God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my
Vader wat vir my in goeie en moeilike tye sorg
Lees: Rom. 8 v 18 – 35 & Hand. 17 v 24 -
28
Teksverse: Hand. 17 v 27 & 28 en Rom. 8 v 38
& 39
Heidelbergse
Kategismus: Sondag 10
Datum: 10 Nov. 2019 GKE
In die Bybel gebruik God verskillende beelde om om te
verduidelik hoe ons verhouding met Hom moet wees. Onder andere gebruik Hy die
beeld van 'n huisgesin om te verduidelik hoe die verhouding van die gelowiges
met mekaar en met Hom moet wees.
Ons het gehoor dat ons ons as kerk van die Here soos
broers en susters is. Verlede week het ons na aanleiding van ons belydenis in
Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus gehoor dat ons verhouding met God is
soos die verhouding tussen 'n vader en sy kinders.
Vandag staan ons stil by God se sorg vir ons. Net soos 'n
Vader sy gesin versorg en bewaar, versorg en bewaar God sy huisgesin dit wil sê
sy kerk.
In ons belydenis kom ons die woord “voorsienigheid” tee
wat ons nie so baie gebruik nie. Dit is nie 'n woord wat direk net so in die
Bybel gebruik word nie, maar dit beskryf vir ons hoe God ons bewaar en versorg
soos wat ons in so baie plekke in die Bybel hoor.
Die woord “voorsienigheid” kom van die woord voorsien.
Dit het te doen met die manier waarop God voorsien in die lewe. Daar is twee
fasette daarby betrokke, naamlik onderhouding en regering.
Die Kategismus verduidelik dit soos volg:
27 Vraag:
Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord: Die almagtige en oralteenwoordige krag van
God (a) waardeur Hy hemel en aarde en al
die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras,
reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid
en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit
sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;
Jer 23:23, 24; Jes 29:15,
16; Eseg 8:12. (b) Heb 1:3.
(c) Jer 5:24; Hand 14:17. (d) Joh 9:3.
(e) Spr 22:2. (f) Matt
10:29; Spr 16:33.
Ons glo vas en seker dat dit die waarheid is, dit wil sê
ons bely dit want God sê dit in die Bybel vir ons soos ons byvoorbeeld in Hand.
17 v 27b & 28a hoor:
Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom
lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.
Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Daar is
niks wat gebeur sonder dat God daarby betrokke is nie. In die algemene loop van
die lewe praat ons maklik dat iets toevallig gebeur het. Deur die saamloop van
omstandighede het dit of dat gebeur. Dit het net so uitgewerk.
Wanneer ons egter deur ons geloofsoë daarna kyk dan is
dit so dat niks maar net toevallig gebeur nie. Daar is niks in hierdie lewe wat
God onverhoeds betrap nie.
Hierin lê ook 'n geheimenis opgesluit. Want ons kan
maklik redeneer dat as God alles beheer, dat ek geen verantwoordelikheid het
nie. Dit werk egter nie so nie. God neem nie die mens se verantwoordelikheid
weg nie. Ek kan nie maar net terugsit en sê dat die verkeerde besluite wat ek
geneem het nie my skuld is nie. Dit werk ongelukkig nie so nie.
Hoe werk dit dan dat God alles beheer, maar dat ek nog
steeds 'n verantwoordelikheid het? Dit is 'n vraag wat mens kan moeg maak
sonder dat jy by 'n antwoord uitkom. Met ons beperkte verstand kan ons nie die
almag van God omvat of ten volle verduidelik nie. Wat ons wel weet is dat ons
kan leef met die vertroue dat God in beheer is, maar dat ek nog steeds my
verantwoordelikhede moet nakom en verantwoordelikheid vir my besluite moet
aanvaar.
Hier is ook nog 'n verdere ongemaklikheid wat na vore
kom. Dis alles goed en wel om te sê dat God iets beskik het wat goed is.
Daardie keer toe die motor wat oor die rooi lig gery het, my net rakelings
gemis het. Ons as gelowiges bely met reg dat dit God is wat ons bewaar het.
Maar wat van die keer toe daar wel 'n ongeluk was en daar
mense dood is? Die jong kind wie se lewe nog voor lê. Waar was God dan toe? Ons
kan nie net bely dat dit wat goed is van God af kom nie. As dit wat sleg is nie
ook uit sy Vaderhand kom nie, dan is Hy nie almagtig nie, met ander woorde God
is nie in beheer nie. Daarom bely ons dat vrugbare en onvrugbare jare,
gesondheid en siekte uit sy Vaderhand kom. Daar is niks wat buite om God se
beheer gebeur nie.
Wat beteken dit vir ons dat ons weet dat God in beheer
is? In die kategismus bely ons:
28 Vraag:
Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur
sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord: Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in
voorspoed dankbaar (b) kan wees. Verder
dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c)
kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle
skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie
(e).
(a) Rom 5:3; Jak
1:3; Ps 39:10; Job 1:21, 22.
(b) 1 Tess 5:18; Deut 8:10. (c) Ps 55:23;
Rom 5:4. (d) Rom 8:38, 39. (e) Job 1:12;
2:6; Spr 21:1; Hand 17:2.
Wanneer dinge nie verloop soos ons graag sou wou hê dit
moet verloop nie, moet ons nie moedeloos word nie. Moenie in wanhoop verval
nie. Ons verstaan dalk nie hoekom nie, maar ons weet God besig is met sy ewige
raadsplan en dat selfs as ons nie nou verstaan nie, dat dit deel maak van God
se groter prentjie. Dit is soos om na 'n klein deeltjie van 'n groot tapisserie
se agterkant te kyk. Jy sien nie hoe lyk die groter prent wat dit uitbeeld nie.
Daarom moet ons geduldig op God bly vertrou.
Die gevaar is ook daar dat wanneer dinge goed gaan ons
vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ons kyk so maklik teen ons eie bydra en
prestasie vas dat ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ja, dit is so dat
ek hard gewerk het en dat ek nou begin om die vrugte van my arbeid te pluk. Ek
moet steeds onthou dat God dit vir my gegee het. Hy het my die verstand en
vermoë gegee om te kan bereik wat ek bereik het. Daarom moet ek dankbaar wees
vir die voorspoed wat ek beleef.
Hierdie belydenis dat God in beheer is bring vir ons 'n
geweldige troos. Ons kan met vertroue vorentoe na die toekoms kyk. Ons weet nie
wat gaan gebeur nie, maar ons weet dat God daar sal wees om my te dra. Hy hou
nie noodwendig die slegte dinge weg nie, maar Hy los jou nooit alleen nie want
daar is absoluut niks wat jou van God se liefde skei nie.
Rom. 8:38 & 39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of
magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of
enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die
liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Jesus weet wat dit beteken om deur die donker tye te
gaan. Hy het immers Godverlatenheid beleef daar aan die vervloekte kruishout.
Hy het die hoogste prys betaal toe Hy sy lewe gegee het.
Wat is die ergste wat met jou in hierdie lewe kan gebeur?
Jy verloor jou lewe. Die grootste troos is om te weet dat selfs dit jou nie
eers van God se liefde kan skei nie, want Hy het die angel van die dood
gebreek. Daar wag nie verskrikking anderkant die dood nie. Net God se liefde en
ewige teenwoordigheid waar daar geen pyn, lyding, hartseer of dood meer sal
wees nie.
Hierdie troos is egter net vir die gelowiges wat in die
Goeie Nuus van Jesus Christus glo. Dit is slegs vir hulle wat glo dat Jesus vir
jou sondes betaal het met sy dood aan 'n vervloekte kruishout en dat Hy met sy
opstanding die mag en verskrikking van die dood gebreek het en dat Hy dit vir
elkeen gee wat in Hom glo.
Geliefdes, daar is niks wat buite om God se beheer gebeur
nie. Toeval bepaal nie jou lewe nie. God het jou pad uitgelê en Hy sal jou nie
in die steek laat nie. Daar is niks wat jou van sy liefde kan skei nie.
Bly vertrou op God. Wees geduldig in tye van swaarkry en
wees dankbaar vir die goeie dinge wat God oor jou pad bring.
Amen