Wys tans plasings met die etiket Christus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Christus. Wys alle plasings

03 Desember 2020

Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

 This devotion is also available in English


Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

Mat. 16 v 13 - 16

Toe Jesus in die streke van Sesarea-Filippi kom, het Hy vir sy dissipels gevra: “Wie, sê die mense, is die Seun van die mens?” Hulle antwoord: “Party sê Johannes die Doper, party Elia, party Jeremia of een van die profete.” “Maar julle,” het Hy gevra, “wie, sê julle, is Ek?” Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

 Kersfees is amper hier en dit beteken verskillende dinge vir verskillende mense. Christene herdenk met Kersfees die geboorte van Jesus Christus. Daarom is dit goed dat ons net weer so 'n bietjie besin wie Jesus is.

 Jesus het vir sy dissipels (sy volgelinge) gevra wie die mense sê wie Hy is. Uit hul antwoord blyk dit dat die mense Hom beskou as een van die groot profete wat opgestaan het. Dan vra Jesus baie persoonlik: “Maar julle, wie, sê julle, is Ek?”

 Wat sou jou antwoord wees as Jesus vir jou hierdie vraag sou vra? Glo jy dat Jesus die Seun van God is wat Hy gestuur het om jou van jou sondes te verlos? Is jy 'n volgeling van Jesus? Is jy bereid om jouself ten volle aan Hom oor te gee? Is jy bereid om jou kruis op te neem en Hom te volg, selfs al sou dit beteken dat jy daarvoor moet sterf?

 Is jy bereid om die prys te betaal om 'n volgeling van Jesus Christus te wees? Is jy bereid om in alles wat jy doen aan Hom gehoorsaam te wees?

 Om 'n volgeling van Jesus te wees beteken dat God die middelpunt van jou lewe moet wees. Alles wat jy doen of dink moet daarop gefokus wees om aan God gehoorsaam te wees. Jou hele lewe moet op jou verhouding met God gefokus wees. Dit is wat jou lewe betekenis gee, want om op God gefokus te wees, beteken nie dat jy jou lewensvreugde moet opgee en gaan uit mis op dit wat lekker is in die lewe nie. 

 Inteendeel, om op God gefokus te wees beteken juis dat jy begin deel in die ware vreugde van die lewe in die plek van die valse vreugde wat die wêreld bied.

Maar jy, wie, sê jy, is Jesus?

Amen


25 Desember 2017

Wie is Jesus vir my?



oh. 1 v 19 – 34 Teksvers Joh. 1 v 34

25 Des 2017 GKE

 ¯°¯
Lofsang:                      Sb. 4-6 Ere aan God (Gloria in excelsis)
Na Gebed:                    SB 15-1 v 1 – 4 Gebed vir die kerke
Gebed na preek:            Sb 10-1 Onse Vader
Slotsang:                      Sb 3-4 v 1 & 5

Kersfees beteken baie dinge vir verskillende mense, maar vir Christene beteken Kersfees Jesus Christus. In Joh. 1:31 hoor ons dat Johannes die Doper sê dat hy nie geweet het wie Jesus is nie. Tog moes hy Jesus geken het want hulle was neefs. Hy het egter nie werklik geweet wie Jesus werklik is nie en het dit eers geleer met hierdie geleentheid van Jesus se doop, naamlik dat Hy die Messias, die Seun van God is.

Die moontlikheid bestaan dat ons soos Johannes ook weet van Jesus sonder om Hom werklik te ken vir wie Hy werklik is. Ons hoor reeds van kleintyd al die verhale oor Jesus. Ons almal ken die verhaal van Josef en Maria wat na Betlehem gegaan het en nie plek in die herberg kon kry nie. Ons weet hoe hulle op die uiteinde in ’n stal beland het en dat Maria daar geboorte geskenk het en dat sy die babatjie in doeke toegedraai het. Ons weet van die engele koor en die skaapwagters wat gekom het en ook van die drie wyse manne wat geskenke gebring het. Ons weet dat koning Herodes bedreig gevoel het omdat die wyse manne na Jesus as ’n Koning verwys het en hoedat Josef en Maria na Egipte moes vlug om Jesus se lewe te beskerm.

Die vraag is egter, “Weet jy wie Jesus werklik is?” Dit is moontlik dat ons die Kersverhaal baie goed ken sonder dat dit werklik ’n inpak op jou lewe maak. Lyk jou lewe anders as die wêreld om jou of is jy maar net deel daarvan? ’n Volgeling van Jesus se lewe kan nie maar net soos die wêreld lyk nie. Dit is eers wanneer jy Jesus werklik leer ken vir wie Hy is dat daar ’n radikale verandering in jou lewe plaasvind. As jy nie weet wie Jesus werklik is nie kan jy nie in ’n persoonlike verhouding met God leef nie. Die enigste manier om Jesus werklik te leer ken is om Hom te ontmoet soos Hy homself in die Bybel aan ons bekendstel.

Ons ontmoet Jesus dwarsdeur die Bybel. In die Ou Testament ontmoet ons Hom in die profesieë van ’n Messias. In die vier evangelies ontmoet ons Hom as Mens. Die evangelies volgens Matteus, Markus en Lukas is baie dieselfde terwyl Johannes die verhaal van Jesus Christus uit ’n ander hoek benader. Ons hoor in Johannes nie van die geboorte van ’n kind nie. Die fokus van Johannes is om ’n antwoord te gee vir die belangrike vraag: “Wie is Jesus?” Vir elke gelowige is dit nodig dat jy vir jouself moet uitmaak: “Wie is Jesus vir my?”

Van die vroegste tye af was daar bespiegeling oor wie Jesus werklik is. In die eerste eeue na Christus was daar ’n sterk dwaalleer dat Christus nie werklik ’n mens was nie. In ons moderne tyd is dit net mooi na die anderkant toe. Daar word al hoe meer ontken dat Christus werklik God is. Daar is diegene wat erken dat daar so ’n historiese figuur soos Jesus was, maar dat Hy beslis nie God is nie. Die Moslem geloof erken die persoon van Jesus. Vir hulle is Hy egter net ’n profeet en nie God nie. Daar word ook verder gegaan deurdat daar sommige persone is wat Jesus maar net bloot as ’n mite afmaak.

In die evangelie volgens Johannes hoor ons wie Jesus werklik is. Hier hoor ons Jesus is God omdat Hy die Gees van God dra, maar Hy is ook mens omdat Hy onder die mense kom woon het. Elkeen wat ’n navolger van Jesus wil wees moet die saak uitmaak wie Jesus is.

In ons teksgedeelte hoor ons hoe Johannes die Doper ingeroep word om te getuig wie Jesus is. Ons hoor hoe die Joodse leiers priesters en Leviete na Johannes stuur om te hoor wie hy is, want sy prediking het baie opspraak onder die volk veroorsaak. Dwarsdeur die Ou Testament hoor ons die belofte dat ’n gesalfde van God gestuur gaan word om die volk te verlos. In Hebreeus word daar na hierdie persoon as die Messias verwys en in Grieks, die Christus. In die tyd toe Jesus gebore is, het die Romeine oor die Jode geheers en was daar ’n groot verwagting dat die Messias of die Christus moes kom om die volk te verlos. Daarom sê Johannes dan ook ondubbelsinnig aan hulle dat hy nie die Christus is nie soos ons hoor in Joh. 1:20. Hy is maar net die persoon wat aankondig dat die Messias gekom het. In Joh. 1:23 verwys hy na die profesie wat reeds deur die profeet Jesaja gemaak is (vgl. Jes 40:3).

Iemand roep: “Maak vir die Here ’n pad in die woestyn, maak in die barre wêreld ’n grootpad vir ons God!

Johannes noem verder dat hy nie werd is om Christus se skoene los te maak nie (vgl. Joh. 1:27). Om skoene los te maak is ’n werk wat aan die slaaf met die laagste status toegeken is sodat daardie slaaf dan die eienaar se voete kon was. Johannes sê dus hier dat hy selfs nie eers werd is om die taak wat aan ’n slaaf met die laagste status toegeken word, te doen nie. Hierin wys Johannes wat nodig is om Christus werklik te leer ken. ’n Persoon wat vol van homself is kan Christus nie werklik leer ken nie en daarom is dit nodig om jou eiewaan en trots te laat vaar om te leer wie Christus werklik is. ’n Christen wat nie nederig is nie, weet nog net van Christus, maar hy ken hom nie werklik nie. Om Christus werklik te leer ken beteken dat jy minder moet word sodat Christus meer kan word. Wanneer jy werklik verstaan wie Christus is, smelt jou hoogmoed en eie ek belangrikheid weg. Dan word jy diensbaar in die Koninkryk van God.

In sy getuienis verwys Johannes na Jesus as die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem. Jesus kan dit doen want Hy is van ewigheid reeds daar as God. Jesus bring verlossing as ’n lewende realiteit van God wat lewens deur die werk van die Heilige Gees verander. Jesus stel God aan ons bekend deur sy lewe. Hy is die Seun van God, maar Hy verteenwoordig nie net God nie, nee, Hy IS God die Seun.

Om Christus werklik te leer ken is om te glo dat Hy die messias, die Christus is wat gekom het om in jou plek in die gloed van God se oordeel te staan. Dit is om te glo dat Hy die dood oorwin het en dat Hy daarmee aan jou die ewige lewe gee. Dit beteken dat jy kan begin leef uit die oorvloed van God se genade. Dit beteken dat jy God vertrou wanneer jy deur donker dieptes moet gaan.

Dit beteken dat jy vertrou dat Hy jou nooit alleen sal laat nie en dat selfs die dood jou nie van sy liefde kan skei nie. Dit beteken dat jy deernis teenoor jou naaste begin toon. Dat jy die mens raaksien in die persoon wat daar agter die toonbank sit. Dat jy verstaan dat daardie mens ook vrese en bekommernisse het en dat ’n glimlag en ’n vriendelike woord sal help om daardie persoon se bekommernisse ligter te maak. Dit is eers wanneer jy Christus werklik ken dat jy al hoe meer soos Hy kan raak.

Geliefdes wanneer jy na die Kersverhaal luister, kyk en verstaan dieper as die oppervlak. Sien God se karakter en sy liefde raak. Sien raak dat God ‘n nederige mens geword het om jou onthalwe. Geloof is die sleutel om Christus werklik te leer ken. Gryp die geleentheid aan wat God jou gee. Luister na die kersverhaal en sien God daaragter raak. Sien sy liefde vir jou raak en leef daardie liefde.

Wanneer jy in hierdie tyd oor Kersfees nadink vra jouself die vraag: “Wie is Jesus vir my?” Span jou in om `n antwoord op die vraag te vind.

Amen

15 Februarie 2015

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

1 Tim 1 teksvers 1 Tim 1:15
15 Feb. 2015 GKE

Sb 12-3 v 1 & 2
Sb 9-1 v 1 & 11
Ps. 143-1:1
Gebed na die preek SB 10-1 v 1 - 4
Sb 3-4 v 1 – 5

Inleiding
Twee weke gelede het ons gehoor dat die kerk van die Here onsigbaar word in die wêreld wanneer die kerk aan die sondige wêreld gelyk word. Verlede week het ons gehoor hoedat ’n verkeerde verstaan van wat kerkwees eintlik is ons as kerk kan verhoed om ’n verskil te maak in hierdie wêreld. Hierdie week gaan ons na nog ’n rede kyk wat kan veroorsaak dat die kerk onsigbaar word in die wêreld (dit wil sê, die kerk is nie meer effektief om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak nie). Hoogmoed, wat ’n groot struikelblok vir ’n Christen kan wees. Ek begin dink dat ek so ’n bietjie beter as ander mense is. Ek kyk so bietjie neer op ander mense. Ek is darem nie sleg soos hulle nie. Mense wat nie op my standaard is nie gaan in die hel brand. Mense wat nie my godsdiens rituele of tradisies onderhou of op my manier aanbid nie is in die moeilikheid by God.

Hoogmoed is ’n klip waaroor ons as Doppers baie maklik val. Hoogmoed is een van die sondes wat die Here haat soos ons in Spr. 6:16 – 19 hoor
Die Here haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:
oë wat straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n getuie wat lieg
en iemand wat rusie stook tussen broers.
Hoogmoed word 1ste genoem!

Hoogmoed is nie net ’n probleem van ons tyd nie. Dit is iets wat deel is van die mense se geskiedenis vanaf die vroegste jare. Dis hoogmoed wat die satan tot ’n val gebring het en dit is hoogmoed wat veroorsaak het dat die mens in opstand teen God se gesag gekom het. Hoogmoed was ook ’n probleem in Efese waar Timoteus gearbei het. In hoofstuk 1 van die eerste brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het om hom te bemoedig gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe om die probleem aan te spreek.

Paulus gee aan hom ’n opdrag wat ons in twee dele kan onderskei. Hy moet keer dat sekere dinge nie plaasvind nie en daar is sekere dinge wat wel gedoen moet word.

Wat mag nie gebeur nie?
In 1 Tim 1:3b & 4 hoor ons
Daar is sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied. Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming bevorder wat God deur die geloof gee.
Vals leerstellings is nie altyd so maklik om te onderskei nie omdat die mense wat hulle daarmee besig hou dit baie subtiel en onskuldig inbring. Hier vind ons ’n paar riglyne wat ons kan help om dit te onderskei.

Lei dit tot onenigheid? Mense hou so maklik aan rituele en tradisionele gebruike vas. Die argument van “maar ons het nog altyd sus of so gemaak” word dikwels in ’n twisgesprek gebruik waarmee daar gepoog word om iemand se gewete te bind. Met ander woorde as jy nie op my manier aanbid nie is jy in die moeilikheid by God. Dit dui dikwels op ’n vorm van hoogmoed.

Is ons besig met teologiese haarklowery? Daar in Efese het dit gegaan oor geslagsregister. Geslagsregisters was in daardie tyd baie belangrik vir die Jode want daarmee kon hulle bewys dat hulle van Joodse afkoms (dit wil sê die uitverkore volk) was. Die valse leerstelling wat hierin vasgevang is, is dat jou Joodse afkoms jou saligheid verseker. Ons stry nie vandag meer oor geslagsregisters nie, maar daar is baie ander sake waaroor ons wel stry. Dink maar aan die debatte wat vandag in die kerk woed.

Die sake waaroor gestry word is dikwels so ingewikkeld dat dit jou eintlik hoofpyn gee wanneer jy probeer bepaal wat is nou eintlik reg en wat is verkeerd. As ’n teologiese saak nie ly tot Jesus se verlossingswerk en liefde bevorder nie moet mens versigtig wees daarvoor.

Dan word die wet (dit wil sê die Skrif) dikwels aangehaal om ’n standpunt te regverdig. Paulus gee hier vir ons duidelik die doel van die wet. Die hooftaak van die wet is om aan te toon wat sonde is. Ons gebruik so dikwels die wet (die Bybel) om ander se sonde raak te sien. As ek nie op daardie punt kom dat die wet (Bybel) my oortuig van die sonde in my eie lewe nie, dan moet ek myself die vraag afvra of ek nie dalk in die valstrik van hoogmoed getrap het nie.

Ons moet versigtig wees om nie soveel tyd aan die klein puntjies in die Bybel spandeer nie dat ons nie meer tyd het vir die hoofsaak, dit wil sê die evangelie in die Bybel het nie. Hiermee het ons gehoor wat die evangelie nie is nie.

Wat is die evangelie dan wel?
Die woord evangelie is ’n Griekse leenwoord wat goeie nuus beteken. In ons teks hoor ons wat is hierdie goeie nuus is. In 1 Tim. 1:14 hoor ons wat die fondament van die evangelie is:
Ons Here het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in Christus Jesus.
God se genade en nie omdat ek so oulik of goed is nie. Wat is genade? Dit is God se liefde wat jou opsoek wanneer jy niks het om in ruil te gee nie.

Dan hoor ons wat die hart van die evangelie is in 1 Tim 1:15
Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Jesus Christus het as ’n eenvoudige mens in die wêreld ingekom. Hy het die prys van die sonde betaal sodat sondaars verlos kan word. Dit is die waarheid van die evangelie. Die valstrik van hoogmoed is in stryd met die evangelie. Hoogmoed sê: “kyk hoe goed en oulik is ek. Omdat ek so goed en oulik is, is God verplig om my saligheid vir my te gee. Dit gaan nie oor God nie, maar oor myself! Kan u insien hoe hoogmoed in die pad staan van ’n Christin se koninkrykswerk. Wanneer dit net oor myself gaan sien ek nie die nood van ander mense raak nie.

Teenoor dit staan die evangelie. Deur God se genade gee Hy vir my, my saligheid deur middel van Christus Jesus wat in die wêreld gekom het om sondaars te verlos. Dan voeg Paulus in 1 Tim 1:15 by: Van die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos, is ek die grootste! Ons kan gerus so bietjie na onsself kyk en vra: “het ek al ooit so van myself gedink?” Die grootste sondaar onder al die sondaars wat daar is!

Ons vier DV oor twee weke die Heilige Nagmaal en daarom is ons nou in ’n tyd van voorbereiding. Voorbereiding gaan ten diepste daaroor dat ek bietjie introspeksie doen en biddend vir God vra om die hoogmoed van my sonde uit te wys. Voordat ek nie onder diepe besef van my eie onvermoë om my saligheid te bewerk kom nie, sal ek nooit die werklike diepte van God se genade in Christus Jesus begryp nie. As ek ook soos Paulus kan bely dat onder die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos dat ek die grootste is, dan sal die Nagmaal my geloof versterk sodat ek ook saam met Paulus kan bely (vgl. 1 Tim 1:16):
God was my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kan wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.

Slot
Geliefdes, laat ons hierdie week ingaan met die vaste voorneme om die goeie stryd te stry en vas te aan die geloof terwyl ons nie in stryd met ons gewetens optree nie. Onthou die kern van ons geloof is die goeie nuus (evangelie) naamlik Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.

Amen