PSALMS 1
Die Here lei die
regverdiges
1Dit gaan goed met
die mens
wat nie die raad van goddeloses volg nie,
nie met sondaars omgaan en met ligsinniges saamspan nie,
2maar wat in die woord van die Here sy vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
3Hy is soos 'n boom wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie verdroog nie.
Hy is voorspoedig in alles wat hy aanpak.
4So is die goddeloses nie.
Hulle is soos kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word.
5Daarom sal goddeloses hulle nie kan handhaaf wanneer die Here oor
hulle oordeel nie en sondaars nie 'n plek hê in die vergadering van regverdiges
nie.
6Waarlik, die Here lei die regverdiges op hulle pad,
maar die pad van die goddeloses lei tot ondergang.
Inleiding
Is
jy werklik gelukkig? Wat bepaal ware geluk in die lewe? Ps. 1 verskaf vir ons
antwoorde op hierdie vrae. Ps. 1 is die ingangsportaal wat ons bekendstel aan
die groot skat wat God vir ons in die Psalms gegee het.
Die
hoofkarakters wat in die Psalms aan die woord is, word in hierdie Psalm aan ons
bekendgestel. Daar is drie persone wat ’n sleutelrol in die Psalms speel,
naamlik die gelowige mens en teenoor die gelowige staan die goddelose. Die
derde Persoon wat ons in die Psalms ontmoet is God, dié Een wat ’n mens se
lewensgeluk bepaal.
In
Ps. 1 word hierdie twee groepe mense en hul verhouding tot God aan ons
voorgestel. Aan hierdie beskrywing kan ek myself toets en vasstel of ek waarlik
gelukkig is of nie. In hierdie Psalm word die verskil tussen regverdiges en
Goddeloses teenoor mekaar gestel. Ons sien ook wat die oordeel ten opsigte van
elkeen is.
Die
regverdige
Verse
1 tot 4 skets vir ons by wyse van kontras die verskil tussen die Goddelose en
die regverdige is. In vers 1 hoor ons dat dit goed gaan met die regverdige. Die
Hebreeuse woord wat met hierdie sinsnede vertaal is, beteken letterlik gelukkig
en daarom is dit in die Ou Afrikaanse vertaling vertaal met welgeluksalig.
Hierdie
Hebreeuse woord het ’n baie sterker betekenis as om net bloot die situasie te
beskryf. Dit gee ’n versekering aan die betrokke persoon dat dit goed sal gaan
met hom. Dit sê nie dat dit moontlik goed gaan nie of dat dit behoort goed te
gaan nie. Nee, dit is baie sterker. Dit SAL goed gaan.
In
Psalm 1 word hierdie regverdige net aan ons voorgestel. Verder aan in die
Psalms hoor ons wat die regverdige se karaktereienskappe is. Dit is ’n mens wat
God heelhartig dien. Dit is ’n mens wat sy krag by die HERE soek en absoluut op
Hom vertrou.
Hierdie
persoon lewe in God se lig en hy doen slegs iets as dit tot God se eer strek.
Dit is vir hom ’n loutere vreugde om gedurigdeur sy gedagtes besig te hou met
die Woord van die HERE. Sy kennis van God se Woord leer hom om na swakkes om te
sien en te sorg dat reg geskied.
Die
Goddelose
Teenoor
die regverdige word goddelose beskry wat absoluut op ’n pad van agteruitgang
is. Dit is die mens wat afkerig is teenoor God en sy Woord, wat God blameer
wanneer dit sleg gaan sonder om self verantwoordelikheid te aanvaar vir dit wat
hy oor homself bring. Sy leefwyse bevestig dit ook omdat hulle hul lewe in
sonde deurbring. Dit wat die Woord van die HERE vir uitwys as verkeerd, doen
hulle en hulle hou daardie optrede as reg voor.
In
plaas van om op te bou breek hulle af. Dit is die mens wat altyd negatief in
die lewe is en alles en almal om hom moet dit ontgeld. Hulle word nie net ten
kwade beïnvloed deur die geselskap waarin hulle verkeer nie, maar hulle werk
self ook aktief mee daaraan om diegene om hulle aan te hits om sonde te doen.
Hierdie
mense het geen eerbied vir God en sy Woord nie en hulle gaan selfs so ver om
God se Woord te verdraai om hulle eie sondige en verkeerde optrede te
regverdig. Dit is die persoon wat God verag en opstandig is teenoor God. Hy
steur hom nie aan God se wet nie en doen alles wat verkeerd is met oorgawe.
Die
lot van die regverdige
In
Psalm 1 hoor ons ook wat word op die uiteinde van die regverdige en die
Goddelose. Dit word deur twee beelde beskryf. Die regverdige word deur ’n boom
wat by ’n waterstroom staan uitgebeeld. ’n Boom wat langs ’n standhoudende
waterstroom staan se wortels kry altyd water.
Dit
verseker dat daardie boom groei en sterk word sodat dit stewig vasgeanker is.
Wanneer die stormwinde waai bly die boom staan. Dit is hoe die regverdige is.
Die persoon wat vasgeanker is in die lewende Woord van God groei en is in staat
om die lewensstorms te trotseer. Wanneer dit swaar gaan in sy lewe dan vind hy
sy sterkte in die HERE en nie in homself nie.
Wanneer
ons hoor dat dit goed gaan met die regverdige, dan moet ons verstaan dat dit
nie eintlik soseer na fisiese omstandighede verwys nie, maar veel eerder na ’n
innerlike vrede wat in God sy oorsprong het. ’n Regverdige verstaan dat dit nie
sy omstandighede of materiële rykdom of sy status in die lewe is wat aan hom
vrede gee nie, maar dat dit die teenwoordigheid van God is wat vrede in sy
gemoed gee.
Ware
geluk word net by God gevind en nie in rykdom of status of baie besittings nie.
Ware geluk en vrede word nie in die gebrek aan teenspoed gevind nie, maar wel
in die teenwoordigheid van God in my lewe.
Die
regverdige word verseker dat hy God se seën in hierdie lewe ontvang en ook dat
hy in die hiernamaals met God se liefdevolle teenwoordigheid geseën sal wees.
Die
lot van die Goddelose
Teenoor
die regverdige staan die Goddelose wat deur middel van kaf uitgebeeld word. Kaf
is die droë blaarbedekking in ’n koringaar waarin die koringkorrels toegevou
is. In teenstelling met die sterk lewende boom is kaf dood en droog. Anders as
die boom wat ’n stormwind kan weerstaan word kaf deur die ligste windjie
weggewaai.
Dit
is hoe die Goddelose is. Selfs al gaan dit op die oog af goed met hom, is daar
’n gebrek aan innerlike vrede omdat hy van God geskei is. Die Goddelose soek
daardie vrede op baie plekke, maar vind dit nie. So neem party hulle toevlug
tot drank en dwelms. Ander soek dit weer in harde werk en die najaag van rykdom
en status.
Teenoor
die regverdige wat God se liefde ontvang staan die Goddelose wat God se oordeel
ontvang. Net soos wat kaf nie teen die wind staande kan bly nie, sal die
goddelose nie staande kan bly teen God se oordeel nie.
Waar
staan ek?
Die
vraag is: “waar pas ek in?” Pas ek in by die regverdige of pas ek in by die
Goddelose? Ek moet sê dat ek baie ongemaklik was nadat ek die Psalm gelees het,
want ek het besef dat daar baie meer van die Goddelose se eienskappe in my lewe
is as wat daar van die regverdige se eienskappe in my lewe is en dat die lot
van die Goddelose eerder as die regverdige my voorland is. As dit van my afhang
gaan ek nooit by die ideaal kom wat vir die regverdige gestel word nie!
In
die geskiedenis van die wêreld is daar een Mens wat op grond van sy eie
verdienste 100% regverdig is. Hy het egter gekies om die straf van die
Goddelose te dra sodat daar vir ons hoop is. In 1 Pet. 3:18 hoor ons:
Ook Christus
het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na
God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend
gemaak is.
In
Joh. 1:1 hoor ons:
In die begin
was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.
Jesus
Christus is die Woord. In Ps. 1 hoor ons dit gaan goed met die mens wat sy
vreugde in die Woord van die HERE vind. Ons moenie die fout maak om te dink dat
die Woord van God net ’n lang lys is van onmoontlike moets en moenies nie. Die
ware Woord is God se genade in Jesus Christus wat in ons plek as verlore
sondaars die straf vir ons sonde gedra het sodat ons weer met God versoen kan
word.
In
Jesus Christus is ons regverdig voor God en daarom kan ons ook soos die
regverdige begin leef. Daarom kan ons God heelhartig dien. Ons kan ons krag by
die HERE soek en absoluut op Hom vertrou. Ons kan in God se lig lewe en slegs
dit doen wat tot God se eer strek. Dit is moontlik om loutere vreugde te vind
deur gedurigdeur ons gedagtes besig te hou met die Woord en om deur ons kennis
van God se Woord te leer om na die swakkes om te sien en te sorg dat reg
geskied.
Ons
het nie nodig om die pad van die Goddelose te volg nie. Ons hoef gedurig net af
te breek in plaas van om op te bou nie. Ons hoef nie geselskap by die Goddelose
te soek wat ons beïnvloed om sonde te doen nie.
Ons
hoef self ook nie ’n negatiewe invloed op diegene rondom ons uit te oefen nie.
Ons hoef God se Woord te verdraai om ons eie verkeerde sondige optrede te
regverdig nie. Ons hoef nie meer soos vyande van God te leef deur ons nie aan
Hom te steur nie en om sy wet te verontagsaam nie.
Kom
ons vind ons vreugde in die Woord, dit wil sê in Jesus Christus en weet dat ons
daarin ware geluk en vrede sal vind.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking