Wys tans plasings met die etiket Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Heidelbergse Kategismus. Wys alle plasings

22 November 2019

06. Wat beteken dit om kerk van die Here te wees?


God, die Skepper van hemel en aarde is in Christus my Vader wat vir my in goeie en moeilike tye sorg

Lees: Rom. 8 v 18 – 35 & Hand. 17 v 24 - 28 
Teksverse: Hand. 17 v 27 & 28 en Rom. 8 v 38 & 39
Heidelbergse Kategismus: Sondag 10
Datum: 10 Nov. 2019 GKE


In die Bybel gebruik God verskillende beelde om om te verduidelik hoe ons verhouding met Hom moet wees. Onder andere gebruik Hy die beeld van 'n huisgesin om te verduidelik hoe die verhouding van die gelowiges met mekaar en met Hom moet wees.

Ons het gehoor dat ons ons as kerk van die Here soos broers en susters is. Verlede week het ons na aanleiding van ons belydenis in Sondag 9 van die Heidelbergse Kategismus gehoor dat ons verhouding met God is soos die verhouding tussen 'n vader en sy kinders.

Vandag staan ons stil by God se sorg vir ons. Net soos 'n Vader sy gesin versorg en bewaar, versorg en bewaar God sy huisgesin dit wil sê sy kerk.

In ons belydenis kom ons die woord “voorsienigheid” tee wat ons nie so baie gebruik nie. Dit is nie 'n woord wat direk net so in die Bybel gebruik word nie, maar dit beskryf vir ons hoe God ons bewaar en versorg soos wat ons in so baie plekke in die Bybel hoor.

Die woord “voorsienigheid” kom van die woord voorsien. Dit het te doen met die manier waarop God voorsien in die lewe. Daar is twee fasette daarby betrokke, naamlik onderhouding en regering.

Die Kategismus verduidelik dit soos volg:
27  Vraag:  Wat verstaan jy onder die voorsienigheid van God?
Antwoord:  Die almagtige en oralteenwoordige krag van God (a)  waardeur Hy hemel en aarde en al die skepsels asof met sy hand nog onderhou en so regeer (b) dat lower en gras, reën en droogte (c), vrugbare en onvrugbare jare, voedsel en drank, gesondheid en siekte (d), rykdom en armoede (e) en alles, ons nie per toeval nie, maar uit sy Vaderhand toekom (f).
(a) Hand 17:25-28;  Jer 23:23, 24;  Jes 29:15, 16;  Eseg 8:12.  (b) Heb 1:3.  (c) Jer 5:24;  Hand 14:17.  (d) Joh 9:3.  (e) Spr 22:2.  (f) Matt 10:29;  Spr 16:33.

Ons glo vas en seker dat dit die waarheid is, dit wil sê ons bely dit want God sê dit in die Bybel vir ons soos ons byvoorbeeld in Hand. 17 v 27b & 28a hoor:
Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons.

Deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons. Daar is niks wat gebeur sonder dat God daarby betrokke is nie. In die algemene loop van die lewe praat ons maklik dat iets toevallig gebeur het. Deur die saamloop van omstandighede het dit of dat gebeur. Dit het net so uitgewerk.

Wanneer ons egter deur ons geloofsoë daarna kyk dan is dit so dat niks maar net toevallig gebeur nie. Daar is niks in hierdie lewe wat God onverhoeds betrap nie.

Hierin lê ook 'n geheimenis opgesluit. Want ons kan maklik redeneer dat as God alles beheer, dat ek geen verantwoordelikheid het nie. Dit werk egter nie so nie. God neem nie die mens se verantwoordelikheid weg nie. Ek kan nie maar net terugsit en sê dat die verkeerde besluite wat ek geneem het nie my skuld is nie. Dit werk ongelukkig nie so nie.

Hoe werk dit dan dat God alles beheer, maar dat ek nog steeds 'n verantwoordelikheid het? Dit is 'n vraag wat mens kan moeg maak sonder dat jy by 'n antwoord uitkom. Met ons beperkte verstand kan ons nie die almag van God omvat of ten volle verduidelik nie. Wat ons wel weet is dat ons kan leef met die vertroue dat God in beheer is, maar dat ek nog steeds my verantwoordelikhede moet nakom en verantwoordelikheid vir my besluite moet aanvaar.

Hier is ook nog 'n verdere ongemaklikheid wat na vore kom. Dis alles goed en wel om te sê dat God iets beskik het wat goed is. Daardie keer toe die motor wat oor die rooi lig gery het, my net rakelings gemis het. Ons as gelowiges bely met reg dat dit God is wat ons bewaar het.

Maar wat van die keer toe daar wel 'n ongeluk was en daar mense dood is? Die jong kind wie se lewe nog voor lê. Waar was God dan toe? Ons kan nie net bely dat dit wat goed is van God af kom nie. As dit wat sleg is nie ook uit sy Vaderhand kom nie, dan is Hy nie almagtig nie, met ander woorde God is nie in beheer nie. Daarom bely ons dat vrugbare en onvrugbare jare, gesondheid en siekte uit sy Vaderhand kom. Daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie.

Wat beteken dit vir ons dat ons weet dat God in beheer is? In die kategismus bely ons:
28  Vraag:  Wat baat dit ons dat ons weet dat God alles geskep het en dit nog deur sy voorsienigheid onderhou?
Antwoord:  Dat ons in alle teëspoed geduldig (a) en in voorspoed dankbaar (b) kan wees.  Verder dat ons ook vir die toekoms 'n vaste vertroue in ons getroue God en Vader (c) kan stel dat geen skepsel ons van sy liefde sal skei nie (d), aangesien alle skepsels so in sy hand is dat hulle sonder sy wil nie kan roer of beweeg nie (e).
(a) Rom 5:3;  Jak 1:3;  Ps 39:10;  Job 1:21, 22.  (b) 1 Tess 5:18;  Deut 8:10.  (c) Ps 55:23;  Rom 5:4.  (d) Rom 8:38, 39.  (e) Job 1:12;  2:6;  Spr 21:1;  Hand 17:2.

Wanneer dinge nie verloop soos ons graag sou wou hê dit moet verloop nie, moet ons nie moedeloos word nie. Moenie in wanhoop verval nie. Ons verstaan dalk nie hoekom nie, maar ons weet God besig is met sy ewige raadsplan en dat selfs as ons nie nou verstaan nie, dat dit deel maak van God se groter prentjie. Dit is soos om na 'n klein deeltjie van 'n groot tapisserie se agterkant te kyk. Jy sien nie hoe lyk die groter prent wat dit uitbeeld nie. Daarom moet ons geduldig op God bly vertrou.

Die gevaar is ook daar dat wanneer dinge goed gaan ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ons kyk so maklik teen ons eie bydra en prestasie vas dat ons vergeet dat dit eintlik van God af kom. Ja, dit is so dat ek hard gewerk het en dat ek nou begin om die vrugte van my arbeid te pluk. Ek moet steeds onthou dat God dit vir my gegee het. Hy het my die verstand en vermoë gegee om te kan bereik wat ek bereik het. Daarom moet ek dankbaar wees vir die voorspoed wat ek beleef.

Hierdie belydenis dat God in beheer is bring vir ons 'n geweldige troos. Ons kan met vertroue vorentoe na die toekoms kyk. Ons weet nie wat gaan gebeur nie, maar ons weet dat God daar sal wees om my te dra. Hy hou nie noodwendig die slegte dinge weg nie, maar Hy los jou nooit alleen nie want daar is absoluut niks wat jou van God se liefde skei nie.
Rom. 8:38 & 39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Jesus weet wat dit beteken om deur die donker tye te gaan. Hy het immers Godverlatenheid beleef daar aan die vervloekte kruishout. Hy het die hoogste prys betaal toe Hy sy lewe gegee het.

Wat is die ergste wat met jou in hierdie lewe kan gebeur? Jy verloor jou lewe. Die grootste troos is om te weet dat selfs dit jou nie eers van God se liefde kan skei nie, want Hy het die angel van die dood gebreek. Daar wag nie verskrikking anderkant die dood nie. Net God se liefde en ewige teenwoordigheid waar daar geen pyn, lyding, hartseer of dood meer sal wees nie.

Hierdie troos is egter net vir die gelowiges wat in die Goeie Nuus van Jesus Christus glo. Dit is slegs vir hulle wat glo dat Jesus vir jou sondes betaal het met sy dood aan 'n vervloekte kruishout en dat Hy met sy opstanding die mag en verskrikking van die dood gebreek het en dat Hy dit vir elkeen gee wat in Hom glo.

Geliefdes, daar is niks wat buite om God se beheer gebeur nie. Toeval bepaal nie jou lewe nie. God het jou pad uitgelê en Hy sal jou nie in die steek laat nie. Daar is niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

Bly vertrou op God. Wees geduldig in tye van swaarkry en wees dankbaar vir die goeie dinge wat God oor jou pad bring.
Amen







13 Oktober 2019

Jesus se opstanding troos ons met die wete dat ons kan leef vanuit die krag van God se genade


13 Okt. 2019 GKE
Lees: Fil. 3; 
Teksverse: Fil. 3: 10 & 11



Sondag 17 – Heidelbergse Kategismus

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: 
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Rom. 4:25; 1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b).  Rom 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef2:5, 6.
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).1 Kor. 15:20, 21.

Inleiding
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Met ander woorde, hoekom is dit belangrik dat Christus opgestaan het? Wat is die doel daarvan? Wat beteken Jesus se opstanding vir my persoonlik? 

Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus handel spesifiek oor Jesus Christus se opstanding uit die dood. Daarin vind ons die troos wat Jesus Christus se opstanding vir ons inhou.

Waarom is dit belangrik dat ons in ons belydenis aandag aan Jesus opstanding moet gee? 

Sonder Jesus se opstanding is ons geloof in Jesus Christus waardeloos soos ons dan ook hoor in 
1 Kor. 15:17
as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

Die Christendom staan of val by die opstanding van Jesus en daarom is dit belangrik dat ons weet wat dit beteken.

Die antwoord wat ons kategismus op die vraag by Sondag 17 gee kan ons kortliks soos volg opsom. 

Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? 
Die antwoord spreek drie sake aan wat ons kortliks soos volg kan opsom. 

Christus se opstanding is:

       1) die bewys van ons regverdigmaking.

       2) die beginsel van ons heiligmaking.

       3) die waarborg van ons verheerliking.

Ons gaan kortliks stilstaan by wat elk van bogenoemde drie antwoorde beteken en daarna gaan ons fokus op wat dit werklik vir ons beteken.

1) Christus se opstanding is die bewys van ons regverdigmaking.

In Fil. 3:8&9 sê die Here vir ons:
Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.
en in vers 10 sê Hy vir ons: “Al wat ek wens, is om Christus te ken.” 

Dit beteken eenvoudig dat Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Hy het in jou plek die straf vir sonde gedra, naamlik die ewige dood. Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Dit beteken Hy het die volle prys betaal. Die straf is afgehandel en daar is niks wat jy nog ekstra in die vorm van straf moet bybetaal nie.

Wat beteken dit vir my prakties? Daar kom tye in mens se lewe wat ek begin wonder of Jesus werklik al my sondes betaal het. Is ek werklik goed genoeg in die oë van God? Dit is dan dat ek begin om allerlei reëls (gewoonlik mensgemaak) en rituele navolg want ek glo dit is nodig. Ek raak oortuig daarvan dat as ek dit nie doen nie, dan gaan ek hel toe. Hoe harder ek probeer hoe meer vreesbevange raak ek vir God se oordeel!

Dit is op hierdie punt dat Jesus se opstanding vir my ’n werklikheid word, want as Jesus nie my skuld ten volle betaal het nie, dan sou Hy ook nie kon opstaan nie omdat Hy dan nie die dood volledig oorwin het nie. 

Jesus se oorwinning oor die dood is my waarborg dat my sondeskuld ten volle betaal is. Ek IS vir God aanvaarbaar net soos ek is. Ek hoef nie allerlei moets en moenies na te kom om vir Hom aanvaarbaar te wees nie. 

My sekerheid daarvan kom uit die geloof wat die Heilige Gees vir my gee. God gee vir my die geloof en dan vra Hy van my: “glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat sy opstanding jou bewys is dat jou sondeskuld ten volle betaal is.” 

Daarom hoef ek nie meer vir God se oordeel bang te wees nie, want God self spreek my vry! Om Christus te ken beteken dat ek vir seker weet dat Hy vir my sondes ten volle betaal het.

2) Christus se opstanding is die beginsel van ons heiligmaking.

Heiligmaking kan soos volg in eenvoudige taal verduidelik word. “God het my so lief dat Hy my aanvaar net soos ek is, maar sy liefde is so groot dat Hy my nie sal los soos ek is nie. Die Heilige Gees verander my en gee vir my 'n afkeur in die sonde.

Dit is die rede waarom ons teen die sonde kan baklei. Dit is die rede waarom ons kan liefhê. Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe. In 1 Pet. 1:3 hoor ons:
In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Dit is dan ook Paulus se wens soos ons hoor in ons in ons teksvers Fil. 1:10:
Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind

Deurdat ek verseker weet dat Jesus vir my sondes ten volle betaal het, begin sy krag nou ’n werklikheid word in my lewe. Ek ervaar die wonder van God se liefde in my lewe. Die Heilige Gees word ’n werklikheid vir my en sy krag dring my ook om God se liefde in my lewe uit te deel. 

Die wonder van God se genade is dat hoe meer liefde ek uitdeel, hoe sterker word God se liefde in my lewe. God se liefde verdryf die sonde soos woede, haat, selfsug dit wil sê die slegte vrug van my sondige natuur.

Prakties beteken dit dat ek al hoe meer op God vertrou en minder op myself. God en sy wil word die dryfveer in my lewe. Waar die sondige praktyke vroeër in my lewe lekker was, begin dit al hoe meer afstootlik word. 

In Fil. 3:13 sê die Here dan ook vir ons hoe dit prakties werk:
ek maak my los van wat agter is en strek  my uit na wat voor is

Met ander woorde, ek los die dinge van die verlede in die verlede. Dit wat agter my lê is verby. My mislukkings van die verlede is begrawe en dood. 

Een van die satan se groot strategieë is om my gedurig aan my foute van die verlede te herinner en so kla hy my aan.

Sy doel is om jou te oortuig dat jy ’n mislukking in die lewe is. Dis daai gedagtes wat vir jou sê: “Jy maak of jy so goed is, maar as die mense net weet hoe sleg lyk jou verlede! Dan sal hulle sien wat se groot bedrieër jy werklik is. 

Jy weet natuurlik dat jy niks vir God kan wegsteek nie. Hy weet wat jy gedoen het, dus moet jy nie dink dat Hy met jou tevrede sal wees nie. Erken dit nou maar, jy is ’n mislukking! Jy is net nie goed genoeg en sal ook nooit goed genoeg wees nie.” 

So probeer die ou satan keer dat jy werklik tot jou volle potensiaal leef, dit wat God vir jou beplan.

Jesus se opstanding beteken egter dat die sondes van my verlede nie meer ’n houvas op my het nie. By God is daar ’n kans om weer te begin en Hy kyk nie weer na dit wat agter my lê nie soos Hy ons dan ook belowe in 
Ps. 103:12:
So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Dit beteken egter nie dat ek nou perfek is en nie meer foute maak nie soos ons hoor in 
Fil. 3:12-14:
Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in  om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Die nuwe lewe is ’n proses waarin jy al hoe meer groei na die volmaaktheid van Jesus Christus. Die Heilige Gees help jou op hierdie pad want dit is God wat vir jou die insig gee soos hoor in 
Fil. 3:15.
Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.

Jesus se opstanding beteken dus in die tweede plek dat ek nou lewe in Jesus se krag vanuit sy genade en nie vanuit my sondige natuur nie. 

My verlede bepaal dus nie hoe my toekoms gaan lyk nie. God se liefde en genade bepaal my toekoms want by God het ek ’n nuwe begin.

3) Christus se opstanding is die waarborg van ons verheerliking.
In ons teksvers Fil. 3:10-11 hoor ons:
Al wat ek wens is .......... om deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Daarom bely ons dan ook, die opstanding van Christus is vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Dit beteken dat ons ’n lewende hoop het. Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want die dood is nie die einde nie. Jesus se opstanding is ons waarborg dat dit slegs ’n deurgang is tot die ewige heerlikheid saam met God. 

Hierin lê vir ons ’n onuitputlike troos wanneer ons oor ons eie dood nadink, maar ook wanneer ons langs die oop graf van ’n geliefde staan wat in Jesus Christus geglo het. 

Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, pyn of leiding of dood sal wees nie.

Slot
Wat beteken Jesus se opstanding vir ons? 

1) Regverdigmaking:
    Dit gee aan ons die sekere wete dat Jesus ten volle vir al my 
    sondes betaal het en daarom hoef ek nie meer bang te wees vir 
    God se oordeel nie. 

2) Heiligmaking:
    Ek kry ’n nuwe lewe waar My verlede nie bepaal hoe my toekoms
    gaan lyk nie, maar dat God se liefde en genade my toekoms
    bepaal want by God het ek ’n nuwe begin. 

3) Verheerliking:
     Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige
     heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, 
     pyn of leiding of dood sal wees nie.

Vind jou troos by God. 

Glo dat Jesus se opstanding jou waarborg is dat jy kan leef vanuit die krag van God se genade en dat jy nie sy oordeel hoef te vrees nie.


Amen