Skriflesing: Gen. 6:5 - 22
Fokusgedeelte: Gen.
6:5 – 13
Wat hoor ons wanneer ons die nuus aansit? Nog
onthullings van korrupsie wat deur die verskillende ondersoek kommissies
oopgevlek word. Dit blyk dat selfverryking die hoofdoel van politici is wat
veronderstel is om ten bate van die inwoners die land te regeer.
In ons teksgedeelte kom 'n soortgelyke
prentjie tee. Ons lees die aarde was korrup en vol geweld. Dit was so erg dat
God besluit het om in te gryp. Hy sê vir Noag Hy gaan 'n einde maak aan die
mens. Hy straf egter nie net nie, Hy begenadig ook. Deur Noag en sy gesin maak
God 'n nuwe begin met die mens. Tog het ook hierdie nuwe begin sommer gou skeef
geloop – weens die mens se sonde en sondigheid.
Ons het dieselfde probleem as die mense in
Noag se tyd. Ons kan nie net vinger wys na die korruptes nie – ons tel self
onder hulle. Selfs in diegene wat deur God begenadig is, sien ons nog steeds
die sonde raak. Juis daarom het ons almal God se groot nuwe begin nodig: Jesus
Christus moes mens word, ly en sterf, omdat alle mense – ook elkeen van ons -
sondig en korrup is. As Gereformeerde gelowiges erken ons dit. Ons bely dat 'n
mens uit genade alleen, deur die geloof alleen, op grond van Christus se
verdienste alleen verlos word.
Die hoofgedagtes waarby ons vanoggend gaan
stilstaan is:
(1)
Die diepte van ons sondeskuld;
(2)
God begin nuut met die mens
1. Die diepte
van ons sondeskuld
In Gen. 6:5,6 hoor ons van God se oordeel oor
die wêreld en die mens in Noag se tyd:
Toe die HERE sien hoe groot die verdorwenheid
van die mens op die aarde is en dat hy sy lewe lank net slegte dinge bedink,
was die HERE bedroef daaroor dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het
Hom diep gegrief
en in Gen. 6:11,12 hoor ons:
Die aarde was korrup in die oë van God, vol
geweld; Hy het die aarde gesien: dit was korrup, elke mens op aarde se lewe was
verrot.
Klink dit nie na 'n beskrywing van
Suid-Afrika in die afgelope paar jaar nie?
Daar was egter ʼn uitsondering. In Gen. 6:9
hoor ons:
Noag was ’n regverdige man. Onder sy
tydgenote was hy onberispelik en hy het naby God geleef.
Die vraag is net: “Wat beteken hierdie woorde
in die konteks van die hele gebeure rondom die sondvloed? Was Noag en sy gesin
minder sondig as die ander mense van sy tyd?
Die antwoord kry ons wanneer ons na sy
optrede kyk na afloop van die sondvloed. Die eerste ding wat Noag weer op vaste
grond gedoen het, laat ons dink hy was tog anders as die mense wat uitgewis is.
In Gen. 8:20 & 21 hoor ons dat hy ʼn altaar vir die HERE gebou en ʼn offer
aan die HERE gebring het en dat daardie offer vir die HERE aanvaarbaar was. In
Gen. 9:1-17 hoor ons dat God beloof het dat Hy nie weer die aarde met ʼn vloed
sou vernietig nie en dat Hy die reënboog as teken daarvan gegee het.
Maar, wat doen Noag toe? In Gen. 9:21 – 25
hoor ons dat hy ʼn wingerd geplant het en goed dronk geword het van die eerste
wyn. Sy seun Gam het dit gesien en sy broers van hul pa se skandes vertel en
toe Noag uit sy roes wakker word en dit agterkom, het hy Gam se seun en Kanaän,
vervloek. Noag was ook 'n sondaar soos
die ander mense van sy tyd. Hy was ook nie anders as ons nie. Ons kan nie uit
die hoogte neersien op die mense van ons tyd wat in sonde en korrupsie ploeter
nie.
Dis opvallend dat dié mense wat tydens Jesus
se aardse lewe hulleself as beter as ander beskou het, Jesus se skerpste
oordeel moes verduur vanweë hulle skynheiligheid. Soos Noag, is ek en jy
sondaars, soos al die ander van ons tyd. Ook van ons en van die mense van ons
tyd geld die Woord:
Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs
nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die
wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een
wat goed doen nie, selfs nie een nie
soos ons in Rom. 3:10 – 12 hoor.
Dit is die prentjie wat God in sy Woord van
ons sonde en sondeskuld teken. Dit sou nie onregverdig wees as God geduld
verloor en die mensdom heeltemal vernietig het nie. Die wonder het egter
gebeur.
2. God begin
nuut met die mens
Vir sy nuwe begin met die mensdom het God een
man, Noag, en sy gesin gekies. Hy het Noag beveel om 'n ark te bou. Danksy die
ark het Noag en sy gesin, sowel as die diersoorte die sondvloed oorleef. God
het nuut begin met al die mense wat die sondvloed oorleef het.
Hoe het Noag van die ander mense verskil?
Noag was wel 'n sondaar soos al die ander mense van sy tyd. Soos ek en jy, het
die sondaar Noag net een hoop gehad: In Gen. 6:8 hoor ons:
Noag is deur die HERE begenadig
Let mooi daarop, daar staan nie Noag was
regverdig en daarom is hy gespaar nie. Nee, Noag is deur die HERE begenadig.
Genade beteken dat jy iets ontvang wat jy nie verdien nie. As jy iets moet doen
om die HERE se guns te ontvang is dit nie genade nie. Noag het nie verdien om
gered te word. Die HERE het hom begenadig.
Die begenadigde sondaar, Noag, het tog in 'n
ander verhouding tot God gestaan as al die ander mense wat God vanweë hulle
sondes uitgedelg het. Noag was 'n sondaar wat in God geglo het.
In Heb. 11:7 hoor ons dat Noag se geloof 'n
veroordeling vir die wêreld was, maar dit het hom ook ʼn erfgenaam gemaak van
die vryspraak wat deur die geloof kom.
Dat ek en jy glo, is te danke daaraan dat die
Heilige Gees hierdie geloof in ons hart bewerk. Juis vanweë Noag se sondigheid
en ook myne en joune was dit nodig dat God ʼn totale nuwe begin maak. Om weer
nuut met die mens te begin, het God sy geliefde Seun, Jesus Christus, as die
tweede Adam gestuur soos ons in Rom. 5:14 en 1 Kor. 15:45 hoor.
In 1 Pet 3:18 kry ons die versekering:
Ook Christus het een maal vir die sondes
gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat
as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is.
Petrus koppel hierdie verlossing in en deur
Christus aan ons teks, wanneer hy in 1 Pet 3:20, 21 sê:
Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal,
is deur die water gered. Dit dui op die doop, waardeur julle ook nou gered
word. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar
’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die
opstanding van Jesus Christus.
In Jak 2 hoor ons: Die boom van geloof dra altyd vrug. Die ware geloof gaan altyd tot die
daad oor. Wat help dit, my broers, as iemand beweer dat hy glo, maar sy dade
bevestig dit nie? Kan so ʼn geloof 'n mens red? 'n Liggaam wat nie asemhaal nie,
is dood. So is die geloof wat nie tot dade kom nie, ook dood.
Die HERE het van Noag verwag om te glo wat hy
sê. Meer nog: hoog en droog moes hy ʼn ark bou volgens die afmetings wat God gegee
het. Noag se geloof het dade geword. Ons hoor in Gen. 6:22 en Gen. 7:5 dat Noag
alles gedoen het presies soos God hom beveel het. Met die ark wat hy op God se
bevel gebou het, het hy en sy gesin sowel as verteenwoordigers uit die diereryk
die sondvloed oorleef.
Ook van my en jou wat in Christus glo en so
met God versoen is, verwag die HERE dat ons geloof deur die liefde tot dade
oorgaan soos die HERE vir ons in Gal 5:6 bevestig.
In Christus
Jesus is dit nie van belang of jy besny is of nie. Al wat van belang is, is
geloof wat deur die liefde tot dade oorgaan.
Die HERE lê elders ook hierdie verband tussen
genade, geloof en dan ook dankbare gehoorsaamheid duidelik: In Ef. 2:8-10 hoor
ons:
Julle is inderdaad uit genade gered, deur
geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God. Dit
kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op
homself trots te wees nie. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus
Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons
bestem het.
God maak 'n nuwe begin met sondaars wat
gelowig aanvaar dat Hy sy Seun gegee het tot 'n volkome versoening vir al ons
sondes, sodat ons anders kan leef as die mense wat Hom nie ken en wil dien nie.
Hy maak 'n nuwe begin met ons - sondaars - wat glo, sodat ons kan doen wat Hy
van ons verwag.
Gaan dan nou hiervandaan uit en leef as mense
met wie die heilige God 'n nuwe begin gemaak het. Leef vanuit die genade wat Hy
so ryklik oor ons uitgestort het. Leef as geregverdigde in en deur Jesus
Christus onder die leiding van die Heilige Gees onberispelik en naby God.
AMEN

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking