Jesus
het regtig opgestaan!
Mat.
28 : 1-15 teksvers Mat. 28:6 Son 27 Mar
2016 GKE
SONDAG 17
45 Vraag:
Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord: Ten eerste
het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy
deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a).
Ten
tweede
word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b).
Ten
derde is
die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige
opstanding (c).
(a)
Rom. 4:25; 1 Pet 1:3; 1 Kor. 15:16.
(b) Rom. 6:4; Kol 3:1, 5; Ef. 2:5, 6.
(c) 1 Kor. 15:20, 21.
Sing
Sb.
12-3 v 1 & 2
Sb.
9-2 v 1, 8 & 9
Sb.
15-7 v 4
Sb.
18-7 v 1, 10 & 12
Het
Jesus regtig opgestaan? Reeds van die begin af word daar twyfel gesaai oor
Jesus se opstanding. Net na Jesus se opstanding het die priesterhoofde en
familiehoofde alreeds saamgesweer om Jesus se opstanding te ontken. Hulle het
vir die soldate wat getuies van die opstanding was ’n groot som geld gegee en
gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel
terwyl ons geslaap het. En getrou aan die sondige aard van die mens het die
wagte toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.
Vandag
nog is daar baie mense wat skepties is oor Jesus se opstanding. Volgens
sekulêre denke van ons tyd word verklaar: “Die wetenskap en ons ervaring het
bewys: dood is dood en klaar!” Daarom kan die opstanding van Jesus Christus nie
as ’n werklikheid, as ’n historiese feit, aanvaar word nie. Dit pas gewoon net
nie in ons denkraamwerk in nie. Daarom word dit as ’n mite en ’n legende
afgeskryf.
Selfs
mense wat hulself steeds Christene noem verklaar dat Jesus nooit werklik
opgestaan het nie. Dit word hoogstens as ’n simbool beskou wat vir ons sê: “Hy
leef in my hart”, of “Ek ontmoet Hom in die prediking.” Mens wonder wat die
inhoud van sulke prediking is? So word ’n gees van skeptisisme gesaai wat selfs
opregte gelowiges kan begin laat wonder of Jesus werklik opgestaan het?
Die
probleem daarmee is dat twyfel in die opstanding van Jesus is inderdaad twyfel
in die wese van ons Christelike geloof. Die Christelike geloof staan of val by
die werklikheid dat Jesus waaragtig uit die dood opgestaan het. As Christus
egter in die dood vasgehaak het onstaan die vraag: “hoe moet mens die bestaan
en voortbestaan van die kerk verklaar?” Sonder die opstanding is ons geloof
waardeloos soos ons inderdaad ook in 1 Kor. 15:17-19 hoor:
En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof
waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus
gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig,
is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.
As
Christus nie opgestaan het nie, dan is alles wat ons hier as kerk saam doen
tevergeefs. Dis tevergeefs dat ons, ons kinders laat doop. Dis tevergeefs dat
ons eredienste bywoon. Dis tevergeefs dat ons enigsins as kerk bestaan.
Wat
maak ons dan met die aanklag dat ons as Christene maar net ’n blinde geloof het
wat teen al die bewyse die onmoontlike en onlogiese glo? As gelowiges glo ons
inderdaad dat dit ’n historiese feit is dat Jesus uit die dood opgestaan het
want die Woord van God laat hoegenaamd geen twyfel hieroor nie. Volgens die
Bybel is die Opstanding ’n feit. Dit het werklik gebeur. Dwarsdeur die Nuwe
Testament weerklink dit: Die Here het regtig opgestaan! As mens dit nie wil
aanvaar nie, watter geloofwaardigheid het die res van die Nuwe Testament of die
Bybel nog? Watter sin sou dit in elk geval maak om ’n dooie Heer en Meester te
verkondig of tot Hom te bid, as Hy tog nie kan hoor nie?
Ten
spyte van ’n aanklag van ’n irrasionele onlogiese geloof teen alle bewyse in,
maak ons geloof in die historiese opstanding juis sin omdat dit die beste
verduideliking gee vir die feite rondom dit. Die eerste historiese feit rondom
die saak is die leë graf van Jesus. Byna al die erkende navorsers aanvaar die
leë graf as ’n historiese feit wat deur die getuienis daaroor bevestig word.
Enkele van hierdie getuienisse is byvoorbeeld die feit dat die opstanding
verkondig is in die stad waar dit plaasgevind het. As die graf nie leeg was nie
sou hierdie verkondiging geen geloofwaardigheid gehad het nie.
’n
Volgende getuienis is dat die Jode wat teen Jesus was erken het dat die graf
leeg was en daarom het hulle die wagte omgekoop om die storie te versprei dat
Jesus se liggaam gesteel was soos ons hoor in Mat 28 : 11-15. Dit word ook
bevestig in vroeë Joodse geskrifte. Daar is ook bewyse dat selfs in die tweede
eeu NC die Jode nog steeds erken dat die graf leeg was en dat hulle allerlei verskonings
gehad het om te verduidelik hoekom. Die leë graf het nie juis in hulle guns
getel nie, maar tog het hulle dit erken omdat die bewyse daarvoor onomstootlik
moes gewees het. As daar nie ’n leë graf was nie sou dit hulle saak versterk en
sou hulle dit beslis as argument ter verdediging van hulle teenstand gebruik
het.
Markus
se weergawe van die leë graf en opstanding dateer so ver terug as net 7 jaar
NC. Die beskrywing van Josef van Arimethea as die een wat Jesus begrawe het
bevestig Markus se verhaal want hy was ’n bekende in die Joodse samelewing van
sy tyd en daarom sal Markus nie valse berigte oor hom kon versprei nie. Dit sal
dadelik deur die mense van sy tyd as vals uitgewys gewees het. Verder is dit
ook so dat die vroeë datering van die Evangelie volgens Markus daarop wys dat
daar nie genoegsame tyd verloop het vir legendes om te ontwikkel het nie.
Legendes onstaan eers baie lank (eeue) na die gebeure waaroor die legende gaan.
Jesus
het eerste aan die vroue verskyn soos ons hoor in al vier die Evangelies. In
daardie tyd het vroue se getuienis nie getel nie. Hulle mag nie eers as getuies
in die hof getuig het nie. As die verhaal van Jesus se opstanding ’n mite was
sou vroue nooit as eerste getuienisse voorgehou gewees het nie, want hulle getuienis
het dan geen waarde gehad nie. Die feit dat Hy eerste aan die vroue verskyn het,
is nog ’n verdere bewys van die historiese akkuraatheid van die
opstandingsverhaal. Dit is ook die bewys dat Jesus die volle waardigheid van
vroue in die samelewing herstel.
So
is daar nog baie vaste bewyse dat Jesus se graf leeg was en die opstanding van
Jesus gee die beste verduideliking vir die historiese feit dat Jesus se graf
leeg was.
Nog
enkele bewyse is die feit van die dissipels se prediking. As hulle Jesus se liggaam
gesteel het sou hulle geweet het dat hulle ’n leun verkondig. Hulle prediking
het daartoe gely dat hulle vervolg en gemartel is en selfs doodgemaak is. Hoekom
sou hulle dit verduur het om ’n leuen te verkondig?
Hierdie
bewyse is nie die basis van ons geloof nie. Ons baseer nie ons geloof op
historiese feite nie. Ons glo omdat die Heilige Gees ons oortuig dat die Skrif
die waarheid is. Bogenoemde bewyse bevestig egter dat ons geloof nie
irrasioneel of onsinnig is nie. Inderdaad gee ons geloof die beste
verduideliking vir die historiese feite wat daar oor Jesus se opstanding is.
Waarom
is die opstanding van Jesus Christus so belangrik? Hoekom maak dit saak? Wat
beteken dit vir elke gelowige se lewe?
Die
Opstanding bevestig dat Jesus se aanspraak dat Hy God is, waar is. As Jesus as
’n dooie in die graf agtergebly het sou dit onsinnig wees om sy aanspraak dat
Hy God is te glo. Maar omdat Hy werklik opgestaan het sal dit dwaas wees om nie
te glo dat Jesus God is nie. Inderdaad bevestig die Opstanding dat dit wat
Jesus oor Homself gesê het, naamlik dat Hy ten volle God en mens is, die
waarheid is.
Is
daar enigsins rede om te glo dat die Bybel waar is? Of is die Bybel maar net
outydse mites en legendes? As Jesus opgestaan het bevestig dit dat Hy God is.
As Hy God is dan is sy uitsprake ten opsigte van die Bybel waar en gesagvol.
Daarom moet die Bybel die waarheid wees en daarom kan ons glo dat die Bybel
waar is en dat dit deur God as sy openbaring geïnspireer is. Daarom kan ons
sonder twyfel vashou aan God se beloftes van hoop in die Bybel.
Ons
Here leef en daarom is ons godsdiens nie ’n terugkyk nie, maar is dit inderdaad
’n toekomsperspektief. Ons kan die enigste lewende God ken en ons lewenspad
vorentoe saam met Hom stap. Ons is nie alleen in die lewe nie. Daarom bely ons
ook dat Jesus die straf van die sonde naamlik die dood oorwin het en dat ons
inderdaad deel in sy geregtigheid. Ons kan die Skrif glo dat ons op grond van
Jesus se kruisiging en opstanding voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen
het nie. Jesus het vir al ons sondes ten volle betaal en daardeur word die
wortel van die dood afgesny.
Ons
bely ook verder dat Hy ons deur sy krag ons tot ’n nuwe lewe opgewek het. Ons
is nie meer vasgevang in die negatiewe van die sondige wêreld nie. Ons is nie
meer gevangenis van die haat, onmin, verdeeldheid, vyandskap en al die
negatiewe dinge van die lewe. Ons het nou deel aan die ware lewe waarin liefde,
vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid
en selfbeheersing deel is van ons lewe. Ons kan deel hê aan die positiewe in
die lewe te midde van die hartseer gevolge van die sonde waarin die wêreld nog
vasgevang is. Ons kan bo dit uitstyg.
Ons
bely ook dat sy dood en opstanding ook ons dood en opstanding is. Die dood is
nie meer iets wat ons vrees nie en die verskrikking en hopeloosheid wat die
dood gehad het, het nie meer ’n houvas op ons nie. Die dood is nie meer ’n
koning van verskrikking nie, maar ’n deurgang tot die ewige lewe.
Met
Paasfees herdenk ons in besonder die kruisdood en opstanding van ons Here. Dit
is egter nie iets wat net tot een maal ’n jaar beperk is nie. Jesus se
opstanding het ’n effek op elke dag van ons lewe en daarom herdenk ons
inderdaad elke Sondag sy opstanding waar ons, ons krag vandaan kry om die lewe
wat Hy met sy opstanding vir ons gegee het, te gaan lewe.
Jesus
het regtig opgestaan, gaan daarom hiervan uit en lewe Jesus se opstanding!
Amen