Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kerk. Wys alle plasings

08 Junie 2025

Wat of wie is die kerk?


 

Lees Mat. 16:13-19 – teksverse Mat. 16:16, 18 & 19 

NGB Art. 27 & Heidelbergse Kategismus Sondag 52 vrae 54 en 55

1.      Inleiding

waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad?

Voordat ons daardie vraag kan beantwoord is dit nodig dat ons net weer vir onsself “uitmaak wat of wie is die kerk?”

Om te verstaan wat of wie die kerk is gaan ek net eers gou stilstaan by wat die kerk nie is nie.

2.      Wat is die kerk nie?

Die kerk is nie ʼn gebou nie. Tog praat ons dikwels van die gebou waar ons bymekaarkom as die kerk. ʼn Beter manier om na die gebou waar ons bymekaarkom te verwys is: ʼn kerkgebou. Tog is dit ook so dat wanneer ons na die gebou as kerk verwys, dan bedoel ons Doppers gewoonlik nie dat dit die kerk is nie. Ek glo ons bedoel daarmee dat wanneer ons van die gebou as kerk praat dat dit die plek is waar ons as kerk bymekaarkom.

Die kerk is ook nie ʼn institusie of organisasie nie. Ek dink ons maak meer dikwels die fout om so aan die kerk te dink en dit is ook waar die wanpersepsie van mense vandaan kom wanneer hulle die kerk as ʼn aparte entiteit van hulself sien. Die kerk maak sus of so en die kerk wil net voorskryf ens. Die ons en hulle sindroom hoort nie in die kerk nie.

Die kerk is ook nie die dominee of kerkraad of ouderlinge nie. Hulle is deel van die kerk, maar hulle is nie op hul eie die kerk nie.

Die kerk is ook nie ʼn sosiale klub nie. Dit klink logies dat nie is nie, maar dit is verbasend hoeveel mense in praktyk die kerk as ʼn klub uitleef. ʼn Klub soos bv. ʼn gholfklub is ʼn sosiale organisasie waarby mense met belange wat hulle deel aansluit en hulle besluit self tot watter mate en hoe gereeld hulle betrokke wil wees en watter saamkom geleenthede hulle wil bywoon. Dit is beslis nie kerk nie.

3.      Wat is die kerk dan?

Om die regte antwoord op die vraag te kry is dit belangrik dat ons kyk na wat die Bybel daaroor te sê het, want die grondslag van die kerk is die waarheid van die woord van God.

Die Griekse woord wat ons met ‘kerk’ vertaal is Ekklesia. Dit beteken letterlik uitgeroep. Daarom bely ons dat Christus uit die hele menslike geslag vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is versamel.

In Mat. 16:18 hoor ons:

En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.

Die kerk van wie Jesus hier praat is al die gelowiges (lewendig en dood) van die begin tot die einde. Dit wil sê, dit is die somtotaal van al die gelowiges oor al die eeue heen. Ons praat hier van die universele onsigbare kerk. Daarom bely ons ook dat ons glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk.

Die Bybel leer ons ook dat die kerk 'n plaaslike groep identifiseerbare gelowiges is wat aan Christus en mekaar toegewy is, wat saamwerk om God te verheerlik en sy sending te dien soos ons bv. in Hand. 14:23 hoor:

In elke gemeente het hulle ouderlinge gekies. Nadat die gemeente gebid en gevas het, het die apostels hulle opgedra aan die Here, in wie hulle nou geglo het.

In hierdie geval is die Griekse woord ‘Ekklesia’ met ‘gemeente’ vertaal.

Dit is belangrik dat ons moet insien dat die Bybel nie na twee aparte tipes kerk verwys nie. In albei gevalle verwys dit na die kerk van Christus in verskillende gedaantes. Sien dit so. Die universele onsigbare kerk word sigbaar in die plaaslike gemeentes.

In die Bybel gebruik God ook verskillende beelde om vir ons te verduidelik wat die kerk is. Ek gaan hier net ʼn paar voorbeelde noem. Bv. Bruid van Christus (Ef. 5:25-28); Kudde van God (1 Pet. 5:2); Die Saailand van God (1 Kor. 3:9); Lewende boustene van ʼn geestelike gebou (1 Pet. 2:5).

Dan is daar ook die beeld van ʼn liggaam van Christus (Ef. 1:22-23). Laasgenoemde is een van die bekendste beelde en daarom verwys ons ook na die mense in die kerk as lidmate (ledemate). Ons is inderdaad die hande en voete van Jesus hier op aarde.

Die Bybel noem ook dat ons ʼn huisgesin is omdat ons kinders van God is (Joh. 1:12) en daarom verwys ons ook na mekaar as broeders en susters.

Al hierdie beelde druk een gedagte uit, nl. dat die kerk ʼn vergadering is. Almal saam is bv. die bruid van Christus, ens. Die kerk is ʼn vergadering en daarom is dit eintlik verkeerd om te vra: “wat is die kerk?” Ons moet eerder vra: “wie is die kerk?”

4.      Wie is die kerk?

In Sondag 21 vraag en antwoord 54 van die Heidelbergse Kategismus bely ons:

Die Seun van God verkies vir Hom uit die hele menslike geslag 'n gemeente aan wie Hy die ewige lewe gee.

Hoe doen Hy dit?

Hy kies hierdie gemeente uit deur sy Gees en Woord in die eenheid van ʼn ware geloof.

Hy vergader hulle van die begin van die wêreld af tot die einde toe, en verder beskerm en onderhou Hy hulle.

Ons bely ook:

dat ek daarvan 'n lewende lid is en ewig sal bly.

 

Wie is die kerk? Die kerk is die mense wat deur God uitverkies is; deur die bloed van Christus gekoop is; deur die Heilige Gees tot woning van die Heilige God gemaak is en daarom is die kerk heilig. Dit beteken dat die kerk die eiendom van die heilige God is. Ons behoort aan Hom en daarom is ons heilig.

Ons kan ook sê die kerk is Christelik, want die kerk behoort aan Jesus Christus. Hy is die hoof van die kerk en ons is die liggaam. Die kerk staan en val met die belydenis van Petrus wat ons in Mat. 16:16 hoor: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”

Ons is Christene omdat ons deur die Heilige Gees gesalf is tot lede van Christus. Verstaan U nou waarom die kerk van Christus radikaal anders as die wêreld daar buite is?

5.      Wat is die doel van die kerk?

Die doel van die kerk is om God te eer en om sy Koninkryk aan die wêreld sigbaar te maak. Een van die kenmerke van ʼn ware kerk is suiwere woordverkondiging. Deur woordverkondiging word die Koninkryk van God sigbaar. Die kerk wys vir die wêreld dat God regeer sodat Hy geken, aanbid en verheerlik kan word.

In Mat. 28:18-20 gee Jesus die opdrag aan sy kerk:

'Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”'

Die kerk moet die evangelie, die goeie nuus van die verlossing in Jesus Christus verkondig sodat elke uitverkore kind van God dit kan hoor en dit glo om weer met God versoen te word.

Deur suiwere woordverkondiging en die suiwere bediening van die sakramente (tweede kenmerk van ʼn ware kerk) word die gelowiges toegerus om uit te gaan in die wêreld om Jesus vir die wêreld te wys deur dit wat hulle sê en dit wat hulle doen.

Met ander woorde om sout en lig vir die wêreld te wees.

In Mat. 16:19 hoor ons:

Ek sal aan jou die sleutels van die koninkryk van die hemel gee, en wat jy op die aarde toesluit, sal in die hemel toegesluit bly; en wat jy op die aarde oopsluit, sal in die hemel oopgesluit bly.”

Deur die sleutel van woordverkondiging van die evangelie word die Koninkryk van die hemel oopgesluit vir diegene wat dit glo, maar dit word ook toegesluit vir hulle wat nie die evangelie glo nie.

Deur die sleutel van die tug word die Koninkryk van die hemel toegesluit vir hulle wat hulle nie wil bekeer nie, maar oopgesluit vir diegene wat hulle berouvol aan die vermaning van die tug onderwerp en hulle bekeer.

Die tug is dan ook die derde kenmerk van ʼn ware kerk om te verseker dat ons getrou bly aan die woord. Die woord Gereformeerd beteken om te reformeer, dit wil sê om terug te verander na die woord toe.

Ons moet egter nie misverstaan wat die kerklike tug is nie. Dit is nie straf nie. Tug is ʼn liefdesmiddel om mense tot berou en bekering te bring.

Die kerk het alleen die gesag van die sleutels van die Koninkryk van die hemel in soverre hulle dit gebruik in ooreenkoms met die woord. Die gesag van die kerk berus in die woord en sodra die kerk afwyk van die woord, het hulle geen gesag meer nie.

6.      Die struktuur van die kerk

God is ʼn God van orde en daarom het Jesus ook ʼn struktuur in die kerk ingestel sodat alles ordelik kan verloop. Ons leer in die Bybel dat daar vier ampte in die kerk is, nl. Predikante, ouderlinge, diakens en gelowiges. Elkeen van die hierdie ampte is gelyk en nie een is hoër as die ander nie.

Die amp van predikant behels om herder en leeraar te wees wat die gemeente lei. Die amp van ouderling is kerkregering en daarom moet ons hulle ook daarvoor respekteer. Die amp van diakens is om die gemeente te lei om die liefdesdiens uit te oefen.

Die amp van die gelowige is profeet, priester en koning. Die amp van die gelowige is ook van toepassing op die ander ampte. As profeet moet ons Christus bely en ʼn profeet is ook die mondstuk van God. As priesters moet ons onself aan Hom toewy as lewende offers van dankbaarheid. En as konings moet ons koninklik stry teen die sonde en die duiwel en sy ganse ryk.

Wat is ons plig in die kerk?

Sondag 52 vraag en antwoord 55 spel dit vir ons uit:

55  Vraag:  

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het. 

   Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en    met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te    wend.

7.      Slot

Die vraag wat elkeen van ons onsself moet afvra is: “Is ek ʼn ware lidmaat van die kerk?” Glo ek opreg in Jesus Christus as my enigste Verlosser en Saligmaker? Leef ek uit my geloof? Ontvlug ek die sonde en jaag ek die geregtigheid na? Het ek die ware God en my naaste lief?

Ons is nog nie volmaak nie, maar die vraag is: “stry ons deur die genade van die Heilige Gees ten bloede toe teen die sonde?”

Weet dat die ware is gelowige onvolmaak en daarom is die kerk ook onvolmaak.

Geliefdes, waarheen is Gereformeerde Kerk Bloemfontein Suidheuwels op pad? Ons kan net een doelwit voor oë hê. Ons moet ware kerk van ons Here Jesus Christus wees.

Amen

Wat bely ons t.o.v. die kerk:

NGB ARTIKEL 27
DIE ALGEMENE CHRISTELIKE KERK

Ons glo en bely 'n enige katolieke of algemene kerk, 'n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees. 

Hierdie kerk was daar van die begin van die wêreld af en sal tot die einde daar wees, want Christus is 'n ewige Koning, wat nooit sonder onderdane kan wees nie. 

En hierdie heilige kerk word deur God teen die woede van die hele wêreld bewaar, alhoewel dit soms 'n tyd lank baie klein is en dit in die oë van die mense lyk asof dit tot niet gegaan het - soos die Here vir Hom gedurende die gevaarlike tyd onder Agab sewe duisend mense bewaar het wat die voor Baäl gekniel het nie. 

Verder is hierdie heilige kerk nie geleë in, gebonde aan of bepaal tot 'n sekere plek of sekere persone nie, maar dit is oor die hele wêreld versprei en verstrooi. 

Tog is dit met hart en wil en deur die krag van die geloof in een en dieselfde Gees saamgevoeg en verenig.

Heidelbergse Kategismus SONDAG 21

54  Vraag: 

Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: 

Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

(a) Ef 5:26;  Joh 10:11;  Hand 20:28;  Ef 4:11-13.  (b) Gen 26:4;  Op 5:9.  (c) Rom 8:29;  Ef 1:10-13.  (d) Jes 59:21;  Rom 1:16;  10:14-l7;  Ef 5:26.  (e) Hand 2:42, Ef4:3-5.  (f) Ps 71:17, 18;  Jes 59:21;  1 Kor 11:26.  (g) Matt 16:18;  Joh 10:28-30;  Ps 129:1-5.  (h) 1 Joh 3:I4, 19-21;  2 Kor 13:5;  Rom 8:l0.  (i) Ps 23:6;  1 Kor 1:8, 9;  Joh 10:28;  1 Joh 2:19;  1 Pet 1:5.

55  Vraag: 

Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: 

Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a).  Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

(a) 1 Joh 1:3;  Rom 8:32;  1 Kor 12:12, I3;  1 Kor 6:17.  (b) 1 Kor 12:21;  13:1, 5;  Fil 2:4-8.


26 Januarie 2025

Hou moed want God is in beheer - Openbaring 7:3-13

 

Sondag 26 Jan. 2025

Tema: Hou moed want God is in beheer.

Skriflesing Open. 3 v 7 - 13 Teksverse Open. 3 v 11


Hou moed want God is in beheer.

Dit is die boodskap wat die HERE vandag vir ons uit sy Woord uit bring.

Wanneer ons na ons situasie kyk kan ons kan met reg vra: “Is die kerk nog relevant in vandag se samelewing?” Gemeentes word al kleiner, veral op die platteland. Al hoe meer mense maak hulself los van die kerk en die samelewing is selfs vyandig gesind teenoor die kerk.

Die norme en waardes wat die kerk voorhou word as belaglik afgemaak. Dit voel of die moderne mens die kerk ontgroei het en dit maak dat ons wat nog kerk is maklik moedeloos kan word.

Wanneer ons terugkyk na die geskiedenis van die kerk dan sien ons dat die kerk dikwels swaar gekry het. Daarom het God in sy Woord ook vir ons die boek Openbaring gegee om sy kerk te bemoedig in tye van swaarkry.

Die sewe briewe in Openbaring is in die eerste plek gerig aan die sewe gemeentes in Klein Asië, maar dit is ook gerig aan die kerk van alle eeue en daarom gaan ons vandag luister na die brief wat aan die gemeente in Filadelfia gerig is want dit spreek tot ons situasie.

Lees Open. 3 v 7 tot 13.

Die boodskap aan Filadelfia

7Skrywe aan die leraar van die gemeente in Filadelfia:

So sê die Heilige, die Ware God, Hy wat die sleutel van Dawid het, wat die deur oopsluit en niemand sal dit weer toesluit nie, en dit toesluit en niemand sluit dit weer oop nie:

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

9Kyk, ek beskik dat van die lede van die sinagoge van die Satan, die mense wat daarop aanspraak maak dat hulle Jode is, en dit nie is nie, maar lieg—kyk, Ek sal maak dat hulle kom en voor julle kniel en erken dat Ek julle liefhet. 10Omdat julle aan die boodskap van my volharding in lyding vasgehou het, sal Ek julle ook vashou in die tyd van beproewing wat oor die hele wêreld gaan kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel. 11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

12Elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek ’n pilaar in die tempel van my God maak, en hy sal vir altyd daar bly. Ek sal op hom die Naam van my God skrywe en die naam van die stad van my God, die nuwe Jerusalem, wat van my God af uit die hemel uit afkom. En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe.

13Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.

Filadelfia was `n gemeente van gelowiges wat hulle nie van stryk laat bring deur Joodse of heidense invloede nie en daarom het hulle saam met Smirna ook nie ’n vermaning ontvang soos die ander vyf gemeentes nie. Albei gemeentes het egter deurgeloop onder Joodse intimidasie in hul alledaagse lewe, maar dit het hulle nie van hulle belydenis laat afsien nie dat Christus die Seun van God is en dat Hy saam met Vader en die Heilige Gees die enigste ware God is.

In die brief inleiding hoor hulle dat hierdie brief van Christus wat hulle as ware Gode bely, afkomstig is. Dit is vir hulle iets kosbaars waaraan hulle kon vashou.

Die gelowiges in Filadelfia was deur die Jode uitgesluit uit die sinagoge met die implikasie dat hulle uit die hemelryk ook uitgesluit is. Hier bevestig Christus dat Hy alleen toegang tot die hemelryk kan gee. Die Jode wat hulle so teenstaan kan hulle nie in die hemelryk uit sluit nie.

In Open. 3 v 8 hoor ons:

8Ek weet alles wat julle doen. Kyk, Ek het ’n deur voor julle oopgesluit en niemand kan dit weer toesluit nie. Ek weet dat julle min krag het, en tog het julle aan my boodskap vasgehou en My nie verloën nie.

Filadelfia het aan die ware evangelie vasgehou en daarom is die hemelryk vir hulle oopgesluit.

Kan julle insien hoe belangrik dit is dat ons aan die Gereformeerde leer vashou en hoe kosbaar ons belydenis is? Dit is ons geloof dat Jesus ons enigste Verlosser en Saligmaker is wat vir ons die deur oopsluit na ewige saligheid saam met God.

Daar is soveel dwaalleer daarbuite en dit kom verskuil met slinksheid wat dit soos die waarheid laat klink. Hou vas aan die Gereformeerde leer waar ons bely:

  • Sola Scriptura –die Skrif alleen
  • Sola Gratia –Genade alleen
  • Sola Fidé –Geloof alleen
  • Solus Christus –Christus Alleen
  • Soli Deo Gloria – Aan God alleen die eer

Dan sê Jesus vir hulle: “Ek weet dat julle min krag het.”

Die gemeente in Filadelfia was ’n klein gemeente binne die samelewing en dink net wat dit vir hulle beteken het dat Christus dit vir hulle gesê het.

Wat sê Hy vir hulle wanneer Hy sê: “Ek weet dat julle min krag het”? Hy sê vir hulle: “Ek verstaan julle situasie. Ek weet hoe moeilik dit vir julle is. Moenie moedeloos word nie!”

Geliefdes, God praat met ons deur sy Woord en Christus sê vanoggend vir die Gereformeerde Kerk Kriel: “Ek weet dat julle min krag het. Ek weet hoe klein julle geword het. Ek verstaan julle situasie. Moenie moedeloos word nie! Hou aan met die werk waarvoor Ek julle geroep het. Hou aan om die Goeie Nuus van Jesus Christus aan die wêreld te verkondig.”

In Open. 3 v 9 hoor ons dat daardie Jode wat die gelowiges in Filadelfia so teengestaan het nie die volk van God is nie. Dit is net diegene wat Jesus Christus as ware God bely wat die ware volk van God is. Verder hoor ons ook dat daardie valse Jode sal bely dat God die gelowiges liefhet.

Daar is soveel mense wat Christus verloën en wat die spot met die gelowiges dryf wat in Hom glo. Jesus sê vir ons dat elke knieg voor Hom sal buig omdat Hy die Koning van die hemel en die aarde is. Soli Deo Gloria. Aan God alleen die eer.

Dis nie ons werk om mense te oortuig nie. Ons werk is om die Goeie Nuus te verkondig. Dit is die Heilige Gees wat die saad van die evangelie in mense se harte laat groei. En diegene wat hulle rug op die evangelie draai sal op die oordeelsdag rekenskap voor die Almagtige God gee oor hul rebelsheid teen Hom. Wie gered word en wie verdoem word is God se saak, nie ons sin nie. Ons moet maar net die evangelie bly verkondig. Geliefdes, bly getrou aan julle roeping.

In Open. 3 v 10 hoor ons dat Christus diegene wat aan die boodskap van volharding in lyding vashou, sal vashou in die tyd beproewing.  Watter geweldige troos is dit nie geliefdes? Nêrens word ons beloof dat ons lyding en swaarkry sal vryspring nie. Wat Christus vir ons hier sê is dat ons nie alleen is daarin nie.

Jy staan nie alleen nie. God is by jou. Ek is seker dat elkeen van ons wat terugkyk na ons swaarkry tye sal kan bely: “Ek was nie alleen nie. God was daar. Dis Hy wat my gedra het toe ek nie meer kon nie”. Die troos wat ons vanoggend hier uit God se Woord ontvang is dat Hy ook in die toekoms daar sal wees waar ons deur swaarkry moet gaan. Hy sal ons dra. Ons sal nie alleen wees nie.

Dan hoor ons in Open. 3 v 11:

11Ek kom gou. Hou vas wat julle het, sodat niemand julle kroon wegvat nie.

Geliefdes hou vas aan God wat jou liefhet se genade. Hou vas aan jou geloof dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Hou vas aan jou burgerskap van die koninkryk van God. Hou vas aan die belofte van Christus se wederkoms. Hou vas aan die Goeie Nuus van Jesus se verlossing en volhard enduit daarin. Hou vas aan die belofte wat ons in Open. 3 v 12 hoor. Hou vas aan die belofte van jou ewige saligheid saam met God, daar waar daar geen trane, hartseer, lyding of dood sal wees nie. Ewig saam met God in sy heerlikheid.

Geliefdes, Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeente sê:
Hou moed want God is in beheer.

Amen


12 Januarie 2021

Die Here is net 'n gebedsoproep vêr

 Ps. 138 v 3

Toe ek na U geroep het,

het U my gebed verhoor

en my nuwe krag gegee.

This devotion is also available in Engels


Gisteraand het die president 'n verlenging die huidige inperkingsmaatreëls aangekondig. Baie gelowiges is ongelukkig omdat die kerkdeure al weer gesluit is. Ons moet egter onthou dat die ‘kerk’ nie gesluit is nie. Die wêreld kan nie die kerk toesluit nie.

 Dit is so dat ons weereens anders te werk moet gaan as wat ons gewoonte is, maar dit beteken nie dat die kerk gesluit is nie. Die huidige inperkingsmaatreëls is nie teen die kerk gerig nie.

 Nou nog meer as ooit tevore MOET ons kerk wees! Onthou, ons kerkgebou is nie die kerk nie. Ons IS die kerk en ons het 'n baie belangrike roeping. Wees lief vir God en jou naaste. Ons as kerk moet groei in geloof en nader aan God beweeg. Ons moet ons geloof uitleef deur in die wêreld in te gaan en vir die wêreld te wys hoe lyk God se liefde.

 En in hierdie tyd moet ons onthou dat God ons nie los om dit alleen te doen nie. Hy is maar net 'n gebedsoproep vêr. Dink net weer na oor wat God gedoen het om ons in staat te stel om kerk te kan wees. Hy het mens geword en onder ons kom woon. Hy het ons oortredinge op Hom geneem sodat ons nie die ewige dood hoef in te gaan nie.

 Word deel van die kerk. Erken en bely jou sondes teenoor Hom en glo dat Jesus Christus gekom het om jou daarvan te verlos sodat jy kerk kan wees. Gaan nou uit en WEES die kerk!

Amen 

Die volgende video gee in `n neutedop `n goeie beskrywing van wat kerk is  (met erkenning aan "Lifekids")













22 November 2019

06. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees?


God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader wat vir my in goeie en moeilike tye sorg

Lees: Rom. 8 v 18 – 35 & Hand. 17 v 24 - 28 
Teksverse: Hand. 17 v 27 & 28 en Rom. 8 v 38 & 39
Heidelbergse Kategismus: Sondag 10
Datum: 10 Nov. 2019 GKE


In die Bybel gebruik God verskillende beelde om om te verduidelik hoe ons verhouding met Hom moet wees. Onder andere gebruik Hy die beeld van 'n huisgesin om te verduidelik hoe die verhouding van die gelowiges met mekaar en met Hom moet wees.

Ons het gehoor dat ons ons as kerk van die Here soos broers en susters is. Verlede week het ons na aanleiding van ons belydenis in Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus gehoor dat ons verhouding met God is soos die verhouding tussen 'n vader en sy kinders.

Vandag staan ons stil by God se sorg vir ons. Net soos 'n Vader sy gesin versorg en bewaar, versorg en bewaar God sy huisgesin dit wil sê sy kerk.

In ons belydenis kom ons die woord “voorsienigheid” tee wat ons nie so baie gebruik nie. Dit is nie 'n woord wat direk net so in die Bybel gebruik word nie, maar dit beskryf vir ons hoe God ons bewaar en versorg soos wat ons in so baie plekke in die Bybel hoor.

Die woord “voorsienigheid” kom van die woord voorsien. Dit het te doen met die manier waarop God voorsien in die lewe. Daar is twee fasette daarby betrokke, naamlik onderhouding en regering.

Die Kategismus verduidelik dit soos volg:
27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.

Ons glo vas en seker dat dit die waarheid is, dit wil sê ons bely dit want God sê dit in die Bybel vir ons soos ons byvoorbeeld in Hand. 17 v 27b & 28a hoor:
Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Daar is niks wat gebeur sonder dat God daarby betrokke is nie. In die algemene loop van die lewe praat ons maklik dat iets toevallig gebeur het. Deur die saamloop van omstandighede het dit of dat gebeur. Dit het net so uitgewerk.

Wanneer ons egter deur ons geloofsoë daarna kyk dan is dit so dat niks maar net toevallig gebeur nie. Daar is niks in hierdie lewe wat God onverhoeds betrap nie.

Hierin lê ook 'n geheimenis opgesluit. Want ons kan maklik redeneer dat as God alles beheer, dat ek geen verantwoordelikheid het nie. Dit werk egter nie so nie. God neem nie die mens se verantwoordelikheid weg nie. Ek kan nie maar net terugsit en sê dat die verkeerde besluite wat ek geneem het nie my skuld is nie. Dit werk ongelukkig nie so nie.

Hoe werk dit dan dat God alles beheer, maar dat ek nog steeds 'n verantwoordelikheid het? Dit is 'n vraag wat mens kan moeg maak sonder dat jy by 'n antwoord uitkom. Met ons beperkte verstand kan ons nie die almag van God omvat of ten volle verduidelik nie. Wat ons wel weet is dat ons kan leef met die vertroue dat God in beheer is, maar dat ek nog steeds my verantwoordelikhede moet nakom en verantwoordelikheid vir my besluite moet aanvaar.

Hier is ook nog 'n verdere ongemaklikheid wat na vore kom. Dis alles goed en wel om te sê dat God iets beskik het wat goed is. Daardie keer toe die motor wat oor die rooi lig gery het, my net rakelings gemis het. Ons as gelowiges bely met reg dat dit God is wat ons bewaar het.

Maar wat van die keer toe daar wel 'n ongeluk was en daar mense dood is? Die jong kind wie se lewe nog voor lê. Waar was God dan toe? Ons kan nie net bely dat dit wat goed is van God af kom nie. As dit wat sleg is nie ook uit sy Vaderhand kom nie, dan is Hy nie almagtig nie, met ander woorde God is nie in beheer nie. Daarom bely ons dat vrugbare en onvrugbare jare, gesondheid en siekte uit sy Vaderhand kom. Daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie.

Wat beteken dit vir ons dat ons weet dat God in beheer is? In die kategismus bely ons:
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.

Wanneer dinge nie verloop soos ons graag sou wou hê dit moet verloop nie, moet ons nie moedeloos word nie. Moenie in wanhoop verval nie. Ons verstaan dalk nie hoekom nie, maar ons weet God besig is met sy ewige raadsplan en dat selfs as ons nie nou verstaan nie, dat dit deel maak van God se groter prentjie. Dit is soos om na 'n klein deeltjie van 'n groot tapisserie se agterkant te kyk. Jy sien nie hoe lyk die groter prent wat dit uitbeeld nie. Daarom moet ons geduldig op God bly vertrou.

Die gevaar is ook daar dat wanneer dinge goed gaan ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ons kyk so maklik teen ons eie bydra en prestasie vas dat ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ja, dit is so dat ek hard gewerk het en dat ek nou begin om die vrugte van my arbeid te pluk. Ek moet steeds onthou dat God dit vir my gegee het. Hy het my die verstand en vermoë gegee om te kan bereik wat ek bereik het. Daarom moet ek dankbaar wees vir die voorspoed wat ek beleef.

Hierdie belydenis dat God in beheer is bring vir ons 'n geweldige troos. Ons kan met vertroue vorentoe na die toekoms kyk. Ons weet nie wat gaan gebeur nie, maar ons weet dat God daar sal wees om my te dra. Hy hou nie noodwendig die slegte dinge weg nie, maar Hy los jou nooit alleen nie want daar is absoluut niks wat jou van God se liefde skei nie.
Rom. 8:38 & 39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Jesus weet wat dit beteken om deur die donker tye te gaan. Hy het immers Godverlatenheid beleef daar aan die vervloekte kruishout. Hy het die hoogste prys betaal toe Hy sy lewe gegee het.

Wat is die ergste wat met jou in hierdie lewe kan gebeur? Jy verloor jou lewe. Die grootste troos is om te weet dat selfs dit jou nie eers van God se liefde kan skei nie, want Hy het die angel van die dood gebreek. Daar wag nie verskrikking anderkant die dood nie. Net God se liefde en ewige teenwoordigheid waar daar geen pyn, lyding, hartseer of dood meer sal wees nie.

Hierdie troos is egter net vir die gelowiges wat in die Goeie Nuus van Jesus Christus glo. Dit is slegs vir hulle wat glo dat Jesus vir jou sondes betaal het met sy dood aan 'n vervloekte kruishout en dat Hy met sy opstanding die mag en verskrikking van die dood gebreek het en dat Hy dit vir elkeen gee wat in Hom glo.

Geliefdes, daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie. Toeval bepaal nie jou lewe nie. God het jou pad uitgelê en Hy sal jou nie in die steek laat nie. Daar is niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

Bly vertrou op God. Wees geduldig in tye van swaarkry en wees dankbaar vir die goeie dinge wat God oor jou pad bring.
Amen







05. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees? Huisgesin 3


God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader op wie ek kan vertrou
Joh. 1v1 tot 18;  Teksvers Joh. 1v12 & 13
3 Nov. 2019 GKE



Sondag 9

26  Vraag:  Wat glo jy as jy sê:  Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
Antwoord:  Ek glo dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus wat die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het (a) en deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer (b), ter wille van sy Seun Christus my God en Vader is.  (c) Op Hom vertrou ek so dat ek nie daaraan twyfel dat Hy my, met alles wat vir liggaam en siel nodig is, sal versorg nie (d).  Hy sal ook al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor my beskik, tot my beswil verander (e), omdat Hy dit as 'n almagtige God kan (f) en ook as 'n getroue Vader wil doen (g).
(a) Gen 1 en 2;  Eks 20:11;  Job 33:4, 38, 39;  Hand 4:24;  14:15;  Ps 33:6;  Jes 45:7.  (b) Heb 1:3;  Ps 104:27-30;  115:3;  Matt 10:29;  Ef 1:11:  (c) Joh 1:12;  Rom 8:15;  Gal 4:5-7;  Ef 1:5.  (d) Ps 55:23;  Matt 6:25, 26;  Luk 12:22.  (e) Rom 8:28:  (f) Jes 46:4;  Rom 10:12.  (g) Matt 6:32, 33;  7:9-11.

Inleiding

Hoe lyk ’n ideale vader? Die ware vaderfiguur is ’n simbool van liefde, goedgesindheid en sorg. Hy is iemand wat jy kan vertrou, iemand wat jy kan navolg en bowenal iemand wat jy kan liefhê. Waar vind ons ’n ideale vader? Ons manne wat alreeds kinders het moet maar kyk of ons gaan pas by die kriteria en die jongmanne moet maar kyk of hulle kans sien vir die ideaal wat gestel word, want dit is voorwaar ’n baie hoë standaard wat gestel word.

As ek so na myself kyk dan moet ek erken dat daar baie geleenthede was waar ek ver te kort geskied het as ’n vader. As ons werklik ’n ideale vader wil hê, dan is daar maar net een: ons Vader wat in die hemel is. Wanneer ons, ons geloof bely met die Twaalf Artikels, dan begin ons by God ons Vader. “Ek glo in God die Vader, die Almagtige Skepper van hemel en aarde.”

Die hoofgedagte van hierdie belydenis is: “Die Skepper is my Vader” In hierdie belydenis gaan dit nie soseer oor die detail van die skepping of hoe dit plaasgevind het nie. Die hoofsaak van die belydenis gaan oor die Persoon, die Ewige God wat die hemel en die aarde uit niks geskep het en wat my verhouding met Hom is. Dit gaan dus nie hier oor die skepping op sigself nie, maar veel eerder oor wie dit is wat geskep het. In Ps. 19v2 hoor ons die wonderlike skeppingslied wat getuig oor die almal van God:
Die hemel getuig van die mag van God,
die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.

As ons die wonder van God se skepping aanskou, dan sê dit vir ons iets van die almag en die grootheid van die Skepper wat dit uit niks uit tot stand gebring het. Dan kan ons ook maar net saam met Dawid die wonder van God besing soos hy dit in Ps. 8v2 doen:
Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde,
hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!
Maar daarmee saam kom die vraag dan ook na vore: “waarom sou die almagtig God wat die hemel en die aarde geskep het Homself met ons klein nietige mense bemoei?” Ps. 8v5:
4 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het,
5 wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

In ons belydenis lê die sleutel. Ons bely “Ek glo in God die Vader....” Ons verwys na God as ons Vader omdat Hy Homself so in sy ewige Woord openbaar. Hierin lê die sleutel van ons verhouding met God. Ons verwys nie na Hom as my alleen God nie, want dit sou ’n verkeerde verhouding aandui. As ek na God verwys as my God, dan kom daar so ’n sweempie van beheer en manipulasie deur. My God.....? Met ander woorde God is my besitting wat ek aangeneem het. Die inisiatief van die verhouding lê dus by my! Heeltemal in stryd met die Skrif!

Nee geliefdes, ons bely, dit wil sê ons glo vas en seker dat God, die Vader van Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook my Vader is. As dit van my as mens afgehang het sou ek nooit vir God gekies het nie. Die mens het dan juis in rebelse opstand teen God se gesag sy rug op God gedraai en God verwerp. (Vgl. Joh. 1v11)
Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.

En tog deur God se genade word almal nie verwerp nie. Daar is sommiges wat tot God mag nader soos die Here ook vir ons in Joh. 1v12 en 13 sê:
12 Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. 13 Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.
Gedring deur die Heilige Gees neem die uitverkore kinders van God, Jesus Christus se verlossingsdaad aan die kruis deur geloof aan en daardeur kry hulle die voorreg om kinders van God genoem te word. Elkeen wat glo dat Jesus Christus vir sy of haar sondes aan die kruis gesterf het en dat Jesus vir hulle die ewige lewe verwerf het met sy oorwinning van die dood, mag vir die ewige God wat die hemel en die aarde geskep het Vader noem.

Geliefdes, sien u die verskil tussen net my God en ons belydenis se my God en Vader? My God alleen dui op ’n baie manipulerende verhouding tussen God en die mens waar die mens in beheer is, terwyl my God en Vader dui op ’n baie intieme verhouding. Die verhouding tussen ’n pa en sy kind is baie nou en intiem. Ons beleef dit ook wanneer ons klein kleuterkindertjies vir ons pappa sê. En dit is inderwaarheid ook die vlak van ons verhouding met ons Hemelse Vader. (Vgl. Rom. 8 15)
Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader.

Abba is ’n Aramese woord wat aanvanklik deur kleuters gebruik is en kan inderwaarheid as pappa vertaal word. Abba Vader dui dan ook op die kinderlike vertroue wat ons as kinders van God in Hom het. Sien u die Groot verskil geliefdes? My God: arrogant, manipulerend met die inisiatief wat van my af uitgaan teenoor Abba Vader wat op ons absolute kinderlike vertroue in God ons Vader dui. Met Abba Vader kom al die inisiatief van God en nie van ons nie. God wat sy Seun uitstuur en die Heilige Gees wat vir ons die geloof gee om Jesus Christus se verlossingsdaad ons eie te maak.
Daarom glo ons ook vas en seker dat die ewige Vader van ons Here Jesus Christus ter wille van sy Seun Christus ook ons God en Vader is. Ons glo dat Hy die hemel en aarde met alles wat daarin is, uit niks geskep het en ook dat Hy dit deur sy ewige raad en voorsienigheid nog onderhou en regeer. Omdat God ons Vader is weet ons verseker dat ons met kinderlike vertroue op Hom kan staatmaak. In Joh. 1v16 sê Hy vir ons:
Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.
Uit die oorvloed van God se genade weet ons dat Hy ons met alles wat vir liggaam en siel nodig is sal versorg. Ons vertrou ons Vader met kinderlike vertroue en daarom weet ons ook dat Hy al die kwaad wat Hy in hierdie jammerdal oor ons beskik, tot ons beswil sal verander. In die prediking oor Sondag 10 sal ons in meer detail op hierdie aspek ingaan.

Ons vertrou dat God ons Vader vir ons sal sorg omdat Hy dit as Skepper van hemel en aarde KAN doen, maar veral ook omdat Hy dit WIL doen as ons Vader.

Elkeen wat Jesus Christus aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Wanneer ons dus bely :
“Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en aarde”
Dan doen ons dit in die wete dat God, die Skepper van hemel en aarde, in Christus my Vader is op wie ek kan vertrou.

Geliefdes, wanneer ons die slaggate op ons lewenspad in 2011 tref, hou vas aan die wete dat ons ’n Hemelse Vader het op wie ons kan vertrou. In daardie seerkry en hartseer dae, gaan na jou Hemelse Pappa sodat Hy jou met sy liefde kan toevou. Hoeveel te meer gaan ons nie die vreugdes van die lewe geniet wanneer ons dit met ons Hemelse Vader kan deel nie. Geliefdes hou vas aan die wete dat die Almagtige God en Skepper van die Hemel en die Aarde in Christus ons Vader is op wie ons kan vertrou.  

Amen