17 November 2020

Gebed 04 - Ons Vader wat in die hemel is

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English


Die vorige oordenking: 

Die volgende oordenking: 


Joh. 1 v 12

Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

 

Waarom het Jesus ons beveel om God as ‘ons Vader in die hemel’ aan te spreek, wanneer ons bid?

 

Sodat ons heel aan die begin van ons gebed ons kinderlike vertroue en respek ten opsigte van God sal bevestig. Dit is die vertroue dat net soos wat 'n vader vir sy kind sorg, ons vertrou dat God as ons Vader in Christus alles sal voorsien wat ons in die lewe nodig het.

 

Daarmee nader jy in eenvoud en nederigheid tot God, want jy het nie nodig om God te probeer imponeer wanneer jy bid nie.

(Mat. 6 v 5 & 6)

“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg.

 

Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.”

 

Wanneer jy in gebed tot God nader praat jy gewoonweg met Hom net soos wat 'n kind met sy vader praat sonder om disrespekvol te wees. Deur die Gees wat ons ontvang het, roep ons in kinderlike vertroue: “Abba, Vader!” (Rom. 8 v 15; Gal. 4 v 6 & 7)

En om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: “Abba!” Dit beteken: Vader! Jy is dus nie meer ’n slaaf nie; jy is nou ’n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

 

Wanneer jy God as jou Vader aanspreek dan bevestig jy daarmee die grond van jou kinderlike vertroue, naamlik dat God deur Christus ons Vader geword het en dat Hy veel minder dit wat ons in geloof bid, sal weier as wat ons aardse vaders ons aardse dinge sal ontsê.

 

Deur God as jou Vader in die hemel aan te spreek bevestig jy dat jy nie aards van Hom dink nie en dat jy nie sondige menslike kwaliteite aan Hom toedig nie. Hiermee bevestig jy ook dat jy nederig bely dat jy van jouself en die wêreld as bron van hulp afsien en dat jy jou vertroue op God alleen stel.

 

Bid tot God as “jou Vader wat in die hemel is” en begin daarmee jou gesprek met God in nederige ootmoed en vertroue in jou almagtige en ewige Vader.

 

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking