15 Julie 2012

Leef die nuwe lewe wat God deur genade skenk


3 Jun 2012 (RB)
Skriflesing: 1 Pet. 1:1-16 Teksvers: 1 Pet. 1:3

Sing    Lofsang:   Ps. 33 v 1            (OAB)
           Na wet:      Ps. 38 v 1 & 17   (OAB)
           Na gebed  Ps. 33 v 5 & 11   (OAB)
           Slotsang    Ps. 31 v 4 & 5     (OAB)

Inleiding
Ons noem onself Christene, maar wat beteken dit werklik om ’n Christen te wees? Christenskap beteken tog veel meer as om te sê dat ek aan een of ander kerk behoort en dat ek gereeld op Sondae die eredienste bywoon. Is dit hoe ek myself as ’n Christen sien? As dit die somtotaal van my Christenskap is dan verstaan ek nog nie werklik wat dit beteken om ’n Christen te wees nie! As ek nie verstaan wat dit beteken om ’n Christen te wees nie, dan verstaan ek noodwendig ook nie wat dit beteken dat ’n Christen kerk van die Here is nie.

As ons vra wat beteken dit om werklik ’n Christen te wees, vra ons daarmee saam wat beteken dit om werklik kerk van die Here te wees? ’n Verkeerde idee van wat ’n Christen is bring ook mee dat ek ’n verkeerde idee het van wat kerk is. Dan is die uiterlike simbole en rituele van kerk vir my belangrik. Dan heg ek byvoorbeeld meer aandag daaraan oor watter beryming ons sing of oor watter instrument ons vir die begeleiding van die sang gebruik eerder as wat dit by my gaan dat ek met my sang God loof en prys. Dan stry ek byvoorbeeld daaroor oor watter klere gepas is om “kerk” toe te dra. Dan is die erediens die somtotaal van “kerk” vir my, maar as mens na my lewe kyk dan is die kerk van die Here nie sigbaar nie! Dan lyk my lewe maar net soos die wêreld daarbuite wat onmin stook, wat veroordelend is, wat my eie wil op mense wil afdwing en wat mense veroordeel wat nie by my wil inpas nie.

Die nuwe lewe
As Christen wees en kerkwees dan nie gaan oor die uiterlike simbole en rituele nie, wat beteken dit werklik om ’n Christen te wees? In hierdie eerste brief van Petrus sê die Here vir ons wat dit beteken om ’n Christen te wees. In die eerste plek word mens nie ’n Christen omdat jy so mooi of oulik of belangrik is nie. Dit is ook nie omdat jy iets gedoen het om dit te verdien nie. Dit is op grond van God se genade dat mens ’n Christen word soos ons hoor in 1 Pet. 1:3-4
Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ’n lewende hoop op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word.
Christus het die dood, wat die straf vir die sonde is, oorwin met sy opstanding. Daardeur gee Hy aan ons ’n nuwe lewe. Ons ontvang dit sonder dat ons dit verdien het.

Wat beteken dit dat ons ’n nuwe lewe het? Dit beteken dat ons lewe nou radikaal anders lyk as die sondige wêreld waarin ons leef. ’n Christen se lewe skyn soos ’n lig in ’n donker plek. Daarom word ’n Christen se lewe nie meer beheers deur sondige begeertes nie. Losbandigheid en dronkenskap is nie meer deel van sy lewe nie. So ook is vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid en skeuring ook nie meer deel van ’n Christen se lewe nie.

Lyk my lewe radikaal anders as die sondige wêreld waarin ek leef? Wat moet ek doen om te deel in die nuwe lewe wat God vir my gee? Die verkeerde antwoord is dat ek my lewe moet regruk en sorg dat ek ’n beter lewe begin lei. Die Here sê vir ons hoe ons deel kan kry aan die nuwe lewe wat Hy in sy groot genade aan ons gee soos ons hoor in 1 Pet. 1:5
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word

God se genade is so groot dat Hy selfs die geloof wat Hy vra aan ons gee soos ons hoor in 1 Pet. 1:2:
Soos God die Vader dit vooraf bestem het, het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om aan Hom gehoorsaam te wees en besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.
In sy genade gee God alles wat ons nodig het om deel te kry aan die nuwe lewe wat Hy gee. Daarmee saam gee Hy ook aan ons die verantwoordelikheid om met geloof wat Hy gee vas te gryp aan sy genade.

Die wonderlike troos van God se genade is dat Hy nie net aan ons verlossing skenk nie, maar dat Hy ons ook bewaar soos ons hoor in 1 Pet. 1:5:
En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.
’n Christen weet daarom ook dat God permanent vir hom sorg en dat hy alles in sy lewe aan God kan toevertrou.

’n Christen is iemand wat die nuwe lewe uit genade van God ontvang deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Watter reaksie veroorsaak die nuwe lewe wat God gee?
Iemand wat die nuwe lewe van God ontvang het kan nie anders as om ’n onblusbare vreugde te ervaar nie. Selfs of dalk veral wanneer dit swaar gaan in sy lewe gee die nuwe lewe mens krag om te getuig van God se liefde en genade. Omdat die geloof wat God gee so belangrik is om daarmee vas te hou aan God se genade, word dit getoets deur swaarkry en lyding soos ons hoor in 1 Pet. 1:6-7:
Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud, goud wat vergaan. Selfs die suiwerheid van goud word met vuur getoets, en die egtheid van julle geloof moet ook getoets word, sodat dit lof en heerlikheid en eer waardig mag wees by die wederkoms van Jesus Christus.

Swaarkry is nie lekker nie, maar dit is iets wat deel is van elkeen se lewe. Die manier waarop ’n gelowige swaarkry hanteer kan ’n baie sterk getuienis in mens se lewe wees. Petrus verwys herhaaldelik na lyding en beproewings in hierdie brief. Dit gaan hier egter nie om lyding in die algemeen nie. Dit gaan nie oor swaarkry wat as gevolg van siekte of rampe of jou eie sondigheid oor jou pad kom nie. Hier gaan dit oor swaarkry wat ons sou ervaar omdat ander mense teen ons diskrimineer omdat ons aan God gehoorsaam wil wees. Mense wat op die verkeerde pad is wil nie alleen op daardie pad wees nie. Hulle wil graag ondersteuning hê en daarom sal hulle alles in hul vermoë doen om diegene wat die regte ding wil doen af te kraak en te verkleineer. As net een of twee persone in ’n groep die regte pad wil loop, dan sal die res van die groep hul gewoonlik verkleineer en uitstoot.

Wanneer mens egter ’n nuwe lewe by God kry, dan wil mens nie meer saamgaan met die verkeerde dinge van jou sondige natuur nie omdat die Heilige Gees besig is om jou lewe te verander. Wanneer jy in ’n ander rigting loop as wat die meerheid gaan dan moet jy weet dat geloof getoets word. Vertrou jy eerder op God of vertrou jy op mense? Wanneer mens op God vertrou, veral in die aangesig van teenstand en diskriminasie dan besef jy dat om deel te hê aan die saligheid van God nie iets vir eendag is nie, maar dat dit nou reeds ’n werklikheid is. Die nuwe lewe wat God gee maak dit moontlik om ook onder swaarkry te volhard. Dan besef mens dat jy jou vreugde in die Here vind en nie in mense nie. Dit is net God wat jou gelukkig kan maak en nie mense nie daarom sê die Here ook vir ons in 1 Pet.1:14-16:
As gehoorsame kinders moet julle nie julle lewe inrig volgens die begeertes wat julle vroeër gehad het toe julle God nie geken het nie. Nee, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

Slot
Wat beteken dit om werklik ’n Christen te wees? Dit beteken dat ek ’n nuwe lewe ontvang uit God se genade deur Jesus Christus wat die dood oorwin het omdat ek glo. Dit beteken dat ek daardie nuwe lewe leef sodat ek kan besef dat ek nou reeds deel het aan die ewige saligheid saam met God. Geliefdes: Kom laat ons die nuwe lewe leef wat God uit genade skenk.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking