18 November 2020

Gebed 05 - Laat U Naam geheilig word

 

`n Reeks oordenkings oor gebed


These medetations are also available in English



Die volgende oordenking: Gebed 06 - Laat U koninkryk kom



Gebed 05

Laat U Naam geheilig word

Ps. 8 v 2

Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde, hoe glansryk alles wat U in die hemelruim geplaas het!

 

In hierdie eerste bede is die fokus van ons gebed steeds op God gerig. Daarin vra ons (wat in Christus deur die Heilige Gees, God as ons hemelse Vader ontvang het) dat Hy ons deur sy Gees in staat stel om sy Naam te eer en te prys.

 

Hiermee vra ons ook dat ons God reg kan ken. Dit beteken dat ons erken dat ons hart en verstand te verduister is om God uit eie krag te kan ken. Verder erken ons ook dat dit die belangrikste ding in die lewe is om God reg te ken, asook dat ons God alleen in Christus en deur sy Gees kan ken.

 

Hierdie bede is ook 'n versugting om God te roem en prys in al sy werke en dat Hy heilig is. Dit is dan ook om ons fokus van selfverheerliking en vertroue op eie krag weg te draai sodat ons God alleen kan roem en eer in al sy werke.

 

Verder erken ons ook dat omdat God ons Vader is, is sy eer en verheerliking vir ons as sy kinders die allerbelangrikste ding op aarde.

 

Hiermee vra ons ook dat God deur sy Gees sal gee dat ons, in ons hele lewe, ons gedagtes, woorde en werke, sy eer en heiligheid voorop sal stel.

 

Die doel van hierdie bede is om daarmee te kenne te gee dat ons god se Naam nie wil laster of ontheilig nie, maar dat ons sy Naam in alles wil eer en prys.

 

Met hierdie bede om die heiliging van God se Naam bid ons dat ons Hom so sal ken dat ons Hom in alles sal eer en loof sodat ons deur die werking van die Heilige Gees sy Naam waardig kan lewe.

 

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking