Wys tans plasings met die etiket Onse Vader. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Onse Vader. Wys alle plasings

18 November 2020

Gebed 05 - Laat U Naam geheilig word

 

`n Reeks oordenkings oor gebed


These medetations are also available in English



Die volgende oordenking: Gebed 06 - Laat U koninkryk kom



Gebed 05

Laat U Naam geheilig word

Ps. 8 v 2

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

 

In hierdie eerste bede is die fokus van ons gebed steeds op God gerig. Daarin vra ons (wat in Christus deur die Heilige Gees, God as ons hemelse Vader ontvang het) dat Hy ons deur sy Gees in staat stel om sy Naam te eer en te prys.

 

Hiermee vra ons ook dat ons God reg kan ken. Dit beteken dat ons erken dat ons hart en verstand te verduister is om God uit eie krag te kan ken. Verder erken ons ook dat dit die belangrikste ding in die lewe is om God reg te ken, asook dat ons God alleen in Christus en deur sy Gees kan ken.

 

Hierdie bede is ook 'n versugting om God te roem en prys in al sy werke en dat Hy heilig is. Dit is dan ook om ons fokus van selfverheerliking en vertroue op eie krag weg te draai sodat ons God alleen kan roem en eer in al sy werke.

 

Verder erken ons ook dat omdat God ons Vader is, is sy eer en verheerliking vir ons as sy kinders die allerbelangrikste ding op aarde.

 

Hiermee vra ons ook dat God deur sy Gees sal gee dat ons, in ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke, sy eer en heiligheid voorop sal stel.

 

Die doel van hierdie bede is om daarmee te kenne te gee dat ons god se Naam nie wil laster of ontheilig nie, maar dat ons sy Naam in alles wil eer en prys.

 

Met hierdie bede om die heiliging van God se Naam bid ons dat ons Hom so sal ken dat ons Hom in alles sal eer en loof sodat ons deur die werking van die Heilige Gees sy Naam waardig kan lewe.

 

Amen

17 November 2020

Gebed 03 - Wat moet die inhoud van 'n opregte gebed wees?

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English






Mat. 6 v9 - 13

“So moet julle bid:

Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose. Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

 

Jesus het vir ons die model gebed gegee sodat ons daaruit kan leer hoe ons moet bid. Uit hierdie voorbeeld gebed leer ons Here dat daar is drie sake wat ons in ag moet neem ten opsigte van die inhoud van ons gebede.

 

1. Die geweldige omvang van die inhoud:

In hierdie gebed leer Jesus ons dat ons moet bid vir al ons geestelike en liggaamlike behoeftes. 

 

2. Daar is 'n bepaalde volgorde:

Die Naam van die Here, sy koninkryk en die goeie wil van die Vader kom eerste. Eers dan volg die smeking rondom ons daaglikse behoeftes, die vergewing van sondes en die bewaring van ons lewe. Dan word die gebed afgesluit met aanbidding van, en die uitspreek van vertroue in Hom aan Wie die krag en heerlikheid behoort.

 

3, Hierdie gebed is 'n duidelike voorbeeld:

Jesus het vir ons hierdie gebed as voorbeeld gegee sodat ons kan leer waarop ons in ons gebede moet fokus.

 

Dit beteken egter nie dat ons net die woorde soos dit hier vir ons gegee is moet bid nie. Die sake wat hier na vore kom is egter belangrik.

 

Met ons volgende paar dagstukkies gaan ons in meer detail fokus op die inhoud van hierdie voorbeeld gebed.

 

Amen


Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid?

 `n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die volgende oordenking: 

Gebed 02 - Wat is die vereistes van 'n opregte gebed?



Ps. 50 v 14 & 15

Lof is die offer wat jy aan God moet bring. Betaal jou geloftes aan die Allerhoogste. Roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp en jy sal My eer.”

 

Gebed is 'n baie belangrike deel van 'n gelowige se dankbaarheidslewe. 'n Kind van God moet met sy Vader praat. Elkeen wat in Jesus Christus glo is 'n kind van God soos wat ons hoor in Joh. 1 v 12 & 13: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.”

 

Wanneer jy bid word jy opnuut bewus van God se genade en hoe die Heilige Gees deel is van jou lewe. In Mat. 7 v 7 & 8 hoor ons: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”

 

Gebed gaan nie daaroor dat ons God gebruik om te kry wat ons wil hê nie. Deur gebed kom jy opnuut tot die besef dat jy God in jou lewe nodig het.

 

Moenie jou gebedslewe afskeep nie.

Amen


26 April 2015

Hoekom moet ons bid?

Hoekom moet ons bid?
26 Apr 2015 GKE
Mat 6:5-15 teksvers 8

Sing
Ps. 31-1:1, 2 & 3
Ps. 25-1:1, 2, 3 & 5
Ps. 86-1:1,3 & 6
Sb 15-1:1 - 4

Hoekom moet ons bid? As God alwetend is, dan weet Hy mos wat ons nodig het soos ons ook in Mat 6:8 hoor:
julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra.

Tog loop die opdrag om te bid soos ’n goue draad dwarsdeur die Bybel. In Jak 4:2 hoor ons byvoorbeeld:
Julle wil dinge hê, maar kry dit nie en wil dan moord pleeg; julle is jaloers op ’n ander man se goed en kan dit nie in die hande kry nie en dan maak julle rusie en baklei julle. Julle kry nie, omdat julle nie bid nie.

Hier in ons teksgedeelte hoor ons hoe Jesus sy dissipels leer hoe om te bid, want as mens verkeerd bid, dan kom daar nie veel van nie soos ons hoor in Jak 4:3:
As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.
Verder bely ons (Sondag 45 Heidelbergse Kategismus) dat gebed ’n noodsaaklike deel van ons dankbaarheidslewe is. Sonder gebed gaan mens geestelik dood.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat ons nie soos die skynheiliges moet bid nie. Die skynheiliges hou daarvan dat mense sien hoe hulle bid en dit is hoekom Jesus hulle skynheilig noem, want die gaan net oor hulleself. Almal moet sien hoe goed hulle kwansuis is. Hulle maak asof God vir hulle baie belangrik is, maar eintlik gaan dit nie oor God nie. Dit gaan net oor hulleself! As dit mens se gesindheid is, sê die Here duidelik vir ons dat so ’n gebed niks werd is nie. Dit is net so goed asof mens glad nie bid. Hoe maklik trap ons nie ook in die slaggat om skynheilig te wees nie? As dit vir my voel asof God nie my gebede hoor nie, moet ek gaan kyk of my gebede nie net my eie selfsugtige begeertes wil bevredig nie.

In Mat 6:6 sê Jesus vir ons dat gebed ’n intieme gesprek met God is. As jy ’n persoonlike gesprek met ’n geliefde voer, basuin jy dit tog nie op die straathoeke uit nie! Nee, jy sorg dat julle op ’n private plek is waar julle rustig met mekaar kan gesels. Daarom sê Jesus dat ons in ons kamer in privaatheid tot God moet bid.

Dit beteken egter nie dat openbare gebede soos byvoorbeeld ons gemeente se gebed tydens die erediens of die gebede wat ons doen om ’n vergadering te open of af te sluit, nie toegelaat word nie. Dit gaan oor die gesindheid wat met gebed openbaar word. Bid ek om aan almal te wys hoe vroom en godsdienstig ek is, of bid ek in afhanklikheid om God se leiding te vra en om Hom te dank vir al sy seëninge wat Hy so mildelik oor ons uitstort.

In Mat 6:7 hoor ons dat ’n gebed nie hoogdawerend of ’n stortvloed van woorde moet wees nie. Jesus sê dat ons nie soos die heidene moet maak nie. Die heidene van daardie tyd het geglo dat hulle hul gode se guns moes wen. Hoe beter hul gebed was, hoe beter was die kans dat hulle die god tot wie hul gebid het, kon oortuig om te doen wat hulle wou hê. Ons mag nou dink dat dit darem nie op ons van toepassing is nie. Dit is nie meer algemene gebruik dat die gode van die ou Grieke aanbid word nie. Ons vind egter tog dieselfde gesindheid selfs by Christene. God word beskou as ’n outoteller wat maar net moet gee as ons die kaart (gebed) indruk. Die Here sê hier vir ons dat gebed nie ’n manier is waarmee ons God se arm kan draai om aan ons te gee wat ons harte begeer nie. Die doel van ’n gebed is nie ’n inkopielys by God nie. Ons moet ook oppas vir die kettinggebed gesindheid. As ons net genoeg mense kan kry om vir ’n saak te bid, dan moet God luister! Baie maal gebruik ons God ook net soos wat mens ’n spaarwiel gebruik. Jy dink net daaraan die dag as jy ’n papwiel het. Jy onthou God net wanneer jy in die knyp is en nou bid jy vinnig dat God jou uit die gemors moet help.

Gebed gaan nie daaroor dat ons God daarmee oortuig om vir te gee wat ons wil hê nie. Die Here leer ons in hierdie teksgedeelte dat die hoofsaak van gebed daaroor gaan dat ons daarmee vir God vra wat sy wil in ons lewens is. Verder gaan dit daaroor dat ons daarmee moet besef hoe afhanklik ons van Hom is. God weet wat ons nodig het. Deur middel van ons gebede leer ons hoe nodig ons God het om na ons om te sien, fisies en geestelik. Ons gebed moet eenvoudig en vol vertroue wees. Ons moet soos kinders na ons Vader kom, gretig om sy wil te doen, bewus van ons tekortkomings.

In Mat 6:5-8 sê die Here vir ons wat gebed nie is nie. Nou sê Hy in vers 9 en verder vir ons, so moet julle bid:” en dan volg die Onse Vader gebed wat ons almal so goed ken. Dit staan ook bekend as die model gebed. Hiermee bedoel die Here nie dat ons dit maar net onnadenkend soos ’n towerformule opsê nie. As ons dit doen, dan maak ons inderdaad net soos die heidene waarteen die Here ons waarsku, ’n onnadenkende stortvloed van woorde wat niks beteken nie.

Met die Onse Vader leer die Here vir ons waaroor gebed wel gaan. Die inleiding “ons Vader wat in die hemel is” sê vir ons aan wie ons gebed gerig moet word. Ons moet die die enigste lewende ware God aanbid wat die hemel en die aarde uit niks uit geskep het. Ons het die voorreg om vir Hom te sê Vader. In Mar 14:36, Rom. 8:15 en Gal 4:6 leer die Here ons om Hom “Abba, Vader” te noem. Die woord “Abba” beteken dat die gesprek met God baie intiem is, net soos wat ’n klein kindjie liefdevol sy vader pappa sal noem. Hierdie voorreg wat ons het om God Abba Vader te noem kry ons alleen op grond van die offer wat Jesus Christus vir ons aan die kruis gebring het.

Dan volg daar ses gebedsversoeke wat ons twee afdelings kan verdeel. Die eerste drie
“laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.”
fokus op God. In die eerste bede erken ons wie God werklik is. Die twee wat daarop volg fokus op God se wil. Wat wil God vir my hê. Nie wat ek wil en God moet maar daarby inpas nie. Ons maak so maklik die fout om vir God voor te skryf en dan moet Hy maar net laat gebeur wat ons in ons eie selfsugtigheid reeds besluit het. Wat is God se wil vir ons gemeente? Nie ons eie prioriteite nie, maar God se prioriteite.

Die laaste drie bedes
Gee ons vandag ons daaglikse brood ; en vergeef ons, ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose.
fokus op ons totale afhanklikheid van God. Hier erken ons dat ons op ons eie nêrens kan kom nie. Dit is maar net God se genade wat ons dra.

In die ou Afrikaanse vertaling word die lofprysing
“Aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.”
aan die einde van die gebed bygevoeg terwyl dit nie in die 1983 vertaling voorkom nie. Die rede daarvoor is dat daar met die vertaling van die 1983 vertaling van ’n ouer manuskrip gebruik gemaak is waarin die lofprysing nie voorkom nie. Dit beteken egter nie dat die afsluitings-lofprysing nie deel van die gebed moet wees nie. Hoewel die bekende lofprysing: “Aan U behoort die koninkryk …”in die grondteks ontbreek, sou ’n gebed sonder slot vreemd gewees het. Waarskynlik is die lofprysing aanvanklik telkens vry geformuleer soos destyds die gebruik was en daarom is dit nie in die oudste vorm van die gebed opgeskryf nie. Daarom laat ons ook nie slot lofprysing uit wanneer ons die Onse Vader bid nie, want in 1 Kron. 29:11–12 leer die Here ons dat dit wel deel van ons gebede moet wees.

Hoekom moet ons bid? Ons gebede is nie ’n inkopielys waar ons, ons begeertes aan God bekend maak en ons Hom dan probeer oorreed om dit vir ons te gee nie. Nee, ons moet bid om te vra na die wil van die Here en om ons totale afhanklikheid van sy genade teenoor Hom te erken. Ons bid omdat ons dankbaar is om vanuit God se genade in Jesus Christus as sy kinders ’n nuwe lewe kan leef.

Bid sonder ophou, maar doen dit vir die regte rede met die regte gesindheid.

Amen

18 Julie 2013

Hoe ons bid bepaal hoe ons verhouding met God is

9 Jun. 2013 Mat. 6:1-18 Fokusgedeelte : Mat. 6:1
Lof-Psalm Ps. 145:1 & 12       (OAB)
Na Wet Ps. 32:1                      (OAB)
Na Gebed Ps. 31:1                  (OAB)
Slotsang Ps. 30:1                    (OAB)

Inleiding
Hoe bid ons? In hierdie teksgedeelte leer ons dat die gesindheid waarmee ons bid vir ons wys hoe ons verhouding met God is. Dit wys vir ons of ons besig is met blote leë godsdienstige rituele en of ons werklik besig is om in ’n lewende verhouding met God te leef. Wanneer mens besig is met leë godsdienstige rituele, dan gaan dit daaroor oor watter voordeel jy uit die verhouding kan kry. Ons ken almal die mooiweersvriende wat mens net ken solank hulle iets uit die vriendskap kan kry sonder om ooit iets terug te gee. Ons herken dadelik die oppervlakkigheid van so ’n vriendskapsverhouding en tog trap ons so maklik in die strik om in so ’n verhouding met God te wil saamleef.

Hierdie gedeelte word ingelei met die motivering wat mens het om ander te help. ’n Verkeerde motivering is die simptoom van ’n dieper liggende probleem. Help ek ander om te wys hoe ’n goeie mens ek is? Elkeen moet maar weer eerlik gaan nadink oor wat sy werklike motiewe is wanneer hy goeddoen. As dit enigsins daaroor gaan dat ek darem vir die mense wil wys dat ek eintlik ’n goeie mens is, dan moet ons die gevaarligte begin raaksien.

Die tweede toets waarna ons moet kyk is na die manier waarop ons bid. Gebed is die kern van ons verhouding met God en in die Bybelse tyd het dit dikwels met vas gepaardgegaan. Die doel van vas is sodat mens meer ernstig op jou gebedslewe kan fokus sonder dat dit onderbreek word. Moenie dink dat vas net te doen het om nie te eet nie. Dit gaan daaroor om vir ’n tyd weg te bly van dinge wat jou aandag van God af wegneem wanneer jy tyd saam met Hom moet spandeer. Byvoorbeeld TV kyk, internet, selfone.

Jesus wys vir ons twee groot gevare hier uit. Die gevaar om mense te probeer beïndruk en die gevaar om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê.

Die gevaar om mense te probeer beïndruk
Jesus waarsku ons oor die gevaar om mense te probeer beïndruk soos ons hoor Mat 6:1:
“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.
Mat 6:2:
“As jy byvoorbeeld armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat.
Mat 6:5
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien.
Mat 6:16
“As julle vas, moet julle nie soos skynheiliges met lang gesigte rondloop nie. Hulle mismaak hulle gesigte sodat die mense kan sien dat hulle vas.

Wanneer ek godsdienstige handelinge uitvoer sodat mense kan sien hoe goed en heilig ek is dan is ek nie meer besig met ’n lewende verhouding met God nie. Dan gaan dit net oor myself. Dan dink ek dat as die mense kan raaksien hoe heilig ek is, MOET God dit ook raaksien en dan kan Hy nie anders as om my te seën nie! Met ander woorde ek probeer om God te manipuleer.

Die tweede gevaar is:
Om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê
soos ons hoor in Mat 6:7
“Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle, hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik.
Ons moet versigtig wees wanneer ons oor iets bid dat ons nie in die strik van kettinggebede vasval nie soos byvoorbeeld: Iemand is ernstig siek en nou probeer ons soveel as moontlik mense bymekaarmaak om daarvoor te bid. Dit kom daarop neer dat mens naderhand dink dat as daar net genoeg mense vir die saak kan bid, dan MOET God luister en gee presies wat ons vra!

Ek sê nie dat ons nie moet voorbidding doen en of vra nie. Die Here sê ook nie hier dat ons nie voor ander moet bid nie. Dit gaan hier oor die gesindheid waarmee gebid word. Is ons gesindheid waar ons, ons nood in nederige afhanklikheid voor die Here lê, of is die gesindheid dat ons God wil dwing om te doen wat ons wil hê? My gebed moet ’n ware gesprek met God wees.

Wanneer ons bid moet dit nie ’n lang hoogdawerende gebed wees waarin ons oor en oor dieselfde ding vra deur dit elke slag net op ’n verskillende manier te stel nie. Die Here sê vir ons dat gebed ’n eenvoudige gesprek met Hom is soos Hy verduidelik met voorbeeld van die Onse Vader gebed wat Hy vir ons gee. Hiermee word ons nie oorweldig met ’n uitgebreide stel voorskrifte oor gebed nie. Met hierdie gebed wys die Here vir ons dat ons gebede twee hoofsake moet aanspreek, naamlik die essensie van Goddelike heerskappy en ons nood wat ons na die Here bring.

Met die drie U bedes en die drie ons bedes word God en mens verbind. Die Here leer ons dat ons Hom prys, vir sy werk in die wêreld moet bid, vir ons daaglikse behoeftes moet bid en vra vir hulp in ons daaglikse stryd. Dit gaan nie hier oor die presiese herhaling van die woorde in Mat. 6:9-13 nie, maar oor die inhoud van ons gebede. Wanneer ons die woorde van die Onse Vader bid, moet ons bogenoemde inhoud daarin raaksien.

In gebed gaan dit dus nie oor om vir mense te bewys hoe heilig ons is nie. Dit gaan oor ’n intieme gesprek met God.

Wat is die gevolge van bogenoemde gevare.
As ek in die slaggat van bogenoemde gevare trap wys dit vir my op die simptoom van ’n dieperliggende probleem met my verhouding met God. Ek wil nie God dien nie! Ek probeer my bes dat Hy my moet dien! As ek op hierdie spoor is, is daar vir my geen beloning nie.

Wat is die beloning waarvan hier gepraat word? Die beloning is om in ’n intieme verhouding met God te leef, om God werklik te ken as ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is (Art 1 NGB). As ek God probeer manipuleer dan mis ek uit op die geleentheid om die wonderlikste Wese in die heelal persoonlik te leer ken. Dan mis ek uit op sy liefde, sy goedheid, sy sorg, sy deernis. Dan sal ek nooit werklik die hart van God leer ken nie.

Dit is ook dan wanneer ek God beleef as kwaai en veroordelend en dan sien ek nie sy genade en liefde raak nie. ’n Liefde wat alle verstand te bowe gaan soos ons hoor in 1 Joh. 4:9-10:
Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê. Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Samevatting
Hoe ons bid bepaal hoe ons verhouding met God is. Daar is twee groot gevare waaraan ons onself kan blootstel: Die gevaar om mense te probeer beïndruk en die gevaar om God te probeer dwing om te doen wat ons wil hê. Hierdie gevare is die simptoom van ’n dieperliggende probleem met my verhouding met God. Ek wil nie God dien nie! Ek probeer my bes dat Hy my moet dien! Dan mis ek uit op die beloning om werklik die hart van God te leer ken en dan sien ek nie sy liefde en genade raak nie.

Moenie in die slaggat van bogenoemde twee gevare trap nie. Gryp vas aan sy genade en liefde in Jesus Christus met die geloof wat die Heilige Gees vir ons gee. Kom ons leef in ’n werklike intieme verhouding met God saam.

Amen