17 November 2020

Gebed 02 - Wat is die vereistes van 'n opregte gebed?

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English


Die volgende oordenking: 


Open. 19 v 9 & 10

Toe sê die engel vir my: “Skryf op: Geseënd is hulle wat na die bruilofsmaal van die Lam uitgenooi is.” Verder sê hy vir my: “Dit is die woorde van God, en hulle is waar.” Toe het ek voor sy voete op my knieë neergeval om hom te aanbid. “Pas op, moenie!” sê hy toe vir my. “Ek is ’n mededienaar van jou en van jou medegelowiges wat aan die getuienis vashou wat Jesus gelewer het. Aanbid God, want dit is Jesus wat die getuienis gelewer het, en dit is die Gees wat die profesie gegee het.”

 

Ons moet bid, maar wat is die vereistes van 'n opregte gebed?

Daar is basies drie vereistes:

1. Opregtheid:

Jy kan nie maar net enige god in gebed aanroep nie. Jy moet bid tot die enige ware God soos Hy Homself in sy Woord in Christus openbaar het en van wie die Heilige Gees in die Woord getuig. Gebed is net geldig as dit gerig word tot God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.

 

Jy moet verder in opregtheid met 'n onverdeelde hart tot God bid en vra vir alles wat Hy ons in sy Woord beveel het om te bid. As jou gebed gaan om selfsugtige redes, dan bid jy verkeerd.

 

2. Ootmoed:

Dit beteken dat jy jou nood en ellende reg en grondig moet ken sodat jy jou voor sy majesteit kan verootmoedig. Verootmoediging beteken dat jy moet erken dat jy vanweë jou sonde doemwaardig voor God is en dat jy alleen van sy genade afhanklik is.

 

3. Vertroue:

Jy moet vertrou dat God jou gebed ter wille van die soenverdienste van Christus sal verhoor soos Hy dit vir ons in sy Woord beloof het.

 

Bid in opregtheid tot die enigste ware God, Vader Seun en Heilige Gees.

 

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking