Wys tans plasings met die etiket Jesus het opgestaan. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus het opgestaan. Wys alle plasings

20 April 2025

Jesus het regtig opgestaan

Heidelbergse Kategismus - SONDAG 17

45  Vraag: 

Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?

Antwoord: 

Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). 

Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). 

Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).

(a) Rom. 4:25;  1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.  (b) Rom. 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef. 2:5, 6.  (c) 1 Kor. 15:20, 21.

 

Het Jesus regtig opgestaan? Reeds van die begin af word daar twyfel gesaai oor Jesus se opstanding. Net na Jesus se opstanding het die priesterhoofde en familiehoofde alreeds saamgesweer om Jesus se opstanding te ontken. Hulle het vir die soldate wat getuies van die opstanding was ’n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het’.” En getrou aan die sondige aard van die mens het die wagte toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.

       Vandag nog is daar baie mense wat skepties is oor Jesus se opstanding. Volgens sekulêre denke van ons tyd word verklaar: “Die wetenskap en ons ervaring het bewys: dood is dood en klaar!” Daarom kan die opstanding van Jesus Christus nie as ’n werklikheid, as ’n historiese feit, aanvaar word nie. Dit pas gewoon net nie in hul denkraamwerk in nie. Daarom word dit as ’n mite en ’n legende afgeskryf.

       Selfs mense wat hulself steeds Christene noem verklaar dat Jesus nooit werklik opgestaan het nie. Dit word hoogstens as ’n simbool beskou wat vir ons sê: “Hy leef in my hart”, of “Ek ontmoet Hom in die prediking.” Mens kan maar net wonder wat die inhoud van sulke prediking is? So word ’n gees van skeptisisme gesaai wat selfs opregte gelowiges kan begin laat wonder of Jesus werklik opgestaan het?

       Die probleem daarmee is dat twyfel in die opstanding van Jesus inderdaad twyfel in die wese van ons Christelike geloof is. Die Christelike geloof staan of val by die werklikheid dat Jesus waaragtig uit die dood opgestaan het! As Christus egter in die dood vasgehaak het onstaan die vraag: “hoe moet mens die bestaan en voortbestaan van die kerk verklaar?” Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos soos ons inderdaad ook in 1 Kor. 15:17-19 hoor:

En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

        As Christus nie opgestaan het nie, dan is alles wat ons hier as kerk saam doen tevergeefs. Dis tevergeefs dat ons, ons kinders laat doop. Dis tevergeefs dat ons eredienste bywoon. Dis tevergeefs dat ons enigsins as kerk bestaan.

       Wat maak ons dan met die aanklag dat ons as Christene maar net ’n blinde geloof het wat teen al die bewyse die onmoontlike en onlogiese glo? As gelowiges glo ons inderdaad dat dit ’n historiese feit is dat Jesus uit die dood opgestaan het, want die Woord van God laat hoegenaamd geen twyfel hieroor nie. Volgens die Bybel is die Opstanding ’n feit. Dit het werklik gebeur.

       Dwarsdeur die Nuwe Testament weerklink dit: Die Here het regtig opgestaan! As mens dit nie wil aanvaar nie, watter geloofwaardigheid het die res van die Nuwe Testament of die Bybel nog? Watter sin sou dit in elk geval maak om ’n dooie Heer en Meester te verkondig of tot Hom te bid, as Hy tog nie kan hoor nie?

       Ten spyte van ’n aanklag van ’n irrasionele onlogiese geloof teen alle bewyse in, maak ons geloof in die historiese opstanding juis sin omdat dit die beste verduideliking gee vir die feite rondom dit.

       Die eerste historiese feit rondom die saak is die leë graf van Jesus. Byna al die erkende navorsers aanvaar die leë graf as ’n historiese feit wat deur die getuienis daaroor bevestig word. Enkele van hierdie getuienisse is byvoorbeeld die feit dat die opstanding verkondig is in die stad waar dit plaasgevind het. As die graf nie leeg was nie sou hierdie verkondiging geen geloofwaardigheid gehad het nie.

       ’n Volgende getuienis is dat die Jode wat teen Jesus was, erken het dat die graf leeg was en daarom het hulle die wagte omgekoop om die storie te versprei dat Jesus se liggaam gesteel was soos ons hoor in Mat 28 : 11-15. Dit word ook bevestig in vroeë Joodse geskrifte. Daar is ook bewyse dat selfs in die tweede eeu NC die Jode nog steeds erken het dat die graf leeg was en dat hulle allerlei verskonings gehad het om te verduidelik hoekom.

       Die leë graf het nie juis in hulle guns getel nie, maar tog het hulle dit erken omdat die bewyse daarvoor onomstootlik moes gewees het. As daar nie ’n leë graf was nie, sou dit hulle saak versterk en sou hulle dit beslis as argument ter verdediging van hulle teenstand gebruik het.

       Markus se weergawe van die leë graf en opstanding dateer so ver terug as net 7 jaar NC. Die beskrywing van Josef van Arimethea as die een wat Jesus begrawe het bevestig Markus se verhaal want hy was ’n bekende in die Joodse samelewing van sy tyd en daarom sal Markus nie valse berigte oor hom kon versprei nie. Dit sal dadelik deur die mense van sy tyd as vals uitgewys gewees het.

       Verder is dit ook so dat die vroeë datering van die Evangelie volgens Markus daarop wys dat daar nie genoegsame tyd verloop het vir legendes om te ontwikkel het nie. Legendes onstaan eers baie lank (eeue) na die gebeure waaroor die legende gaan.

       Jesus het eerste aan die vroue verskyn soos ons hoor in al vier die Evangelies. In daardie tyd het vroue se getuienis nie getel nie. Hulle mag nie eers as getuies in die hof getuig het nie. As die verhaal van Jesus se opstanding ’n mite was sou vroue nooit as eerste getuienisse voorgehou gewees het nie, want hulle getuienis het dan geen waarde gehad nie.

       Die feit dat Hy eerste aan die vroue verskyn het, is nog ’n verdere bewys van die historiese akkuraatheid van die opstandingsverhaal. Dit is ook die bewys dat Jesus die volle waardigheid van vroue in die samelewing herstel.

       So is daar nog baie vaste bewyse dat Jesus se graf leeg was en die opstanding van Jesus gee die beste verduideliking vir die historiese feit dat Jesus se graf leeg was.

       Nog enkele bewyse is die feit van die dissipels se prediking. As hulle Jesus se liggaam gesteel het sou hulle geweet het dat hulle ’n leun verkondig. Hulle prediking het daartoe gely dat hulle vervolg en gemartel is en selfs doodgemaak is. Hoekom sou hulle dit verduur het om ’n leuen te verkondig?

       Hierdie bewyse is nie die basis van ons geloof nie. Ons baseer nie ons geloof op historiese feite nie. Ons glo omdat die Heilige Gees ons oortuig dat die Skrif die waarheid is. Bogenoemde bewyse bevestig egter dat ons geloof nie irrasioneel of onsinnig is nie. Inderdaad gee ons geloof die beste verduideliking vir die historiese feite wat daar oor Jesus se opstanding is.

 Waarom is die opstanding van Jesus Christus so belangrik? Hoekom maak dit saak? Wat beteken dit vir elke gelowige se lewe?

       Die Opstanding bevestig dat Jesus se aanspraak dat Hy God is, waar is. As Jesus as ’n dooie in die graf agtergebly het sou dit onsinnig wees om sy aanspraak dat Hy God is te glo. Maar omdat Hy werklik opgestaan het sal dit dwaas wees om nie te glo dat Jesus God is nie. Inderdaad bevestig die Opstanding dat dit wat Jesus oor Homself gesê het, naamlik dat Hy ten volle God en mens is, die waarheid is.

       Is daar enigsins rede om te glo dat die Bybel waar is? Of is die Bybel maar net outydse mites en legendes? As Jesus opgestaan het bevestig dit dat Hy God is.

       As Hy God is dan is sy uitsprake ten opsigte van die Bybel waar en gesagvol. Daarom moet die Bybel die waarheid wees en daarom kan ons glo dat die Bybel waar is en dat dit deur God as sy openbaring geïnspireer is. Daarom kan ons sonder twyfel vashou aan God se beloftes van hoop in die Bybel.

       Ons Here leef en daarom is ons godsdiens nie ’n terugkyk nie, maar is dit inderdaad ’n toekomsperspektief. Ons kan die enigste lewende God ken en ons lewenspad vorentoe saam met Hom stap.

       Ons is nie alleen in die lewe nie en daarom bely ons ook dat Jesus die straf van die sonde naamlik die dood oorwin het en dat ons inderdaad deel in sy geregtigheid. Ons kan die Skrif glo dat ons op grond van Jesus se kruisiging en opstanding voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het nie. Jesus het vir al ons sondes ten volle betaal en daardeur word die wortel van die dood afgesny.

       Ons bely ook verder dat Hy deur sy krag ons tot ’n nuwe lewe opgewek het. Ons is nie meer vasgevang in die negatiewe van die sondige wêreld nie. Ons is nie meer gevangenis van die haat, onmin, verdeeldheid, vyandskap en al die negatiewe dinge van die lewe nie.

       Ons het nou deel aan die ware lewe waarin liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel is van ons lewe. Ons kan deel hê aan die positiewe in die lewe te midde van die hartseer gevolge van die sonde waarin die wêreld nog vasgevang is. Ons kan bo dit uitstyg.

       Ons bely ook dat sy dood en opstanding ook ons dood en opstanding is. Die dood is nie meer iets wat ons vrees nie en die verskrikking en hopeloosheid wat die dood gehad het, het nie meer ’n houvas op ons nie. Die dood is nie meer ’n koning van verskrikking nie, maar ’n deurgang tot die ewige lewe.

       Met Paasfees herdenk ons in besonder die kruisdood en opstanding van ons Here. Dit is egter nie iets wat net tot een maal ’n jaar beperk is nie. Jesus se opstanding het ’n effek op elke dag van ons lewe en daarom herdenk ons inderdaad elke Sondag sy opstanding waar ons, ons krag vandaan kry om die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons gegee het, te gaan lewe.

       Jesus se opstanding is `n geweldige troos vir elke Christen. Dit verseker ons dat Christus die straf vir ons sondes met sy kruisdood gedra het sodat ons vlekkeloos voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het.

       Jesus se opstanding is vir ons `n troos omdat dit ons opwek tot `n nuwe lewe waar ons nie meer slawe van die sonde is nie.

       Jesus se opstanding is vir ons `n troos omdat dit ons waarborg dat ons nie vir die dood bang hoef te wees nie. Dit verseker ons dat die dood maar net `n salige deurgang is om ewig saam met God te wees.

       Jesus se opstanding is egter net `n troos vir diegene wat waarlik glo dat Hy aan `n vervloekte kruishout gesterf het, maar verder ook dat Hy die dood oorwin het met sy opstanding.

     Glo jy dit geliefdes? 

    Glo jy dat Glo dat Hy vir jou sondes aan `n vervloekte kruishout gesterf het

    Glo jy dat Hy uit die dood opgestaan het?

Amen

 

 


13 Oktober 2019

Jesus se opstanding troos ons met die wete dat ons kan leef vanuit die krag van God se genade


13 Okt. 2019 GKE
Lees: Fil. 3; 
Teksverse: Fil. 3: 10 & 11



Sondag 17 – Heidelbergse Kategismus

45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: 
Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). Rom. 4:25; 1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b).  Rom 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef2:5, 6.
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).1 Kor. 15:20, 21.

Inleiding
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? Met ander woorde, hoekom is dit belangrik dat Christus opgestaan het? Wat is die doel daarvan? Wat beteken Jesus se opstanding vir my persoonlik? 

Sondag 17 van die Heidelbergse Kategismus handel spesifiek oor Jesus Christus se opstanding uit die dood. Daarin vind ons die troos wat Jesus Christus se opstanding vir ons inhou.

Waarom is dit belangrik dat ons in ons belydenis aandag aan Jesus opstanding moet gee? 

Sonder Jesus se opstanding is ons geloof in Jesus Christus waardeloos soos ons dan ook hoor in 
1 Kor. 15:17
as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes.

Die Christendom staan of val by die opstanding van Jesus en daarom is dit belangrik dat ons weet wat dit beteken.

Die antwoord wat ons kategismus op die vraag by Sondag 17 gee kan ons kortliks soos volg opsom. 

Vraag: Watter nut het die opstanding van Christus vir ons? 
Die antwoord spreek drie sake aan wat ons kortliks soos volg kan opsom. 

Christus se opstanding is:

       1) die bewys van ons regverdigmaking.

       2) die beginsel van ons heiligmaking.

       3) die waarborg van ons verheerliking.

Ons gaan kortliks stilstaan by wat elk van bogenoemde drie antwoorde beteken en daarna gaan ons fokus op wat dit werklik vir ons beteken.

1) Christus se opstanding is die bewys van ons regverdigmaking.

In Fil. 3:8&9 sê die Here vir ons:
Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry en een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ’n mens in Hom glo.
en in vers 10 sê Hy vir ons: “Al wat ek wens, is om Christus te ken.” 

Dit beteken eenvoudig dat Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het. Hy het in jou plek die straf vir sonde gedra, naamlik die ewige dood. Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Dit beteken Hy het die volle prys betaal. Die straf is afgehandel en daar is niks wat jy nog ekstra in die vorm van straf moet bybetaal nie.

Wat beteken dit vir my prakties? Daar kom tye in mens se lewe wat ek begin wonder of Jesus werklik al my sondes betaal het. Is ek werklik goed genoeg in die oë van God? Dit is dan dat ek begin om allerlei reëls (gewoonlik mensgemaak) en rituele navolg want ek glo dit is nodig. Ek raak oortuig daarvan dat as ek dit nie doen nie, dan gaan ek hel toe. Hoe harder ek probeer hoe meer vreesbevange raak ek vir God se oordeel!

Dit is op hierdie punt dat Jesus se opstanding vir my ’n werklikheid word, want as Jesus nie my skuld ten volle betaal het nie, dan sou Hy ook nie kon opstaan nie omdat Hy dan nie die dood volledig oorwin het nie. 

Jesus se oorwinning oor die dood is my waarborg dat my sondeskuld ten volle betaal is. Ek IS vir God aanvaarbaar net soos ek is. Ek hoef nie allerlei moets en moenies na te kom om vir Hom aanvaarbaar te wees nie. 

My sekerheid daarvan kom uit die geloof wat die Heilige Gees vir my gee. God gee vir my die geloof en dan vra Hy van my: “glo dat Jesus Christus vir jou sondes aan die kruis gesterf het en dat sy opstanding jou bewys is dat jou sondeskuld ten volle betaal is.” 

Daarom hoef ek nie meer vir God se oordeel bang te wees nie, want God self spreek my vry! Om Christus te ken beteken dat ek vir seker weet dat Hy vir my sondes ten volle betaal het.

2) Christus se opstanding is die beginsel van ons heiligmaking.

Heiligmaking kan soos volg in eenvoudige taal verduidelik word. “God het my so lief dat Hy my aanvaar net soos ek is, maar sy liefde is so groot dat Hy my nie sal los soos ek is nie. Die Heilige Gees verander my en gee vir my 'n afkeur in die sonde.

Dit is die rede waarom ons teen die sonde kan baklei. Dit is die rede waarom ons kan liefhê. Deur sy krag word ons opgewek tot ’n nuwe lewe. In 1 Pet. 1:3 hoor ons:
In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.

Dit is dan ook Paulus se wens soos ons hoor in ons in ons teksvers Fil. 1:10:
Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind

Deurdat ek verseker weet dat Jesus vir my sondes ten volle betaal het, begin sy krag nou ’n werklikheid word in my lewe. Ek ervaar die wonder van God se liefde in my lewe. Die Heilige Gees word ’n werklikheid vir my en sy krag dring my ook om God se liefde in my lewe uit te deel. 

Die wonder van God se genade is dat hoe meer liefde ek uitdeel, hoe sterker word God se liefde in my lewe. God se liefde verdryf die sonde soos woede, haat, selfsug dit wil sê die slegte vrug van my sondige natuur.

Prakties beteken dit dat ek al hoe meer op God vertrou en minder op myself. God en sy wil word die dryfveer in my lewe. Waar die sondige praktyke vroeër in my lewe lekker was, begin dit al hoe meer afstootlik word. 

In Fil. 3:13 sê die Here dan ook vir ons hoe dit prakties werk:
ek maak my los van wat agter is en strek  my uit na wat voor is

Met ander woorde, ek los die dinge van die verlede in die verlede. Dit wat agter my lê is verby. My mislukkings van die verlede is begrawe en dood. 

Een van die satan se groot strategieë is om my gedurig aan my foute van die verlede te herinner en so kla hy my aan.

Sy doel is om jou te oortuig dat jy ’n mislukking in die lewe is. Dis daai gedagtes wat vir jou sê: “Jy maak of jy so goed is, maar as die mense net weet hoe sleg lyk jou verlede! Dan sal hulle sien wat se groot bedrieër jy werklik is. 

Jy weet natuurlik dat jy niks vir God kan wegsteek nie. Hy weet wat jy gedoen het, dus moet jy nie dink dat Hy met jou tevrede sal wees nie. Erken dit nou maar, jy is ’n mislukking! Jy is net nie goed genoeg en sal ook nooit goed genoeg wees nie.” 

So probeer die ou satan keer dat jy werklik tot jou volle potensiaal leef, dit wat God vir jou beplan.

Jesus se opstanding beteken egter dat die sondes van my verlede nie meer ’n houvas op my het nie. By God is daar ’n kans om weer te begin en Hy kyk nie weer na dit wat agter my lê nie soos Hy ons dan ook belowe in 
Ps. 103:12:
So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

Dit beteken egter nie dat ek nou perfek is en nie meer foute maak nie soos ons hoor in 
Fil. 3:12-14:
Ek sê nie dat ek dit alles al het of die doel al bereik het nie, maar ek span my in om dit alles myne te maak omdat Christus Jesus my reeds Syne gemaak het. Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in  om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Die nuwe lewe is ’n proses waarin jy al hoe meer groei na die volmaaktheid van Jesus Christus. Die Heilige Gees help jou op hierdie pad want dit is God wat vir jou die insig gee soos hoor in 
Fil. 3:15.
Ons almal wat geestelik volwasse is, moet hierdie gesindheid hê. En as julle in enige opsig anders daaroor dink—God sal ook hierin aan julle die regte insig gee.

Jesus se opstanding beteken dus in die tweede plek dat ek nou lewe in Jesus se krag vanuit sy genade en nie vanuit my sondige natuur nie. 

My verlede bepaal dus nie hoe my toekoms gaan lyk nie. God se liefde en genade bepaal my toekoms want by God het ek ’n nuwe begin.

3) Christus se opstanding is die waarborg van ons verheerliking.
In ons teksvers Fil. 3:10-11 hoor ons:
Al wat ek wens is .......... om deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word in sy dood, in die verwagting dat ek self deel sal hê aan die opstanding uit die dood.

Daarom bely ons dan ook, die opstanding van Christus is vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding.

Dit beteken dat ons ’n lewende hoop het. Ons hoef nie meer vir die dood bang te wees nie, want die dood is nie die einde nie. Jesus se opstanding is ons waarborg dat dit slegs ’n deurgang is tot die ewige heerlikheid saam met God. 

Hierin lê vir ons ’n onuitputlike troos wanneer ons oor ons eie dood nadink, maar ook wanneer ons langs die oop graf van ’n geliefde staan wat in Jesus Christus geglo het. 

Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, pyn of leiding of dood sal wees nie.

Slot
Wat beteken Jesus se opstanding vir ons? 

1) Regverdigmaking:
    Dit gee aan ons die sekere wete dat Jesus ten volle vir al my 
    sondes betaal het en daarom hoef ek nie meer bang te wees vir 
    God se oordeel nie. 

2) Heiligmaking:
    Ek kry ’n nuwe lewe waar My verlede nie bepaal hoe my toekoms
    gaan lyk nie, maar dat God se liefde en genade my toekoms
    bepaal want by God het ek ’n nuwe begin. 

3) Verheerliking:
     Jesus se opstanding gee vir ons die vaste sekerheid van ’n ewige
     heerlikheid saam met God. Daar waar daar geen hartseer, trane, 
     pyn of leiding of dood sal wees nie.

Vind jou troos by God. 

Glo dat Jesus se opstanding jou waarborg is dat jy kan leef vanuit die krag van God se genade en dat jy nie sy oordeel hoef te vrees nie.


Amen