Wys tans plasings met die etiket Sondag 17. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sondag 17. Wys alle plasings

15 Maart 2026

Christus het die dood oorwin, leef daarom as oorwinnaar op grond daarvan


 1 Kor. 15

Teksverse 1 Kor. 15 v 54-58

Vooraf

1 Kor. 15 is die omvattendste gedeelte in die Bybel wat oor die opstanding handel. Hiermee saam ook ons belydenis in Sondag ?? Heidelbergse Kategismus

SONDAG 17

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: 

Ten eerste  -  het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Ons straf vir sonde is ten volle betaal

Ten tweede  -  word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). Stel ons in staat om vir God te leef

Ten derde  -  is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

Ons gaan vanoggend by die slotgedeelte van 1 Kor. 15:54-58 en die tweede voordeel wat ons in die Heidelbergse Kategismus bely,  stilstaan, naamlik wat die betekenis van die opstanding vir ons lewens nou is.

Inleiding

Daar sal ’n tyd kom wanneer ons glo dat ons nou by die einde is. Dit sal die begin wees. Daardie Vrydag toe Jesus gekruisig is het sy volgelinge gedink dit is die einde. Alles waarvoor hulle gehoop het, het tot ’n einde gekom. Dit was alles tevergeefs. Die man waarop hulle hul hoop geplaas het is nou dood. Kan u uself indink hoe verslae Jesus se volgelinge moes gewees het toe hulle Hom daar aan die kruis sien hang het? Jesus het wel vir hulle verskeie kere vertel wat die verloop van gebeure sou wees, maar hulle het nie verstaan nie. Dit het vir hulle gevoel of die magte van die bose oorwin het.

In ’n sekere sin is ons lewens ook baie soos hulle sin. Ons het gehoor van die krag van die Jesus se opstanding, maar ons verstaan dit nie eintlik nie. Ons hoor elke Sondag die Evangelie, die Goeie Nuus van Jesus Christus. Hoe verander dit jou lewe?

Hoeveel van ons leef maar net voort asof die gebeure 2000 jaar gelede tydens die Joodse Paasfees nooit plaasgevind het nie! Ons gaan maar net aan met ons lewens soos voorheen. Ek is nog steeds nie bereid om te vergewe nie. Ek wil nog steeds ten alle koste wraak neem. My eie selfsugtige belange dra nog steeds ’n groter gewig as medemenslikheid.

Lewe in die plek van dood

As dit waar is in my lewe dan gebruik ek nog nie volle krag wat Christus se opstanding vir ons oopgesluit het nie. Jesus se opstanding is diè belangrikste aspek van ons geloofslewe soos ons ook hoor in 1 Kor. 15:14

En as Christus nie opgewek is nie, is ons prediking sonder inhoud en julle geloof ook sonder inhoud.

Die Christelike geloof staan en val by Jesus se opstanding. as Christus nie opgewek is nie, is ons geloof waardeloos en is ons nog gevange in ons sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons inderdaad die bejammerenswaardigste van alle mense!

Daarom kan ons nie maar net ongeërg voortgaan asof Jesus se opstanding maar net ’n teoretiese saak is wat geen impak op ons lewens het nie.

Jesus se opstanding verander ons swakheid in krag. God bring groot dinge tot stand deur klein mense. Dit wat soos ’n neerlaag gelyk het verander God in ’n oorwinning.

God gebruik alledaagse mense soos ek en jy om sy Koninkryk te bou. Die rede waarom ons dit kan doen is omdat Jesus met sy opstanding die mag van die ewige dood gebreek het. Met sy opstanding het Jesus die angel van die sonde gebreek en daarom het dit nie meer mag oor ons nie, soos ons hoor in 1 Kor. 15:54 - 56

“Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal.”

“Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God.

Sonde is alleen sonde omdat die wet van God sê dat dit sonde is. As daar nie ’n wet was nie, sou dit nie sonde gewees het nie. Dan sou die oordeel oor die sonde, naamlik die dood ook nie van krag gewees het nie. Maar God se wet is daar en die straf vir die sonde is die dood.

Maar nou hang daardie swaard van doodstraf nie meer oor ons koppe nie omdat Jesus die wet volmaak nagekom het en omdat Hy die straf vir die sonde betaal het. Sy opstanding is die bewys daarvan en daarom hang die swaard van die doodstraf oor sonde nie meer oor ons koppe nie, want Jesus het die prys betaal. Hy het die dood oorwin en dit gee vir ons die waarborg van lewe.

Met sy opstanding, gee Christus vir ons lewe en daarom kan ons nou die lewe leef wat God vir ons beplan het. Daarom is ons nie meer bang vir dit wat anderkant die liggaamlike dood wag nie, want ons weet dat God daar is. In die plek van die dood het God vir ons lewe gegee soos ons hoor in 1 Kor. 15:57

Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus.

Leef die lewe wat God vir ons gegee het

1 Kor. 15 word afgesluit met ’n opdrag om die lewe te leef wat God vir ons gegee het soos ons hoor in 1 Kor. 15:58

Daarom, liewe broers, wees standvastig , onwankelbaar, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle inspanning in diens van die Here nie tevergeefs is nie.

Hoe kry jy dit reg? – Leef nader aan God. Hoe meer jy tyd aan God spandeer, hoe meer sal dit vir jou moontlik wees om die lewe te leef wat Hy vir ons gee.

Hier in 1 Kor. 15:58 gee die Here vir ons ’n paar voorbeelde van wat dit beteken om die lewe te leef wat Hy vir ons gee:

Wees standvastig: Met ander woorde staan stewig. God is daar en daarom kan ons vas staan wanneer die lewe moeilik raak. Omdat ons nie uit eie krag werk nie, maar uit die krag van die Heilige Gees wat altyd by ons is, word ons nie vernietig deur die aanslae van die lewe nie.

Dit beteken nie dat die lewe nie moeilik sal wees nie. Dit beteken wel dat God ons sterk maak om die lewe te hanteer wanneer dit moeilik raak. Dit beteken dat ons sterk staan wanneer ons teenkanting kry omdat ons die werk van die Here doen.

Wees onwankelbaar: Met ander woorde ons staan sterk in die geloof. Bly glo in die waarheid en moenie toelaat dat jou geloof ondermyn word nie, soos byvoorbeeld wanneer die ongelowige mense vir ons sê dat wonderwerke nie kan plaasvind nie en dat Jesus nie werklik uit die dood uit opgestaan het nie.

Bly glo in die waarheid van God se Woord. Wanneer die ongelowige mense sê dat Jesus maar net ’n mitiese figuur is en dat Hy nie waarlik geleef het nie, bly glo dat Hy God is wat werklik mens geword het. Glo eerder vir God as die ou satan wat vir jou lieg. Hou aan met glo dat die Bybel die Woord van God is en dat dit nie maar net stories is wat deur mense uitgedink is nie.

Wanneer die lewe moeilik raak, hou moed omdat ons God vertrou. Al verstaan ons nie rede vir sekere gebeurtenisse in ons lewe nie, vertrou God nog steeds.

Al sien ons nie dadelik die resultaat van ons werk in God se Koninkryk nie, vertrou steeds dat God weet wat Hy doen en dat Hy besig is om deur ons swakheid sy doel te bereik.

Wees altyd oorvloedig in die werk van die Here: Met ander woorde, werk met ywer in God se Koninkryk. Hou aan om sy liefdesgebod teenoor alle mense uit te leef. Hou aan om vir mense van God se genade, dit wil sê die goeie nuus van Jesus Christus te vertel deur ons leefwyse en ook deur ons woorde.

Wees betrokke in die gemeente waar God jou geplaas het. Dra mekaar se laste. Wees daar vir jou broers en susters in die geloof. Wees ’n steunpilaar vir hulle wat swaarkry. Deel in mekaar se vreugdes. Besef dat wanneer jy as ampsdraer geroep word, dan is dit die Here wat jou roep, nie die kerkraad nie.

Ons kan bogenoemde opdragte uitvoer omdat ons weet dat ons inspanning nie tevergeefs is nie. Die werk wat ons vir God doen is nie sonder resultate nie en ons weet dat God sy doel bereik deur die werk wat ons doen, hoe gering dit ook al mag wees. Wanneer ons glo dat Christus deur sy dood en opstanding die mag van die sonde gebreek het, weet ons dat ons werk in God se Koninkryk is nie tevergeefs nie.

Slot

Jesus Christus se opstanding is nie net ’n storie wat ons tydens Paasfees weer onthou nie. Dit is die krag waaruit ons elke dag leef. God gee aan ons die oorwinning oor die dood deur ons Here Jesus Christus, leef daarom elke dag uit die krag van daardie oorwinning!

Amen

13 Oktober 2019

Jesus se opstanding troos ons met die wete dat ons kan leef vanuit die krag van God se genade


13 Okt. 2019 GKE
Lees: Fil. 3; 
Teksverse: Fil. 3: 10 & 11



Sondag 17 – Heidelbergse Kategismus

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: 
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Rom. 4:25; 1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b).  Rom 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef2:5, 6.
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).1 Kor. 15:20, 21.

Inleiding
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Met ander woorde, hoekom is dit belangrik dat Christus opgestaan het? Wat is die doel daarvan? Wat beteken Jesus se opstanding vir my persoonlik? 

Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus handel spesifiek oor Jesus Christus se opstanding uit die dood. Daarin vind ons die troos wat Jesus Christus se opstanding vir ons inhou.

Waarom is dit belangrik dat ons in ons belydenis aandag aan Jesus opstanding moet gee? 

Sonder Jesus se opstanding is ons geloof in Jesus Christus waardeloos soos ons dan ook hoor in 
1 Kor. 15:17
as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

Die Christendom staan of val by die opstanding van Jesus en daarom is dit belangrik dat ons weet wat dit beteken.

Die antwoord wat ons kategismus op die vraag by Sondag 17 gee kan ons kortliks soos volg opsom. 

Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? 
Die antwoord spreek drie sake aan wat ons kortliks soos volg kan opsom. 

Christus se opstanding is:

       1) die bewys van ons regverdigmaking.

       2) die beginsel van ons heiligmaking.

       3) die waarborg van ons verheerliking.

Ons gaan kortliks stilstaan by wat elk van bogenoemde drie antwoorde beteken en daarna gaan ons fokus op wat dit werklik vir ons beteken.

1) Christus se opstanding is die bewys van ons regverdigmaking.

In Fil. 3:8&9 sê die Here vir ons:
Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.
en in vers 10 sê Hy vir ons: “Al wat ek wens, is om Christus te ken.” 

Dit beteken eenvoudig dat Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Hy het in jou plek die straf vir sonde gedra, naamlik die ewige dood. Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Dit beteken Hy het die volle prys betaal. Die straf is afgehandel en daar is niks wat jy nog ekstra in die vorm van straf moet bybetaal nie.

Wat beteken dit vir my prakties? Daar kom tye in mens se lewe wat ek begin wonder of Jesus werklik al my sondes betaal het. Is ek werklik goed genoeg in die oë van God? Dit is dan dat ek begin om allerlei reëls (gewoonlik mensgemaak) en rituele navolg want ek glo dit is nodig. Ek raak oortuig daarvan dat as ek dit nie doen nie, dan gaan ek hel toe. Hoe harder ek probeer hoe meer vreesbevange raak ek vir God se oordeel!

Dit is op hierdie punt dat Jesus se opstanding vir my ’n werklikheid word, want as Jesus nie my skuld ten volle betaal het nie, dan sou Hy ook nie kon opstaan nie omdat Hy dan nie die dood volledig oorwin het nie. 

Jesus se oorwinning oor die dood is my waarborg dat my sondeskuld ten volle betaal is. Ek IS vir God aanvaarbaar net soos ek is. Ek hoef nie allerlei moets en moenies na te kom om vir Hom aanvaarbaar te wees nie. 

My sekerheid daarvan kom uit die geloof wat die Heilige Gees vir my gee. God gee vir my die geloof en dan vra Hy van my: “glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat sy opstanding jou bewys is dat jou sondeskuld ten volle betaal is.” 

Daarom hoef ek nie meer vir God se oordeel bang te wees nie, want God self spreek my vry! Om Christus te ken beteken dat ek vir seker weet dat Hy vir my sondes ten volle betaal het.

2) Christus se opstanding is die beginsel van ons heiligmaking.

Heiligmaking kan soos volg in eenvoudige taal verduidelik word. “God het my so lief dat Hy my aanvaar net soos ek is, maar sy liefde is so groot dat Hy my nie sal los soos ek is nie. Die Heilige Gees verander my en gee vir my 'n afkeur in die sonde.

Dit is die rede waarom ons teen die sonde kan baklei. Dit is die rede waarom ons kan liefhê. Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe. In 1 Pet. 1:3 hoor ons:
In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Dit is dan ook Paulus se wens soos ons hoor in ons in ons teksvers Fil. 1:10:
Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind

Deurdat ek verseker weet dat Jesus vir my sondes ten volle betaal het, begin sy krag nou ’n werklikheid word in my lewe. Ek ervaar die wonder van God se liefde in my lewe. Die Heilige Gees word ’n werklikheid vir my en sy krag dring my ook om God se liefde in my lewe uit te deel. 

Die wonder van God se genade is dat hoe meer liefde ek uitdeel, hoe sterker word God se liefde in my lewe. God se liefde verdryf die sonde soos woede, haat, selfsug dit wil sê die slegte vrug van my sondige natuur.

Prakties beteken dit dat ek al hoe meer op God vertrou en minder op myself. God en sy wil word die dryfveer in my lewe. Waar die sondige praktyke vroeër in my lewe lekker was, begin dit al hoe meer afstootlik word. 

In Fil. 3:13 sê die Here dan ook vir ons hoe dit prakties werk:
ek maak my los van wat agter is en strek  my uit na wat voor is

Met ander woorde, ek los die dinge van die verlede in die verlede. Dit wat agter my lê is verby. My mislukkings van die verlede is begrawe en dood. 

Een van die satan se groot strategieë is om my gedurig aan my foute van die verlede te herinner en so kla hy my aan.

Sy doel is om jou te oortuig dat jy ’n mislukking in die lewe is. Dis daai gedagtes wat vir jou sê: “Jy maak of jy so goed is, maar as die mense net weet hoe sleg lyk jou verlede! Dan sal hulle sien wat se groot bedrieër jy werklik is. 

Jy weet natuurlik dat jy niks vir God kan wegsteek nie. Hy weet wat jy gedoen het, dus moet jy nie dink dat Hy met jou tevrede sal wees nie. Erken dit nou maar, jy is ’n mislukking! Jy is net nie goed genoeg en sal ook nooit goed genoeg wees nie.” 

So probeer die ou satan keer dat jy werklik tot jou volle potensiaal leef, dit wat God vir jou beplan.

Jesus se opstanding beteken egter dat die sondes van my verlede nie meer ’n houvas op my het nie. By God is daar ’n kans om weer te begin en Hy kyk nie weer na dit wat agter my lê nie soos Hy ons dan ook belowe in 
Ps. 103:12:
So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Dit beteken egter nie dat ek nou perfek is en nie meer foute maak nie soos ons hoor in 
Fil. 3:12-14:
Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in  om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Die nuwe lewe is ’n proses waarin jy al hoe meer groei na die volmaaktheid van Jesus Christus. Die Heilige Gees help jou op hierdie pad want dit is God wat vir jou die insig gee soos hoor in 
Fil. 3:15.
Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.

Jesus se opstanding beteken dus in die tweede plek dat ek nou lewe in Jesus se krag vanuit sy genade en nie vanuit my sondige natuur nie. 

My verlede bepaal dus nie hoe my toekoms gaan lyk nie. God se liefde en genade bepaal my toekoms want by God het ek ’n nuwe begin.

3) Christus se opstanding is die waarborg van ons verheerliking.
In ons teksvers Fil. 3:10-11 hoor ons:
Al wat ek wens is .......... om deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Daarom bely ons dan ook, die opstanding van Christus is vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Dit beteken dat ons ’n lewende hoop het. Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want die dood is nie die einde nie. Jesus se opstanding is ons waarborg dat dit slegs ’n deurgang is tot die ewige heerlikheid saam met God. 

Hierin lê vir ons ’n onuitputlike troos wanneer ons oor ons eie dood nadink, maar ook wanneer ons langs die oop graf van ’n geliefde staan wat in Jesus Christus geglo het. 

Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, pyn of leiding of dood sal wees nie.

Slot
Wat beteken Jesus se opstanding vir ons? 

1) Regverdigmaking:
    Dit gee aan ons die sekere wete dat Jesus ten volle vir al my 
    sondes betaal het en daarom hoef ek nie meer bang te wees vir 
    God se oordeel nie. 

2) Heiligmaking:
    Ek kry ’n nuwe lewe waar My verlede nie bepaal hoe my toekoms
    gaan lyk nie, maar dat God se liefde en genade my toekoms
    bepaal want by God het ek ’n nuwe begin. 

3) Verheerliking:
     Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige
     heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, 
     pyn of leiding of dood sal wees nie.

Vind jou troos by God. 

Glo dat Jesus se opstanding jou waarborg is dat jy kan leef vanuit die krag van God se genade en dat jy nie sy oordeel hoef te vrees nie.


Amen