26 April 2015

Hoekom moet ons bid?

Hoekom moet ons bid?
26 Apr 2015 GKE
Mat 6:5-15 teksvers 8

Sing
Ps. 31-1:1, 2 & 3
Ps. 25-1:1, 2, 3 & 5
Ps. 86-1:1,3 & 6
Sb 15-1:1 - 4

Hoekom moet ons bid? As God alwetend is, dan weet Hy mos wat ons nodig het soos ons ook in Mat 6:8 hoor:
julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

Tog loop die opdrag om te bid soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel. In Jak 4:2 hoor ons byvoorbeeld:
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

Hier in ons teksgedeelte hoor ons hoe Jesus sy dissipels leer hoe om te bid, want as mens verkeerd bid, dan kom daar nie veel van nie soos ons hoor in Jak 4:3:
As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
Verder bely ons (Sondag 45 Heidelbergse Kategismus) dat gebed ’n noodsaaklike deel van ons dankbaarheidslewe is. Sonder gebed gaan mens geestelik dood.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat ons nie soos die skynheiliges moet bid nie. Die skynheiliges hou daarvan dat mense sien hoe hulle bid en dit is hoekom Jesus hulle skynheilig noem, want die gaan net oor hulleself. Almal moet sien hoe goed hulle kwansuis is. Hulle maak asof God vir hulle baie belangrik is, maar eintlik gaan dit nie oor God nie. Dit gaan net oor hulleself! As dit mens se gesindheid is, sê die Here duidelik vir ons dat so ’n gebed niks werd is nie. Dit is net so goed asof mens glad nie bid. Hoe maklik trap ons nie ook in die slaggat om skynheilig te wees nie? As dit vir my voel asof God nie my gebede hoor nie, moet ek gaan kyk of my gebede nie net my eie selfsugtige begeertes wil bevredig nie.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat gebed ’n intieme gesprek met God is. As jy ’n persoonlike gesprek met ’n geliefde voer, basuin jy dit tog nie op die straathoeke uit nie! Nee, jy sorg dat julle op ’n private plek is waar julle rustig met mekaar kan gesels. Daarom sê Jesus dat ons in ons kamer in privaatheid tot God moet bid.

Dit beteken egter nie dat openbare gebede soos byvoorbeeld ons gemeente se gebed tydens die erediens of die gebede wat ons doen om ’n vergadering te open of af te sluit, nie toegelaat word nie. Dit gaan oor die gesindheid wat met gebed openbaar word. Bid ek om aan almal te wys hoe vroom en godsdienstig ek is, of bid ek in afhanklikheid om God se leiding te vra en om Hom te dank vir al sy seëninge wat Hy so mildelik oor ons uitstort.

In Mat 6:7 hoor ons dat ’n gebed nie hoogdawerend of ’n stortvloed van woorde moet wees nie. Jesus sê dat ons nie soos die heidene moet maak nie. Die heidene van daardie tyd het geglo dat hulle hul gode se guns moes wen. Hoe beter hul gebed was, hoe beter was die kans dat hulle die god tot wie hul gebid het, kon oortuig om te doen wat hulle wou hê. Ons mag nou dink dat dit darem nie op ons van toepassing is nie. Dit is nie meer algemene gebruik dat die gode van die ou Grieke aanbid word nie. Ons vind egter tog dieselfde gesindheid selfs by Christene. God word beskou as ’n outoteller wat maar net moet gee as ons die kaart (gebed) indruk. Die Here sê hier vir ons dat gebed nie ’n manier is waarmee ons God se arm kan draai om aan ons te gee wat ons harte begeer nie. Die doel van ’n gebed is nie ’n inkopielys by God nie. Ons moet ook oppas vir die kettinggebed gesindheid. As ons net genoeg mense kan kry om vir ’n saak te bid, dan moet God luister! Baie maal gebruik ons God ook net soos wat mens ’n spaarwiel gebruik. Jy dink net daaraan die dag as jy ’n papwiel het. Jy onthou God net wanneer jy in die knyp is en nou bid jy vinnig dat God jou uit die gemors moet help.

Gebed gaan nie daaroor dat ons God daarmee oortuig om vir te gee wat ons wil hê nie. Die Here leer ons in hierdie teksgedeelte dat die hoofsaak van gebed daaroor gaan dat ons daarmee vir God vra wat sy wil in ons lewens is. Verder gaan dit daaroor dat ons daarmee moet besef hoe afhanklik ons van Hom is. God weet wat ons nodig het. Deur middel van ons gebede leer ons hoe nodig ons God het om na ons om te sien, fisies en geestelik. Ons gebed moet eenvoudig en vol vertroue wees. Ons moet soos kinders na ons Vader kom, gretig om sy wil te doen, bewus van ons tekortkomings.

In Mat 6:5-8 sê die Here vir ons wat gebed nie is nie. Nou sê Hy in vers 9 en verder vir ons, so moet julle bid:” en dan volg die Onse Vader gebed wat ons almal so goed ken. Dit staan ook bekend as die model gebed. Hiermee bedoel die Here nie dat ons dit maar net onnadenkend soos ’n towerformule opsê nie. As ons dit doen, dan maak ons inderdaad net soos die heidene waarteen die Here ons waarsku, ’n onnadenkende stortvloed van woorde wat niks beteken nie.

Met die Onse Vader leer die Here vir ons waaroor gebed wel gaan. Die inleiding “ons Vader wat in die hemel is” sê vir ons aan wie ons gebed gerig moet word. Ons moet die die enigste lewende ware God aanbid wat die hemel en die aarde uit niks uit geskep het. Ons het die voorreg om vir Hom te sê Vader. In Mar 14:36, Rom. 8:15 en Gal 4:6 leer die Here ons om Hom “Abba, Vader” te noem. Die woord “Abba” beteken dat die gesprek met God baie intiem is, net soos wat ’n klein kindjie liefdevol sy vader pappa sal noem. Hierdie voorreg wat ons het om God Abba Vader te noem kry ons alleen op grond van die offer wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gebring het.

Dan volg daar ses gebedsversoeke wat ons twee afdelings kan verdeel. Die eerste drie
“laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
fokus op God. In die eerste bede erken ons wie God werklik is. Die twee wat daarop volg fokus op God se wil. Wat wil God vir my hê. Nie wat ek wil en God moet maar daarby inpas nie. Ons maak so maklik die fout om vir God voor te skryf en dan moet Hy maar net laat gebeur wat ons in ons eie selfsugtigheid reeds besluit het. Wat is God se wil vir ons gemeente? Nie ons eie prioriteite nie, maar God se prioriteite.

Die laaste drie bedes
Gee ons vandag ons daaglikse brood ; en vergeef ons, ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
fokus op ons totale afhanklikheid van God. Hier erken ons dat ons op ons eie nêrens kan kom nie. Dit is maar net God se genade wat ons dra.

In die ou Afrikaanse vertaling word die lofprysing
“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
aan die einde van die gebed bygevoeg terwyl dit nie in die 1983 vertaling voorkom nie. Die rede daarvoor is dat daar met die vertaling van die 1983 vertaling van ’n ouer manuskrip gebruik gemaak is waarin die lofprysing nie voorkom nie. Dit beteken egter nie dat die afsluitings-lofprysing nie deel van die gebed moet wees nie. Hoewel die bekende lofprysing: “Aan U behoort die koninkryk …”in die grondteks ontbreek, sou ’n gebed sonder slot vreemd gewees het. Waarskynlik is die lofprysing aanvanklik telkens vry geformuleer soos destyds die gebruik was en daarom is dit nie in die oudste vorm van die gebed opgeskryf nie. Daarom laat ons ook nie slot lofprysing uit wanneer ons die Onse Vader bid nie, want in 1 Kron. 29:11–12 leer die Here ons dat dit wel deel van ons gebede moet wees.

Hoekom moet ons bid? Ons gebede is nie ’n inkopielys waar ons, ons begeertes aan God bekend maak en ons Hom dan probeer oorreed om dit vir ons te gee nie. Nee, ons moet bid om te vra na die wil van die Here en om ons totale afhanklikheid van sy genade teenoor Hom te erken. Ons bid omdat ons dankbaar is om vanuit God se genade in Jesus Christus as sy kinders ’n nuwe lewe kan leef.

Bid sonder ophou, maar doen dit vir die regte rede met die regte gesindheid.

Amen