geestelike doodsheid?
As ons wonder waarom Sardis geestelik dood was moet ons maar weer na Bybel toe draai om te hoor wat veroorsaak geestelike doodsheid. In Rom. 6:23 hoor ons:
Die loon wat die sonde gee, is die dood
Op verskeie ander plekke in die Bybel hoor ons hierdie selfde waarheid soos ook byvoorbeeld in Jak. 1:15:
Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.
Geestelike doodsheid word deur sonde veroorsaak.

Wat is die gevolg van geestelike doodsheid?
Hoe lyk geestelike doodsheid? Dit is ’n algemene apatie, dit wil sê ’n onverskillige gevoelloosheid teenoor alles. Dit is mense wat net nie meer opgewonde is oor die lewe nie. Dit is ’n mens wat sinies geword het in die lewe, dit wil sê iemand wat nie meer die mooi en die wonder van die lewe raaksien nie. Al wat hy raaksien is net donkerte en probleme. Niks is reg nie en niks word meer waardeur nie.

Moedeloosheid weens ’n gebrek aan vertroue in die sorg van ons hemelse Vader veroorsaak verder dat mens lamgelê word. Dit is amper asof ’n tipe depressie jou oorval deurdat jy nie werklik lus het om iets te doen of om betrokke te wees nie. Kommer veroorsaak naderhand dat mens die kleinste probleempie buite verband opblaas. Mens sien naderhand net nie meer kans vir die lewe nie. Dit is daardie gevoel wat jy het wanneer jy wakker word dat jy wens die nag wil net aanhou sodat jy weer in jou droomwêreld in kan ontsnap van die werklikheid waarmee jy nou weer te make het. Onvergewensgesindheid is ’n ander sonde wat mens lamlê. Dit is soos ’n bitter wortel wat in jou groei en al jou lewensvreugde steel. Hierdie is maar slegs enkele voorbeelde van sonde in ’n mens se lewe.

Hoe meer mens by sonde betrokke raak, hoe meer word mens afgestomp vir die lewe. Sonde het dieselfde effek as drank en/of dwelms in ’n mens se lewe. ’n Drank verslaafde begin heel onskuldig by een of twee drankies elke aand. Naderhand is een of twee nie meer genoeg nie en word dit naderhand vier of vyf en selfs die vyf is naderhand nie meer genoeg nie. Die wet van dalende meer opbrengs geld hier, met ander woorde jy moet al hoe meer gebruik vir al hoe minder plesier. Op die uiteinde vreet dit jou op sodat daar niks van jou oorbly nie. Dit is wat sonde in ’n mens se lewe doen.

Dit sluk jou naderhand heel in en ’n mens sien die effek daarvan in jou lewe. In plaas daarvan om liefde teenoor mekaar te bewys heers daar net ’n algemene selfsugtigheid waar elkeen vir homself is en die duiwel vang die agterse een. Daar is ’n grootskaalse onbetrokkenheid en geen sprake daarvan dat Christus se opdrag om die evangelie uit te dra nagekom word nie. So ’n geestelike doodsheid by sommige lidmate hou die gevaar in dat dit ook die ander lidmate kan oorval soos ’n dief in die nag. Wanneer iemand of ’n groepie konstant negatief is steek dit naderhand ook die ander aan wat positief is. Net soos wat een vrot appel in ’n vrugtebak die gesonde appels aantas.

Wat is die oplossing?
In Open 3:2 & 3a sê Jesus vir ons hoe ons van geestelike doodsheid ontslae moet raak. Die oplossing word ferm en kragtig in vyf definitiewe bevele gegee.
Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle.

Die eerste bevel: “Word wakker!” Die gelowiges moet wakker word uit hulle slaap van selfvergenoegdheid. Raak ontslae van die apatie waarin julle so vasgevang is. Die tweede bevel is: “Versterk wat nog by julle oorgebly het.” Net soos wat mens uit die as van ’n vuur wat byna dood is die een of twee kooltjies voed wat nog warm is moet daar gekonsentreer word op dit wat nog goed en reg is. Die derde bevel is: “Onthou hoe julle die evangelie ontvang het en daarna geluister.” Stap terug op julle geestelike pad en kom weer terug op die pad daar waar julle die pad byster geraak het. Die vierde opdrag is: “Hou daarmee vol.” Bly gehoorsaam. Volhard daarin. Sardis wat bykans oninneembaar was vanweë sy strategiese posisie is twee maal oorval deur die vyand omdat hulle nie waaksaam was nie. Daarom is die opdrag dan ook, hou aan om te volhard en gedurig deur waaksaam te wees teen die sonde wat mens so maklik wil oorval. Die laaste opdrag is “bekeer julle.” Draai in jou spore terug weg van die sonde en die pad na die dood terug na die pad van die lewe. Bekering is slegs moontlik as mens in geloof vashou aan die soenverdienste van Jesus aan die kruis en sy oorwinning oor die dood deur sy opstanding. As mens in ’n geestelike doodsheid verval het, moet jy weer by God se genade by kruis uitkom. Dit sal jou in staat stel om radikaal anders as wat jy tot nou toe gedoen het, te begin leef.

As mens nie by die kruis en opstanding uitkom nie, wag daar baie ernstige gevolge soos ons in Open 3:3b hoor:
As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos ’n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie.
Diegene wat God se genade en liefde in Jesus Christus verwerp sal die volle impak van God se wraak voel.

Troos
Alhoewel hierdie brief op ’n baie negatiewe manier begin, bevat dit tog ’n stukkie troos vir diegene wat bly vashou aan God se genade soos ons hoor in Open 3:5:
Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort.
Hulle sal vind dat die belofte wat die Here alreeds in Rom. 8:38 & 39 gemaak het, absoluut waar is. Anders as mense gaan God nie terug op sy beloftes nie:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here
Kyk na binne!
Die brief word afgesluit met uitdaging soos ons hoor in Open 3:6:
Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê.
In die lig van hierdie uitdaging moet ons nou vir onsself afvra: “Is ons gemeente geestelik dood?” Die moeilike deel van hierdie vraag is dat nie een van ons kan terugstaan en so na die gemeente kyk en die ander oordeel nie. Elkeen van ons is deel van die gemeente en daarom vereis hierdie vraag ’n kliniese en harde introspeksie by elkeen van ons, dit wil sê elkeen moet na binne kyk, daar waar dit ongemaklik is omdat dit naby aan my lyf is! Die vraag is dus eintlik: “Is daar van die simptome van geestelike doodsheid in my lewe te bespeur? Is ek besig om geestelik dood te gaan of nog erger, is ek reeds geestelik dood?”

Ek dink as ons eerlik is dan moet ons erken dat daar tot ’n mindere of meerdere mate by elkeen van ons van die simptome van geestelike doodsheid teenwoordig is. Daarom moet ons luister na wat die Gees vir ons sê: “word wakker uit die doodslaap waarin ons so stilweg ingeglip het!”                                      
Amen

Soek jou vreugde in die Woord van die HERE en nie by die goddelose nie


6 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Psalm 1. Teksverse: Ps. 1 v 1 & 2

Sing    Lofsang:  Ps. 91 v 1            (OAB)
           Na wet:     Ps. 119 v 1          (OAB)
           Na gebed Ps. 119 v 2          (OAB)
           Slotsang   Ps. 1 v 1 - 3         (OAB)

Inleiding
Is jy werklik gelukkig? Wat bepaal ware geluk in die lewe? Ps. 1 verskaf vir ons antwoorde op hierdie vrae. Ps. 1 is die ingangsportaal wat ons bekendstel aan die groot skat wat God vir ons in die Psalms gegee het. Die hoofkarakters wat in die Psalms aan die woord is, word in hierdie Psalm aan ons bekendgestel. Daar is drie persone wat ’n sleutelrol in die Psalms speel, naamlik die gelowige mens en teenoor die gelowige staan die goddelose. Die derde Persoon wat ons in die Psalms ontmoet is God, dié Een wat ’n mens se lewensgeluk bepaal.

In Ps. 1 word hierdie twee groepe mense en hul verhouding tot God aan ons voorgestel. Aan hierdie beskrywing kan ek myself toets en vasstel of ek waarlik gelukkig is of nie. In hierdie Psalm word die verskil tussen regverdiges en Goddeloses teenoor mekaar gestel. Ons sien ook wat die oordeel ten opsigte van elkeen is.

Die regverdige
Verse 1 tot 4 skets vir ons by wyse van kontras die verskil tussen die Goddelose en die regverdige is. In vers 1 hoor ons dat dit goed gaan met die regverdige. Die Hebreeuse woord wat met hierdie sinsnede vertaal is, beteken letterlik gelukkig en daarom is dit in die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met welgeluksalig. Hierdie Hebreeuse woord het ’n baie sterker betekenis as om net bloot die situasie te beskryf. Dit gee ’n versekering aan die betrokke persoon dat dit goed sal gaan met hom. Dit sê nie dat dit moontlik goed gaan nie of dat dit behoort goed te gaan nie. Nee, dit is baie sterker. Dit SAL goed gaan.

In Psalm 1 word hierdie regverdige net aan ons voorgestel. Verder aan in die Psalms hoor ons wat die regverdige se karaktereienskappe is. Dit is ’n mens wat God heelhartig dien. Dit is ’n mens wat sy krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Hierdie persoon lewe in God se lig en hy doen slegs iets as dit tot God se eer strek. Dit is vir hom ’n loutere vreugde om gedurigdeur sy gedagtes besig te hou met die Woord van die HERE. Sy kennis van God se Woord leer hom om na swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Die Goddelose
Teenoor die regverdige word goddelose beskry wat absoluut op ’n pad van agteruitgang is. Dit is die mens wat afkerig is teenoor God en sy Woord, wat God blameer wanneer dit sleg gaan sonder om self verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat hy oor homself bring. Sy leefwyse bevestig dit ook omdat hulle hul lewe in sonde deurbring. Dit wat die Woord van die HERE vir uitwys as verkeerd, doen hulle en hulle hou daardie optrede as reg voor.

In plaas van om op te bou breek hulle af. Dit is die mens wat altyd negatief in die lewe is en alles en almal om hom moet dit ontgeld. Hulle word nie net ten kwade beïnvloed deur die geselskap waarin hulle verkeer nie, maar hulle werk self ook aktief mee daaraan om diegene om hulle aan te hits om sonde te doen. Hierdie mense het geen eerbied vir God en sy Woord nie en hulle gaan selfs so ver om God se Woord te verdraai om hulle eie sondige en verkeerde optrede te regverdig. Dit is die persoon wat God verag en opstandig is teenoor God. Hy steur hom nie aan God se wet nie en doen alles wat verkeerd is met oorgawe.

Die lot van die regverdige
In Psalm 1 hoor ons ook wat word op die uiteinde van die regverdige en die Goddelose. Dit word deur twee beelde beskryf. Die regverdige word deur ’n boom wat by ’n waterstroom staan uitgebeeld. ’n Boom wat langs ’n standhoudende waterstroom staan se wortels kry altyd water. Dit verseker dat daardie boom groei en sterk word sodat dit stewig vasgeanker is. Wanneer die stormwinde waai bly die boom staan. Dit is hoe die regverdige is. Die persoon wat vasgeanker is in die lewende Woord van God groei en is in staat om die lewensstorms te trotseer. Wanneer dit swaar gaan in sy lewe dan vind hy sy sterkte in die HERE en nie in homself nie.

Wanneer ons hoor dat dit goed gaan met die regverdige, dan moet ons verstaan dat dit nie eintlik soseer na fisiese omstandighede verwys nie, maar veel eerder na ’n innerlike vrede wat in God sy oorsprong het. ’n Regverdige verstaan dat dit nie sy omstandighede of materiële rykdom of sy status in die lewe is wat aan hom vrede gee nie, maar dat dit die teenwoordigheid van God is wat vrede in sy gemoed gee. Ware geluk word net by God gevind en nie in rykdom of status of baie besittings nie. Ware geluk en vrede word nie in die gebrek aan teenspoed gevind nie, maar wel in die teenwoordigheid van God in my lewe.

Die regverdige word verseker dat hy God se seën in hierdie lewe ontvang en ook dat hy in die hiernamaals met God se liefdevolle teenwoordigheid geseën sal wees.

Die lot van die Goddelose
Teenoor die regverdige staan die Goddelose wat deur middel van kaf uitgebeeld word. Kaf is die droë blaarbedekking in ’n koringaar waarin die koringkorrels toegevou is. In teenstelling met die sterk lewende boom is kaf dood en droog. Anders as die boom wat ’n stormwind kan weerstaan word kaf deur die ligste windjie weggewaai.

Dit is hoe die Goddelose is. Selfs al gaan dit op die oog af goed met hom, is daar ’n gebrek aan innerlike vrede omdat hy van God geskei is. Die Goddelose soek daardie vrede op baie plekke, maar vind dit nie. So neem party hulle toevlug tot drank en dwelms. Ander soek dit weer in harde werk en die najaag van rykdom en status.

Teenoor die regverdige wat God se liefde ontvang staan die Goddelose wat God se oordeel ontvang. Net soos wat kaf nie teen die wind staande kan bly nie, sal die goddelose nie staande kan bly teen God se oordeel nie.

Waar staan ek?
Die vraag is: “waar pas ek in?” Pas ek in by die regverdige of pas ek in by die Goddelose? Ek moet sê dat ek baie ongemaklik was nadat ek die Psalm gelees het, want ek het besef dat daar baie meer van die Goddelose se eienskappe in my lewe is as wat daar van die regverdige se eienskappe in my lewe is en dat die lot van die Goddelose eerder as die regverdige my voorland is. As dit van my afhang gaan ek nooit by die ideaal kom wat vir die regverdige gestel word nie!

In die geskiedenis van die wêreld is daar een Mens wat op grond van sy eie verdienste 100% regverdig is. Hy het egter gekies om die straf van die Goddelose te dra sodat daar vir ons hoop is. In 1 Pet. 3:18 hoor ons:
Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

In Joh. 1:1 hoor ons:
In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
Jesus Christus is die Woord. In Ps. 1 hoor ons dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord van die HERE vind. Ons moenie die fout maak om te dink dat die Woord van God net ’n lang lys is van onmoontlike moets en moenies nie. Die ware Woord is God se genade in Jesus Christus wat in ons plek as verlore sondaars die straf vir ons sonde gedra het sodat ons weer met God versoen kan word.

In Jesus Christus is ons regverdig voor God en daarom kan ons ook soos die regverdige begin leef. Daarom kan ons God heelhartig dien. Ons kan ons krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Ons kan in God se lig lewe en slegs dit doen wat tot God se eer strek. Dit is moontlik om loutere vreugde te vind deur gedurigdeur ons gedagtes besig te hou met die Woord en om deur ons kennis van God se Woord te leer om na die swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Ons het nie nodig om die pad van die Goddelose te volg nie. Ons hoef gedurig net af te breek in plaas van om op te bou nie. Ons hoef nie geselskap by die Goddelose te soek wat ons beïnvloed om sonde te doen nie. Ons hoef self ook nie ’n negatiewe invloed op diegene rondom ons uit te oefen nie. Ons hoef God se Woord te verdraai om ons eie verkeerde sondige optrede te regverdig nie. Ons hoef nie meer soos vyande van God te leef deur ons nie aan Hom te steur nie en om sy wet te verontagsaam nie.

Kom ons vind ons vreugde in die Woord, dit wil sê in Jesus Christus en weet dat ons daarin ware geluk en vrede sal vind.
Amen