Wys tans plasings met die etiket Psalm 43. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Psalm 43. Wys alle plasings

23 Augustus 2026

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

 

Psalm 42 & 43

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

Die Psalms is een van die kosbaarste skatte wat God onder leiding van sy Gees vir ons laat neerskryf het. Deur hierdie bundel liedere raak God die hart van elke gelowige oor al die eeue aan.

Elke Psalm raak my persoonlik. Daar is tye wat ek saam met die Psalmdigter by God smeek om hulp. Ander tye wat ek voor God my skuld moet bely. Dan is daar ook tye waar ek voor God kla en worstel met die hoekoms en die waaroms van die lewe, maar daar is ook tye waar ek vir God dankie sê vir ryke seëninge wat Hy aan my gegee het en waar ek Hom groot maak in my lied. 

Die Psalmboek gaan oor al die wydtes en die dieptes van ons menswees. 

Veral ook hier in Psalm 42-43 beleef ons die verskillende uiterstes van die gelowige se gemoed. 

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!  In hierdie Psalm sien ons hoe...

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Diep in ‘n gat met al my probleme en al my twyfel tot bo op ‘n berg waar my geloofsvertroue lofsing tot Gods eer. Deur hierdie hele Psalm wissel ons tussen hierdie twee uiterstes: twyfel en hoop. Wanneer ‘n mens hierdie Psalm lees vind jy jouself so maklik in die gemoed van hierdie digter. 

Hoe baie keer trek ons omstandighede ons so diep in ‘n gat van twyfel in. Net om die volgende oomblik tot die besef te kom van God se sorg, sy trou en sy liefde vir my. Moet ons elkeen nie eerlik bely dat die stryd tussen twyfel en hoop so deel van my eie lewe is nie?

Psalm 42 en 43 moet eintlik een Psalm wees. Die opbou van hierdie twee psalms vorm ‘n lied met ‘n refrein wat twee keer in Psalm 42 (6+12) en eenkeer in Psalm 43 (5) voorkom. Tog word daar reeds al in die oudste geskrifte tot ons beskikking ‘n onderskeid tussen hierdie twee psalm gemaak. 

Drie keer bevind die digter hom in die laagtes van vertwyfeling en sing Hy: “Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so?” En drie keer styg hy uit in geloofsvertroue en sing: “Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die eerste vers lees ons dat hierdie “’n Gedig van die Koragiete” is.  Die Koragiete was die nageslag van Korag = ‘n Leviet = wat in die woestyn teen Moses in opstand gekom het (Num. 16:1,2,35) en wat met sy lewe daarvoor betaal het.  Baie jare later sou Dawid die familie van Korag opdrag gegee het om, wanneer die tempel deur Salomo opgerig is, hulle die leiding by die tempelsang moes neem (1 Kron. 15:17; 16:41).  Hierdie diens het hulle tot lank na die ballingskap verrig (2 Kron. 35:15).

As sangleier moes die digter dus baie keer die volk na die tempel toe begelei het terwyl hy voorgegaan het in die lofprysing van God om daar in die tempel in die heerlike teenwoordigheid van God te wees. Dit was iets wat die digter baie goed geken het en waarin hy hom gereeld kon in verlustig.

Maar dit is nou juis hier waar die digter se groot ellende begin.  Want hy is skierlik vêr van die tempel af weg. Heel moontlik was hy een van die ballinge wat gedwing was om vêr van die tempel in die vreemde tussen heidene te gaan woon.

Dit is hier in die vreemde waar hy terugdink aan die goeie ou dae toe hy saam met ‘n skare feesgangers na God toe kon gaan.

Dit is hier in die vreemde dat sy verlange na God en sy tempel soos ‘n swaard deur sy siel steek: “2Soos ’n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God! 3My siel dors na God, na die lewende God; wanneer sal ek ingaan en voor die aangesig van God verskyn? 4My trane is my spys dag en nag, omdat hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?” (OAV)

Om iets te verstaan van hierdie digter se ellende moet ons weet wat die tempel vir die Israeliete in die OT beteken het. Die tempel was die plek waar die verbondsark gestaan het = die tempel was die plek wat God self met sy heilige teenwoordigheid gevul het (vgl. 2 Kron. 5). Om in die tempel te wees was om in die teenwoordigheid van die lewende God self te wees, want by Hom is die lewe. Net soos ‘n wildsbok nie sonder water kan lewe nie, is die digter weg van God af sterwend en smag Hy na die Bron van alle lewe. 

Ken elkeen van ons nie ook maar daardie gevoel van: God is so bitter vêr. 

ð Ek lees Bybel, maar dit is asof God niks vir my te sê het nie;

ð Ek bid maar my gebede gaan nie verder as hierdie vier mure nie;

ð Ek gaan kerk toe, maar daar is net te veel ander dinge in my gedagtes en in my lewe ..... wat God so bitter vêr maak. 

En dan die verlange, die terug dink na dae toe God so naby aan my was. Dit laat ‘n mens worstelend die vraag vra: Hoekom voel God so vêr? Ek verlang daarna dat Hy weer naby my moet wees.

En asof dit nie genoeg is nie kom die sorge van die lewe en net soos golwe waar die een die ander volg, tref die terugslae die digter.  Die gevolg: al sy vyande spot hom en sê:  En waar is jou God nou?” (42:11).

Die heiden nasies van destyds wat om Israel gewoon het, was deeglik bewus van die groot dade wat God onder sy volk verrig het. Ook was dit iets waaroor die Israeliete nie stil gebly net nie. Gereeld het hulle getuig van die groot wonders wat God in hulle geskiedenis gedoen het. Met watter genoegdoening moes hulle nie die digter gespot het, toe dit lyk asof God hom nie meer help nie?

My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?”

Wanneer alles begin verkeerd loop, my lewe, my huwelik, my werk, my finansies plus nog die gevoel dat God vêr van my is, dan hoor ons die spotlag van die duiwel hier agter ons: “En waar is jou God nou?” Het Hy dan nie belowe dat Hy altyd by jou sal wees nie? Het Hy jou nie dalk vergeet nie?

God is so vêr,   Hy het my vergeet..... die bitter vertwyfeling.   Wie ken dit nie? Dae en nagte se worsteling met probleme. Dae en nagte se vertwyfeling. Dit is so eg menslik en niemand van ons spring dit vry nie.

Weet u geliefdes, vir die ongelowige eindig die stryd tussen twyfel en hoop altyd weer by twyfel.

Maar vir die gelowige? 

Die stryd tussen twyfel en hoop eindig in ‘n lofsang tot God

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God!

In die moeilikste omstandighede, al is daar baie rede vir vertwyfeling en baie rede om te kerm is daar ‘n groter rede om dit NIE te doen nie, want ons het ‘n lewende hoop!

Ons teksvers stel dit: “Vertrou op God” = OF soos die OAV dit stel: “Hoop op God

Hoop op God” moet ons nie verwar met die woordjie hoop wat ons elke dag gebruik nie. As ek hoop dat my gunsteling rugbyspan môre sy wedstryd gaan wen, dan is daar ‘n goeie kans dat dit nie gaan gebeur nie. Ons idee van hoop hou ‘n groot mate van onsekerheid in. 

Daarteenoor beteken Bybelse hoop om oortuig te wees. Om seker te wees van die dinge waarop ek hoop (Heb. 11:1). Om seker te wees dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk”. Dat ek so seker is van God se trou dat ek selfs in die donkerste nag kan sing: Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!

Maar wat is dit wat hierdie Koragiet soveel sekerheid en soveel hoop vir die toekoms gegee het?

In Psalm 42 bou die digter sy geloofsverwagting op dit wat God in die verlede gedoen het. Hy dink terug aan al die goedheid van God wat hy daar by die tempel in God se teenwoordigheid beleef het (v.5) . Maar ook op dit wat God nou in die hede doen. Al slaan die storms om hom, weet Hy dat “die Here weer op ‘n dag sy trou sal laat blyk” (v. 9) . 

As ons terugkyk op ons verlede, as ons ook nou om ons rondkyk midde watter omstandighede ek my ook al mag bevind, glo ek dat elkeen van ons genoeg rede het om dit uit te roep: “Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. Hy is my helper en my God!” Al was dit nie altyd maklik nie, was God nog altyd tot hiertoe by ons gewees. 

Maar in Psalm 43 kyk die digter ook die toekoms in. Hy sien dat God hom weer gaan terug lei na Hom toe.  "Stuur u lig en u waarheid dat dié my lei en my bring na u heilige berg, na u woning! Laat my ingaan na die altaar van God”  (v. 3-4).  Die digter het die sekerheid gehad dat God hom weer terug sal laat gaan na Jerusalem.

Onder leiding van die Heilige Gees, sien die digter reeds die Lig wat hom gaan terug lei na God toe en hoor hy reeds die waarheid van verlossing. Hy sien ons enigste hoop, Jesus Christus raak.  Christus wat self gesê het: Ek is die Lig vir die wêreld (Joh. 8:12)

As ek glo dat Jesus Christus waarlik mens geword het, gekruisig is en opgestaan het uit die dood en dat Hy nou aan die regterhand van God sit en dat ek by sy wederkoms mede erfgenaam gaan wees van ‘n ewige heerlikheid, kan ek ook nou deur sy oë na my lewe kyk.

Al die moeilikhede wat my elke dag soos groot golwe tref is niks in vergelyking met die ewige heerlikheid wat Christus aan my beloof het nie.

Jesus het gesê: “Ek is die Weg, die Waarheid en die Lewe” (Joh. 14:6).  Aan die kruis was Christus deur God verlaat.  Daardeur het Hy vir ons die weg gebaan na God toe sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Hy gee vir ons die ewige lewe en dit beteken dat ons nou reeds elke dag deur die geloof by Hom kan ingaan en in sy teenwoordigheid kan wees. ‘n Teenwoordigheid wat met Christus se wederkoms weer volmaak sal wees wanneer ek veilig tot in ewigheid in my Vader se woning sal wees

Die hoop van die Psalm digter het vir hom in die toekoms gelê. In die toekoms het hy gesien dat Hy weer by God sal wees.

Vir ons is Christus se daad van verlossing ‘n vaste sekerheid wat reeds gebeur het.

Soveel te meer kan ons die toekoms in kyk met ‘n vaste hoop op Christus se wederkoms en kan ons uitsien na die dag wanneer ons elkeen veilig by God sal wees.

Soveel te meer kan ons ons oë op Christus, op God gerig hou “...die God oor wie ek wil jubel en juig, ....dat ek U kan loof met die lier, o God, my God!” (43:4)

Geliefdes, wanneer dit voel asof ek so bitter vêr van God is, as die lewens storms dreig om my te oorweldig, as my teëspoed en terugslae my laat dink dat God my vergeet het:

Kyk op, kyk na Christus ons enigste hoop

Want dan, ja dan alleen kan die stryd tussen twyfel en hoop wat ook in my binneste woed eindig in ‘n lofsang tot God

O my siel, waarom so onrustig?

       En wat buig jy jou in my?

       Vertrou op God, in Hom weer rustig!

       In sy lof sal ek my verlustig

Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God!  Ja, ek sal weer vir Hom ’n loflied sing.  Hy is my helper en my God! 

Amen