24 November 2020

Gebed 08 - Gee ons vandag ons daaglikse brood

 

`n Reeks oordenkings oor gebed

These medetations are also available in English

Die 1ste oordenking: Gebed 01 - Hoekom moet 'n gelowige bid

Die vorige oordenking: Gebed 07 - Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel

Die volgende oordenking: (Sal eersdaag gepubliseer word)





Gebed 08

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Fil. 4 v 6

Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

 

Terwyl ons nog op die aarde woon, het ons behoefte aan ons daaglikse brood, dit wil sê ons lewensonderhoud. Daarom leer die Here ons om met ons daaglikse behoeftes in gebed na Hom te kom en daarvoor te bid. Elkeen wat in die verlossing van Jesus Christus glo, kan met vrymoedigheid na ons Vader toe kom met sy daaglikse behoeftes.

 

Wanneer ons bid vir ons daaglikse brood, is dit 'n versoek wat baie meer omvat as net brood. Ons bid hiermee vir alles wat ons vir ons daaglikse lewensonderhoud nodig het soos gesondheid, klere, kos, werk, vergoeding vir ons arbeid en die opbrengs daarvan.

 

Hierdie bede beteken nie dat ons maar net handjies gevou moet sit en wag dat ons daaglikse brood wonderbaarlik sal verskyn nie. Nee, hiermee vra ons vir die moontlikheid om deur ons werk in ons lewensonderhoud te voorsien, want ook dit is alleen net genade.

 

Hiermee erken ons, ons diepe afhanklikheid van ons Vader se versorging omdat Hy die enigste Bron is van alles wat goed is en dat sy gawes sonder sy seën ons niks sal baat nie.

 

Verder bely ons ook ons kinderlike vertroue in die sorg van ons Vader en dat ons daarmee ons vertroue van alle skepsele aftrek en dit op Hom alleen stel.

 

In hierdie bede vra ons ook dat die Here vir ons sal gee wat ons nodig het sonder dat ons deur bekommernisse of geldgierigheid verteer word vir meer as wat ons nodig het. Maar ons reik ook daarmee in ons verwagtinge uit bokant die brood nood van die tyd na die oorvloed van die ewigheid.

 

Bid en werk vir jou daaglikse brood, terwyl jy in stille tevredenheid alles van jou Vader in geloofsvertroue verwag, totdat Hy eenmaal alles nuut sal maak op die nuwe aarde waar daar geen honger of kommer meer sal heers nie.

Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking