Datum: 31 Mei 2020 Gereformeerde Kerk Empangeni – Ds.
George van der Walt
Skriflesing: Rom. 8 v 14 & 15 en Ps. 40
Teksvers: Rom. 8 v 15
Sing
Ps.
33-1 v 11
Ps.
86-1 v 1
Die preek is ook in video formaat beskikbaar:
1 Volledige erediens op facebook Gereformeerde Kerk Empangeni
Jesus het belowe dat Hy ons nie as weeskinders sal
agterlaat na sy hemelvaart nie en Hy het ook nie. Daarom herdenk ons vandag die
gebeure wat in Handelinge 2 vir ons beskryf word waar Jesus se dissipels op 'n plek
bymekaar was en hoe hulle iets soos vuur gesien wat in tonge verdeel en op
elkeen van hulle gekom het en almal met die Heilige Gees vervul is. Ons noem
hierdie gebeure Pinkster of die uitstorting van die Heilige Gees.
Die Heilige Gees is nou by ons en dit is 'n geweldige
troos vir gelowiges soos ons ook in Rom. 8 v 14 en 15 hoor:
Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is
kinders van God. Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie
en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat
julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit
beteken Vader
Elkeen wat hom of haar deur die Gees van God laat lei om
te glo in Jesus Christus as jou persoonlike Verlosser is 'n kind van God. Daarom
het ons as kinders van God die vrymoedigheid om tot ons Vader te roep wanneer
ons in nood verkeer.
Ons het op 19 Mei 2020 'n oproep vanaf Klassis Potchefstroom
ontvang om op 31 Mei 2020 'n dag van verootmoediging en gebed te hou. Ons gee
daarom ook gehoor aan hierdie oproep om vandag as 'n dag van gebed en
verootmoediging te hou waarin ons na ons Vader uitroep – Abba! Help ons. Wees
ons genadig.
Die Here help ons ook in ons gebede en daarom het Hy vir
ons die Psalms gegee. Die Psalmboek in die Bybel is inderdaad 'n gebedsboek. Met
die Onse Vader gebed wat Jesus vir ons gegee het, leer Hy ons wat ons moet bid en in die Psalms leer die Here ons hoe ons moet bid.
Ons gaan vanoggend stilstaan by die gebed van Psalm 40. Die
opskrif wat die Bybelvertalers van die 1983 vertaling vir die Psalm gegee het,
is “Here, red my tog!” In die HCSB word die opskrif “Thanksgiving and a Cry for Help” vir hierdie Psalm gebruik. Psalm 40 is inderdaad 'n
gebed om redding in 'n tyd van nood.
In Ps. 40 v 2 – 5 hoor ons hoe die Psalmdigter ons vertel
hoe die Here hom in die verlede verlos het toe hy in nood verkeer het. Toe hy
gesmag het na die Here, het die Here sy hulpgeroep gehoor. God het, hom uit die
put waarin hy beland het uitgetrek en weer op 'n rots laat staan en daarom kan
hy weer 'n loflied sing.
Wat dit vir ons sê is dat dit goed gaan met die mens wat
sy vertroue op die Here stel en nie op ander goed as die Here vertrou nie. Dit
is die moeite werd om na die Here te smag.
Dan vertel die Psalmdigter vir ons in Ps. 40 v 6 – 11 van
die Here se verlossingsdade en die verlossing wat hy ervaar het. In vers 6 bely
hy dat hy eintlik nie woorde het om die grootheid van God te beskryf nie.
In verse 7 – 9 hoor ons dat God net een ding van sy
kinders vra, naamlik gehoorsaamheid. Dit wat die Here van ons vra is dat ons
mekaar moet liefhê. Hy som sy wet met liefde op: Liefde vir God en liefde vir
jou naaste.
Die Psalmdigter se hartsbegeerte is om die wil van God te
doen en as jy vandag hier as kind van God saambid moet dit ook jou
hartsbegeerte wees, want dis die belydenis van iemand wat God se genade in sy
lewe ontdek het.
In verse 10 & 11 maak die Psalmdigter dit duidelik
dat hy nie oor God se genade kan stilbly nie. Daarom is dit ook so belangrik
dat ons vir mekaar van God se genade in ons lewens moet vertel sodat dit ook
jou medegelowiges se geloof kan versterk. Verder dien dit as getuienis vir
diegene wat God nie ken nie.
In verse 12 -18 kom ons by die hart van hierdie Psalm uit
waar die Psalmdigter bid om verlossing. Omdat hy reeds God se genade ervaar
het, het hy nou die vrymoedigheid om met sy nood na God toe te gaan.
In verse 12 – 13 vra die Psalmdigter dat die Here hom nie
moet verstoot nie. Hy bely dat ramp op ramp hom oorval het en dat hyself 'n rol
daarin gespeel het. Sy ongeregtighede het hom ingehaal en daarom verootmoedig
hy homself voor God.
Om tot God te nader en sy genade te ervaar, is dit nodig
om jouself voor God te verootmoedig. Om jou sonde teenoor Hom te bely, want dit
is eers wanneer jy erken dat net God jou kan help dat jy tot God kan nader in
nood. Elkeen van ons moet gaan nadink tot watter mate het ons God eenkant toe
gestoot in ons lewens en dat ons, ons teenoor God moet verootmoedig en erken
dat dit net Hy is wat ons kan help.
In verse 14-16 word die Psalmdigter se gebed nog dringender
in sy noodkreet tot God. Ons hoor ook hoe hy die Here smeek om hom te verlos
van die wat hom spot en dat hulle, hul eie elende moet raaksien. Die mense wat Christene
so spot oor ons kerkgeboue wat nou weer mag oopmaak besef nie hoe groot hulle
eintlike nood is nie omdat hulle God nie ken nie. Die mens se grootste nood is
om van God vervreem te wees.
In verse 17 – 18 hoor ons dat die Psalmdigter diep onder
die indruk is dat hy hulpeloos en arm is. Hy weet dat hulp en redding net van God
af kan kom. Daarom sluit hy sy gebed af met die dringende oproep: “U is my hulp en my redder; my God, moet tog
nie talm nie!” en daarmee erken hy, dat hy net van God afhanklik is en dat dit
net God is wat hom kan red.
Ons hoor in hierdie Psalm die belydenis van 'n verloste
mens wat 'n kind van God is en wat sy genade ervaar het.
Wat sê Psalm 40 vandag vir ons wat midde in hierdie
pandemie en al die gepaargaande chaos rondom dit staan?
Die Psalm herinner ons aan die geskiedenis van ons
verlossing wat ons het. Dink na aan God se genade in jou lewe. Dit is net op
grond van God se genade dat jy nou is waar jy is.
Daarom vra die Here ook vir ons met hierdie Psalm: Is jy
dankbaar? Vertel jy vir ander van God se genade in jou lewe? Vertel jy vir
ander wat Jesus se verlossing vir jou beteken? Is jy 'n positiewe invloed vir
jou broers en suster in die gemeente en ook op die breër gemeenskap waarin God
jou geplaas het? Is jy gehoorsaam aan God se liefdesgebod?
Dit sou liefdeloos wees om nie die volgende te sê nie: As
jy nie 'n volgeling van Jesus Christus is nie, het hierdie psalm geen hoop en
troos vir jou nie! Dit beteken nie dat jy in 'n hopelose situasie nie. Jy kan
die hoop en troos van Psalm 40 jou eie maak deur in Jesus te glo as jou enigste
Verlosser en Saligmaker.
Vir diegene van ons wat reeds God se verlossing in Jesus
Christus ervaar het, herinner Psalm 40 jou daaraan dat jy Hom nodig het en dat
dit net Hy is wat jou in jou donker oomblikke kan help.
Moenie wag nie. Neem jou toevlug tot God.
Abba! – Vader.
Amen