24 November 2020

Gebed 06 - Laat U Koninkryk kom

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 05 - Ons Vader wat in diehemel is

Die volgende oordenking: Gebed 07 - Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel



Gebed 06

Laat U Koninkryk kom

Markus 1 v 14 & 15

Nadat Johannes in die tronk opgesluit is, het Jesus na Galilea toe gegaan en die evangelie van God verkondig. Hy het gesê: “Die tyd het aangebreek, en die koninkryk van God het naby gekom. Bekeer julle en glo die evangelie.”

 Die koninkryk van God is 'n onderwerp waaroor baie boeke geskryf is. John Bright sê die volgende daaroor: “For the concept of the Kingdom of God involves, in a real sense, the total message of the Bible.”

 Die koninkryk van God verwys na God se heerskappy oor die ganse skepping en die mensdom en dit verkondig God se genade en die goeie nuus van sy verlossing in Jesus Christus van die sonde heerskappy in mense se lewens.

 In hierdie bede vra ons vier dinge:

1. Onderwerping van onsself aan God se heerskappy

Die koms van die Koninkryk begin by onsself en daarom moet ons bid dat God ons so deur sy Woord en Gees sal regeer dat ons, ons hoe langer hoe meer aan Hom sal onderwerp.

 2. Bewaring en opbou van Jesus se bruidskerk

Onthou, elk gelowige is een van die lewende boustene van Jesus se kerk. In hierdie bede is daar dus ook 'n versugting, naamlik: bewaar U kerk teen sy vyande (dit wil sê ons eie sondige natuur, die wêreld en die aanslae van satan) en laat dit groei deur die verkondiging van die evangelie.

 3. Neerwerping van alle vyandelike magte

Met hierdie bede vra ons dus ook spesifiek dat God die werke van die duiwel (dit wil sê die groot teenstander van God wat teen Hom en sy Kerk stry met bedrog en leuens) asook elke mag wat teen God opstaan, sal vernietig.

 Verder vra hierdie bede ook dat God alle kwaadwillige planne teen sy heilige Woord sal vernietig, soos byvoorbeeld die verwerping, vervalsing daarvan.

 4. Die aanbreek van die staat van volkomendheid

Hierin is ook ons versugting en verlange na die volmaakte staat van heerlikheid by die voleinding.

 Met hierdie bede bid ons dat ons Vader ons en ook al die bose magte, aan sy heerskappy sal onderwerp en dat Hy die staat van volkomendheid oor die kerk en heelal sal laat aanbreek.

 Amen

Die volgende video verduidelik dit op 'n praktiese manier, waar Wayne Cordeiro verduidelik hoekom hy eerder sal bid dat die kerk wat vry van vervolging is, soos die kerk in Sjina moet word as wat hy sal bid dat die kerk in Sjina ‘vry’ moet wees soos ander kerke wat nie vervolg word nie.

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking