Teks: Mat. 9:35-38 & 1 Tim. 3:1-13 Teksverse Mat. 9:37-38
Toe Jesus die menigtes sien, het Hy hulle
innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie 'n
wagter het nie.
Jesus sien die skare wat geestelik mishandel,
uitgemergel en gestroop is van hul vrede. Die godsdiens van hulle tyd het nie
vir die mense rus gebring nie. Dit het hulle geestelik afgemat en uitgeput omdat
die godsdienstige leiers van hulle tyd ’n onmoontlike las van mensgemaakte reëls
en wette op hulle skouers gelaai het.
Daardie toestand van die samelewing so
bietjie meer as 2000 jaar gelede beskryf maar ook die samelewing waarin ons
vandag leef. Baie mense beleef dat die kerk ’n swaar las op hulle skouers plaas
en draai daarom weg van die kerk af.
Dit verlig egter nie hul nood nie.
Inteendeel, dit maak hulle nood net soveel groter en daarom is hulle inderdaad moeg
en hulpeloos soos skape wat nie 'n wagter het nie.
Wat is Jesus se reaksie teenoor hierdie mense
wat wegdraai en verlore raak? Hy veroordeel hulle nie. Nee, Hy kry hulle innig
jammer. Ons sien hier die hartklop van God teenoor 'n verlore mensdom.
Jesus se emosie is nie simpatie nie. Dit is
baie meer as om net die nood raak te sien. Dit is ’n diepe empatie waar Hy self
ook die pyn en verlorenheid van die mensdom aan sy lyf voel. Hy deel in die
hartseer, pyn en verlorenheid van die mensdom.
Die diepste oorsaak van die mensdom se nood
is nie fisies nie. Jesus het reeds die siektes en kwale genees van die mense
wat daar bymekaar was. Die grootste nood van die mensdom is omdat hulle
verhouding met God beskadig is en dit is hierdie verlorenheid van die mensdom
wat Jesus in sy wese aanvoel.
Jesus het nie net die verlorenheid van die
mensdom raakgesien nie, Hy het daadwerklik iets aan die saak gedoen! Ons hoor
in Joh. 10:17-18
“Die Vader het My
lief omdat Ek my lewe aflê om dit weer op te neem. Niemand neem dit van My af
nie, maar Ek lê dit uit my eie af. Ek het die volmag om dit af te lê, en Ek het
die volmag om dit weer op te neem. Dit is die opdrag wat Ek van my Vader
ontvang het.”
Jesus het sy lewe afgelê sodat verlore mense
weer met God versoen kan word.
Vir die verlore mensdom om weer met God
versoen te word, is dit nodig dat hulle die goeie nuus van Jesus Christus moet
hoor en daarom sê Jesus in
Mat. 9:37 en 38
“Die oes is groot,
maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbeiders
uit te stuur vir sy oes.”
Dit is die taak van die kerk van ons Here om
die evangelie uit te dra en binne die kerk van die Here is daar die
verskillende ampte, naamlik die amp van gelowiges, die diaken amp en die
ouderling amp. Die predikant is ook maar net ’n ouderling wat preek gawes het.
Ons staan vandag stil by die amp van
ouderling en diaken maar dit wat ons hier hoor is net so van toepassing op die
amp van die gelowige.
In 1 Tim. 3:1-7 sê die Here vir ons wat die
karakter eienskappe van ’n ouderling is. ’n Ouderling moet onberispelik wees. Met
ander woorde sy gedrag moet van so ’n aard wees dat daar geen fout gevind daarin
kan word nie.
Verder moet hy getrou aan sy vrou wees.
Letterlik staan daar dat hy 'n man met net een vrou moet wees. Met ander woorde
hy moenie met ander vrouens rond flankeer nie.
Hy moet ook nugter wees. D.w.s. hy moet
verstandig en beskaafd wees. Sy oordeelsvermoë moet helder wees sodat hy moeilike
besluite kan neem sonder dat sy denke deur emosies, vooroordeel of impulse
verblind word.
Hy moet emosioneel stabiel wees, d.w.s Hy
reageer nie roekeloos, drasties of uit woede nie, maar behou sy kalmte onder
druk.
Hy moet geestelik waaksaam wees sodat hy
gevare en dwaalleer vroegtydig kan raak sien en hy laat hom nie deur elke nuwe
wind van leerstelling meesleur nie.
Dus moet hy innerlik self gedissiplineerd wees
en uiterlik helder en standvastig in sy optrede wees.
Hy moet ook bekwaam wees om te onderrig. Die
ouderling amp is ’n amp van kerkregering en daarom moet hy homself in die Woord
verdiep sodat hy met die Woord kan regeer en ook versorg.
Verder moet hy nie aan drank verslaaf of 'n
rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie.
Indien ’n ouderling nie sy huis goed regeer
nie sal hy kwalik in staat wees om die regeer amp in die kerk uit te oefen.
Om bogenoemde te kan doen, moet hy nie ’n nuwe
gelowige wees nie omdat mens groei in die geloof. D.w.s hy moet darem al ’n volwasse
gelowige wees.
In 1 Tim. 3:8-12 hoor ons ook wat die
eienskappe van ’n diaken moet wees.
In die kerk vervul diakens 'n baie praktiese
rol soos om barmhartigheidswerk te doen, hulpbronne aan wese en weduwees uit te
deel en gemeentelike sake te hanteer.
Daarom moet diakens persone van goeie
karakter wees. Hulle moet hul geloof en roeping ernstig opneem en is daarom nie
oppervlakkig, ligsinnig of roekeloos in hul optrede nie.
Diakens moet betroubaar in praktiese sake
wees, omdat hulle met mense se nood en met die gemeente se finansies werk. Hulle
integriteit moet bo alle verdenking wees sodat die gemeenskap hulle kan
vertrou.
Verder moet hulle ook die Evangelie se eer
beskerm en daarom moet hulle in hul lewenswandel eer aan God en die gemeente
bring en nie op 'n manier optree wat skande of diskrediet oor die kerk bring
nie.
Hulle moenie uit twee monde praat nie. D.w.s ’n
diaken moenie iets agter ’n mens se rug sê wat hulle nie voor daardie persoon
sal sê nie. Hulle verander nie hul standpunt of storie net om die gehoor tevrede
te stel nie.
Hulle moet betroubaar wees ten opsigte van vertroulike
inligting. Met ander woorde , hulle moenie inligting wat aan hulle toevertrou
is gebruik om verdeeldheid of praatjies in die gemeente te saai nie. Daar mag
nooit ’n versteekte agenda of manipulasie in hulle woorde wees nie.
Verder moet hulle ook nie aan drank verslaaf
of op oneerlike winsbejag uit wees nie en moet hulle in alle opregtheid aan die
geopenbaarde waarheid van die geloof vashou.
Diakens moet getrou wees in hulle huwelike en
hulle huishoudings moet ook goed bestuur word.
Geliefdes, as ons so na die vereistes van ouderlinge
en diakens luister, en terloops, dit is ook maar die vereistes wat vir elke
gelowige gestel is, kan mens dalk sê: “Sjoe! Hoe kry mens dit reg?
In my jong dae toe ek nog ’n diaken was het
een van die manne op ’n diakonie kongres gesê: “Dis ’n TALL ORDER!”
Die vraag wat voor elkeen van ons voete lê vanoggend,
ouderlinge, diakens maar ook aan elkeen wat in die amp van gelowige staan is: “Waar
staan ek ten opsigte van dit wat die Here van ons vra? Hoe kry ek dit reg?”
Wat het Jesus gesê direk nadat Hy genoem het hoe
groot die oes is en hoe min die arbeiders? Bid! Bid in afhanklikheid tot God
vir die gawes wat Hy vra.
In Titus 3:10 kry ons so bietjie verder
duidelikheid:
'Hy het ons verlos,
nie op grond van iets wat ons vir ons vryspraak gedoen het nie, maar op grond
van sy eie ontferming. Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde
afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. '
Wanneer ons luister na die gawes wat benodig
word is dit nie iets wat ons doen nie. Op ons eie is ons nie in staat om dit te
doen nie! Op die uiteinde is dit nie wat ons doen nie, maar wat God in ons deur
die Heilige Gees doen.
Daarom is dit so belangrik vir elke ouderling
en diaken en daarmee saam ook elkeen van ons wat in die amp van gelowige staan om
naby God te leef in afhanklikheid van die Heilige Gees wat ons dra in die
geloof.
Geliefdes, Jesus het gesê ons moet bid.
Waarvoor moet ons bid? In Luk. 11:13 kry ons die antwoord:
As julle wat sleg is,
dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog
baie meer! Hy sal die Heilige Gees gee vir dié wat vra.”
Vra vir die leiding van die Heilige Gees in
die uitoefening van julle amp (ouderling, diaken en ook vir die amp van
gelowige). Moenie dit in eie krag probeer doen nie.
Geliefdes, die oes is groot en die arbeiders
min. Laat ons as kerk van ons Here aan die werk spring om die oes in te bring.
Amen

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking