23 Mei 2012

Dit is net deur die krag van die Heilige Gees dat sy kerk lewe en groei


20 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Hand. 1:1-15 & 2:1-15 ; Teksvers: Hand. 1:8

Sing    Lofsang: Ps. 66 v   1          (OAB)
           Na wet:    Ps. 130 v 1 & 2   (OAB)
           Na gebed Sb. 4-8 v 1 & 2   (Sb 5 in swart Psalmboek)
           Slotsang  Ps. 105 v 1 & 3   (OAB)

Ons het in die week weer die hemelvaart van ons Here herdenk. Met Jesus se hemelvaart het daar ’n baie duidelike skeidslyn in die geskiedenis van die mensdom aangebreek. Die tyd tussen die derde en die laaste van die groot gebeure in die mensdom se geskiedenis het aangebreek. Die vier groot gebeure in die wêreld se geskiedenis is:
i   Die Skepping
ii   Die sondeval
iii  Christus se eerste koms as mens na die aarde toe
iv  Christus se wederkoms wanneer Hy kom om die wêreld te oordeel en om sy uitverkore kinders na Hom toe te neem.
Die tyd waar Christene deur die Gees die koninkryk van Jesus Christus vestig waar hulle ook al kom het aangebreek.

Maar voordat die kerk kon uitgaan om teenoor die hele wêreld van Jesus se koninkryk te getuig; soos ons in ons teksvers hoor; moes daar eers ’n belangrike gebeurtenis plaasvind. Christus moes sy Gees stuur soos Hy beloof het in Joh. 14:16
Ek sal die Vader vra, en Hy sal vir julle ’n ander Voorspraak stuur om vir ewig by julle te wees, naamlik die Gees van die waarheid.
Voordat die Heilige Gees gekom het, het die volgelinge van Jesus hulle eenkant afgesonder en hulle het volhard in gebed soos ons hoor in Hand. 1:12-15. Die kerk was ook baie klein, net omtrent 120 gelowiges.

Na die uitstorting van die Heilige Gees op Pinksterdag sien ons egter ’n heel ander prentjie van die kerk. In plaas daarvan om hulle af te sonder, gaan hulle uit en getuig soos ons hoor in Hand. 2:14 & 15:
Toe staan Petrus saam met die elf ander apostels op en onder leiding van die Heilige Gees spreek hy die mense toe: “Jode en julle almal wat in Jerusalem woon, ek moet vir julle verduidelik wat gebeur het. Luister na wat ek gaan sê: Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar nege-uur in die môre.
Hulle het hulle ook nie laat afskrik deur negatiewe kommentaar nie. Alhoewel daar sommige mense was wat hulle van dronkenskap beskuldig het, het hulle hul nie daaraan gesteur nie. Petrus getuig selfs in die aangesig van teenkanting.

Die gevolg hiervan is wonderbaarlik soos ons hoor in Hand. 2:41:
Dié wat sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal van die gelowiges gevoeg.
Binne ’n dag groei die kerk van 120 na meer as 3000 en dit het ook nie daar opgehou nie. In Hand. 4:4 hoor ons dat binne enkele dae daarna die getal gelowiges aangegroei het tot omtrent vyf duisend. Spoedig het die kerk oor die hele Romeinse ryk versprei soos ons hoor in die res van die boek Handelinge. Daarvandaan het die kerk oor die hele wêreld heen versprei.

Daar is egter ook ’n ander sy van hierdie sukses verhaal. In die week het ek gelees hoe die kerk in Amerika krimp. Die afgelope jaar het daar ongeveer 3000 gemeentes ontbind. Hier in Suid-Afrika lyk die prentjie ook nie veel beter nie. Die lidmaattal daal of bly konstant ten spyte daarvan dat die land se bevolking bly toeneem.

Nou is die vraag: “Hoekom gebeur dit?” In die lig van ons teksvers kan ons maklik sê dat dit gebeur omdat die kerk nie gehoor gee aan die sending opdrag nie. Dit is waar, maar dit is nie die oorsaak nie, dit is maar slegs ’n simptoom van die onderliggende rede. Kom ons luister net weereens mooi wat die Here vir ons in ons teksvers sê.
Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.
Uit ons teks is die antwoord duidelik. Dit is slegs wanneer die krag van die Heilige Gees aktief werksaam is dat die kerk op so ’n manier van Christus se wonderdade getuig dat ongelowiges daardeur by die kerk bygevoeg word.

Hoe lyk ons situasie? Is ons getuienis oor die verskil wat Jesus in ons lewens gemaak het effektief of selfs erger, het ons getuienis daaroor stil geraak? Ons is so geneig om te dink dat sending in ver lande moet plaasvind. Ons teksvers wys egter vir ons dat daar ’n volgorde is. Eers in Jerusalem, dit wil sê hier by ons, in ons eie dorp. Daarna Judea en die uithoeke van die wêreld. Hoeveel mense is ons op Reddersburg? Ongeveer die helfte is lidmate by die vier gemeentes op die dorp. Waar is die ander? Maar nog nader. Hoeveel van ons wie se name in die lidmaat register is, is maar net op papier lidmate?

Wat is die rede dat daar ’n louheid of selfs ’n doodsheid in die kerk is? Dit kan tog nie wees omdat ons nie die Heilige Gees ontvang het nie. God se beloftes staan tog vas en na die Pinkster gebeure het elke gelowige die Heilige Gees ontvang. Die uitstorting van die Heilige Gees is nie iets wat weer en weer moet gebeur nie! Die Here sê vir ons wat die rede is. In Ef. 4:30 hoor ons dat ons die Gees kan bedroef en in 1 Tess. 5:19 hoor ons dat ons die werking van die Gees kan teenstaan. Wanneer ons dit doen dan kan ons tog nie verwag dat die Gees se krag in ons werksaam moet wees nie, want die Gees werk nie met dwang nie. Hy werk uit liefde en liefde dwing nie.

Hoekom bedroef ons die Heilige Gees? Sonde is die oorsaak dat ons die Gees bedroef en teenstaan. Sonde veroorsaak dat ons verveeld raak met God en sy reëls. Herken ons die sonde in ons lewens? Erken ek nog enigsins dat daar sonde in my lewe teenwoordig is? Dit is eers as ek op daardie punt kom wat ek besef dat ek sonder God verlore is, dat ek werklik by God se genade kan uitkom. Dit is eers wanneer God se genade in my lewe lewendig is dat ek werklik daarvan kan getuig. Eers wanneer ek in verwondering besef hoe groot God se genade in my lewe is, dat ek werklik kan begin leef uit daardie genade en dat ek werklik die krag van die Heilige Gees in my lewe kan ervaar.

Deur die Nagmaal wys die Here op ’n sigbare wyse vir ons hoe sy genade lyk sodat ons geloof in Jesus se verlossing daardeur versterk kan word. Daardeur word ons weereens herinner aan Christus se soenverdienste en deur geloof kry ons deel daaraan. Kom laat ons aansit by die tafel van die Here sodat ons daardeur ook kan ervaar hoe die krag van die Heilige Gees in ons lewens ’n werklikheid word.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking