Wys tans plasings met die etiket Jesus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus. Wys alle plasings

06 Mei 2026

Jesus verander my met liefde

 



Mat 12:9-21

Teksvers Mat 12 v 20

’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie; Hy sal die wil van God laat seëvier.

Volgende week vier ons DV weer die Heilige Nagmaal waar God op ’n sigbare wyse sy liefde vir ons bevestig. In die tyd voor Nagmaal berei ons onself voor daarvoor. Daarom staan vandag se erediens dan ook as ’n voorbereidingsdiens bekend.

Wat bedoel ons wanneer ons van voorbereiding praat? Eenvoudig behels dit drie hoofpunte. Ek moet besef en erken dat ek ’n sondaar is en dat ek myself nie daarvan kan verlos nie. Ek moet glo dat dit net Jesus is wat my kan verlos en ek moet verstaan hoe God se liefde my lewe verander. Ek moet die opregte begeerte hê om die lewe te leef wat God in sy liefde vir my gegee het.

Wanneer ek nadink oor my sonde moet ek oppas dat my berou daaroor nie is omdat ek bang is vir God se straf nie. Dit is nie waaroor verootmoediging gaan nie. Dink bietjie daaroor na. As ek bang is vir straf dan is vrees die motiveerder. Waar daar vrees is, is daar nie liefde nie soos ons in 1 Joh. 4:18 hoor:

Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

Liefde en vrees gaan nie saam nie. God gebruik nie vrees nie. Inteendeel, vrees is ’n kenmerk van die satan.

Die groot probleem met vrees is dat dit die klem daarop plaas dat ek moet verander, want as ek dit nie doen nie gaan ek gestraf word. Die probleem hiermee is dat dit vir my onmoontlik is om te verander. Die greep van die sonde is van so aard dat dit, dit vir my onmoontlik is om daarvan weg te breek. Hoe graag ek ook al wil, ek kan nie en so dryf ek al hoe verder van God af weg.

Een van die belangrikste aspekte van voorbereiding is dat ek tot die besef moet kom dat dit net God is wat my kan losmaak van die greep van sonde in my lewe. As ek egter vrees hiervoor gebruik, dan soek ek nie by God die oplossing nie, want God gebruik nie vrees nie. Hy gebruik liefde.

In ons teks hoor ons hoe groot God se liefde werklik is en hoe Hy sy liefde gebruik om ons los te maak van die sonde in ons lewens. In Mat 12:18 hoor ons van God se Dienaar wat Hy aangestel het. Dit verwys na ’n profesie wat reeds 700 jaar vC deur die profeet Jesaja (Jes. 42:1-4) gemaak is. Daarin word geprofeteer dat God sy Dienaar gaan stuur. Hier in Mat 12:18 hoor ons dat die Dienaar waarna die profeet Jesaja verwys het, Jesus Christus is. Met ander woorde dit is God self wat in die persoon van Jesus Christus gekom het om die sonde te oorwin.

In Mat 12:19 hoor ons dat Hy egter nie vrees en geweld gebruik om die sonde uit te roei nie.

Hy sal nie twis nie en nie skreeu nie, en niemand sal sy stem op die strate hoor nie.

Jesus het nie met ’n weermag aarde toe gekom nie. Hy was ’n nederige mens met geen mag en aansien nie. Daarom moet ons ook nie vrees as motiveerder gebruik om van die sonde in ons lewens ontslae te raak nie. In plaas van vrees en geweld werk hy met deernis en liefde.

Die feit dat God nie vrees en geweld gebruik teen die sonde nie beteken nie dat Hy nie ernstig is oor sonde nie. Nee, geliefdes. God is heilig en Hy kan sonde nie verduur nie want Hy weet watter verwoesting sonde in die wêreld meebring. Sonde verwoes mense se lewens. Sonde veroorsaak dat ons ’n nuttelose geknakte riet in die lewe word. Net soos ’n lamppit wat te kort is sodat dit nie meer in die olie kan bykom nie en dit daarom rook en nie lig afgee nie.

God haat sonde want dit verwoes mense se lewens. God het egter die mense wie se lewens deur sonde verwoes word oneindig lief. In ons teksvers hoor ons van die deernis en sorgsaamheid waarmee God met ons wat deur sonde geknak is werk.

’n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie en ’n lamppit wat rook, nie uitdoof nie;

God se liefde is so groot dat Hy bereid was om in die persoon van Jesus Christus mens te word. Luister maar weer na 1 Joh. 4:9-10 waar God sy liefde vir mense verklaar wat deur sonde geknak is:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes

Dit is net God se liefde wat die wurggreep van sonde in ons lewens kan breek. Liefde spoor jou tot aksie aan terwyl vrees jou verlam. God se liefde verander jou sodat jy ’n weersin in die sonde in jou lewe sal kry. Wanneer God se liefde jou verander dan wil jy nie meer die sonde in jou lewe hê nie.

As vrees egter jou aansporing is, dan wil jy eintlik nog maar die sonde in jou lewe troetel. Maar omdat jy bang is vir straf probeer jy daarvan ontslae raak, maar jy kry dit nie reg nie omdat daar nog steeds ’n begeerte daarvoor by jou teenwoordig is.

God se liefde verander jou egter. Dit wek ’n weersin vir sonde by jou op en daarom wil jy van die sonde wat nog in jou lewe teenwoordig is ontslae raak. Wanneer die liefde van God jou verander dan seëvier die wil van God omdat dit sy wil is dat ons uit liefde lewe.

In jou voorbereiding vir Nagmaal gaan dink na oor die sonde wat nog in jou lewe teenwoordig is. Vra die Heilige Gees om deur God se Woord die sondes wat nog tussen jou en God staan vir jou uit te wys. Gaan soek die liefde van God om ’n diepe berou en weersin daaroor by jou op te wek.

Begin leef vanuit die liefde en genade van God. Die liefde van die Vader wat sy Seun gestuur het sodat dié wat in Hom glo die ewige lewe sal hê. Die liefde van die Seun wat bereid was om mens te word en sy lewe vir ons af te lê. Die liefde van die Heilige Gees wat vir ons die geloof gee om die liefde van God met albei arms vas te gryp en daaraan vas te hou.

Laat God se liefde jou lewe verander.

Amen

21 Desember 2025

Niks is vir God onmoontlik nie

Skriflesing:     Luk. 1 v 5  – 38 Teksvers Luk. 1 v 37

Inleiding

Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.

Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

Inleiding

Hoe kan die onmoontlike moontlik wees? Hoe sal jy reageer op ’n boodskap wat iets aankondig wat volgens alle logiese denke onmoontlik is? In ons teks sien ons dat daar twee uiteenlopende reaksies is.

Aan die een kant sien ons ’n reaksie van ongelowige skeptisisme en aan die ander kant kinderlik gelowige aanvaarding. In hierdie twee uiteenlopende reaksies wys die Here vir ons dat niks vir God onmoontlik is nie.

In die eerste plek: Ongelowige skeptisisme

Sagaria was ’n priester by die tempel in Jerusalem. Daar was destyds egter veel meer priesters as wat vir die tempeldiens nodig is. Dawid het al ’n 1000 jaar voor Christus gereël dat priesters in 24 afdelings verdeel word sodat elkeen ’n week lank die tempeldiens kon behartig.

In die tyd van Christus was hierdie afdelings egter nog steeds te groot om vir elkeen ’n beurt te gee en daarom moes die betrokke week se tempelwerk onder mekaar verdeel word deur die lot te werp soos ons dan ook hoor in
Luk. 1v8 & 9:

8 Op ’n keer toe Sagaria in die beurt van sy diensgroep besig was om die priesterdiens voor God te verrig, 9 is hy volgens die priesterlike gebruik deur die lot aangewys om in die tempel van die Here in te gaan en die wierook op die altaar te brand.

Een van die heel belangrikste take wat ’n priester in die tempel kon verrig, was om die reukoffer altaar skoon te maak en dan nuwe reukwerk te offer as simbool van gebed. Dit was so ’n buitengewone taak dat ’n priester net een maal in sy lewe die geleentheid gekry het om dit te doen.

Met hierdie taak het die priester eers die volk by God verteenwoordig en daarna kon hy God weer by die volk verteenwoordig wanneer hy buitentoe gegaan het om die wagtende skare in die Naam van die Here te seën.

Sagaria was dus besig met die hoogtepunt van sy priesterlike loopbaan toe die engel Gabriel aan hom verskyn het met ’n haas ongelooflike boodskap soos ons hoor in
Luk. 1v12 & 13:

12 Sagaria het geskrik toe hy hom daar sien staan en hy het baie bang geword, 13 maar die engel sê vir hom: “Moenie bang wees nie, Sagaria, want jou gebed is verhoor. Jou vrou, Elisabet, sal aan jou ’n seun skenk, en jy moet hom Johannes noem.

Voordat ons na Sagaria se reaksie op hierdie boodskap kyk moet ons net sy omstandighede in ag neem. In Luk. 1 v 7 hoor ons:

Hulle het geen kind gehad nie, omdat Elisabet onvrugbaar was. Buitendien was albei reeds op ver gevorderde leeftyd

Rasioneel gesproke was dit wat Gabriel aangekondig het dus onmoontlik. Daarom moet ons nie so verbaas wees oor Sagaria se reaksie nie –
Luk. 1 v 18:

Toe sê Sagaria vir die engel: “Waaraan sal ek dit weet? Ek is ’n ou man, en my vrou is al op ver gevorderde leeftyd.”

Baie skepties en vol ongeloof vra Sagaria vir ’n teken om hom te oortuig dat hierdie boodskap die waarheid is. Dit is nie dat Sagaria ’n slegte en ongelowige mens was nie. Ons hoor in Luk. 5 v 6 dat hy en Elisabet getrou was in hul godsdiens:

Hulle was albei getrou aan die wet van God en het onberispelik al die gebooie en voorskrifte van die Here onderhou.

Is dit nie maar hoe dit met ons ook gaan nie, geliefdes? Ons is getrou in ons godsdiens. Ons lewe ’n goeie lewe. Ons drink nie en hou nie uitspattige partytjies nie. Ons woon gereeld die eredienste by, maar wanneer die toets kom, daar waar ons werklik op God moet vertrou om ons in ’n menslik gesproke onmoontlike situasie te help, dan vertrou ons nie die Here nie.

Dit is wat ongeloof is, dat ons nie vertrou nie. Dit is wat Sagaria se probleem was. Hy het teen die rasionele feite vasgekyk en daarom het hy God nie vertrou om die onmoontlike moontlik te maak nie.

Dit is wat ons vandag sien. Ons leef mos in ’n moderne wêreld wat van beter weet, daarom kan ons nie meer in ’n maagdelike ontvangenis glo nie. Christus het nie regtig opgestaan nie. So sê die tydsgees van ons moderne wêreld vir ons. Dit bring mee dat ek God nie werklik vertrou om in my persoonlike omstandighede in te gryp en ’n verskil te maak nie.

Ek glo nie dat God ’n verskil kan maak in my huwelik wat maar net nie wil vlot nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die seer hier diep binne in my wat die lewe my toegedien het nie. Ek glo nie dat God iets kan doen aan die hartseer en verlange na ’n geliefde wat skielik uit my lewe weggeruk is nie.

Daarom kan ek nie meer bid nie. Daarom kan ek nie meer Bybel lees nie en as ek bid dan voel dit vir my of ek maar net hier teen die plafon vaspraat. As ek Bybel lees dan verstaan ek nie.

Die engel se antwoord aan Gabriel se versoek vir ’n teken is amper onbegryplik soos ons hoor in Luk. 1 v 19:

Ek is Gabriël, wat in diens van God staan. Ek is gestuur om met jou te praat en hierdie goeie tyding vir jou te bring.

In wese sê die engel Gabriel vir hom: “Niks is vir God onmoontlik nie!” Die belofte van ’n kind vir Elisabet en Sagaria is ’n baie spesiale belofte, want dit is hy wat vir Christus die wegbereider sal wees.

Hy moet die volk voorberei op Christus se koms. Hy moet die volk voorberei vir die volgende aankondiging van ’n menslik gesproke onmoontlike gebeurtenis.

Tweedens ’n kinderlik gelowige aanvaarding

Ongeveer ses maande later kom die hemelse boodskapper met nog ’n ongelooflike boodskap. Weereens op ’n baie persoonlik intieme wyse. Hierin sien ons weereens hoe bedagsaam ons Here is.

Hy oorrompel nie mense deur sommer net uit die bloute op te tree nie. Hy neem sy kinders saam in wat Hy gaan doen op ’n baie besonderse manier. Die Koning van alle konings is op pad, maar dit word nie met ’n trompetgeskal op die pleine aangekondig nie. Die boodskap word op ’n baie intieme en persoonlike manier oorgedra aan die persoon wat direk by hierdie gebeure betrokke is.

In teenstelling met Sagaria wat maar net nie kon glo nie, glo sy die ongelooflike. Nie dat dit haar nie skud nie. Sy is verbysterd en kan nie verstaan waarom die engel haar aanspreek as “begenadigde” nie en hoe sy wat ’n maagd is ’n kindjie in die wêreld kan bring.

Die engel verduidelik (vir sover dit verduidelik kan word) en hy sluit sy verduideliking af met dieselfde versekering wat hy aan Sagaria gegee het: “Niks is vir God onmoontlik nie.” Die verskil tussen Maria en Sagaria is Maria se kinderlike gelowige onvoorwaardelike aanvaarding van die wil van die Here soos ons hoor in Luk. 1 v 38:

Maria sê toe: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.”

Hierin sien ons ook duidelik watse verskil Christus in ’n mens se lewe maak. Sonder Christus tree ons in ongeloof en in wantroue teenoor God op. Sonder Christus is ons verwyder van God se genade. Maar in Christus lewe ons deur God se genade soos ons hoor in

1 Kor. 15 v 22:

Net soos almal deur hulle verbondenheid met Adam sterf, so sal almal in Christus lewend gemaak word.

Die evangelie van Jesus Christus is vandag nog net so ’n radikale boodskap wat vir skeptiese en siniese wêreld haas ongelooflik klink. Die boodskap van God wat mens geword het bly ongelooflik vir diegene wat God met hul verstand probeer uitpluis.

Vir diegene wat Christus se versoeningswerk met God in kinderlike geloof aanvaar is daar die wonderlike troos “Niks is vir God onmoontlik nie”. Christus maak dit moontlik dat ek sal vertrou dat God groter as my pyn en hartseer is.

Geliefdes, wat ook al die situasie en hartseer is. Hou vas aan God se genade in Jesus Christus met die troosvolle wete dat die boodskap van die engel Gabriel ook vir ons is: 

Niks is vir God onmoontlik nie.

Amen


28 September 2025

In my lewe moet Jesus meer word en ek minder

 

Joh. 3:22 - 36; teksverse Joh. 3:30 & 36

Inleiding

Een van die mees basiese behoeftes by die mens is die soeke na erkenning. Daardie soeke daarna dat mense weet en erken dat ek ook iets beteken. Daardie behoefte om te weet dat ek spesiaal is en dat mense dit raaksien.

Daar is niks fout daarmee nie, inteendeel dit is hoe God ons geskep het. Hy sê tog vir ons dat ons vir Hom kosbaar is. Dis ’n tema wat soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel loop dat God vir die mens omgee.

Die probleem kom egter in dat die sonde hierdie soeke van die mens skeefgetrek het. In plaas daarvan dat ons by God bevrediging soek vir hierdie behoefte gaan soek ons op ander plakke daarna en omdat die mens van God af weggedraai het, word hierdie behoefte nooit bevredig nie. Dit laat daardie leë gevoel by jou en daardie stemmetjie in jou kop wat vir jou sê “jy is nie goed genoeg nie!”

Dit is ook iets wat jy om die dood toe teenoor niemand wil erken nie en daarom ontstaan daar allerlei negatiewe maniere om jouself te handhaaf en daardie bang klein mensie wat agter die bravade wegkruip weg te steek. Die wêreld mag net nie sien hoe ek regtig voel nie! Ek moet ten alle koste agter ’n masker wegkruip en seker maak dat die mense daarbuite vir my die nodige erkenning gee!

Die manier waarop jy jouself handhaaf is deur aggressie wat ook fisiese geweld kan insluit. As mense jou haat sal jy terug haat. As hulle jou seermaak sal jy terug seermaak. As hulle teen jou diskrimineer sal jy ook terug doen. As hulle jou vloek sal jy hulle ook terug vloek. As hulle liefdeloos optree sal jy ook. Ek moet seker maak dat mense weet hoe belangrik ek is en hulle durf nie waag om nie my belangrikheid te erken nie! Ek dwing my gesag op mense af.

Die probleem is dat hierdie negatiewe benadering nie geluk bring nie. Maak nie saak hoe suksesvol ek is om mense te kul met hierdie masker van my nie. Ek weet wie skuil daar agter! Met hierdie benadering is daar nie plek vir God in my lewe nie, selfs al gee ek ook voor dat daar is, want dit gaan om my en my eer. As daar egter nie plek vir God is nie bly daar ’n diep leemte in my wat deur niks anders bevredig kan word nie, maak nie saak hoe hard ek probeer nie.

Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang binne in my na aanvaarding?

In ons teksgedeelte gee die Here gee vir ons ’n antwoord op hierdie vraag. Ek moet minder word. Ek moet hierdie eie belangrikheid en selfhandhawing van my prysgee! In die plek daarvan moet Jesus meer word. Vreemd soos dit mag klink lê die antwoord daarin dat Jesus meer moet word en ons minder.

Ek moet minder word!

Dis die enigste manier uit die spiraal van negatiwiteit en minderwaardigheid te ontsnap, om los te breek uit hierdie spiraal van aggressie waar ek op mense trap om bo te kom. Ek moet my eie selfopgelegde status waarvoor ek so hard baklei opgee. Dan hoef ek nie meer voor te gee dat dit goed gaan nie.

Met Johannes die Doper se reaksie wanneer sy volgelinge na hom te kom en sê:

“Rabbi, Hy wat oorkant die Jordaan by u was, van wie u getuig het, weet u, Hy doop ook, en almal gaan na Hom toe.”

wys die Here vir ons hoe ons dit moet doen. Vir ’n kort rukkie voor Johannes gevang is en in die tronk gesit is, het hy en Jesus ’n parallelle bediening gehad. Nou het daar ’n woordewisseling tussen Johannes se volgelinge en ’n Jood ontstaan oor die reiniging.

In hierdie woordewisseling wil Johannes se volgelinge seker maak dat sy status gehandhaaf word deur hom teenoor Jesus te wil afspeel. Hulle wil bevestiging hê dat Johannes se doop beter is as die doop wat deur Jesus se dissipels gedoen word.

Hierdie reaksie van Johannes se volgelinge is tipies die gedrag wat jy waarneem wanneer jy op ’n negatiewe manier jouself wil handhaaf. Om my belangrikheid te bewys moet ek dit ten koste van iemand anders doen. Om bo te kom moet ek op die mense onder my trap!

Ek is seker dat Johannes se volgelinge verbaas en dalk ook teleurgesteld was met Johannes se reaksie toe hulle vir hom kom vertel dat die mense al hoe meer agter Jesus aanloop. In Joh. 3:30 hoor ons egter wat is die regte manier om my eie waarde as mens te handhaaf:

Hy moet meer word en ek minder.

Wanneer ek ten koste van mense myself handhaaf is ek in opstand teen God.

Johannes verduidelik die beginsel aan sy volgelinge deur gebruik te maak van ’n beeld wat die verhouding tussen ’n bruidegom en die vriend van die bruidegom. In vandag se terme sal ons praat van die bruidegom en sy strooijonker.

Die vriend van die bruidegom het ’n baie belangrike taak gehad. Hy moes sorg dat al die rëelings vir bruilofsfunksie getref word. Wanneer die bruilof egter op hande was, het hy teruggestaan. Nou was dit nie meer hy wat belangrik is nie. Die kollig was nou op die bruidegom gerig.

Geliefdes, dis wat ons moet doen. Ons eie eer en belangrikheid moet terugstaan sodat die fokus nie op my nie, maar wel op God gerig word. Ek moet minder word en Jesus moet meer word in my lewe.

Jesus moet meer word

Hoe kry mens dit reg om af te sien van jou eie eer en belangrikheid? In Joh. 3:36 sê die Here vir ons:

Wie in die Seun glo, het die ewige lewe; wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.”

Wie in Jesus glo het die ewige lewe. Wie nie glo nie, aanvaar nie God se gesag in sy lewe nie en daarom is hy ook ongehoorsaam aan God. Ons moet nie die waarskuwing wat die Here hier vir ons gee ligtelik opneem nie. Wie Jesus verwerp is onderworpe aan God se straf.

Wat moet ons dan glo? Wat beteken dit om in die Seun te glo? In Joh. 3:31-35 sê die Here vir ons wat ons moet glo. Ons moet glo dat Jesus deur God gestuur is. Ons moet glo in die hemelse oorsprong van Jesus, met ander woorde ons moet glo dat Hy self ook God is en daarom kan Hy die verlossingswerk doen waarvoor God Hom gestuur het.

Ons moet glo dat dit wat Jesus vir ons vertel in die Bybel God se boodskap aan die mensdom is en dat die evangelie; dit wil sê die goeie nuus dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos; die waarheid is. Ons moet glo dat die Heilige Gees ook God is en dat Jesus die Gees in sy plek gestuur het na sy hemelvaart.

Jesus was deur die Gees gelei terwyl Hy op aarde was en net so moet ons ook aan die Gees gehoorsaam wees. Ons moet gehoorsaam wees aan die Gees geïnspireerde woord van God. Ek moet God se gesag in my lewe aanvaar.

Die belofte wat die Here vir ons gee; dat ons die ewige lewe sal ontvang; is dat wanneer Jesus meer word in ons lewe sal ons waarlik lewe. Die ewige lewe wat ons ontvang begin nou reeds.

Wat beteken die ewige lewe vir ons?

Daar is ’n verandering in my lewe. Dit beteken dat as ek Christus volg sal ek sy goedkeuring en erkenning ontvang. Dit beteken dat ek as 'n leier sal uitstaan al ken niemand my nie, want wanneer ek gehaat word, het ek lief. Wanneer ek seergemaak word, vergewe ek. Wanneer ek gevloek word, seën ek. Wanneer almal in die duisternis leef, staan ek in die lig.

Die ewige lewe beteken dat ek my hart na God draai en Hom alleen ten volle vertrou om my te dra wanneer ek krisisse moet hanteer. Dit beteken dat ek nader aan God beweeg en dat daar by my ’n al hoe groter wordende behoefte is om God beter te leer ken. Dit beteken dat ek na God se stem luister deur tyd te maak vir Bybelstudie (persoonlik en gesamentlik) en dat ek God antwoord deur gebed.

Dit beteken dat ek verstaan dat ware vrede nie afhang van die gebrek aan probleme in my lewe nie, maar dat dit afhang van God se teenwoordigheid in my lewe. Dan sal ek ervaar dat die belofte wat die Here vir ons in Jes. 40:31 gee ook vir my waar is:

dié wat op die Here vertrou , kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.

Dan vertrou ek dat selfs binne in die grootste krisis in my lewe die Here in beheer van sake is. As ek daar by die dokter se spreekkamer uitstap met die nuus dat ek ook ’n slagoffer is van daardie gevreesde siekte, sal ek vertrou dat die Here my sal dra op die pad vorentoe.

Dat ek die vaste wete het dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur, dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Wanneer Jesus meer word kan ek God vertrou om beheer van my lewe te neem en dat ek nie ten alle koste self in beheer moet wees nie.

Slot

Hoe bevredig ek hierdie ingeskape drang na aanvaarding binne in my?

Jesus moet meer word en ek minder. Ek moet minder word deur my eie eer en belangrikheid terug te laat staan sodat die fokus nie meer op my nie, maar wel op God gerig word.

Ek moet in Jesus Christus en sy verlossingwerk in my lewe glo sodat Hy meer kan word in my lewe. Dan kan ek vashou aan sy belofte dat ek die ewige lewe ontvang, dit wil sê die vaste wete dat ek my lewe met vertroue aan God kan oorgee met die vrede in my dat God my sal dra selfs deur die grootste krisis in my lewe.

Dan sal ek beleef hoe ek nader aan God beweeg, dit wil sê hoe daar geloofsgroei in my lewe plaasvind. Hoe nader ek aan God beweeg hoe meer seker sal ek wees dat selfs as die ergste in hierdie lewe gebeur dat dit nie die einde is nie, maar dat die dood slegs ’n heerlike deurgang na God is waar ek vir ewig saam met Hom sal wees sonder trane, hartseer, pyn en dood.

Geliefdes, gee die beheer van jou lewe aan God oor deur self minder te word sodat Jesus meer kan word.

Amen


03 Desember 2020

Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

 This devotion is also available in English


Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

Mat. 16 v 13 - 16

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

 Kersfees is amper hier en dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Christene herdenk met Kersfees die geboorte van Jesus Christus. Daarom is dit goed dat ons net weer so 'n bietjie besin wie Jesus is.

 Jesus het vir sy dissipels (sy volgelinge) gevra wie die mense sê wie Hy is. Uit hul antwoord blyk dit dat die mense Hom beskou as een van die groot profete wat opgestaan het. Dan vra Jesus baie persoonlik: “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?”

 Wat sou jou antwoord wees as Jesus vir jou hierdie vraag sou vra? Glo jy dat Jesus die Seun van God is wat Hy gestuur het om jou van jou sondes te verlos? Is jy 'n volgeling van Jesus? Is jy bereid om jouself ten volle aan Hom oor te gee? Is jy bereid om jou kruis op te neem en Hom te volg, selfs al sou dit beteken dat jy daarvoor moet sterf?

 Is jy bereid om die prys te betaal om 'n volgeling van Jesus Christus te wees? Is jy bereid om in alles wat jy doen aan Hom gehoorsaam te wees?

 Om 'n volgeling van Jesus te wees beteken dat God die middelpunt van jou lewe moet wees. Alles wat jy doen of dink moet daarop gefokus wees om aan God gehoorsaam te wees. Jou hele lewe moet op jou verhouding met God gefokus wees. Dit is wat jou lewe betekenis gee, want om op God gefokus te wees, beteken nie dat jy jou lewensvreugde moet opgee en gaan uit mis op dit wat lekker is in die lewe nie. 

 Inteendeel, om op God gefokus te wees beteken juis dat jy begin deel in die ware vreugde van die lewe in die plek van die valse vreugde wat die wêreld bied.

Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

Amen


But you, who do you say that Jesus is?

Hierdie oordenking is ook in Afrikaans beskikbaar


But you, who do you say that Jesus is?

 Matt. 16 v 13 - 16 - HCSB

When Jesus came to the region of Caesarea Philippi, He asked His disciples, “Who do people say that the Son of Man is?” And they said, “Some say John the Baptist; others, Elijah; still others, Jeremiah or one of the prophets.” “But you,” He asked them, “who do you say that I am?” Simon Peter answered, “You are the Messiah, the Son of the living God!”

 Christmas is almost here and it means different things to different people. Christians celebrate the birth of Jesus Christ at Christmas. That's why it's good that we're reflect a little on who Jesus is.

 Jesus asked His disciples (His followers) who the people say He is. From their answer it appears that the people regarded Him as one of the great prophets who rose. Then Jesus asks very personally: "But you, who do you say that Jesus is?"

 What would be your answer if Jesus asked you this question? Do you believe that Jesus is the Son of God whom He sent to save you from your sins? Are you a follower of Jesus? Are you willing to surrender yourself completely to Him? Are you willing to take up your cross and follow Him, even if it means dying for it?

 Are you willing to pay the price to be a follower of Jesus Christ? Are you willing to obey Him in everything you do?

 Being a follower of Jesus means that God must be the center of your life. Everything you do or think should be focused on obeying God. Your whole life should be focused on your relationship with God. This is what gives your life meaning, because being focused on God does not mean that you have to give up your joy of life and miss out on enjoying what is good in life.

 On the contrary, being focused on God means that you begin to share in the true joy of life instead of the false joy that the world offers.

But you, who do you say that Jesus is?

Amen


12 April 2020

Hoe vertrou jy die Here wanneer jou wêreld buite beheer raak?

Datum:12 Apr. 2020 GKE – Live Stream
Skriflesing: Ps. 11; Joh. 1 v 15; 2 v 18-22; Mat. 27 v 51; Heb. 4 v 14 – 16
Teksvers: Ps. 11 v 4

Sing
Ps. 42-1 v 1 & 3
Ps. 86-1 v 1

Die preek is ook op video by die 


Donderdagaand het ons die slegte nuus gehoor dat ons inperking met nog twee weke verleng is tot die einde April. Dit hou verreikende gevolge vir ons land in.

Reeds voor die verlenging het ekonome bereken dat ons lands se ekonomie tussen 4 en 6% kan inkrimp hierdie jaar en dat volgende jaar ook 'n moeilike jaar gaan wees. Daar word verwag dat baie besighede bankrot gaan speel en dat talle mense hul werk gaan verloor.

Dis inderdaad 'n moeilike tyd wat vir ons voorlê. By baie mense kom die vraag na vore: “hoekom laat 'n liefdevolle God soveel swaarkry en lyding toe?”

Daar is baie bemoedigende boodskappe wat ons met reg aanspoor om op God te vertrou en dit is inderdaad wat ons moet doen. Die vraag is nou net: “hoe doen jy dit?” Hoe vertrou jy God wanneer jou wêreld buite beheer raak?

In Psalm 11 gee die Here vir ons 'n antwoord op die hierdie vraag. In Psalm 11 hoor ons van 'n lewenskrisis wat Dawid beleef het. Dis inderdaad 'n moeilike situasie waarin hy verkeer het.

Dawid se raadgewers moedig hom aan om te vlug, want daar is 'n groot gevaar wat dreig. Dawid weet egter dat hy as koning ter wille van sy volk nie kan vlug nie, want dit sal baie negatiewe gevolge vir hulle inhou. Daarom luister Dawid nie na sy raadgewers nie.

in Ps. 11:1a hoor ons wat sy antwoord is op die raad wat hy ontvang:
By die Here skuil ek
Hy vind sy ankers by die Here in tye van nood.

In Psalm 11 v 4a hoor ons hoekom Dawid nie paniekerig raak nie:
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Ons hoor in Psalm 11 v 4 twee redes waarom Dawid die Here vertrou en nie paniekerig raak nie.

Die eerste is: Die Here is op sy troon in die hemel!
Met ander woorde die Here is in beheer.

Wanneer daar 'n krisis ontstaan, dan kyk ons so maklik teen die hier en nou vas en ons sien nie raak dat God ook met hierdie krisis besig is om sy ewige raadsplan uit te voer nie. Dit was die probleem met Dawid se raadgewers. Hulle het net teen die huidige krisis vasgekyk en dit het hulle paniekerig gemaak.

Die feit dat ons nie raaksien of verstaan hoekom iets gebeur nie, beteken nie dat die Here nie 'n goeie rede het waarom Hy dit toelaat nie.

Dawid sê hier: “Die Here is op sy troon in die hemel.” Hy is die ewige God wat die hemel en die aarde gemaak het. Daar is niks wat Hom onkant vang nie. Daarom moet ons Hom vertrou.

Ons verstaan nie hoekom hierdie pandemie die wêreld getref het nie. Ons kan nie verduidelik hoekom die Here dit toelaat nie, maar ten spyte daarvan moet ons die Here vertrou.

Die tweede rede wat Dawid gee verduidelik vir ons waarom ons die Here kan vertrou. “Die Here is in sy heilige tempel!“

Hier vind ons 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus. Die tempel en die aanbiddingspraktyke in die tempel was alles profetiese heenwysing na Jesus Christus. Die altaar en die offers het profeties heengewys na Christus wat Homself op die kruis geoffer het.

Die allerheiligste deel wat agter die swaar tempel gordyn afgesper was en waar die hoë priester net eenmaal 'n jaar kan ingaan om te offer, is simboliek van God se heiligheid. Die offer wat die priester gedoen het om versoening te doen vir die volk se sondes, was 'n profetiese heenwysing na Jesus Christus wat met sy offer aan die kruis vir ons versoening vir ons sondes gedoen het.

God is heilig en daarom kon die gewone volk nie by die allerheiligste deel ingaan nie, want niemand kan die heiligheid van God aanskou sonder om verteer te word nie.

Toe Moses gevra het om God te sien, het God hom in 'n klipskeur met sy hand toegemaak en Moses kon net die teenwoordigheid van God aanvoel, want as hy God se heerlikheid gesien het sou hy sterf.

Dit is hier waar die betekenis van Paasfees duidelik na vore kom. In die Ou Testament mag niemand die heerlikheid van die Here aanskou het nie.

In die Nuwe Testament in Joh. 1 v 14 hoor ons egter:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Hier het nou 'n verandering ingekom. In Jesus kan ons God se heerlikheid sien sonder om te sterf.

Die verwysing na die tempel in Psalm 11 v 4 verwys na Christus. Ons hoor in Joh. 2 v 18 tot 22:
Maar die Jode het Hom aangespreek en vir Hom gesê: “Met watter wonderteken kan u vir ons bewys dat u hierdie dinge mag doen?”
Jesus het hulle geantwoord: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig.”

Die Jode sê toe: “Ses en veertig jaar lank is daar aan hierdie tempel gebou, en u sal hom in drie dae oprig?”

Met “hierdie tempel” het Hy egter sy liggaam bedoel. (21)

Die verandering tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament het aan die kruis gekom. Ons hoor in Mat. 27 v 50 & 51 wat gebeur het toe Jesus gesterf het:
Jesus het weer hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas.
Op daardie oomblik het die voorhangsel van die tempel van bo tot onder middeldeur geskeur.

Die voorhangsel wat gekeer het dat die volk by die heerlikheid van God uitkom, het geskeur en dus nou toegang verleen. Dit is van bo na onder geskeur, dit wil sê van God af na die mens toe.

Dis die volk se sonde wat gekeer het dat hulle die heerlikheid van God kon aanskou, want dit sou veroorsaak dat hulle sterf. Maar nou het Jesus die hele mensdom se sondes op Hom geneem en Hy het gesterf en daarom het ons nou direkte toegang tot God.

Die hoë priester het simbolies tussen God en die volk gestaan en dit het heengewys na Jesus wat as ons enigste hoë priester tussen ons en God staan. Deur Jesus kan ons nou direk tot God nader.

In Joh. 2 v 22 is daar egter 'n belangrike stukkie inligting wat ons nie moet vergeet nie:
Later, nadat Hy uit die dood opgewek is, het sy dissipels daaraan gedink dat Hy dit gesê het, en hulle het die Skrif en die woorde van Jesus geglo.

Dis Jesus se opstanding wat alles in werking gestel het, want as Jesus nie die dood se mag gebreek het nie, sou alles tevergeefs gewees het soos ons ook in 1 Kor. 15 v 19 hoor:
as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

Jesus se opstanding is die hoogtepunt van Paasfees en dit is wat ons vandag en elke Sondag herdenk. Ons aanbid nie 'n dooie God nie, want Jesus het opgestaan.

Die opstanding van Jesus gee vir ons troos.
Die Here is in sy heilige tempel!
Die Here is op sy troon in die hemel!
Deur die heilige tempel, dit wil sê deur Jesus Christus kry ons toegang tot die Here wat op sy troon sit.

Daarom mag ons tot Hom nader. Daarom mag ons, ons bekommernisse na Hom toe bring. Hier is baie onsekerhede met hierdie pandemie teenwoordig. Daar is baie bekommernisse oor wat gaan gebeur. Gaan ek ook aangesteek word en siek word? Gaan ek ook my werk verloor? Wat gaan met ons ekonomie gebeur? Gaan ons kan oorleef?

Ons mag en ons moet hierdie bekommernisse na die Here toe bring. Ongeag wat ons vandag in die gesig staar, Jesus se opstanding beteken dat die bose nie sal wen nie - selfs nie wanneer ons deur duisternis omring word nie.

Ons weet nie hoekom God hierdie swaarkry in ons lewens toelaat nie. Wat ons wel weet is dat Hy omgee. Hy het ons baie baie lief.
“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

Wanneer die lewe vir jou te veel word. Wanneer hierdie inperking jou wil oorweldig, kom skuil by ons Hemelse Vader.
Amen

19 November 2017

Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal!


19 Nov 2017 GKE Nagmaal
1 Kor. 7 v 17 – 24
Teksvers 1 Kor. 7 v 23
Sondag 1 Heidelbergse Kategismus
Vraag 1:     Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe ?
Antwoord:   Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort. Hy het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal en my uit alle heerskappy van die duiwel verlos. Hy bewaar my op so ’n wyse dat, sonder die wil van my hemelse Vader, geen haar van my kop kan val nie. Alles moet inderdaad tot my saligheid dien. Daarom verseker Hy my ook deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om voortaan vir Hom te lewe.

Vraag 2:     Hoeveel dinge moet jy weet om in hierdie troos salig te kan lewe en sterwe ?
Antwoord:   Drie dinge: Ten eerste hoe groot my sonde en ellende is; ten tweede hoe ek van al my sonde en ellende verlos kan word en ten derde hoe ek God vir so ’n verlossing dankbaar moet wees.
Jy is duur gekoop, want die prys vir jou is met bloed betaal! Daar is geen duurder prys wat gevra kon word nie en daar was net een persoon wat daardie prys kon bekostig. Daarom het jy nou ’n nuwe eienaar. Jy behoort nie meer aan die slawedrywer wat jou deur middel van sonde vasgeketting het nie. Jy is nou vry van die troosteloosheid wat jou gevangene gehou het, want jy behoort nou aan Jesus Christus.

Twee van die groot vrae in die lewe is:
1) waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
2) wat wag anderkant die dood vir my?
Die antwoorde wat hierdie wêreld op bg. twee vrae bied laat ons met ’n troosteloosheid waarvoor ons nie antwoorde het nie.
Ons Here troos ons met antwoorde op bg vrae wat onuitspreeklike vrede gee.
Waarom is daar soveel onreg in die wêreld?
Die kort antwoord is sonde. In die plek van God se liefde bring sonde haat, onmin, ongeregtigheid, selfsug, angstigheid, onsekerheid. Al die dinge wat ’n mens se gemoed kwel. Sonde is in sy diepste wese opstand teen God se gesag en dit het die verhouding tussen God en die mens beskadig. Dit veroorsaak ook dat die verhouding tussen mense stukkend is. Pleks daarvan om vir mekaar om te gee, soek mense nou mekaar se ondergang. Mense steel, lieg en bedrieg. Ons hoor dit daagliks oor die nuus. Nog korrupsie waar die armes uitgebuit word. Boere word op plase vermoor. Geweld teen vroue en kinders. Sonde is die oorsaak van die gebrokenheid in hierdie lewe en daarom word ons so deur siektes en rampe geteister. Sonde oorsaak dat ons in hierdie lewe ongeluk en angstigheid ervaar.

Al hierdie onreg maak dat ons troos soek en daar is net een Bron van ware troos. Jou troos vir hierdie lewe is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit verseker jou van ’n onuitspreeklike troos want die vrede wat net God kan gee vervang nou die onrus en onsekerheid van jou daaglikse lewe. Jy behoort in hierdie lewe aan Jesus Christus. Dit beteken dat die gebrokenheid van die wêreld nie meer jou lot bepaal nie. Jou geluk in die lewe hang nie meer van die wispelturigheid van hierdie wêreld af nie. Jy het nou ’n vaste anker om aan vas te hou. Jou omstandighede bepaal nie meer of jy vrede het of nie. Jou vrede is nou aan die vaste anker van God vasgemaak, maak nie saak wat jou omstandighede is nie.

Dit is egter nie net die onsekerhede van hierdie lewe wat jou gemoed kwel nie. Die vraag: “wat wag vir ons anderkant die dood?” veroorsaak net soveel onrus in ’n mens se lewe.

Soos wat ons ouer word kom die realiteit van hierdie vraag al hoe nader. Elke keer wanneer ons vir ’n geliefde die laaste keer totsiens sê bring dit hierdie vraag net weer in fokus. In ons alledaagse lewens bêre ons hierdie vraag daar in ’n agterste laai wanneer ons besig raak met die dinge van ons dag tot dag bestaan. Ongelukkig laat hierdie vraag nie toe dat jy so maklik van hom ontslae raak nie. Wanneer jy dit die minste verwag dan spring dit uit die laai uit waarin jy dit so sorgvuldig gebêre het. Dan word jy opnuut weer gekonfronteer oor wat wag vir jou anderkant die dood?

Jou onrus oor wat wag anderkant die dood word ook beantwoord deur die wete is dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit gee vir jou gerustheid wanneer jy met die onsekerheid van die vraag oor wat anderkant die dood lê gekonfronteer word, want jy behoort aan Jesus Christus en Hy wag vir jou met ope arms wanneer jy die onsekerheid van anderkant die dood betree.

In 1 Kor. 7 v 23 hoor ons “Julle is duur gekoop.” Dit beteken jy is vrygekoop van die onreg van hierdie wêreld wat deur sonde veroorsaak word. Jy is vrygekoop van die onsekerheid van wat anderkant die dood wag. Daarom bely ons ook
Ek behoort met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.
Wanneer jy belydenis van geloof aflê is dit wat jy bely. Die Heilige Gees verseker my deur Woordbediening en deur die sakramente dat hierdie belydenis van my waar is. Kom sit nou aan by die tafel van die Here en beleef hoe die Heilige Gees deur die gebruik van Nagmaal jou verseker dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Nagmaal
Nabetragting.
Dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort, beteken dat jy binne in jou huidige omstandighede die Here moet dien. In 1 Kor. 7v17 hoor ons:
Verder moet elkeen in die omstandighede bly wat die Here vir hom gegee het.
Jou omstandighede bepaal nie of dit goed of sleg met jou gaan nie. Die Heilige Gees het nou met Nagmaal jou vaste geloof bevestig dat jy duur gekoop is, want die prys vir jou is met bloed betaal! Dit is wat jou vrede in die lewe gee. Of jou omstandighede dus moeilik of maklik is, leef vanuit die troos dat jy met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan jouself nie maar aan jou getroue Verlosser, Jesus Christus, behoort.
Amen