13 Okt. 2019
GKE
Lees: Fil. 3;
Teksverse: Fil.
3: 10 & 11
Sondag 17 – Heidelbergse Kategismus
45
Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus
vir ons?
Antwoord:
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood
oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig
kon maak (a). Rom. 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor.
15:16.
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n
nuwe lewe opgewek (b). Rom 6:4; Kol 3:1, 5;
Ef2:5, 6.
Ten derde is die opstanding van Christus vir
ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).1 Kor. 15:20, 21.
Inleiding
Watter
nut het die opstanding van Christus vir ons? Met ander woorde, hoekom is dit
belangrik dat Christus opgestaan het? Wat is die doel daarvan? Wat beteken
Jesus se opstanding vir my persoonlik?
Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus
handel spesifiek oor Jesus Christus se opstanding uit die dood. Daarin vind ons
die troos wat Jesus Christus se
opstanding vir ons inhou.
Waarom
is dit belangrik dat ons in ons belydenis aandag aan Jesus opstanding moet gee?
Sonder Jesus se opstanding is ons geloof in Jesus Christus waardeloos soos ons
dan ook hoor in
1 Kor. 15:17
as Christus nie opgewek is nie, is
julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.
Die
Christendom staan of val by die opstanding van Jesus en daarom is dit belangrik
dat ons weet wat dit beteken.
Die
antwoord wat ons kategismus op die vraag by Sondag 17 gee kan ons kortliks soos
volg opsom.
Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Die
antwoord spreek drie sake aan wat ons kortliks soos volg kan opsom.
Christus se
opstanding is:
1) die bewys van ons regverdigmaking.
2) die beginsel van ons heiligmaking.
3) die waarborg van ons verheerliking.
Ons
gaan kortliks stilstaan by wat elk van bogenoemde drie antwoorde beteken en
daarna gaan ons fokus op wat dit werklik vir ons beteken.
1)
Christus se opstanding is die bewys van ons regverdigmaking.
In
Fil. 3:8&9 sê die Here vir ons:
Ter wille van Hom het ek alles
prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan
verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie,
maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens
in Hom glo.
en
in vers 10 sê Hy vir ons: “Al wat ek wens, is om Christus te ken.”
Dit
beteken eenvoudig dat Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Hy het
in jou plek die straf vir sonde gedra, naamlik die ewige dood. Deur sy
opstanding het Hy die dood oorwin. Dit beteken Hy het die volle prys betaal.
Die straf is afgehandel en daar is niks wat jy nog ekstra in die vorm
van straf moet bybetaal nie.
Wat
beteken dit vir my prakties? Daar kom tye in mens se lewe wat ek begin wonder
of Jesus werklik al my sondes betaal het. Is ek werklik goed genoeg in die oë
van God? Dit is dan dat ek begin om allerlei reëls (gewoonlik mensgemaak) en
rituele navolg want ek glo dit is nodig. Ek raak oortuig daarvan dat as ek dit
nie doen nie, dan gaan ek hel toe. Hoe harder ek probeer hoe meer vreesbevange
raak ek vir God se oordeel!
Dit
is op hierdie punt dat Jesus se opstanding vir my ’n werklikheid word, want as
Jesus nie my skuld ten volle betaal het nie, dan sou Hy ook nie kon opstaan nie
omdat Hy dan nie die dood volledig oorwin het nie.
Jesus se oorwinning oor die
dood is my waarborg dat my sondeskuld ten volle betaal is. Ek IS vir God
aanvaarbaar net soos ek is. Ek hoef nie allerlei moets en moenies na te kom om
vir Hom aanvaarbaar te wees nie.
My sekerheid daarvan kom uit die geloof wat
die Heilige Gees vir my gee. God gee vir my die geloof en dan vra Hy van my: “glo
dat Jesus Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat sy
opstanding jou bewys is dat jou sondeskuld ten volle betaal is.”
Daarom hoef ek
nie meer vir God se oordeel bang te wees nie, want God self spreek my vry! Om
Christus te ken beteken dat ek vir seker weet dat Hy vir my sondes ten volle
betaal het.
2)
Christus se opstanding is die beginsel van ons heiligmaking.
Heiligmaking
kan soos volg in eenvoudige taal verduidelik word. “God het my so lief dat Hy
my aanvaar net soos ek is, maar sy liefde is so groot dat Hy my nie sal los
soos ek is nie. Die Heilige Gees verander my en gee vir my 'n afkeur in die
sonde.
Dit
is die rede waarom ons teen die sonde kan baklei. Dit is die rede waarom ons
kan liefhê. Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe. In 1 Pet. 1:3 hoor
ons:
In sy groot ontferming het Hy ons die
nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Dit
is dan ook Paulus se wens soos ons hoor in ons in ons teksvers Fil. 1:10:
Al wat ek wens, is om Christus te ken,
die krag van sy opstanding te ondervind
Deurdat
ek verseker weet dat Jesus vir my sondes ten volle betaal het, begin sy krag
nou ’n werklikheid word in my lewe. Ek ervaar die wonder van God se liefde in
my lewe. Die Heilige Gees word ’n werklikheid vir my en sy krag dring my ook om
God se liefde in my lewe uit te deel.
Die wonder van God se genade is dat hoe
meer liefde ek uitdeel, hoe sterker word God se liefde in my lewe. God se
liefde verdryf die sonde soos woede, haat, selfsug dit wil sê die slegte vrug
van my sondige natuur.
Prakties
beteken dit dat ek al hoe meer op God vertrou en minder op myself. God en sy
wil word die dryfveer in my lewe. Waar die sondige praktyke vroeër in my lewe
lekker was, begin dit al hoe meer afstootlik word.
In Fil. 3:13 sê die Here dan
ook vir ons hoe dit prakties werk:
ek maak my los van wat agter is en
strek my uit na wat voor is
Met
ander woorde, ek los die dinge van die verlede in die verlede. Dit wat agter my
lê is verby. My mislukkings van die verlede is begrawe en dood.
Een van die
satan se groot strategieë is om my gedurig aan my foute van die verlede te
herinner en so kla hy my aan.
Sy
doel is om jou te oortuig dat jy ’n mislukking in die lewe is. Dis daai gedagtes
wat vir jou sê: “Jy maak of jy so goed is, maar as die mense net weet hoe sleg
lyk jou verlede! Dan sal hulle sien wat se groot bedrieër jy werklik is.
Jy
weet natuurlik dat jy niks vir God kan wegsteek nie. Hy weet wat jy gedoen het,
dus moet jy nie dink dat Hy met jou tevrede sal wees nie. Erken dit nou maar,
jy is ’n mislukking! Jy is net nie goed genoeg en sal ook nooit goed genoeg
wees nie.”
So probeer die ou satan keer dat jy werklik tot jou volle potensiaal
leef, dit wat God vir jou beplan.
Jesus
se opstanding beteken egter dat die sondes van my verlede nie meer ’n houvas op
my het nie. By God is daar ’n kans om weer te begin en Hy kyk nie weer na dit
wat agter my lê nie soos Hy ons dan ook belowe in
Ps. 103:12:
So ver as die ooste van die weste af
is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.
Dit
beteken egter nie dat ek nou perfek is en nie meer foute maak nie soos ons hoor
in
Fil. 3:12-14:
Ek sê nie dat ek dit alles al het of
die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat
Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit
alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en
strek my uit na wat voor is. Ek span my in
om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe
God my geroep het in Christus Jesus.
Die
nuwe lewe is ’n proses waarin jy al hoe meer groei na die volmaaktheid van
Jesus Christus. Die Heilige Gees help jou op hierdie pad want dit is God wat
vir jou die insig gee soos hoor in
Fil. 3:15.
Ons
almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in
enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig
gee.
Jesus
se opstanding beteken dus in die tweede plek dat ek nou lewe in Jesus se krag
vanuit sy genade en nie vanuit my sondige natuur nie.
My verlede bepaal dus nie hoe my toekoms gaan lyk
nie. God se liefde en genade bepaal my toekoms want by God het ek ’n nuwe
begin.
3)
Christus se opstanding is die waarborg van ons verheerliking.
In
ons teksvers Fil. 3:10-11 hoor ons:
Al wat ek wens is .......... om deel
te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting
dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.
Daarom
bely ons dan ook, die opstanding van Christus is vir ons ’n betroubare waarborg
van ons salige opstanding.
Dit
beteken dat ons ’n lewende hoop het. Ons hoef nie meer vir die dood bang te
wees nie, want die dood is nie die einde nie. Jesus se opstanding is ons
waarborg dat dit slegs ’n deurgang is tot die ewige heerlikheid saam met God.
Hierin lê vir ons ’n onuitputlike troos wanneer ons oor ons eie dood nadink,
maar ook wanneer ons langs die oop graf van ’n geliefde staan wat in Jesus
Christus geglo het.
Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n
ewige heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, pyn of
leiding of dood sal wees nie.
Slot
Wat
beteken Jesus se opstanding vir ons?
1) Regverdigmaking:
Dit gee aan ons die sekere wete dat Jesus
ten volle vir al my
sondes betaal het en daarom hoef ek nie meer bang te wees
vir
God se oordeel nie.
2) Heiligmaking:
Ek kry ’n nuwe lewe waar My verlede nie bepaal hoe my
toekoms
gaan lyk nie, maar dat God se liefde en genade my toekoms
bepaal want
by God het ek ’n nuwe begin.
3) Verheerliking:
Jesus se opstanding gee vir ons die vaste
sekerheid van ’n ewige
heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer,
trane,
pyn of leiding of dood sal wees nie.
Vind jou troos by God.
Glo dat Jesus se opstanding jou waarborg is dat jy kan
leef vanuit die krag van God se genade en dat jy nie sy oordeel hoef te vrees
nie.
Amen