22 November 2019

06. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees?


God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader wat vir my in goeie en moeilike tye sorg

Lees: Rom. 8 v 18 – 35 & Hand. 17 v 24 - 28 
Teksverse: Hand. 17 v 27 & 28 en Rom. 8 v 38 & 39
Heidelbergse Kategismus: Sondag 10
Datum: 10 Nov. 2019 GKE


In die Bybel gebruik God verskillende beelde om om te verduidelik hoe ons verhouding met Hom moet wees. Onder andere gebruik Hy die beeld van 'n huisgesin om te verduidelik hoe die verhouding van die gelowiges met mekaar en met Hom moet wees.

Ons het gehoor dat ons ons as kerk van die Here soos broers en susters is. Verlede week het ons na aanleiding van ons belydenis in Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus gehoor dat ons verhouding met God is soos die verhouding tussen 'n vader en sy kinders.

Vandag staan ons stil by God se sorg vir ons. Net soos 'n Vader sy gesin versorg en bewaar, versorg en bewaar God sy huisgesin dit wil sê sy kerk.

In ons belydenis kom ons die woord “voorsienigheid” tee wat ons nie so baie gebruik nie. Dit is nie 'n woord wat direk net so in die Bybel gebruik word nie, maar dit beskryf vir ons hoe God ons bewaar en versorg soos wat ons in so baie plekke in die Bybel hoor.

Die woord “voorsienigheid” kom van die woord voorsien. Dit het te doen met die manier waarop God voorsien in die lewe. Daar is twee fasette daarby betrokke, naamlik onderhouding en regering.

Die Kategismus verduidelik dit soos volg:
27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.

Ons glo vas en seker dat dit die waarheid is, dit wil sê ons bely dit want God sê dit in die Bybel vir ons soos ons byvoorbeeld in Hand. 17 v 27b & 28a hoor:
Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Daar is niks wat gebeur sonder dat God daarby betrokke is nie. In die algemene loop van die lewe praat ons maklik dat iets toevallig gebeur het. Deur die saamloop van omstandighede het dit of dat gebeur. Dit het net so uitgewerk.

Wanneer ons egter deur ons geloofsoë daarna kyk dan is dit so dat niks maar net toevallig gebeur nie. Daar is niks in hierdie lewe wat God onverhoeds betrap nie.

Hierin lê ook 'n geheimenis opgesluit. Want ons kan maklik redeneer dat as God alles beheer, dat ek geen verantwoordelikheid het nie. Dit werk egter nie so nie. God neem nie die mens se verantwoordelikheid weg nie. Ek kan nie maar net terugsit en sê dat die verkeerde besluite wat ek geneem het nie my skuld is nie. Dit werk ongelukkig nie so nie.

Hoe werk dit dan dat God alles beheer, maar dat ek nog steeds 'n verantwoordelikheid het? Dit is 'n vraag wat mens kan moeg maak sonder dat jy by 'n antwoord uitkom. Met ons beperkte verstand kan ons nie die almag van God omvat of ten volle verduidelik nie. Wat ons wel weet is dat ons kan leef met die vertroue dat God in beheer is, maar dat ek nog steeds my verantwoordelikhede moet nakom en verantwoordelikheid vir my besluite moet aanvaar.

Hier is ook nog 'n verdere ongemaklikheid wat na vore kom. Dis alles goed en wel om te sê dat God iets beskik het wat goed is. Daardie keer toe die motor wat oor die rooi lig gery het, my net rakelings gemis het. Ons as gelowiges bely met reg dat dit God is wat ons bewaar het.

Maar wat van die keer toe daar wel 'n ongeluk was en daar mense dood is? Die jong kind wie se lewe nog voor lê. Waar was God dan toe? Ons kan nie net bely dat dit wat goed is van God af kom nie. As dit wat sleg is nie ook uit sy Vaderhand kom nie, dan is Hy nie almagtig nie, met ander woorde God is nie in beheer nie. Daarom bely ons dat vrugbare en onvrugbare jare, gesondheid en siekte uit sy Vaderhand kom. Daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie.

Wat beteken dit vir ons dat ons weet dat God in beheer is? In die kategismus bely ons:
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.

Wanneer dinge nie verloop soos ons graag sou wou hê dit moet verloop nie, moet ons nie moedeloos word nie. Moenie in wanhoop verval nie. Ons verstaan dalk nie hoekom nie, maar ons weet God besig is met sy ewige raadsplan en dat selfs as ons nie nou verstaan nie, dat dit deel maak van God se groter prentjie. Dit is soos om na 'n klein deeltjie van 'n groot tapisserie se agterkant te kyk. Jy sien nie hoe lyk die groter prent wat dit uitbeeld nie. Daarom moet ons geduldig op God bly vertrou.

Die gevaar is ook daar dat wanneer dinge goed gaan ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ons kyk so maklik teen ons eie bydra en prestasie vas dat ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ja, dit is so dat ek hard gewerk het en dat ek nou begin om die vrugte van my arbeid te pluk. Ek moet steeds onthou dat God dit vir my gegee het. Hy het my die verstand en vermoë gegee om te kan bereik wat ek bereik het. Daarom moet ek dankbaar wees vir die voorspoed wat ek beleef.

Hierdie belydenis dat God in beheer is bring vir ons 'n geweldige troos. Ons kan met vertroue vorentoe na die toekoms kyk. Ons weet nie wat gaan gebeur nie, maar ons weet dat God daar sal wees om my te dra. Hy hou nie noodwendig die slegte dinge weg nie, maar Hy los jou nooit alleen nie want daar is absoluut niks wat jou van God se liefde skei nie.
Rom. 8:38 & 39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Jesus weet wat dit beteken om deur die donker tye te gaan. Hy het immers Godverlatenheid beleef daar aan die vervloekte kruishout. Hy het die hoogste prys betaal toe Hy sy lewe gegee het.

Wat is die ergste wat met jou in hierdie lewe kan gebeur? Jy verloor jou lewe. Die grootste troos is om te weet dat selfs dit jou nie eers van God se liefde kan skei nie, want Hy het die angel van die dood gebreek. Daar wag nie verskrikking anderkant die dood nie. Net God se liefde en ewige teenwoordigheid waar daar geen pyn, lyding, hartseer of dood meer sal wees nie.

Hierdie troos is egter net vir die gelowiges wat in die Goeie Nuus van Jesus Christus glo. Dit is slegs vir hulle wat glo dat Jesus vir jou sondes betaal het met sy dood aan 'n vervloekte kruishout en dat Hy met sy opstanding die mag en verskrikking van die dood gebreek het en dat Hy dit vir elkeen gee wat in Hom glo.

Geliefdes, daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie. Toeval bepaal nie jou lewe nie. God het jou pad uitgelê en Hy sal jou nie in die steek laat nie. Daar is niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

Bly vertrou op God. Wees geduldig in tye van swaarkry en wees dankbaar vir die goeie dinge wat God oor jou pad bring.
Amen







Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking