27 September 2026

Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

 

Skriflesing: Joh. 10:1-21

Teksverse: Joh. 10:14 & 15

Inleiding

Besef ons werklik hoe kosbaar ons vir God is? Met die beeld van ’n Herder teenoor sy skape verduidelik die Here vir ons hoe kosbaar ons werklik is.

Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie herder” dan verduidelik Hy met hierdie beeld van ’n skaapboerdery hoe kosbaar ons vir Hom is. In die teks kom daar vyf aspekte van ’n goeie Herder na vore naamlik:

1) Die liefde van die Herder vir sy skape

2) Elke skaap het ’n naam en is daarom spesiaal

3) Skape ken die stem van die Herder

4) Diewe en rowers wil die skape van koers af bring

5) Jesus se bedoeling vir ons is ’n lewe in oorvloed

Ons kan dit saamvat deur te sê:

Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

1 Die liefde van die Herder vir die skape – bereid om sy lewe af te lê

Die omstandighede waarin skape in Israel moes oorleef is weerbarstig, droog en hard. Daar is baie gevare wat hulle bedreig soos byvoorbeeld dat hulle kan verdwaal en in ’n rotsskeur val of deur wilde diere oorval word. Daarom kan die kudde nie sonder ’n herder oorleef nie.

Wanneer Jesus sê: “Ek is die goeie Herder” dan sê Hy vir ons dat net soos die skape ’n herder nodig het om na hulle om te sien het ons ook ’n Herder nodig om na ons om te sien sodat ons nie verlore gaan nie.

’n Skaap wat in die sorg van ’n goeie herder is, beleef geborgenheid en vrede. Net so beleef ons vrede en geborgenheid in die sorg van Jesus. Jesus sorg vir ons deur middel van die Heilige Gees wat na ons toe gestuur is na Jesus se hemelvaart.

Wanneer Jesus my Herder is, is ek nie meer in die mag van die ou duiwel nie omdat ek nou die eiendom van my Herder is soos ons ook in Sondag 1 van die Heidelbergse Kategismus bely:

My enigste troos in lewe en in sterwe is dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.

Omdat Jesus my Herder is beteken dit dat Hy wil hê dat dit met my goed sal gaan omdat Hy deel van my lewe is. Omdat Jesus my Herder is weet ek dat Hy my nooit in die steek sal laat nie. Hy sal ons nie verlore laat gaan nie en sal die 99 skape wat veilig is los om na my wat verlore is te gaan soek.

As ek op een van die afdwaalpaaie in die lewe beland wat mens weg van God af lei, sal Jesus my kom soek omdat Hy my oneindig baie lief het. Ek is so spesiaal dat Jesus bereid was om sy lewe vir my af te lê soos ons hoor in Joh. 10:17

Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af nie, maar Ek lê dit uit my eie af.

2 Elke skaap is so spesiaal dat hy/sy persoonlik op die naam geroep word

In Joh. 10:3b hoor ons:

Die skape luister na die herder se stem. Hy roep sy skape op hulle name en lei hulle uit.

Dit sê vir ons dat Jesus elkeen van sy skape persoonlik ken soos ons hoor in Joh. 10:14

Ek ken my skape, en my skape ken My, net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken

Die diep verbondenheid tussen Herder en skape weerspieël die verbondenheid tussen Vader en Seun. Die verhouding tussen Vader en Seun is ’n volmaakte verhouding.

Omdat Jesus my Herder is, is daar ook ’n verhouding tussen my en die Vader en dit bring vir my die wonderlike troos dat die Vader vir my persoonlik omgee en kan ek ook getroos word met woorde van Jes. 43:1-3:

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie, want Ek is die Here jou God, die Heilige van Israel, jou Redder.

Die Here gee vir my om!

3. Skape ken die stem van die Herder – volg Hom. Loop ons op sy spoor?

’n Mens sou dink dit is onmoontlik om uit al die stemme wat vandag op ons afkom en ons van alles belowe, om daarin die stem van die Goeie Herder te herken. Die wonder van God se genade is egter dat Jesus se skape sy stem tussen al die verwarring uitken. Ons het ’n verantwoordelikheid om na die Herder se stem te luister.

Hoe weet ons wanneer is dit Jesus se stem? Jesus praat met ons deur sy Woord. As dit wat ons hoor strydig is met die Woord, dan is dit nie Jesus se stem nie. Ons hoor sy stem deur suiwere Woordverkondig.

Ons sien sy stem in die suiwere bediening van die sakramente soos Hy dit in sy Woord aan ons openbaar. Ons voel sy stem in die toepassing van die tug en daarom is dit dan ook die kenmerke van die ware kerk.

Net soos die skape nooit ’n vreemde sal volg nie en van Hom af sal weghardloop, moet ons net na Jesus se stem luister en weghardloop van die vreemde stemme van die wêreld. Onthou hoe Josef van Potifar se vrou af weggehardloop het toe sy hom wou verlei.

Daar is in ons tyd baie vreemde stemme wat in stryd is met God se Woord. Om werklik te weet of ons Jesus se stem hoor, moet ons die stem wat ons hoor aan sy woord gaan toets.

4 Pas op vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring

In Joh. 10:11-13 hoor ons:

“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape. ’n Huurling is geen herder nie, en dit is nie sy eie skape nie. As hy ’n wolf sien kom, los hy die skape en hardloop weg, en die wolf vang die skape en jaag die trop uitmekaar. Hy is ’n huurling en bekommer hom nie oor die skape nie.

Daar is mense wat hulself as herders voordoen en voorgee dat hulle na die skape omsien. Hulle gee egter nie werklik vir die skape om nie en stel die skape aan gevaar bloot. Wanneer die gevaar dreig hardloop hulle weg.

Wanneer Jesus en sy opoffering aan die kruis nie sentraal staan in ’n predikant of pastoor se boodskap nie, is hy soos ’n huurling wat die skape aan die gevaar bloot stel. Moenie agter hulle aanloop nie. As Jesus nie sentraal in ons lewe staan nie, is ons op die verkeerde pad, want dit is slegs Jesus wat werklik vir sy skape omgee.

5 Jesus se bedoeling: lewe, en dit in oorvloed.

In Joh. 10:9-10 hoor ons:

Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry. 10’n Dief kom net steel en slag en uitroei; Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.

Net soos ’n goeie Jesus se doel is om sy skape by die beste weiding uit te bring, is Jesus se doel dat ons ’n lewe in oorvloed kan hê.

Ons moet egter nie die oorvloed met die wêreldse definisie daarvan verwar nie. Oorvloed in diè sin verwys nie na ’n oorvloed materiële besittings en rykdom nie. Geld kan nie geluk en vrede koop nie. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die oorvloed van God se genade.

Sy eindelose geduld met ons en dat Hy ons elke slag weer optel wanneer ons geval het. Die oorvloed waarna hier verwys word, is die voorreg om God persoonlik te ken en om sy liefde te ervaar deur die soenverdienste van Jesus Christus.

Slot

Wanneer Jesus vir ons sê “Ek is die goeie Herder”, dan vertel Hy vir ons:

1)     van sy liefde vir sy skape en dat Hy bereid is om sy lewe vir hulle af te lê;

2)     dat elke skaap so spesiaal is dat Hy hom/haar persoonlik op die naam roep;

3)     die skape die stem van die Herder ken en dat hulle net vir Hom volg.

4)     om op te pas vir die diewe en rowers want daar is magte en kragte in hierdie wêreld wat ons van koers af wil bring en

5)     dat sy bedoeling met ons die lewe is en dit in oorvloed!

Kom ervaar die vrede en geborgenheid van ons goeie Herder want Jesus is die Goeie Herder wat ons beskerm teen die gevare in die lewe omdat ons vir Hom kosbaar is.

Amen


20 September 2026

Soek jou vreugde in die Woord van die HERE en nie by die goddelose nie

 

PSALMS 1

Die Here lei die regverdiges

1Dit gaan goed met die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor hulle oordeel nie en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges nie.
6Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.

Inleiding

Is jy werklik gelukkig? Wat bepaal ware geluk in die lewe? Ps. 1 verskaf vir ons antwoorde op hierdie vrae. Ps. 1 is die ingangsportaal wat ons bekendstel aan die groot skat wat God vir ons in die Psalms gegee het.

Die hoofkarakters wat in die Psalms aan die woord is, word in hierdie Psalm aan ons bekendgestel. Daar is drie persone wat ’n sleutelrol in die Psalms speel, naamlik die gelowige mens en teenoor die gelowige staan die goddelose. Die derde Persoon wat ons in die Psalms ontmoet is God, dié Een wat ’n mens se lewensgeluk bepaal.

In Ps. 1 word hierdie twee groepe mense en hul verhouding tot God aan ons voorgestel. Aan hierdie beskrywing kan ek myself toets en vasstel of ek waarlik gelukkig is of nie. In hierdie Psalm word die verskil tussen regverdiges en Goddeloses teenoor mekaar gestel. Ons sien ook wat die oordeel ten opsigte van elkeen is.

Die regverdige

Verse 1 tot 4 skets vir ons by wyse van kontras die verskil tussen die Goddelose en die regverdige is. In vers 1 hoor ons dat dit goed gaan met die regverdige. Die Hebreeuse woord wat met hierdie sinsnede vertaal is, beteken letterlik gelukkig en daarom is dit in die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met welgeluksalig.

Hierdie Hebreeuse woord het ’n baie sterker betekenis as om net bloot die situasie te beskryf. Dit gee ’n versekering aan die betrokke persoon dat dit goed sal gaan met hom. Dit sê nie dat dit moontlik goed gaan nie of dat dit behoort goed te gaan nie. Nee, dit is baie sterker. Dit SAL goed gaan.

In Psalm 1 word hierdie regverdige net aan ons voorgestel. Verder aan in die Psalms hoor ons wat die regverdige se karaktereienskappe is. Dit is ’n mens wat God heelhartig dien. Dit is ’n mens wat sy krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou.

Hierdie persoon lewe in God se lig en hy doen slegs iets as dit tot God se eer strek. Dit is vir hom ’n loutere vreugde om gedurigdeur sy gedagtes besig te hou met die Woord van die HERE. Sy kennis van God se Woord leer hom om na swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Die Goddelose

Teenoor die regverdige word goddelose beskry wat absoluut op ’n pad van agteruitgang is. Dit is die mens wat afkerig is teenoor God en sy Woord, wat God blameer wanneer dit sleg gaan sonder om self verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat hy oor homself bring. Sy leefwyse bevestig dit ook omdat hulle hul lewe in sonde deurbring. Dit wat die Woord van die HERE vir uitwys as verkeerd, doen hulle en hulle hou daardie optrede as reg voor.

In plaas van om op te bou breek hulle af. Dit is die mens wat altyd negatief in die lewe is en alles en almal om hom moet dit ontgeld. Hulle word nie net ten kwade beïnvloed deur die geselskap waarin hulle verkeer nie, maar hulle werk self ook aktief mee daaraan om diegene om hulle aan te hits om sonde te doen.

Hierdie mense het geen eerbied vir God en sy Woord nie en hulle gaan selfs so ver om God se Woord te verdraai om hulle eie sondige en verkeerde optrede te regverdig. Dit is die persoon wat God verag en opstandig is teenoor God. Hy steur hom nie aan God se wet nie en doen alles wat verkeerd is met oorgawe.

Die lot van die regverdige

In Psalm 1 hoor ons ook wat word op die uiteinde van die regverdige en die Goddelose. Dit word deur twee beelde beskryf. Die regverdige word deur ’n boom wat by ’n waterstroom staan uitgebeeld. ’n Boom wat langs ’n standhoudende waterstroom staan se wortels kry altyd water.

Dit verseker dat daardie boom groei en sterk word sodat dit stewig vasgeanker is. Wanneer die stormwinde waai bly die boom staan. Dit is hoe die regverdige is. Die persoon wat vasgeanker is in die lewende Woord van God groei en is in staat om die lewensstorms te trotseer. Wanneer dit swaar gaan in sy lewe dan vind hy sy sterkte in die HERE en nie in homself nie.

Wanneer ons hoor dat dit goed gaan met die regverdige, dan moet ons verstaan dat dit nie eintlik soseer na fisiese omstandighede verwys nie, maar veel eerder na ’n innerlike vrede wat in God sy oorsprong het. ’n Regverdige verstaan dat dit nie sy omstandighede of materiële rykdom of sy status in die lewe is wat aan hom vrede gee nie, maar dat dit die teenwoordigheid van God is wat vrede in sy gemoed gee.

Ware geluk word net by God gevind en nie in rykdom of status of baie besittings nie. Ware geluk en vrede word nie in die gebrek aan teenspoed gevind nie, maar wel in die teenwoordigheid van God in my lewe.

Die regverdige word verseker dat hy God se seën in hierdie lewe ontvang en ook dat hy in die hiernamaals met God se liefdevolle teenwoordigheid geseën sal wees.

Die lot van die Goddelose

Teenoor die regverdige staan die Goddelose wat deur middel van kaf uitgebeeld word. Kaf is die droë blaarbedekking in ’n koringaar waarin die koringkorrels toegevou is. In teenstelling met die sterk lewende boom is kaf dood en droog. Anders as die boom wat ’n stormwind kan weerstaan word kaf deur die ligste windjie weggewaai.

Dit is hoe die Goddelose is. Selfs al gaan dit op die oog af goed met hom, is daar ’n gebrek aan innerlike vrede omdat hy van God geskei is. Die Goddelose soek daardie vrede op baie plekke, maar vind dit nie. So neem party hulle toevlug tot drank en dwelms. Ander soek dit weer in harde werk en die najaag van rykdom en status.

Teenoor die regverdige wat God se liefde ontvang staan die Goddelose wat God se oordeel ontvang. Net soos wat kaf nie teen die wind staande kan bly nie, sal die goddelose nie staande kan bly teen God se oordeel nie.

Waar staan ek?

Die vraag is: “waar pas ek in?” Pas ek in by die regverdige of pas ek in by die Goddelose? Ek moet sê dat ek baie ongemaklik was nadat ek die Psalm gelees het, want ek het besef dat daar baie meer van die Goddelose se eienskappe in my lewe is as wat daar van die regverdige se eienskappe in my lewe is en dat die lot van die Goddelose eerder as die regverdige my voorland is. As dit van my afhang gaan ek nooit by die ideaal kom wat vir die regverdige gestel word nie!

In die geskiedenis van die wêreld is daar een Mens wat op grond van sy eie verdienste 100% regverdig is. Hy het egter gekies om die straf van die Goddelose te dra sodat daar vir ons hoop is. In 1 Pet. 3:18 hoor ons:

Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

In Joh. 1:1 hoor ons:

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Jesus Christus is die Woord. In Ps. 1 hoor ons dit gaan goed met die mens wat sy vreugde in die Woord van die HERE vind. Ons moenie die fout maak om te dink dat die Woord van God net ’n lang lys is van onmoontlike moets en moenies nie. Die ware Woord is God se genade in Jesus Christus wat in ons plek as verlore sondaars die straf vir ons sonde gedra het sodat ons weer met God versoen kan word.

In Jesus Christus is ons regverdig voor God en daarom kan ons ook soos die regverdige begin leef. Daarom kan ons God heelhartig dien. Ons kan ons krag by die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Ons kan in God se lig lewe en slegs dit doen wat tot God se eer strek. Dit is moontlik om loutere vreugde te vind deur gedurigdeur ons gedagtes besig te hou met die Woord en om deur ons kennis van God se Woord te leer om na die swakkes om te sien en te sorg dat reg geskied.

Ons het nie nodig om die pad van die Goddelose te volg nie. Ons hoef gedurig net af te breek in plaas van om op te bou nie. Ons hoef nie geselskap by die Goddelose te soek wat ons beïnvloed om sonde te doen nie.

Ons hoef self ook nie ’n negatiewe invloed op diegene rondom ons uit te oefen nie. Ons hoef God se Woord te verdraai om ons eie verkeerde sondige optrede te regverdig nie. Ons hoef nie meer soos vyande van God te leef deur ons nie aan Hom te steur nie en om sy wet te verontagsaam nie.

Kom ons vind ons vreugde in die Woord, dit wil sê in Jesus Christus en weet dat ons daarin ware geluk en vrede sal vind.

Amen


13 September 2026

Vertrou net op die HERE alleen om jou deur die moeilike tye te dra


PSALMS 131

Ek het rus gevind

1'n Pelgrimslied. Van Dawid.
Selfverheffing en hoogmoed
is daar nie by my nie, Here.
Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie,
dinge wat bo my vermoë is.
2Ek het rus en kalmte gevind.
Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het,
so het ek tevredenheid gevind.
3Wag op die Here, Israel,
nou en vir altyd.

Inleiding

Die lewe het ’n geneigdheid om ’n mens te bekruip en jou van agter af ’n dwarsklap te gee wat jy nie verwag nie. Die een oomblik loop jou lewe nog klopdisselboom en die volgende oomblik tref daar ’n krisis jou. Die skielike dood van ’n geliefde. My gesondheid wat al hoe meer agteruitgaan. Die damme word al hoe leër as gevolg van die droogte wat net nie wil breek nie. Noem maar op, u ken die slegte dinge wat met ons gebeur geliefdes.

Te midde van hierdie stryd van die onreg wat die lewe my aandoen is die vraag: “Is dit wat met my gebeur die belangrikste saak wat my geluk in die lewe bepaal?” Moet ek na die dinge kyk wat met my en rondom my gebeur en sê: “Dit is my lewe?” As my lewensomstandighede my geluk in hierdie wêreld bepaal, raak die lewe bitter moeilik en kan dit sover gaan dat ek nie meer kans sien vir die lewe nie!

Die mens se worstelstryd met die lewe is absoluut tydloos. Die omstandighede waarbinne dit plaasvind verander, maar ons belewenis daarvan bly net dieselfde as wat dit vir alle mense van alle tye is. Dawid het ook maar ’n worstelstryd in sy lewe gehad. Nadat hy as koning gesalf is, moes hy vir sy lewe vlug en moes hy etlike jare in die berge wegkruip vir Saul wat hom wou doodmaak. Sy eie seun Absolom het ’n staatsgreep teen hom uitgevoer om in sy plek koning te word. Dawid het dus ook maar sy eie lewenskrisisse gehad net soos elkeen van ons ook ons eie lewenskrisisse het.

Ons weet nie wat die oorsaak van Dawid se worsteling was toe hy Psalm 131 geskryf het nie. Maar ons weet dit was meer as wat hy as mens kon hanteer. Dit was iets wat hom in sy denke wou verstrengel, (vers 1) dit was iets wat hom in sy siel getref het (vers 2) Dit was iets wat hy nie kon omvat en onder beheer bring nie.

Hier in Ps. 131 leer die HERE ons hoe ons die worstelvrae in ons lewens moet hanteer. Ons sien in die Psalm dat die omstandighede nie weggevat word nie, maar dat die HERE vir ons hier iets openbaar wat groter is as ons omstandighede. Hier sien ons hoe die storm hier binne in my stilgemaak word ten spyte ten spyte van die storm wat daar buite om ons woed. Hier leer die HERE ons waar ons rus en vrede moet soek. Die HERE leer ons hier om aan Hom die beheer van ons lewens te gee.

Gee die beheer van jou lewe aan God

In vers 1 sê Dawid hier op vier verskillende maniere hoe afhanklik hy van God is. Hy maak dus nie meer op homself staat nie, maar hy vertrou net op die Here alleen.

    i.        Ek is nie hoogmoedig nie

  ii.        Ek vertrou nie net op myself nie

iii.        Ek beskou myself nie beter as ander nie

iv.        Ek probeer nie om sake op te los wat bo my vuurmaakplek is nie

Dawid sê hier dat hy as te ware sy eie belangrikheid (dit wil sê sy eie ek) heeltemal op die agtergrond skuif.

Dawid het aan God die beheer oor sy lewe oorgegee. Hy soek nie meer antwoorde op die hoekom en waarom vrae nie. Hy gee inderwaarheid sy “reg” om te verstaan op. As ons in ʼn verhouding met die HERE wil staan dan moet ons ook ons eie hoogmoed en trots in ons sak steek. Die HERE belowe ons wel inderdaad dat ons nie bo ons vermoëns versoek sal word nie soos ons 1 Kor. 10v13 hoor:

Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.

Hoekom voel dit dan so dikwels dat die lewenskrisisse wat oor ons pad kom, ons heeltemal wil oorweldig? Is dit nie dalk omdat ons self die krisisse wil hanteer sonder God nie? Wanneer ek op myself begin vertrou raak ek hoogmoedig en dink ek meer van myself as wat ek behoort te dink. Dan probeer ek sake oplos wat bokant my vermoë is, dinge wat vir my alleen te groot is om te hanteer.

Is dit nie maar ook wat in die paradys gebeur het nie, geliefdes? Deur te eet van die boom van kennis goed en kwaad wou die mens self beheer oorneem en wou die mens nie meer op God staatmaak nie.

Wanneer ons self sonder God se hulp die beheer in ons lewens wil oorneem dan lei dit daartoe dat dit wat met gebeur my lewensgeluk bepaal. Dan ry my emosies wipplank saam met die gebeure in my lewe. Dan ry ek op die pieke van geluk wanneer dit goed gaan met my. Aan die ander kant gooi elke krisis hoe klein of groot ook al in my lewe my op die grond neer. Dan is daar geen stabiliteit in my lewe nie en ondervind ek ook geen vrede nie.

Die HERE sê hier in Ps. 131 vir ons hoe ons rus en vrede kan vind, self wanneer ons in die middel van ’n lewenskrisis is. Hy sê hier in vers 2 vir ons dat ons veilig in sy arms kan voel.

Ons kan veilig Voel in God se arms

In vers 2 maak die Psalmdigter van ʼn buitegewone voorbeeld gebruik om sy boodskap baie duidelik te maak en te beklemtoon. Hy vergelyk God hier met ʼn moeder. Die OAV gee die betekenis ʼn bietjie duideliker deur.

2Waarlik, ek het my siel tot bedaring gebring en stilgemaak; soos ’n gespeende kind by sy moeder, soos ’n gespeende kind is my siel in my.

Wanneer Dawid hier van sy siel praat dan bedoel hy “die innerlike wese wat jou menswees verteenwoordig” Dit wil sê hierdie onstuimigheid wat hier in my binneste woed, dit is wat tot bedaring gebring moet word.

Wanneer hy sê dat hy sy siel tot bedaring gebring het, dan kan ons dit vergelyk met water wat stil en rustig vloei. Dink hier aan ʼn rivier of ʼn stroom wat stadig vloei. As jy so na die water kyk dan lyk dit nie eers of dit vloei nie. Dit is net as jy blaar of ʼn stokkie dophou dat sien die water vloei stadig verby. Dit is wat met hierdie onstuimigheid hier binne in my moet gebeur, dit moet stil en rustig word net soos stroom wat stadig en rustig hier voor my verby vloei.

In die tweede deel van die vers word die voorbeeld van ʼn kind wat gespeen is genoem. In vandag se taal sou ons sê dat dit ʼn kind is wat van sy bottel af is of wat nie meer aan sy ma drink nie. Wanneer ʼn kind gespeen word, is dit gewoonlik vir die kind nogal traumaties omdat hy van die sekuriteit wat hy met die bottel of moedersmelk gehad het ontneem word.

So ʼn kind verstaan ook nie altyd hoekom dit moet gebeur nie. Sy ma weet egter dat dit nodig is, maar sy is gewoonlik nie onverskillig teenoor haar kind se ongemak nie. Wanneer die kind so onrustig is, dan tel sy hom op haar skoot en binne haar arms voel die kind dan veilig en tevrede.

Dit is die vergelyking wat die Psalmdigter hier maak. Net soos ʼn kind veilig en geborge voel in sy ma se arms kan ons ook veilig en geborge voel in die arms van God. Niemand kan werklik die pyn en hartseer verstaan wat elkeen ervaar nie. Tog weet God en Hy kan ons vertroos deur figuurlik sy arms om ons te vou. Dit is egter net God se kinders wat hierdie troos kan ervaar. Hoe weet ons of ons kinders van God is? Eenvoudig geliefdes
Rom. 10v9

As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word.

Vir sy kinders sê die HERE vanoggend dat Hy hulle met sy liefdevolle arms wil toevou. Daarom sê Hy vir ons: “wag op die HERE, nou en vir altyd”

Wag op die Here

Beteken dit dat ons nou maar net agteroor moet gaan sit en wag dat die HERE dinge in my lewe moet beter maak? Nee geliefdes, dalk sal ons beter verstaan as ons na die Jesus se uitnodiging in Mat 11v28 luister wat eintlik maar dieselfde opdrag is as ons teksvers:

“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.

Die Hebreeuse woord wat met wag vertaal word het die betekenis van om net op die HERE alleen te vertrou. Ek moet my hele lewe aan God toevertrou en nie op myself staatmaak om die slegte dinge wat met my gebeur, probeer hanteer nie.

Hoe doen ons dit? Maak tyd in jou lewe om stil te word voor God. Maak jou los van jou eie belangrikheid deur aan God te erken dat jy van Hom afhanklik is. Spandeer tyd saam met God deur in gebed met Hom te praat en deur Bybelstudie te luister na Hom wanneer Hy met ons praat. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie.

Slot

Wanneer die lewe ons ’n dwarsklap gee moet ons nie in hoogmoed probeer om die slegte dinge in die lewe sonder God op ons eie hanteer nie. Ons moet ten volle op die HERE vertrou net soos ’n klein kindjie op sy ma vertrou en daarom tevrede is in sy ma se arms.

Die HERE bemoedig ons vanoggend met die wete dat Hy ons vertroos nou en ook in die toekoms. Wanneer ons op die HERE in vertroue wag dan bepaal God my lewensvreugde en nie my omstandighede nie. Vertrou net op die HERE. Vertrou dat Hy jou deur die moeilike tye in die lewe sal dra.

Amen

06 September 2026

God gee ons ʼn kans om weer te begin

 

Skriflesing:  Gen. 6:5 - 22

Fokusgedeelte: Gen. 6:5 – 13

Inleiding

Wat hoor ons wanneer ons die nuus aansit? Nog onthullings van korrupsie wat deur die verskillende ondersoek kommissies oopgevlek word. Dit blyk dat selfverryking die hoofdoel van politici is wat veronderstel is om ten bate van die inwoners die land te regeer.

In ons teksgedeelte kom 'n soortgelyke prentjie tee. Ons lees die aarde was korrup en vol geweld. Dit was so erg dat God besluit het om in te gryp. Hy sê vir Noag Hy gaan 'n einde maak aan die mens. Hy straf egter nie net nie, Hy begenadig ook. Deur Noag en sy gesin maak God 'n nuwe begin met die mens. Tog het ook hierdie nuwe begin sommer gou skeef geloop – weens die mens se sonde en sondigheid.

Ons het dieselfde probleem as die mense in Noag se tyd. Ons kan nie net vinger wys na die korruptes nie – ons tel self onder hulle. Selfs in diegene wat deur God begenadig is, sien ons nog steeds die sonde raak. Juis daarom het ons almal God se groot nuwe begin nodig: Jesus Christus moes mens word, ly en sterf, omdat alle mense – ook elkeen van ons - sondig en korrup is. As Gereformeerde gelowiges erken ons dit. Ons bely dat 'n mens uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van Christus se verdienste alleen verlos word.

Die hoofgedagtes waarby ons vanoggend gaan stilstaan is:

(1)             Die diepte van ons sondeskuld;

(2)             God begin nuut met die mens

1. Die diepte van ons sondeskuld

In Gen. 6:5,6 hoor ons van God se oordeel oor die wêreld en die mens in Noag se tyd:

Toe die HERE sien hoe groot die verdorwenheid van die mens op die aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink, was die HERE bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep gegrief

en in Gen. 6:11,12 hoor ons:

Die aarde was korrup in die oë van God, vol geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was verrot.

Klink dit nie na 'n beskrywing van Suid-Afrika in die afgelope paar jaar nie?

Daar was egter ʼn uitsondering. In Gen. 6:9 hoor ons:

Noag was ’n regverdige man. Onder sy tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.

Die vraag is net: “Wat beteken hierdie woorde in die konteks van die hele gebeure rondom die sondvloed? Was Noag en sy gesin minder sondig as die ander mense van sy tyd?

Die antwoord kry ons wanneer ons na sy optrede kyk na afloop van die sondvloed. Die eerste ding wat Noag weer op vaste grond gedoen het, laat ons dink hy was tog anders as die mense wat uitgewis is. In Gen. 8:20 & 21 hoor ons dat hy ʼn altaar vir die HERE gebou en ʼn offer aan die HERE gebring het en dat daardie offer vir die HERE aanvaarbaar was. In Gen. 9:1-17 hoor ons dat God beloof het dat Hy nie weer die aarde met ʼn vloed sou vernietig nie en dat Hy die reënboog as teken daarvan gegee het.

Maar, wat doen Noag toe? In Gen. 9:21 – 25 hoor ons dat hy ʼn wingerd geplant het en goed dronk geword het van die eerste wyn. Sy seun Gam het dit gesien en sy broers van hul pa se skandes vertel en toe Noag uit sy roes wakker word en dit agterkom, het hy Gam se seun en Kanaän, vervloek.  Noag was ook 'n sondaar soos die ander mense van sy tyd. Hy was ook nie anders as ons nie. Ons kan nie uit die hoogte neersien op die mense van ons tyd wat in sonde en korrupsie ploeter nie.

Dis opvallend dat dié mense wat tydens Jesus se aardse lewe hulleself as beter as ander beskou het, Jesus se skerpste oordeel moes verduur vanweë hulle skynheiligheid. Soos Noag, is ek en jy sondaars, soos al die ander van ons tyd. Ook van ons en van die mense van ons tyd geld die Woord:

Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie

soos ons in Rom. 3:10 – 12 hoor.

Dit is die prentjie wat God in sy Woord van ons sonde en sondeskuld teken. Dit sou nie onregverdig wees as God geduld verloor en die mensdom heeltemal vernietig het nie. Die wonder het egter gebeur.

2. God begin nuut met die mens

Vir sy nuwe begin met die mensdom het God een man, Noag, en sy gesin gekies. Hy het Noag beveel om 'n ark te bou. Danksy die ark het Noag en sy gesin, sowel as die diersoorte die sondvloed oorleef. God het nuut begin met al die mense wat die sondvloed oorleef het.

Hoe het Noag van die ander mense verskil? Noag was wel 'n sondaar soos al die ander mense van sy tyd. Soos ek en jy, het die sondaar Noag net een hoop gehad: In Gen. 6:8 hoor ons:

Noag is deur die HERE begenadig

Let mooi daarop, daar staan nie Noag was regverdig en daarom is hy gespaar nie. Nee, Noag is deur die HERE begenadig. Genade beteken dat jy iets ontvang wat jy nie verdien nie. As jy iets moet doen om die HERE se guns te ontvang is dit nie genade nie. Noag het nie verdien om gered te word. Die HERE het hom begenadig.

Die begenadigde sondaar, Noag, het tog in 'n ander verhouding tot God gestaan as al die ander mense wat God vanweë hulle sondes uitgedelg het. Noag was 'n sondaar wat in God geglo het.

In Heb. 11:7 hoor ons dat Noag se geloof 'n veroordeling vir die wêreld was, maar dit het hom ook ʼn erfgenaam gemaak van die vryspraak wat deur die geloof kom.

Dat ek en jy glo, is te danke daaraan dat die Heilige Gees hierdie geloof in ons hart bewerk. Juis vanweë Noag se sondigheid en ook myne en joune was dit nodig dat God ʼn totale nuwe begin maak. Om weer nuut met die mens te begin, het God sy geliefde Seun, Jesus Christus, as die tweede Adam gestuur soos ons in Rom. 5:14 en 1 Kor. 15:45 hoor.

In 1 Pet 3:18 kry ons die versekering:

Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.

Petrus koppel hierdie verlossing in en deur Christus aan ons teks, wanneer hy in 1 Pet 3:20, 21 sê:

Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.

In Jak 2 hoor ons: Die boom van geloof dra altyd vrug. Die ware geloof gaan altyd tot die daad oor. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade bevestig dit nie? Kan so ʼn geloof 'n mens red? 'n Liggaam wat nie asemhaal nie, is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.

Die HERE het van Noag verwag om te glo wat hy sê. Meer nog: hoog en droog moes hy ʼn ark bou volgens die afmetings wat God gegee het. Noag se geloof het dade geword. Ons hoor in Gen. 6:22 en Gen. 7:5 dat Noag alles gedoen het presies soos God hom beveel het. Met die ark wat hy op God se bevel gebou het, het hy en sy gesin sowel as verteenwoordigers uit die diereryk die sondvloed oorleef.

Ook van my en jou wat in Christus glo en so met God versoen is, verwag die HERE dat ons geloof deur die liefde tot dade oorgaan soos die HERE vir ons in Gal 5:6 bevestig.

In Christus Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.

Die HERE lê elders ook hierdie verband tussen genade, geloof en dan ook dankbare gehoorsaamheid duidelik: In Ef. 2:8-10 hoor ons:

Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

God maak 'n nuwe begin met sondaars wat gelowig aanvaar dat Hy sy Seun gegee het tot 'n volkome versoening vir al ons sondes, sodat ons anders kan leef as die mense wat Hom nie ken en wil dien nie. Hy maak 'n nuwe begin met ons - sondaars - wat glo, sodat ons kan doen wat Hy van ons verwag.

Gaan dan nou hiervandaan uit en leef as mense met wie die heilige God 'n nuwe begin gemaak het. Leef vanuit die genade wat Hy so ryklik oor ons uitgestort het. Leef as geregverdigde in en deur Jesus Christus onder die leiding van die Heilige Gees onberispelik en naby God.

AMEN