19 November 2017

Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal!


19 Nov 2017 GKE Nagmaal
1 Kor. 7 v 17 – 24
Teksvers 1 Kor. 7 v 23
Sondag 1 Heidelbergse Kategismus
Vraag 1:     Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord:   Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2:     Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord:   Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.
Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal! Daar is geen duurder prys wat gevra kon word nie en daar was net een persoon wat daardie prys kon bekostig. Daarom het jy nou ’n nuwe eienaar. Jy behoort nie meer aan die slawedrywer wat jou deur middel van sonde vasgeketting het nie. Jy is nou vry van die troosteloosheid wat jou gevangene gehou het, want jy behoort nou aan Jesus Christus.

Twee van die groot vrae in die lewe is:
1) waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
2) wat wag anderkant die dood vir my?
Die antwoorde wat hierdie wêreld op bg. twee vrae bied laat ons met ’n troosteloosheid waarvoor ons nie antwoorde het nie.
Ons Here troos ons met antwoorde op bg vrae wat onuitspreeklike vrede gee.
Waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
Die kort antwoord is sonde. In die plek van God se liefde bring sonde haat, onmin, ongeregtigheid, selfsug, angstigheid, onsekerheid. Al die dinge wat ’n mens se gemoed kwel. Sonde is in sy diepste wese opstand teen God se gesag en dit het die verhouding tussen God en die mens beskadig. Dit veroorsaak ook dat die verhouding tussen mense stukkend is. Pleks daarvan om vir mekaar om te gee, soek mense nou mekaar se ondergang. Mense steel, lieg en bedrieg. Ons hoor dit daagliks oor die nuus. Nog korrupsie waar die armes uitgebuit word. Boere word op plase vermoor. Geweld teen vroue en kinders. Sonde is die oorsaak van die gebrokenheid in hierdie lewe en daarom word ons so deur siektes en rampe geteister. Sonde oorsaak dat ons in hierdie lewe ongeluk en angstigheid ervaar.

Al hierdie onreg maak dat ons troos soek en daar is net een Bron van ware troos. Jou troos vir hierdie lewe is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit verseker jou van ’n onuitspreeklike troos want die vrede wat net God kan gee vervang nou die onrus en onsekerheid van jou daaglikse lewe. Jy behoort in hierdie lewe aan Jesus Christus. Dit beteken dat die gebrokenheid van die wêreld nie meer jou lot bepaal nie. Jou geluk in die lewe hang nie meer van die wispelturigheid van hierdie wêreld af nie. Jy het nou ’n vaste anker om aan vas te hou. Jou omstandighede bepaal nie meer of jy vrede het of nie. Jou vrede is nou aan die vaste anker van God vasgemaak, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.

Dit is egter nie net die onsekerhede van hierdie lewe wat jou gemoed kwel nie. Die vraag: “wat wag vir ons anderkant die dood?” veroorsaak net soveel onrus in ’n mens se lewe.

Soos wat ons ouer word kom die realiteit van hierdie vraag al hoe nader. Elke keer wanneer ons vir ’n geliefde die laaste keer totsiens sê bring dit hierdie vraag net weer in fokus. In ons alledaagse lewens bêre ons hierdie vraag daar in ’n agterste laai wanneer ons besig raak met die dinge van ons dag tot dag bestaan. Ongelukkig laat hierdie vraag nie toe dat jy so maklik van hom ontslae raak nie. Wanneer jy dit die minste verwag dan spring dit uit die laai uit waarin jy dit so sorgvuldig gebêre het. Dan word jy opnuut weer gekonfronteer oor wat wag vir jou anderkant die dood?

Jou onrus oor wat wag anderkant die dood word ook beantwoord deur die wete is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit gee vir jou gerustheid wanneer jy met die onsekerheid van die vraag oor wat anderkant die dood lê gekonfronteer word, want jy behoort aan Jesus Christus en Hy wag vir jou met ope arms wanneer jy die onsekerheid van anderkant die dood betree.

In 1 Kor. 7 v 23 hoor ons “Julle is duur gekoop.” Dit beteken jy is vrygekoop van die onreg van hierdie wêreld wat deur sonde veroorsaak word. Jy is vrygekoop van die onsekerheid van wat anderkant die dood wag. Daarom bely ons ook
Ek behoort met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.
Wanneer jy belydenis van geloof aflê is dit wat jy bely. Die Heilige Gees verseker my deur Woordbediening en deur die sakramente dat hierdie belydenis van my waar is. Kom sit nou aan by die tafel van die Here en beleef hoe die Heilige Gees deur die gebruik van Nagmaal jou verseker dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Nagmaal
Nabetragting.
Dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort, beteken dat jy binne in jou huidige omstandighede die Here moet dien. In 1 Kor. 7v17 hoor ons:
Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het.
Jou omstandighede bepaal nie of dit goed of sleg met jou gaan nie. Die Heilige Gees het nou met Nagmaal jou vaste geloof bevestig dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit is wat jou vrede in die lewe gee. Of jou omstandighede dus moeilik of maklik is, leef vanuit die troos dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Amen



12 November 2017

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan

22 Okt. 2017 (GKE)

Mat. 7v24-28 Teksvers Joh. 16v33



Sing    Lofsang: Ps. 48-1  v 1 & 4
           Na wet:    Ps. 130-1 v 2
           Na gebed Ps. 86-1 v 3 & 6
           Slotsang  Ps. 18-1 v 1 & 14


Inleiding


Hoekom moet hierdie ramp my tref? Waarom ek? Waarom moes dit met my gebeur? Hoe dikwels vra ons nie hierdie vrae wanneer dit met ons sleg gaan nie? Is dit werklik so eienaardig dat dinge in my lewe skeefloop? Eintlik sou dit meer logies wees om te vra “hoekom nie ek nie?” Die Here sê dan vir ons in Joh. 16v33

In die wêreld sal julle dit moeilik hê.



Die Griekse woord wat met moeilik vertaal is, beteken letterlik om platgedruk te word, inmekaar verfrommel te word. Hierdie waarskuwing van Jesus verwys dus nie na die klein probleempies wat ons in die lewe ervaar nie. Dit gaan nie oor daardie keer wat ek per ongeluk my toon gestamp het nie, en nou wonder ek waarom nie. Nee geliefdes, dit gaan oor die GROOT probleme in die lewe. Daardie probleme wat jou op die grond neergooi sodat jy nie krag het om op te staan nie. Daardie dinge wat hartseer en droefheid oor ons pad bring. Daardie geleentheid waar die smart so swaar op jou bors druk dat jy nie eers kan asem haal nie.



Hoe kan ons staande bly wanneer die storms van die lewe ons tref. Hoe kan ons regop bly wanneer die stormwind orkaansterkte bereik? In ons teks gebruik Jesus die voorbeeld van ’n huis wat deur ’n orkaansterkte stormwind getref word.

24“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ’n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. 25Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.



As daardie huis se fondament op die rots vasgeanker is, sal dit staande bly. In Luk 6v48 word dit nog duideliker gestel. Die grond moet diep uitgegrawe word totdat rotsbedding bereik word. Dit is op daardie rotsbedding wat vas en stewig staan waarop die huis se fondament vasgeanker moet word.



Wanneer die vloedwaters en die stormwinde kom sal daardie huis bly staan en nie vernietig word nie. Die vloedwaters en stormwinde wanneer iemand wat baie na aan ons is, doodgaan. Die pyn om my kind, man, broer, suster, vrou of daardie geliefde persoon wat so na aan my was aan die dood af te staan. Die vloedwaters en stormwinde van daardie angswekkende woorde “Ek is jammer, maar jy het kanker!” Die gewas in jou brein is kwaadaardig. Die vloedwaters en stormwinde wanneer die geweld van ’n egskeiding ’n gesin uitmekaar ruk. Die vloedwaters en stormwinde van ’n loopbaan wat deur rasionalisasie tot ’n onverwagse einde kom. Die vloedwaters en stormwinde van depressie wat die lig en die wil om te lewe uit doof.



Dit is net die Rots Jesus Christus wat ’n mens staande kan hou teen sulke storms in die lewe. In ons teksvers hoor ons dat ons NET in Jesus Christus vrede kan vind.

Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My.

Is dit moontlik om vrede te vind wanneer my hele wêreld om my inmekaar val? Dit is moontlik geliefdes, mits die vrede op die regte plek gesoek word. Dit is slegs moontlik wanneer ons vashou aan die kruis van Jesus Christus en wat dit vir my persoonlik beteken.

Jesus verduidelik egter ook wat gebeur as ons, ons fondamente op die sand bou. Wanneer bou ons op die sand? Ek bou op die sand wanneer ek in my eie vermoëns vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek op my status en my geld vertrou. Ek bou op die sand wanneer ek al my vertroue in mense stel. Wanneer ons dit doen is daar geen hoop midde in die storms nie! (vgl. Mat 7v26-27)

26En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens handel nie, kan vergelyk word met ’n dwaas wat sy huis op sand gebou het. 27Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en die huis het ingestort en is heeltemal verwoes.”

As ek my vertroue op iemand of iets anders as Jesus Christus stel gaan ek heeltemal verwoes word in die storm.



Hoe kan ek staande bly as die storms van die lewe om my woed? Slegs as ek my fondament op die rots van Jesus Christus vasanker en nie op die sand bou nie. Hier is egter ’n belangrike beginsel geliefdes. Ek moet my fondamente so gou as moontlik terwyl dit nog stil is op die rots vasanker. Dit help nie dat ek begin grou om na die rotsbedding te soek wanneer die stormwinde hier om my bome uit die grond ruk nie. Dan is dit te laat en dan dop daardie storm my ook om. Het u al probeer om iets buite te doen as die wind teen 100 of 150 km/u waai?



Is dit nie wat ons so dikwels in ons geloofslewe probeer doen nie? Wanneer dit mooiweer is dan gaan ek met my lewe aan asof God nie bestaan nie. Ek maak nie tyd om Bybel te lees nie en ek bid nie eintlik nie. My dag tot dag optrede getuig eerder daarvan dat ek God nie ken nie. Wanneer dit egter begin swaar gaan in my lewe, dan wil ek skielik vir God soos ’n noodwiel gebruik. My gebede bestaan uitsluitlik net uit versoeke tot God en wanneer ek in die nood is, probeer ek met God onderhandel sodat die slegte gevolge van my sonde my tog net nie moet tref nie. Wanneer die lewe my omdop, dan is ek kwaad vir God en kla ek net. Hoekom gebeur dit met my. Hoekom tref hierdie ramp my nou? Dan maak ons maar ook net soos Israel van ouds waar die profeet Maleagi geskryf het in Mal. 2v17

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog:

“Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”



As ek egter reeds my fondament op die rots van Jesus Christus se kruisdood en opstanding vasgeanker het terwyl dit nog goed gaan in my lewe, dan is dit maklik om moed te hou deurdat ons dan in vaste vertroue vas en seker sal weet dat Jesus die wêreld reeds klaar oorwin het. (vgl Joh. 16v33c)

maar hou moed : Ek het die wêreld klaar oorwin.”

Dan kan ek staande bly wanneer die storms van die lewe kom. Dan kan ons saam met Paulus getuig (2 Tim. 4v7)

Ek het die goeie wedloop afgelê; ek het die wenstreep bereik; ek het gelowig end-uit volgehou.



Maar wat dan nou as die lewe my omgedop het? Wat maak ek as plat op die aarde lê en ek het nie eers krag om op my knieë te staan nie, wat nog van opstaan? Ek het nie meer krag om te bid of Bybel te lees nie, want die lewe het vir my net te veel geword! Geliefdes, dit is juis hier waar God se genade op sy helderste skyn soos die Here in Jes. 42:3 vir ons sê:

’n Geknakte riet sal hy nie afbreek nie, ’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie.



Hou vas aan Jesus Christus se uitnodiging in Mat 11v28-30

28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. 29Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. 30My juk is sag en my las is lig.”



Dan moet ons soveel te meer vashou aan die genade van Jesus Christus se kruisdood en opstanding wat vir ons die versekering gee dat God ons nooit alleen sal laat nie, selfs nie eers wanneer dit vir ons so voel nie. Dit is nie ons gevoel wat bepaal of God sy beloftes gestand doen nie, maar sy genade en liefde:

Rom 8:37-39

37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.



Geliefdes, wanneer die storms van die lewe om ons woed: hou vas aan God se genade in Jesus Christus, want

Saam met Jesus kan ons staande bly wanneer dit swaar gaan.

Amen












Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?


12 Nov 2017 GKE
Rom 7:12 – 25 Teksverse Rom. 7:15, 19, 24 & 25


Die lewe is ’n stryd en dit is nie altyd maklik nie. Een van die moeilikste dinge in die lewe is wanneer die lewe my voor ’n spieël plaas waar ek myself onder die soeklig moet plaas. Dis nie ’n lekker plek om te wees nie, daarom kyk ek eerder na wat by my buurman aangaan. Dit is maklik om na iemand anders te kyk en uit te wys wat verkeerd is in sy lewe. Dit is nie so maklik om na my eie lewe te kyk en vas te stel waar ek te kort skiet nie.

In ons teks ontmoet ons Paulus waar hy voor die spieël staan en kyk na sy eie lewe. Hy deel hier met ons ’n hartsgeheim, naamlik dat hy ook stoei met sonde in sy lewe. Dit is nie maklik om te erken dat daar nog steeds sonde in jou lewe teenwoordig is nie. En tog is dit wat die Here van ons verwag.

Ons vier volgende week as die Here wil die heilige Nagmaal en Nagmaal vra van ons dat ons moet voorberei. Voorbereiding vra dat ek voor die spieël gaan staan en my lewe onder die soeklig plaas. Ek moet ’n antwoord op die vraag kry: “Is ek waardig om te kom aansit by die tafel van die Here?” Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry moet ek eerlik na myself kyk en my lewe onder die soeklig plaas.

Dit help nie dat ek oneerlik is en probeer afmaak dat daar by my nie probleme is nie, want ek kan niks vir God weggesteek nie. Verder is dit ook so dat as ek nie eerlik is met myself nie, dan hou Nagmaal ook nie werklik betekenis vir my in nie. Om werklik die diepere betekenis van Nagmaal te beleef, moet ek eerlik met myself wees in die proses van self ondersoek.

In ons teks wys die Here vir ons deur middel van die lewe van Paulus hoe om opreg en in diepte selfondersoek te doen. Ons hoor hier dat die wet heilig is en dat die wet sonde uitwys en veroordeel. Die wet is dus die maatstaf waaraan ek my lewe moet meet. Dit is wat Paulus gedoen het en hy kom tot die gevolgtrekking dat hy nie die toets geslaag het nie.

Hy vind in sy lewe hierdie geweldige tweestryd. Hy weet wat reg is. Daar is selfs by hom die begeerte om te doen wat reg is, maar...... en hier begin sy stryd, hy doen nie wat hy homself voorneem om te doen nie. Inteendeel hy doen net mooi die teenoorgestelde. Dit wat hy haat, juis dit doen hy!
Rom 7:15
Ek begryp self nie wat ek doen nie, want wat ek wil doen, dit doen ek nie, maar wat ek haat, juis dit doen ek.

Is dit nie maar ook ons probleem nie? Ek weet ek moenie kwaad word nie, maar ek doen. Ek weet ek moenie iets sê wat sal seermaak nie, maar voor ek my kan kry het ek dit gesê. Ek is seker elkeen van ons kan aan verskeie sulke voorbeelde in ons lewe dink.

Dit bring ons ook by die verdere vraag: “Ek glo dat ek verlos is, maar hoekom sukkel ek dan nog met hiermee?” Dit kan so maklik gebeur dat hierdie stryd my moedeloos maak en dit is net wat die duiwel wil hê. Hy wil hê dat jy moedeloos word en dat daar geloofstwyfel by jou moet wees. Dit is die strategie wat hy van die begin af daar in die Paradys ingespan het en hy gebruik dit nog steeds, want dit werk so goed! Sy hoofdoel is om jou te oortuig dat jy God nie kan vertrou nie! Hy wil hê dat jy moet glo jy is nie goed genoeg vir God nie.

Dit is op hierdie punt waar Paulus dan ook die noodroep uiter: “Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?” Want hy weet wat die wet bepaal, naamlik dat sonde met die dood gestraf moet word. Hy weet dit is nie die wet wat jou doodmaak nie, maar dat dit sonde is.

En dit is dan ook hierdie geweldige stryd waarmee elkeen van ons daagliks worstel. Dit is amper asof daar twee persone tegelyk hier in my liggaam teenwoordig is. My kop sê vir my wat reg is en wat ek nie moet doen nie, en dan kom hierdie ander outjie in my en hy laat my net mooi doen wat my kop vir my sê ek nie moet doen nie. En dan kom koggel die ou duiwel my. Sien jy wat jy gedoen het? Wys jou net, jy is nie goed genoeg vir God nie. En dit maak my moedeloos, want ek weet dat die straf vir sonde die ewige dood is, vir ewig sonder God. Dit is juis hierdie moedeloosheid waarna Paulus verwys wanneer hy vra “Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos?”


Die antwoord op hierdie vraag is gebore uit hoop. Die lewende hoop wat elke Christen koester.
Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here.
Dit is die hoop wat die Nagmaal bevestig. Daar waar ons op ’n sigbare wyse deur die tekens van brood en wyn sien hoe die evangelie werk. Daar sien ons dat die moedeloosheid van dood in die sonde deur Christus Jesus gebreek is. Hy het sy lewe gegee en daarmee het hy die vloek van die sonde gebreek. Met sy opstanding het Hy vir ons ’n nuwe lewe gegee.

Rom. 7:25 sluit af met:
So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.
Dit is ’n opsomming van hierdie sondestryd waarmee ons daagliks sukkel. Dit sê vir ons dat die stryd nog nie klaar is nie, maar ook dat daar hoop is om te wen. Dit sê vir jou dat dit waarvan die duiwel jou probeer oortuig nie waar is nie. Jy is nie ’n hopelose sondaar wat nie goed genoeg vir God is nie. Jy is ’n Koningskind wat vir God oneindig kosbaar is. So kosbaar dat Hy sy lewe vir jou neergelê het sodat jy kan lewe.

Dit sê ook vir jou dat die stryd nie verby is nie. Solank Ons in die wêreld is, is dit ’n daaglikse stryd. Dit is egter nie die stryd van ’n verlore sondaar met geen hoop op oorwinning nie. Dit is die stryd van ’n Koningskind wat in die krag van God teen die sonde stry en wat die sonde kan oorwin.

Wat beteken dit prakties? Dit beteken dat jy jou stryd, jou twyfel, na God toe kan bring. Vir God is niks te ver, te verlore, te groot om te herstel nie. God is nie bang vir jou twyfel, jou vrae of jou woede nie. Jesus het mens geword sodat jy die versekering kan hê dat Hy weet waardeur jy gaan en waarmee jy stoei. As mens het Hy ook daarmee gestoei. Wat God nie van hou nie is wanneer jy probeer om hierdie stryd op jou eie te voer.

Dit is die duiwel se doelwit om jou van God te vervreem. Moenie in sy valstrik trap nie. Bring jou onsekerheid, jou hartseer, die struikelblokke in jou lewe, daardie onmoontlike saak na God toe. Bring jou sonde na God toe en Hy sal jou rus gee, want Hy weet waardeur jy gaan. Hy wil vir jou lewe gee i.p.v. die doodsbestaan waarin sonde jou dompel. Bring jou onsekerheid na God toe en ervaar die vrede wat net Hy kan gee.
Amen