1 Tim 1 teksvers 1
Tim 1:15
15
Feb. 2015 GKE
Sb
12-3 v 1 & 2
Sb
9-1 v 1 & 11
Ps.
143-1:1
Gebed
na die preek SB 10-1 v 1 - 4
Sb
3-4 v 1 – 5
Inleiding
Twee weke gelede het ons
gehoor dat die kerk van die Here onsigbaar word in die wêreld wanneer die kerk
aan die sondige wêreld gelyk word. Verlede week het ons gehoor hoedat ’n
verkeerde verstaan van wat kerkwees eintlik is ons as kerk kan verhoed om ’n
verskil te maak in hierdie wêreld. Hierdie week gaan ons na nog ’n rede kyk wat
kan veroorsaak dat die kerk onsigbaar word in die wêreld (dit wil sê, die kerk
is nie meer effektief om die koninkryk van God in die wêreld sigbaar te maak
nie). Hoogmoed, wat ’n groot struikelblok vir ’n Christen kan wees. Ek begin
dink dat ek so ’n bietjie beter as ander mense is. Ek kyk so bietjie neer op
ander mense. Ek is darem nie sleg soos hulle nie. Mense wat nie op my standaard
is nie gaan in die hel brand. Mense wat nie my godsdiens rituele of tradisies onderhou
of op my manier aanbid nie is in die moeilikheid by God.
Hoogmoed is ’n klip
waaroor ons as Doppers baie maklik val. Hoogmoed is een van die sondes wat die
Here haat soos ons in Spr. 6:16 – 19 hoor
Die Here
haat ses dinge, nee, daar is sewe waarvan Hy ’n afsku het:
oë wat
straal van hoogmoed, ’n tong wat lieg, hande wat met bloed bevlek is, gedagtes
wat met komplotte besig is, voete wat net een koers ken, dié van die kwaad, ’n
getuie wat lieg
en
iemand wat rusie stook tussen broers.
Hoogmoed word 1ste genoem!
Hoogmoed is nie net ’n
probleem van ons tyd nie. Dit is iets wat deel is van die mense se geskiedenis
vanaf die vroegste jare. Dis hoogmoed wat die satan tot ’n val gebring het en
dit is hoogmoed wat veroorsaak het dat die mens in opstand teen God se gesag
gekom het. Hoogmoed was ook ’n probleem in Efese waar Timoteus gearbei het. In
hoofstuk 1 van die eerste brief wat Paulus aan Timoteus geskryf het om hom te
bemoedig gee Paulus vir Timoteus raad oor hoe om die probleem aan te spreek.
Paulus gee aan hom ’n
opdrag wat ons in twee dele kan onderskei. Hy moet keer dat sekere dinge nie
plaasvind nie en daar is sekere dinge wat wel gedoen moet word.
Wat mag nie gebeur nie?
In 1 Tim 1:3b
& 4 hoor ons
Daar is
sekere mense wat vals leerstellings versprei, en jy moet hulle dit verbied.
Hulle moet hulle nie met verdigsels en eindelose geslagsregisters besig hou
nie. Sulke dinge gee eerder aanleiding tot twisgesprekke as dat dit die vorming
bevorder wat God deur die geloof gee.
Vals leerstellings is nie
altyd so maklik om te onderskei nie omdat die mense wat hulle daarmee besig hou
dit baie subtiel en onskuldig inbring. Hier vind ons ’n paar riglyne wat ons
kan help om dit te onderskei.
Lei dit tot onenigheid?
Mense hou so maklik aan rituele en tradisionele gebruike vas. Die argument van
“maar ons het nog altyd sus of so gemaak” word dikwels in ’n twisgesprek
gebruik waarmee daar gepoog word om iemand se gewete te bind. Met ander woorde
as jy nie op my manier aanbid nie is jy in die moeilikheid by God. Dit dui
dikwels op ’n vorm van hoogmoed.
Is ons besig met
teologiese haarklowery? Daar in Efese het dit gegaan oor geslagsregister.
Geslagsregisters was in daardie tyd baie belangrik vir die Jode want daarmee
kon hulle bewys dat hulle van Joodse afkoms (dit wil sê die uitverkore volk)
was. Die valse leerstelling wat hierin vasgevang is, is dat jou Joodse afkoms
jou saligheid verseker. Ons stry nie vandag meer oor geslagsregisters nie, maar
daar is baie ander sake waaroor ons wel stry. Dink maar aan die debatte wat
vandag in die kerk woed.
Die sake waaroor gestry
word is dikwels so ingewikkeld dat dit jou eintlik hoofpyn gee wanneer jy
probeer bepaal wat is nou eintlik reg en wat is verkeerd. As ’n teologiese saak
nie ly tot Jesus se verlossingswerk en liefde bevorder nie moet mens versigtig
wees daarvoor.
Dan word die wet (dit wil
sê die Skrif) dikwels aangehaal om ’n standpunt te regverdig. Paulus gee hier
vir ons duidelik die doel van die wet. Die hooftaak van die wet is om aan te toon
wat sonde is. Ons gebruik so dikwels die wet (die Bybel) om ander se sonde raak
te sien. As ek nie op daardie punt kom dat die wet (Bybel) my oortuig van die
sonde in my eie lewe nie, dan moet ek myself die vraag afvra of ek nie dalk in
die valstrik van hoogmoed getrap het nie.
Ons moet versigtig wees om
nie soveel tyd aan die klein puntjies in die Bybel spandeer nie dat ons nie
meer tyd het vir die hoofsaak, dit wil sê die evangelie in die Bybel het nie. Hiermee
het ons gehoor wat die evangelie nie is nie.
Wat is die evangelie dan
wel?
Die woord evangelie is ’n
Griekse leenwoord wat goeie nuus beteken. In ons teks hoor ons wat is hierdie
goeie nuus is. In 1 Tim. 1:14 hoor ons wat die fondament van die evangelie is:
Ons Here
het my oorlaai met sy genade en met geloof en liefde wat ons deel is in
Christus Jesus.
God se genade en nie omdat
ek so oulik of goed is nie. Wat is genade? Dit is God se liefde wat jou opsoek
wanneer jy niks het om in ruil te gee nie.
Dan hoor ons wat die hart
van die evangelie is in 1 Tim 1:15
Dit is
’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het
in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Jesus Christus het as ’n
eenvoudige mens in die wêreld ingekom. Hy het die prys van die sonde betaal
sodat sondaars verlos kan word. Dit is die waarheid van die evangelie. Die
valstrik van hoogmoed is in stryd met die evangelie. Hoogmoed sê: “kyk hoe goed
en oulik is ek. Omdat ek so goed en oulik is, is God verplig om my saligheid vir
my te gee. Dit gaan nie oor God nie, maar oor myself! Kan u insien hoe hoogmoed
in die pad staan van ’n Christin se koninkrykswerk. Wanneer dit net oor myself
gaan sien ek nie die nood van ander mense raak nie.
Teenoor dit staan die
evangelie. Deur God se genade gee Hy vir my, my saligheid deur middel van
Christus Jesus wat in die wêreld gekom het om sondaars te verlos. Dan voeg
Paulus in 1 Tim 1:15 by: Van die sondaars wat Jesus gekom het om te verlos, is
ek die grootste! Ons kan gerus so bietjie na onsself kyk en vra: “het ek al
ooit so van myself gedink?” Die grootste sondaar onder al die sondaars wat daar
is!
Ons vier DV oor twee weke
die Heilige Nagmaal en daarom is ons nou in ’n tyd van voorbereiding.
Voorbereiding gaan ten diepste daaroor dat ek bietjie introspeksie doen en
biddend vir God vra om die hoogmoed van my sonde uit te wys. Voordat ek nie
onder diepe besef van my eie onvermoë om my saligheid te bewerk kom nie, sal ek
nooit die werklike diepte van God se genade in Christus Jesus begryp nie. As ek
ook soos Paulus kan bely dat onder die sondaars wat Jesus gekom het om te
verlos dat ek die grootste is, dan sal die Nagmaal my geloof versterk sodat ek
ook saam met Paulus kan bely (vgl. 1 Tim 1:16):
God was
my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy
verdraagsaamheid sou betoon en ek ’n voorbeeld kan wees vir almal wat in die
toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry.
Slot
Geliefdes, laat ons
hierdie week ingaan met die vaste voorneme om die goeie stryd te stry en vas te
aan die geloof terwyl ons nie in stryd met ons gewetens optree nie. Onthou die
kern van ons geloof is die goeie nuus (evangelie) naamlik Christus Jesus het in
die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.
Amen