18 Oktober 2026

Die wonder van God se genade - Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.

Skrif: 1 Joh. 2v28 – 3v9

Teksverse Jes. 43 v 1; Ps. 139 v 14 Joh. 1 v 12 & 1 Joh. 3 v 1
 

Hoekom maak die Here soveel moeite met ons? Hoekom wil Hy hê dat ek my lewenspad saam met Hom moet wandel?

Ons raak so vasgevang in die loop van ons alledaagse lewe dat ons afgestomp raak oor wie ek werklik is. Die ou duiwel buit hierdie situasie uit, want dit is juis dan dat hy kom met sy aanval.

Hy probeer jou oortuig dat jy nie goed genoeg vir God is nie. God gee nie vir jou om nie want jy het nie waarde vir Hom nie. Jy beteken niks vir God nie want as God vir jou omgegee het sal jy nie so swaar gekry het nie. Moenie daardie leuen glo nie! Dis nie waar nie!

Daar is een behoefte by alle mense wat jou hele lewensbestaan bepaal. Ek wil iets beteken in die lewe. Elke mens soek aanvaarding. Wat gee aan my lewe betekenis? Daar is ’n soeke by elke mens na iets dieper as net die dag tot dag bestaan. Waar kom ek vandaan? Hoekom is ek hier? Maak my lewe saak?

Het my lewe waarde en as dit waarde het, wat gee aan my lewe waarde?

?   Is dit my voorkoms?

?   Is dit die mense wat ek ken?

?   Is dit waar ek werk en wat my posisie daar is?

?   Is dit die voertuig wat ek bestuur?

?   of is die handelsmerk van die klere wat ek dra?

Wat gee aan my lewe waarde?

Die antwoord op hierdie vraag bepaal my lewe want ek wil hê dat my lewe waarde moet hê en daarom sal ek dit najaag wat na my mening aan my lewe waarde gee.

Die ou duiwel probeer ons wysmaak dat bogenoemde goed aan my lewe waarde gee. My status, my voorkoms, my besittings. Dit wat in die oë van mense vir my aansien gee in die lewe. Die ou duiwel se grootste leuen, as jy net eers ’n miljoenêr is dan sal jy gelukkig wees want mense sal dan opkyk na jou.

 

In Psalm 139 v 14 sê die Here vir ons waarom ons waardevol is.

Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep.

God wat die hemel en die aarde geskep het, het my ook geskep (Ps. 139v15)

Dit weet ek seker: geen been van my was vir U verborge toe ek gevorm is waar niemand dit kon sien nie, toe ek aanmekaargeweef is diep in die moederskoot. U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is.

Ons verwys so maklik na God wat die hemel en die aarde geskep het. Verstaan ons werklik die wonder van sy skepping? Kom ons staan net ’n oomblik stil om te kyk hoe groot God se skepping werklik is:
























God wat dit geskep het, het my ook gemaak! Hy gee om vir my omdat Hy my liefhet. Hy gee nie om watter motor ek bestuur of watter posisie ek in die samelewing beklee nie. God het die eenvoudigste mens net so lief soos die mees vooraanstaande persoon in die samelewing. By God is daar nie belangrike en minder belangrike mense nie. Luister na wat Hy in Jes. 43 v 1 vir ons sê:

Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne.

In 1 Joh. 3 v 1 sê Hy vir ons:

Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.

In 1 Joh. 3 v 16 hoor ons presies wat die liefde van God behels:

Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê.

Verstaan jy hoe lief God jou het? Hy het jou so lief dat Jesus sy lewe vir jou afgelê het! Moenie die satan se leuen glo dat jy nie goed genoeg is vir God nie.

Hoe weet ek dat ek ’n kind van God is?

In Joh. 1 v 12 & 13 sê die Here vir ons:

aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word. Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore.

Omdat God ons so liefhet verander Hy ons lewens. Die Heilige Gees maak God se liefde ’n werklikheid in my lewe. Dis nie meer haat en afguns wat my lewe beheer nie. God se liefde beheer nou my lewe en daarom begin ons nou uit liefde lewe. Die liefde wat in jou lewe teenwoordig is (al is dit ook hoe min), is jou bewys dat God se liefde besig is om in jou te werk. (1 Joh. 3 v 14)

Ons weet dat ons klaar uit die dood na die lewe oorgegaan het, want ons het ons broers lief. Wie nie liefhet nie, bly in die dood.

Dis God se liefde wat aan jou lewe waarde gee en daarom wil Hy hê dat daar al hoe meer van sy liefde in jou lewe moet inwerk. Daarom sê Hy vir ons in 1 Joh. 2 v 28:

En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly

Hoe bly ons in Hom? Spandeer tyd saam met God. Spandeer tyd in sy Woord. Spandeer tyd in gesprek met Hom deur gebed en ervaar sy liefde.

Die Here verseker ons dat Hy ons liefhet. Hy wat die hemel en die aarde geskep het, het ons ook geskep en daarom maak Hy moeite met ons, want Hy het ons oneindig onvoorwaardelik lief.

Daarom verseker Hy ons dat ons sy kinders is, elkeen wat in Jesus Christus glo kan aan hierdie belofte en troos vas hou. Moenie meer vanuit die satan se leuen lewe dat God jou nie liefhet nie. Hou in geloof vas aan God se liefde in Jesus Christus en leef vanuit daardie liefde. Laat God se liefde beheer van jou lewe oorneem.

Amen



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking