23 Augustus 2026

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

 

Psalm 42 & 43

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.

Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my lied. 

Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die dieptes van ons menswees. 

Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed. 

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  In hierdie Psalm sien ons hoe...

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens hierdie Psalm lees vind jy jouself so maklik in die gemoed van hierdie digter. 

Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?

Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42 (6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm gemaak. 

Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in geloofsvertroue en sing: “Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig van die Koragiete” is.  Die Koragiete was die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het.  Baie jare later sou Dawid die familie van Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41).  Hierdie diens het hulle tot lank na die ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).

As sangleier moes die digter dus baie keer die volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in verlustig.

Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot ellende begin.  Want hy is skierlik vêr van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.

Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.

Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)

Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle lewe. 

Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel van: God is so bitter vêr. 

ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te sê het nie;

ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie vier mure nie;

ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak. 

En dan die verlange, die terug dink na dae toe God so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.

En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die digter.  Die gevolg: al sy vyande spot hom en sê:  En waar is jou God nou?” (42:11).

Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God hom nie meer help nie?

My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”

Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?

God is so vêr,   Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling.   Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van ons spring dit vry nie.

Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.

Maar vir die gelowige? 

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die moeilikste omstandighede, al is daar baie rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n lewende hoop!

Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God

Hoop op God” moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van onsekerheid in. 

Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te wees. Om seker te wees van die dinge waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?

In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op dit wat God in die verlede gedoen het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom, weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk” (v. 9) . 

As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot hiertoe by ons gewees. 

Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe.  "Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God”  (v. 3-4).  Die digter het die sekerheid gehad dat God hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.

Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak.  Christus wat self gesê het: Ek is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12)

As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid, kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.

Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het nie.

Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).  Aan die kruis was Christus deur God verlaat.  Daardeur het Hy vir ons die weg gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in ewigheid in my Vader se woning sal wees

Die hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het hy gesien dat Hy weer by God sal wees.

Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n vaste sekerheid wat reeds gebeur het.

Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig by God sal wees.

Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)

Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en terugslae my laat dink dat God my vergeet het:

Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop

Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God

O my siel, waarom so onrustig?

       En wat buig jy jou in my?

       Vertrou op God, in Hom weer rustig!

       In sy lof sal ek my verlustig

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God! 

Amen


16 Augustus 2026

Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?

 

1 Joh. 4 v 7 tot 21  Teksverse 1 Joh. 4 v 9 - 10

Inleiding

Wat is werklike liefde? Liefde is ʼn abstrakte begrip en dit is nie maklik om dit te definieer nie. Die woordeboek gee ʼn definisie maar nog steeds nie ʼn bevredigende verduideliking nie.

Om werklik te weet wat liefde beteken, is dit nodig om na die bron van liefde te gaan.

In 1 Joh. 4 v 8 hoor ons

“Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde..”

Om dus werklik te verstaan wat liefde is, is dit nodig om God te leer ken. Ons kan God op twee maniere leer ken. Eerstens deur die grootsheid van die natuur is dit duidelik dat daar ʼn God is wat alles geskep het.

Tweedens leer ons God persoonlik ken deur sy Woord. Derhalwe om ʼn antwoord te kry op ons vraag: “Wat is werklike liefde en hoe lyk dit?” is dit nodig dat ons, ons antwoorde in die Bybel soek.

Dwarsdeur die Bybel hoor ons van God en liefde. Vandag staan ons stil by 1 Joh. 4 v 7 tot 21 om ʼn beter begrip te kry van wat liefde is en hoe dit lyk.

Wat is liefde?

In 1 Joh. 4 v 10 hoor ons wat werklike liefde is:

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.

Weereens bevestig die Bybel dat God die Bron van liefde is, want liefde begin nie by ons nie, dit begin by God.

En dan hoor ons wat liefde is. Ten diepste het liefde te doen met ʼn verhouding. Die verhouding tussen God en die mens en dan die onderlinge verhouding tussen mense.

Ons hoor in die vers dat versoening nodig is omdat sonde die verhouding met God gebreek het. Ten diepste is sonde die mens se rebelsheid wat weier om God se gesag te aanvaar.

In 1 Joh. 4 v 9 hoor ons:

Híerin is God se liefde vir ons geopenbaar: sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur sodat ons deur Hom die lewe kan hê.

Hier hoor ons dat die gevolg van die mens se sondige rebelse opstand teenoor God, die dood is. God wys sy liefde deur sy Seun na die wêreld toe te stuur om die straf van die dood op Hom te neem. Jesus het die dood wat ons verdien op Homself geneem.

Omdat Jesus God is, is Hy magtiger as die dood. Jesus het die dood oorwin deurdat die Heilige Gees Hom uit die dood uit opgewek het. Jesus het die dood gevat en in die plek daarvan lewe gegee.

In 1 Joh. 4:16b hoor ons hoekom God die opoffering gemaak het:

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Omdat God die mens liefhet, het Hy van sy kant af die gebreekte verhouding wat die sonde veroorsaak het, reggemaak.

In 1 Joh. 4 v 13 hoor ons dat die Heilige Gees vir ons God se liefde wys

Hiéraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee.

en in 1 Joh. 4 v 15 & 16 hoor ons dat ons deur geloof in Jesus deel het in die verhouding wat God uit liefde herstel het.

Wie bely dat Jesus die Seun van God is – God bly in hom en hy in God. En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.

God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.

Dit is wat ware liefde is, God wat van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

Hierdie waarheid word op verskillende maniere in die Bybel vir ons beskryf. In Wese kom dit van God af. God wat Homself voorgeneem het om in ’n verhouding met ons saam te leef en dat Hy dit in stand sal hou. Sy verbond wat Hy met die mens gesluit het. Hy sal vir ons ’n God wees en ons moet Hom dien as ons God.

Vandag wys die Here vir ons d.m.v. die sakrament van die Heilige Nagmaal met die tekens van brood en wyn hoe Hy van sy kant af die gebreekte verhouding tussen God en mens herstel het.

Hoe lyk ware liefde?

Ons hoor in 1 Joh. 4 v 7, 11 en 21 ons behoort mekaar lief te hê.

1 Joh. 4 v 7

Geliefdes, ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is 'n kind van God en ken God.

1 Joh. 4 v 11

Geliefdes, as dit is hoe God sy liefde aan ons bewys het, behoort ons mekaar ook lief te hê.

1 Joh. 4 v 21

En hierdie gebod het ons van Hom gekry: Wie vir God liefhet, moet ook sy broer liefhê.

Die liefde wat God vir ons gee behoort ook in ons lewens sigbaar te wees.

Maar hoe lyk die liefde wat in ons lewens sigbaar behoort te wees?

In 1 Joh. 4 v 9 & 10 hoor ons, liefde is opoffering. Nie net ʼn klein opoffering nie, nee dis ʼn opoffering wat alles vra. Jesus het sy lewe geoffer. Wanneer die Here dus vir ons sê dat ons mekaar behoort lief te hê, sê Hy vir ons dat ons opofferings vir mekaar moet maak.

Ons behoort mekaar se belange op die hart te dra en nie toe te laat dat ons selfsug keer dat ons vir mekaar omgee nie.

In 1 Joh. 4 v 17 & 18 hoor ons dat vrees vir God se straf en oordeel nie deel is van God se liefde nie.

Hiérin het die liefde sy doel volkome met ons bereik: ons het niks te vrees vir die oordeelsdag nie, want in hierdie wêreld lewe ons reeds deur die liefde net soos Jesus. Waar liefde is, is daar geen vrees nie, maar volmaakte liefde verdryf vrees, want vrees verwag straf, en wie nog vrees, het nie volmaakte liefde nie.

God se liefde verseker jou dat jy nie meer hoef bang te wees vir die doodsheid van die sonde nie, want deur sy liefde het God vir jou lewe gegee.

Liefde vra opoffering en werklike liefde beteken dat jy daardie opoffering doen omdat jy van jou kant af dit wil doen en nie omdat jy deur vrees gedwing word nie.

Geliefdes ons sien vandag in die Nagmaal hoe lyk God se liefde. Maak deur geloof sy liefde deel van jou lewe en leef God se liefde deur mekaar lief te hê.

Amen.


09 Augustus 2026

God se Regverdigheid vereis dat sonde gestraf moet word en daarom het ons ʼn Redder nodig

 

Rom. 2 v 1 tot 16 & 3 v 10 tot 12 & Heidelbergse Kategismus Sondag 4

Teksvers Rom. 2v16

Hoe kan ’n liefdevolle God mense in die hel laat brand? Dit is seker een van die mees algemeenste vrae wat ongelowiges oor God het? Dit is egter nie net ongelowiges wat hierdie vraag vra nie! Daar is dikwels Christene wat dit ook vra. Geliefdes, het u nie ook al gewonder of God nie te hard en onliefdevol is nie? Ons sal dit dalk nie maklik erken nie, maar soms brand die vraag diep in my binneste: “Hoe kan ’n liefdevolle God so wreed wees om mense vir ewig in die verdoemenis in te stuur?”

Dit is die vraag van ’n mens wat in die beskuldigingsbank voor God staan. Wanneer ons na die wet van God luister, dan besef ons opnuut weer hoe skuldig ons voor God staan. Die wet van God haal al my oortredings uit en stal dit in die openbaar uit vir almal om te sien. Daar sien ons wat is die ware aard van die mens is soos die Here ook duidelik in Rom. 3v10 tot 12 vir ons sê:

10Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.

11Daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.

12“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.

 

Wanneer ek die aantyging hoor, dan help dit nie dat ek om my rondkyk nie. Dit is teenoor my wat hierdie aantyging gemaak word en getrou aan my menslike natuur probeer ek alles in my vermoë om van hierdie aantyging af weg te kom. My eerste reaksie is om alles te ontken. Dit was nie ek nie en dan probeer ek die skuld op iemand anders pak. As ek die aandag op iemand anders se skuld kan vestig dan staan ek nie meer in die kollig nie. Kyk tog net hoe sondig is die mense om my! Ken ons dit nie geliefdes? Hoe dikwels wys ons nie die vinger na ander nie! Die Here sien egter dadelik deur hierdie plan van ons en daarom sê Hy baie duidelik vir ons in Rom. 2v1:

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat ’n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor ’n ander ’n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.

 

Daar is geen wegkomkans voor God nie, maar ten spyte daarvan is my planne nog nie op nie. Ek is miskien wel in ’n hoek en ek moet erken dat ek skuldig staan voor God, maar ek het reeds ’n ander plan! Ek is nou wel skuldig maar dit is nie my skuld nie! Ek kan dit nie help nie!

God weet tog dat ek nie meer aan sy wet gehoorsaam kan wees nie. Hy sê dan self so in Rom. 7v21 tot 23 !

21So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte. 22Diep in my wese vind ek vreugde in die wet van God, 23maar ek vind in my doen en late ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my gees. Dit maak my ’n gevangene van die wet van die sonde wat in my doen en late aan die werk is.

Die gevolgtrekking is dus : “So is dit dus met my gesteld: met my gees dien ek die wet van God, maar in my doen en late die wet van die sonde.” (vgl. Rom. 7v24b)

 

As God dan weet dat ek nie die wet kan nakom nie, is Hy dan nie onregverdig teenoor my as Hy van iets eis wat ek nie kan doen? Ek is nog steeds besig om die skuld van my af weg te skuif. Die beste strategie van verdediging is om aan te val. Nou staan ek nie meer in die beskuldigingsbank nie. Ek het mooitjies plekke omgeruil. Nou is ek die regter en God die beskuldigde! Hierdie strategie werk egter ook nie want die Here sê ook duidelik vir ons in Rom. 2v2

Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel.

 

Waarom word ons nog steeds skuldig bevind as ons in elk geval nie die wet kan onderhou nie? As ’n pa vir sy kind ’n som geld gee om sy klasgelde te betaal en die kind gaan dobbel dit uit, moet die kind nou van sy verpligting onthef word om die klasgelde te betaal? God het die mens so geskape dat die mens in staat was om aan sy wet gehoorsaam te wees. Die mens kon al die bepalings van die wet nakom, maar as gevolg van sy eie moedswillige ongehoorsaamheid het die mens in die verknorsing beland dat hy nie meer die wet kan nakom nie.

 

As hierdie plan nie werk nie dan het ek ’n volgende verskoning. Kan God dan nie maar my skuld oorsien nie? Nee geliefdes, die Here sê baie duidelik vir ons in Rom. 2v5 & 6 dat sonde gestraf moet word:

5Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. 6Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade

 

As ons vra dat God maar die sonde moet oorsien, is dit dieselfde as om te vra dat ’n regter ’n moordenaar moet vry spreek ten spyte daarvan dat daardie moordenaar absoluut skuldig is en ook geen berou toon oor sy verkeerde lewe nie. Inteendeel die moordenaar is nogal trots daarop. Nou vra ons die regter, ag sien hom maar oor. Moenie sy oortreding straf nie! Dit kan tog nie geliefdes. As God nie die sonde straf nie, dan is Hy ook nie regverdig nie.

 

As daar alreeds by ons as sondige mense so sterk gevoel is dat geregtigheid moet geskied hoeveel te meer nie by God nie. Dit is onmoontlik vir God om maar net ander pad te kyk en die sonde oor te sien. Dit is in absolute stryd met die Heiligheid van God. Sonde moet gestraf word!

God se heiligheid kan nie met sonde besoedel word nie! Daarom sê die Here ook inderdaad in Gal 3v10 vir ons “Daar rus ’n vloek op elkeen wat nie stiptelik alles doen wat in die boek van die wet geskrywe staan nie”

 

As God dan nie die sonde kan oorsien nie, dan speel ons die volgende troefkaart. Is God dan nie ook barmhartig nie? M.a.w. het God dan geen meegevoel nie? Ja, God het absolute meegevoel met ons. In Rom. 2v4 sê Hy tog vir ons:

God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld!

Dit neem egter niks van God se regverdigheid weg nie. God is barmhartig, maar is terselfdertyd ook regverdig en daarom bly sy oordeel steeds staan. Sonde moet gestraf word. Dit moet met die dood gestraf word soos Hy inderdaad vir ons in Rom. 2v7 tot 9 sê:

7aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; 8maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn. 9Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood.

 

Hier staan ek dus nog steeds in die beskuldigingsbank! Die hofsaak is verby en ten spyte van my beste verdediging is daar geen verweer nie. Ek is skuldig, tot die dood toe skuldig! Al wat oorbly is dat die vonnis gevel moet word. Kop onderstebo staan ek moedeloos en wag. En dan kom die ongelooflike uitspraak van die regter, ONSKULDIG! Hoe is dit moontlik dat ek sondaarmens, so dodelik skuldig, tog onskuldig voor God staan? In Rom. 2 v 16 verduidelik God vir ons hoe dit werk:

Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

 

Die sleutel hier is “deur Christus Jesus” Wanneer God na my kyk om sy oordeel uit te spreek kyk Hy deur ’n lens, naamlik Jesus Christus aan die kruis. Jesus Christus het al my sondes op Homself geneem en Hy het die straf daarvoor in my plek aan die kruis gedra. Die evangelie wat hier verkondig word is die goeie nuus dat Jesus Christus in my plek gestraf is en daarom staan ek voor God asof ek nooit enige sonde gedoen het nie. God weet dat ek geen verweer het teen die aanklagte teen my nie soos Hy ook baie duidelik in sy ewige Woord aantoon. Daarom kom Hyself in die persoon van Jesus Christus tot my redding en Hy kom dra die straf in my plek. Hierdie troos is egter net vir hulle beskore wat in geloof vashou aan die Jesus Christus. Diegene wat egter hardnekkig hulle rug op Christus draai sal die verskriklike vonnis moet aanhoor. SKULDIG, jy kry die doodstraf. Hou dus in geloof vas aan die wete dat God Deur Jesus Christus regverdig en vol medelye is wanneer Hy sonde aan die kruis straf.

Amen

Sondag 4

9  Vraag:  Doen God die mens dan nie onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?

Antwoord:  Nee (a), want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen (b).  Maar die mens het homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel (c) en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof.

(a) Ef 4:24.  (b) Gen 3:13;  1 Tim 2:13, 14.  (c) Gen 3:6;  Rom 5:12.

10  Vraag:  Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?

Antwoord:  Nee, glad nie;  inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen:  Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met 'n regverdige oordeel straf (b).  Hy het immers gesê:  Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (c).

(a) Gen 2:17;  Rom 5:12.  (b) Ps 50:21;  5:6;  Nah 1:2;  Eks 20:5;  34:7;  Rom 1:18;  Ef 5:6.  (c) Deut 27:26;  Gal 3:10.

11  Vraag:  Is God dan nie ook barmhartig nie? (m.a.w. het God dan geen meegevoel nie?)

Antwoord:  God is wel barmhartig (a);  maar Hy is ook regverdig (b).  Daarom eis sy geregtigheid dat die sonde wat teen die allerhoogste majesteit van God gedoen is;  ook met die swaarste straf gestraf moet word - dit is met die ewige straf aan liggaam en siel.

(a) Eks 34:6, 7;  20:6.  (b) Ps 7:10;  Eks 20:5;  23:7;  34:7;  Ps 5:5, 6;  Nah 1:2, 3.