15 Julie 2012

Die Here plant sy liefde deur middel van die kerk in ons harte sodat ons sy liefde kan weerkaats na diegene wat Hom nie ken nie


27 Mei 2012 (RB)
Skriflesing: Ef.:3 Teksverse: Ef. 3:6, 10 & 11

Sing    Lofsang:  Ps. 92 v 1            (OAB)
           Na wet:     Ps. 1 v 1 & 3       (OAB)
           Na gebed Ps. 31 v 1 & 17   (OAB)
           Slotsang   Ps. 84 v 3            (OAB)

Inleiding
Wie van ons wil nie graag weet wat die geheim is wanneer ons daarvan hoor nie? Dit is nou maar so dat wanneer ons van ’n geheim hoor, ons gewoonlik baie nuuskierig is om te hoor wat dit beteken. In hierdie gedeelte vertel die Here aan ons ’n geheim wat nog nooit tevore in die geskiedenis aan die mensdom bekend gemaak is nie. Dit is ook net ’n gewone geheim nie, nee dit is ’n geheim wat besig is om die hele wêreld te verander!

Wat is hierdie geheim?
Dwarsdeur ons teksgedeelte word daar na hierdie geheim verwys. Hierdie groot geheim is dat God alle mense baie baie lief het soos ons in ons teksvers hoor:
deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.

Tot op die punt wat hierdie brief aan die gemeente in Efese geskryf is het daar ’n persepsie by die Jode bestaan dat die volk Israel eksklusiewe reg op God het. Dit het inderwaarheid aan die Jode ’n meerderwaardigheids gevoel gegee. Hulle het gedink dat hulle beter as die heidene was. Elkeen wat nie van Joodse afkoms was nie, is ’n heiden genoem, met ander woorde as jy nie deel is van die volk van God nie, dan is jy ’n heiden en dit is net Jode wat deel was van die volk van God. Indien dit waar is, beteken dit dat nie een van ons gered kon word nie! Dan was ons vir ewig verlore!

Die geheim wat die Here egter hier bekend maak is dat ook nie Jode deel kan word van die volk van God. Dit is nie jou afkoms wat bepaal of jy deel is van God se uitverkore volk nie, maar wel jou verbondenheid aan Jesus Christus. Die Evangelie is vir alle nasies beskore.

Evangelie beteken die Goeie Nuus van God se liefde soos ons hoor in Joh. 3:16:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Die groot geheim wat hier bekend gemaak word is dat God ook vir my baie lief het. As gevolg van die sonde is ons bang vir God en sy straf. Hy het tog immers gesê dat die straf vir ons sondes die ewige dood is! Die geheim wat God hier aan ons bekend maak is dat ons nie vir God bang hoef te wees nie omdat Hy ons oneindig baie lief het. Maak nie saak wie of wat ek is nie, God het my lief! Hierdie geheim moet nou aan die hele wêreld bekend gemaak word.

Hoe moet hierdie geheim bekend gemaak word?
Die Here sê vir ons dat hierdie geheim deur sy kerk aan die wêreld bekend gemaak moet word soos ons hoor in Ef.. 3:10&11:
Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.
Verder sê die Here vir ons in Ef. 3:7 dat hierdie werk wat Hy aan sy kerk toevertrou het ’n groot voorreg is. Paulus het besef watter groot voorreg dit was en daarom het hy die hele Asië deur gereis om hierdie opdrag van die Here uit te voer.

Hy was selfs in die tronk gegooi omdat hy die Evangelie verkondig het, maar dit het hom nie ondergekry nie. In hierdie brief leer die Here ons wat dit werklik beteken om kerk van die Here te wees. Ons het so dikwels ’n verkeerde idee van wat dit beteken om kerk van die Here te wees. Dit gaan so dikwels net om my en watter voordeel ek uit die kerk kry. Dit is dan wanneer ek gedurig krities is oor alles wat in die kerk gebeur.

Dit is dan wanneer ek so maklik vinger wys en indien ek enigsins van my negatiewe kritiek af kan wegkom dan is dit gewoonlik julle of hulle moet sorg dat hulle dit of dat doen of verander. Dit kom nie eers by my op dat dinge nie na my smaak verloop nie omdat ek nie bereid is om bietjie my moue op te rol en iets te doen nie. Nee dit is baie lekkerder om eerder kritiek te lewer op die werk wat ander doen. Dan gaan dit nie om die Here se opdrag om die Evangelie uit te dra nie. Dit gaan net oor my en watter voordeel ek daaruit kan kry.

’n Verdere gevolg van sulke denke is dat mense dikwels die houding in neem dat hulle nie deel van die kerk wil wees nie. Dit is dan ook wanneer hulle daardie hoogmoedige houding het van “ek wil niks met daardie skynheilige klomp in die kerk te doen hê nie! Ek dien die Here by myself en ek het nie die kerk daarvoor nodig nie.” As iemand so redeneer dan sê so ’n persoon eintlik dat hy beter is as die mense wat hy so kritiseer. Die probleem hiermee is dat iemand wat so ’n houding in neem ongehoorsaam is aan Christus, want Christus vergader die uitverkorenes deur middel van sy kerk met sy Woord en Gees. Verder is daar ’n groot klomp selfsug betrokke deurdat die persoon nie bereid is om sy gawes en liefde met ander gelowiges te deel nie.

Wanneer hierdie tipe hoogmoed aanwesig is by mense binne die kerk of by diegene wat hulself van die kerk afsonder dan is dieselfde sondige houding by hulle teenwoordig as wat daar by die Jode was. Hulle dink dat God eksklusief net vir hulle bedoel is. Die Here wys vir ons in hierdie gedeelte dat hoogmoed en selfsug nie plek het sy kerk nie. Die kerk van die Here moet nederig wees soos ons hoor in Ef. 3:8
Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig.

Die kerk van die Here (dit wil sê ons as gelowiges) moet aan die Here gehoorsaam wees en nie ons eie selfsugtige begeertes najaag nie. Die taak wat die Here aan ons as sy kerk gegee het is om die liefde wat Hy in ons geplant het aan die wêreld te weerkaats. Met ander woorde ons moet aan die wêreld van God se liefde vertel, sy liefde wat Hy deur Jesus Christus vir ons bewys het. Ons moet deur middel van ons optrede God se liefde wys. Die wêreld word gedryf deur selfsug en die eie ek. Die kerk word gedryf deur liefde en omgee vir ons medemens.

Ons moet ongelukkig erken dat ons so dikwels deur selfsug en hoogmoed gemotiveer word en dat ons nie aan die Here gehoorsaam is nie.

Waar kry ons krag vandaan om die groot geheim van God se liefde aan die wêreld te verkondig?
In die gebed van Paulus vir die kerk van die Here wys Hy vir ons waar ons krag vandaan kom om aan Hom gehoorsaam te wees soos ons hoor in Ef.3:14-21:
Daarom kniel ek in gebed voor die Vader 15aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. 16Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, 17dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. 18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God.
20Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, 21aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.

Slot
Geliefdes, kom laat ons deur die krag van die Heilige Gees wegbeweeg van ons selfsug en hoogmoed. Kom laat ons gehoorsaam wees aan ons Here. Kom ons vertel aan die wêreld deur ons woorde en deur ons optrede van God se groot liefde. Kom laat ons die wêreld vertel:
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking