26 Maart 2013

Jesus is die lig vir die wêreld en daarom kan ons ligmense wees


24 Mar. 2013 Gen. 1:1-3 ; Joh. 1:1-12; ; Joh. 3:19-21; Joh. 8:12; Joh. 12:35-36
Teksverse – Joh. 8:12

Lof-Psalm Ps. 107 v 1             (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 4                   (OAB)
Na Gebed Ps. 1 v 1 & 4          (NAB)
Slotsang Ps. 119 v39               (OAB)

Vooraf
Soos ons verlede Sondag gehoor het, is ons tans besig met die sewe “Ek is....” uitsprakevan Jesus.
i      Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii     Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii     Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv     Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v     Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi     Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii    Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Ons het verlede stilgestaan by “Ek is die Brood wat lewe gee” waar ons gehoor het dat Jesus ons geestelike honger versadig met die Brood wat lewe gee. Vandag is ons by die tweede “Ek is...” uitspraak:  Ek is die Lig vir die wêreld; waar die Here vir ons sê dat ons ligmense is omdat Jesus die Lig vir die wêreld is.

Inleiding
Sonder lig is lewe onmoontlik. Voordat daar lig was daar nie lewe nie. In Gen. 1:2 hoor ons dat voor daar lig was, was die aarde heeltemal onbewoonbaar en alles was in duisternis gehul. Maar God vat die duisternis uit sy skepping weg deur net te sê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. Hierna volg die skeppings gebeure waarvan ons in Gen. 1 hoor. God skep lewe en Hy sê dit is baie goed. Die oomblik toe God lig bring, kom daar lewe. Lewe vir plante, diere, voëls en eindelik vir die mens.

Wanneer Jesus dus in Joh. 8:12 sê: “Ek is die lig vir die wêreld” verwys Hy terug na hierdie skeppingsgebeure. Hy verduidelik vir ons hiermee wie en wat Hy werklik is en Hy vertel ook vir ons daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. In Joh. 1:2-5 hoor ons:
Hy was reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die bron van lig en lewe en lig en lewe is onafskeidbaar deel van mekaar. Wanneer Jesus dus vir ons sê: “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy vir ons Hy is die Bron, die Kern en die Oorsprong van alle lig.

Duisternis
Direk nadat Jesus daar in die tempel by die offergawekiste uitgeroep het “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy:
Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie
Lig wys na God en duisternis na dit wat boos is, sonde en die in sonde gevalle wêreld. Kort na die skeppings gebeure kom daar weer ’n diep donkerte oor die aarde. Die mens val in sonde en dit bring die swart donkerte van sonde, dood en die hel.

In die plek van vreugde en vrede kom daar, hopeloosheid, ongeluk, onmin. Weer is daar duisternis oor God se skepping, maar tog hou God aan om lig te wees. Die duisternis van die sonde kon nie die lig uitdoof nie soos ons hoor in Joh. 1:5:
Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Jesus het die houvas van donkerte op ons lewens gebreek en daarom hoef die uitverkore kinders van God nie meer in die duisternis van die sonde te leef nie.

Hoe weet mens of hierdie belofte vir jou bedoel is? In Joh. 1:12 hoor ons:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.
Elkeen wat die Lig van Jesus in geloof aanneem hoef nie meer in die duisternis te leef nie. Die teendeel is egter ook waar soos ons hoor in Joh. 3:19-20:
En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy dade nie aan die kaak gestel moet word nie.

Hoe weet mens dus dat jy ’n kind van God is? In Joh. 3:21 hoor ons:
Maar wie volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
As jy na die Lig toe kom, dan weet jy dat jy ’n kind van die Lig is. As jy Jesus volg hoef jy nie meer in duisternis te leef nie.

Kinders van die Lig
Wat ’n wonderlike troos is dit nie! Ons kan kinders van die Lig wees! Volgelinge van Jesus kry die wonderlike troos dat hulle nie meer in die donkerte van die sonde vasgevang is nie, inteendeel hulle sal die lig hê wat lewe gee. Dit is die belofte wat Jesus maak wanneer Hy sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg sal die lig hê wat lewe gee.” Die vraag wat elkeen vanoggend van ons vir onsself moet vra is: “Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om te sê: “ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is, dan het ek die Lig wat lewe gee!

Wat beteken dit vir my as ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in my besluite en my dade. My lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense ooit sal lees!

Dit is belangrik dat ons moet verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Ons is soos hierdie ligte wat mens in die son los sodat sy battery gelaai kan word en wanneer die donker kom dan skyn dit omdat die son die batterye gelaai het.

Hoe laai ek my geestelike batterye sodat ek as ligdraer vir Jesus kan skyn? In Ps. 119:105 sê die Here vir ons:
U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
As ek gereeld die Woord lees en daarmee besig is in Bybelstudies en eredienste, word my geestelike batterye gelaai. As ek nie my geestelike batterye laai nie raak dit al hoe moeiliker om op die donker onseker pad van die lewe te beweeg. As my battery gelaai is, kan die lig van die Woord so skyn dat ek weet wat om te doen wanneer ek voor moeilike keuses in die lewe te staan kom.

Hoe skyn my lig om die donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur te verlig? Hoe reageer ek wanneer die besige winkel assistent ’n fout maak? Hoe reageer ek wanneer die ou mens net so ’n bietjie geselsskap en tyd uit my besige skedule vra? Maak ek tyd vir my gesin? Is ek net so ongeskik terug wanneer ek met ’n ongepoetse ongeskikte mens gekonfronteer word? In kort kan ek myself afvra: “is ek ’n ligmens?”
Amen

Jesus versadig ons geestelike honger met die Brood wat lewe gee


17 Mar. 2013         Joh. 6:22-59 . Teksvers Joh. 6:35

Lof-Psalm Ps. 18 v 1              (OAB)
Na Wet Ps. 86 v 3 & 6            (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (NAB)
Slotsang Sb. 17-1 v1 & 6        (OAB)

Vooraf
Ons het verlede week gehoor dat God Homself as “Ek is wat Ek is” bekendstel. Vandag hoor ons hoe Jesus Homself ook as “Ek is” bekendstel. In die evangelie volgens Johannes vind ons die sewe bekende “Ek is” uitsprake van Jesus:
i   Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii   Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii  Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv  Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v  Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi  Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Met hierdie “Ek is” uitsprake verduidelik Jesus nie net wie en wat Hy werklik is nie, maar Hy vertel ook daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. Met die eerste “Ek is” uitspraak sê Hy vir ons, “as julle geestelik honger is, kom kry by My die Brood van die lewe.”

Inleiding
Elke mens het ’n natuurlike geestelike behoefte wat bevredig moet word. By baie mense word daardie behoefte nie bevredig nie omdat hulle op die verkeerde plekke bevrediging daarvoor soek. Die Bybel bied die enigste ware antwoord vir hierdie diepste soeke van die mens, maar die mens wil nie daar gaan soek nie, want die Bybel is ’n spieël wat vir ons wys hoe ons werklik lyk. Die prentjie wat ons vir die wêreld wys lyk heelwat anders, mooi, beskaaf, baie vroom! Die ware prentjie, daardie een wat ons nie eens vir hulle wat die naaste aan ons is wil wys nie, lyk egter heelwat anders. Ons sien daar wat in ons harte skuil en dit is nie ’n mooi prentjie nie!

Ons soek op die verkeerde plek na geestelike voedsel
Elkeen van ons glo dat ons eintlik goeie mense is en daarom is dit nie lekker wanneer mens sien dat dit nie waar is nie. Die algemene reaksie wat ons het is om dit wat ons daar sien te ontken. Ek wil nie werklik die donker geheime sien wat in my hart weggesteek is nie, want dit wys vir my dat ek nie werklik hierdie goeie mens is wat ek dink ek is nie. As ek in die lig van God se Woord na myself kyk dan sien ek hoe vuil die sonde in my lewe my werklik gemaak het. Dan sien ek dat ek eintlik hierdie selfsugtige mens is wat net sy eie belange wil bevorder ten koste van almal om hom. Dan sien ek in myself raak dit wat ek so verafsku wanneer ek dit in ander mense sien.

Wat is die maklikste om weg te kom van hierdie ontstellende prentjie? Ontkenning! Dit kan nie waar wees nie, daar MOET iewers ’n fout wees! Solank as wat ons dit egter ontken gaan ons nooit ware vrede ervaar nie omdat hierdie sonde in ons lewens, dit wat ons nie eens teenoor onsself wil erken nie veroorsaak dat daar tussen my en God ’n afstand is. Hierdie afstand veroorsaak ’n gemis in my lewe. Daardie gevoel van hier kort iets.

Dit sien ons ook by die mense wat Jesus gevolg het. Net kort nadat Hy hulle gevoed het met die wonder van die vermeerdering van die brood vra die mense vir Jesus “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” In Jesus se antwoord wys Hy hulle dat hulle Jesus maar net volg om hul eie selfsugtige redes soos ons hoor in Joh. 6:26
“Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Nou vra die mense wat moet hulle doen? Jesus se antwoord is heel eenvoudig: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” Dit is egter nie wat die mense wil hoor nie en daarom vra hulle : “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo?” Dit is ons probleem ook. Ons wil nie hoor wat God vir ons sê nie. Hierdie mense het nie werklik agter Jesus aangekom ter wille van Homself nie. Hulle wou net die vermaak ervaar van sy wonders. Dit is die probleem wat ons ook het. Solank as wat ons nie die waarheid van ons sonde in onsself konfronteer nie, gaan ons op die verkeerde manier na God soek. Dan kom ons ook net na God toe vir dit wat Hy vir ons kan doen om ons eie selfsugtige behoeftes te bevredig.

Dit veroorsaak ook dat ons na die verkeerde oplossing gryp om hierdie diepe soeke in ons stil te maak. Dan soek ons na emosionele bevrediging in plaas van ’n diepe geestelike verhouding met God. Dit is dan wanneer ek kerk toe kom met die verwagting oor wat gaan ek daaruit kry terwyl ek eerder kerk toe moet kom om die Lewende God te ontmoet en die vrede van sy teenwoordigheid te ervaar. Ek wil my behoeftes bevredig in plaas daarvan die sondigheid van my hart aanspreek. Ek sien Jesus as ’n goeie leermeester en ’n goeie voorbeeld om na te volg, maar ek sien Hom nie as my Here en Verlosser nie. In kort kom dit daarop neer dat ek ’n god soek wat my kan dien eerder as wat ek God dien! Die Here ken ons en daarom vra Hy ook vir ons (Jes. 55:2):
Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Die enigste bron wat ons geestelike honger bevredig
Jesus gebruik die voorbeeld van brood wat mens se liggaam voed om te verduidelik wat is die ware oplossing vir die diepe soeke wat ons hier in ons hart ervaar soos ons hoor in Joh. 6:35
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Die Here het die mens so gemaak dat hy honger word om hom te herinner dat hy kos moet eet om sy liggaam te voed. Net so is daar ’n geestelike honger na die teenwoordigheid van God in ons lewe. Soos mens brood eet en dit deel word van jou en dit jou liggaam voed en sterk maak en lewe gee, moet ons Jesus deur geloof ontvang en dit voed ons geestelik en gee aan ons die ewige lewe.

Dit is net Jesus wat die Brood van die lewe is. Enige iets anders is nie brood nie en dit kan ons nie versadig maak nie. Net soos wat ons sal sterf as ons nie eet nie, sal ons geestelik doodgaan as ons nie Jesus Christus in geloof ontvang nie.

Hoe eet en drink ons die liggaam en bloed van Jesus Christus? Ons doen dit deur in Hom te glo en sy lewende Woord deur die Heilige Gees in ons harte te ontvang. Wanneer ons dit doen dan word hierdie geestelike honger na God versadig. Dit is eers dan wanneer ons ware vrede in ons gemoed ervaar, selfs al staan ons binne in ’n verwoede lewensstorm. Dit is dan dat ons nie bang is nie omdat ons weet dat God hier langs my is en dat Hy my vashou wanneer die lewe te veel word.

Slot
Ek wil nie graag binne in die donkerheid van ons harte inkyk nie omdat ek nie graag wil sien dat ek nie werklik so ’n goeie mens is as wat ek voorgee nie. Diep hier binne in my skuil ’n stuk selfsug wat veroorsaak dat ek van God vervreem word. Dit veroorsaak ’n diepe geestelike honger en verlange binne in my gemoed. As ek nie die ware oorsaak van hierdie geestelike honger vierkantig in die oë kyk nie, dan soek ek verlossing daarvan op die verkeerde plek. As ek dit nie by God soek nie sal ek nooit daarvan ontslae kan raak nie. Jesus Christus is die Brood van die lewe. Ons eet hierdie lewende Brood deur in Jesus te glo en deur die Heilige Gees sy Woord in ons harte te ontvang.

Om ontslae te raak van hierdie diepe geestelike honger en soeke na God, kom na Jesus toe want dit is net Hy wat ons geestelike honger kan versadig met die Brood wat lewe gee.
Amen

Die ewige God roep ons om die nood van die wêreld te verlig, daarom mag ons nie vol verskonings wees nie.


10 Mar. 2013         Eks. 3 : 1 – 4 : 17 . Teksverse Eks. 3 : 14 & 15

Lof-Psalm Ps. 33 v 1 & 2         (OAB)
Na Wet Ps. 103 v 1 & 2           (OAB)
Na Gebed Ps. 119 v 18            (NAB)
Slotsang Sb. 2-4 v1 & 3           (OAB)

Inleiding
Soms voel dit of God ons vergeet het en ons nie weet waarheen ons met ons lewens op pad is nie. Ek wonder of Moses nie ook so gevoel het toe hy daar in Midian sy skoonpa se skape moes oppas nie. Moses wat in ’n koningspaleis as ’n prins grootgemaak is, is nou maar net ’n gewone skaapwagter. Onthou hoe sy ma hom in ’n mandjie op die Nyl tussen die biesies versteek het toe die koning van Egipte beveel het dat al die seuntjie babas van die Israeliete doodgemaak moet word en hoe die koning se dogter hom daar gevind het en hom geneem het en as prins in die paleis grootgemaak het.

Moses het egter nooit vergeet dat hy ’n Israeliet is nie en daarom het hy as volwasse man ook weer op ’n keer gaan kyk hoe dit met sy volkgenote gaan. Dit is dan ook hier waar die ongeluk hom getref het. Hy het gesien hoe ’n Egiptenaar een van die Israelitiese slawe mishandel en hy was woedend daaroor. Die gevolg was dat hy die Egiptenaar doodgemaak het en dat hy op die uiteinde vir sy lewe moes vlug die vreemde in. Dit is dan hier waar ons Moses baie jare later vind. Hy is nou al ’n grootman wat getroud is en kinders het, maar hy is net ’n gewone skaapwagter.

Kom ons nie ook maar op ’n punt in mens se lewe waar ek voel, waarheen is ek nou eintlik op pad heen met my lewe nie? As jongmens het ek soveel drome gehad en hier sit ek nou in ’n doodloopstraat. Dit is op hierdie punt in Moses se lewe waar hy skielik vir God ontmoet toe hy dit die minste verwag het. Is dit nie ook maar tekenend van ons ervaring in die lewe nie? Wanneer ek nog dink dat God my nie in my nood hoor nie, stap Hy skielik in my lewe in!

In hierdie verhaal van Moses leer ons dan ook dat God ’n spesifieke doel met elkeen van ons het. Ons leer:
i       dat God gewone mense roep om die nood van die wêreld te verlig;
ii      Wie God werklik is wat ons roep en
iii     dat mens so maklik vol verskonings kan wees vir die werk waarvoor God ons roep!

God roep gewone mense om die nood van die wêreld te verlig
Ons ontmoet Moses hier waar hy maar net ’n gewone skaapwagter was. Hy was niks spesiaal nie, maar net nog ’n gewone mens van sy tyd net soos wat ons ook maar gewone mense van ons tyd is. Op ’n dag verskyn die Here aan Moses in ’n brandende doringbos terwyl hy besig was om skape op te pas. Moses was besig met ’n alledaagse dagtaak ver van enige altaar af toe die Here aan hom verskyn het.

Ons is so geneig om God in die buitegewone te soek, maar God is in ons alledaagse lewe teenwoordig, daar waar ons besig is om ons dagtaak te verrig. God het egter ’n spesiale roeping vir Moses gehad soos ons hoor in Eks 3:7:
Daarna sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.
Moses is geroep om die Israeliete uit die ellende van hul slawerny in Egipte te gaan verlos.

Hoor ons die noodkrete van mense wat in sonde vasgevang is? Sien ons die ellende daarvan raak? God hoor en sien dit en Hy neem hulle lyding ter harte. God sien die nood van mense wat Hom nie ken nie raak. Hy gebruik gewone mense soos ek en julle om verligting te bring vir die nood van die wêreld.

Eksodus vertel vir ons die verhaal waar God die Israeliete verlos het uit die slawerny van Egipte. Die Jode wat in ballingskap was het moed geput uit hierdie verhaal dat hulle uit die ballingskap verlos sou word en beide die verlossings wys heen na Jesus Christus wat die mensdom uit hul nood van sondeslawerny kom verlos het.

God roep ons as gewone mense om diegene wat in die slawerny van sonde vasgevang is van hul nood en ellende te verlos deur die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing na hulle te bring.

Wie is God is hierdie God wat ons roep?
In Eks 3:5 & 6 hoor ons:
Die Here sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
God is heilig en dit is Hy wat vanaf die begin die God van die voorvaders was. Moses is egter nog onseker en daarom vra hy wat is God se eienaam?

Dan antwoord God vir Moses soos ons hoor in Eks 3:14 & 15:
Toe sê God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.”
Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam , dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.
In die eerste plek antwoord die Here met “Ek is wat Ek is.” Hy is die enigste ware God wat van die begin af daar is en ook in die toekoms daar sal wees, want die Hebreeus vir Ek is wat Ek is kan ook met Ek sal wees wat Ek sal wees vertaal word. Christus sluit ook hierby aan met die “Ek is” uitsprake wat ons in die evangelie volgens Johannes hoor en waarby ons ook DV in die volgende paar Sondae se prediking gaan stilstaan. In Open. 21:6 hoor ons:
Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.

En hiermee saam maak God ook sy verbondsnaam bekend. In Hebreeus word dit met die konsonante JHWH weergegee. Die Jode het die naam nie uitgespreek nie uit eerbied vir die gebod dat mens nie die naam van God mag misbruik nie. Wanneer hulle die naam JHWH moes lees het hulle dit uit respek vervang met Adonai wat Heer of meneer beteken. In die Afrikaanse Bybels word die naam met Here / HERE vertaal terwyl dit in Engels met Lord vertaal word. Daar is ’n baie ryke betekenis aan hierdie Naam gekoppel. In wese beteken dit: “die Een wat altyd teenwoordig is” en dit beklemtoon God se vaste voorneme om altyd daar te wees vir sy kinders. Dit het Hy ook weer bevestig met Jesus Christus, Immanuel dit wil sê God by ons.

Dit is die alomteenwoordige God wat van die begin af daar was en wat ook in die toekoms daar sal wees wat ons roep om die nood van mense wat in sonde vasgevang is te verlig.



Verskonings, verskonings, verskonings!
Ten spyte van die wonderbaarlike verskyning van God in die brandende doringbos en ook dat Hy persoonlik vir Moses vertel wie en wat Hy werklik is, het Moses nog steeds verskonings! “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” Vir hierdie verskoning het die Here ’n antwoord. Die wonderteken van Moses se kierie wat in ’n slang verander en weer terug na ’n kierie toe. Sy hand wat melaats word en weer gesond word. Die water wat in bloed verander!

Nou kom Moses met ’n tweede verskoning soos ons hoor in Eks. 4:10:
“Ag, Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou, hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”
En dan sê die Here vir Moses dat ook dit nie ’n probleem is nie en Hy sê vir hom: “Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”

Nou het Moses nie meer verskonings nie, maar nog steeds is hy onwillig: “Asseblief tog, Here, stuur liewer iemand anders.” Is dit nie hoe ons ook maar is nie geliefdes? Eers het ons allerlei verskonings wat op die oog af klink of dit baie meriete het. Ons het elkeen goeie redes oor waarom ons nie betrokke kan wees in die gemeente met die werk wat nodig is sodat die evangelie van Jesus Christus uitgedra kan word nie. Ek het ’n besige skedule, ek het nie tyd nie, ek is nie daarvoor geskik nie, ek kan nie goed praat nie, ek is te oud, ek is te jonk. U weet wat al die verskonings is wat ons so maklik voorhou. Geliefdes, hoe lank wil ons nog die Here se geduld beproef?

Slot
Die Here roep ons om die nood van die wêreld te verlos met die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing. Hy rus ons toe vir die werk. Ons staan nie alleen nie, want ons is daar om mekaar te ondersteun. Laat ons Hom daarom nie kwaad maak met al ons verskonings nie!
Amen

10 Maart 2013

Ons is medewerkers in diens van God


3 Maart. 2013         1 Kor. 3 : 1 - 9 . Teksverse 1 Kor. 3 : 6 & 7

Lof-Psalm Ps. 89v1                 (OAB)
Na Wet Ps. 138 v 1                 (OAB)
Na Gebed Ps. 119 v 18 & 19   (NAB)
Slotsang Ps. 133 v1                 (OAB)

Inleiding
Hoe meet ons of die kerk besig is om te groei of nie? Ons is so geneig om te kyk na die gemeentes wie se getalle toeneem en dan dink ons dat daardie gemeente lewenskragtig is. Volgens daardie maatstaf groei ons gemeente beslis nie. Is dit hoe die Bybel groei definieer?

Wat leer die Here ons in sy Woord oor wat groei in die kerk is?
In hierdie brief aan die gemeente aan Korinte wys die Here ons wat belemmer groei in die kerk. Daardeur leer Hy ons ook wat groei werklik is. Om die boodskap te verstaan is dit nodig dat ons so bietjie van die gemeente in Korinte te wete kom. In Handelinge 18 sien ons dat Paulus die gemeente tydens sy tweede sendingreis gestig het. Die mense in die stad Korinte het van oor die hele bekende wêreld van daardie tyd gekom en as gevolg daarvan was daar ’n hoë vlak van sedeloosheid. Prostitusie en afgodsdiens het daar hoogty gevier en dit het ook ’n invloed op die gemeente gehad. Paulus skryf hierdie brief om sekere sake waarvan hy verneem het reg te stel asook om sekere vrae oor praktiese probleme wat die gemeente gevra het te beantwoord. As ons moet saamvat waaroor die briewe gaan kan ons dit as volg opsom: “Briewe aan ’n probleemgemeente.”

In ons teksgedeelte sien ons dan ook hoe hierdie probleme wat die gemeente ondervind negatief op die gemeente inwerk. In 1 Kor. 3 : 1 – 9 spreek Paulus die probleem van verdeeldheid aan. Daar was twis en jaloesie onder die gemeentelede aanwesig en alhoewel hulle verlostes is, tree hulle in praktyk soos die heidene op. Die groepe wat so gevorm het, het dan ook vir Paulus teenoor Apollos wat na hom gekom het afgespeel. Paulus verwys hier na sy lesers as babatjies en verduidelik met hierdie beeld dat hulle bakleiery en kliekvorming veroorsaak dat die gemeente nog in sy babaskoene staan terwyl hulle al eintlik baie verder gevorderd moes wees.

’n Belangrike beginsel wat hier na vore kom is dat dit nie die gemeente se ouderdom of getalle is wat bepaal of hulle groei of nie. Hulle groei word bepaal deur die vordering in hulle geloofslewe. Hierin het hulle nog bitter min gevorder en die bewys daarvan is dat hulle nog steeds soos die heidense gemeenskap om hulle optree. Dieselfde onsedelikheid en bakleiery wat daar voorkom is ook in die gemeente teenwoordig. Daarom beskryf Paulus hulle nog as babatjies wat slegs melk kan drink en nog nie gereed is om vaste kos in te neem nie.

Die vraag wat ons onsself vandag moet afvra, het ons gemeente al gegroei? Hoe het ons met ons geloofslewe gevorder? Lyk ons nog soos die wêreld om ons? As daar ’n wet teen Christenskap uitgebring word, sal die toepasers van daardie wet genoeg getuienis teen ons kan insamel om ons aan te kla? Hoe lyk ons geloofsgroei en het ons enigsins in die afgelope drie jaar verdiep in ons geloof? Het ons tot ’n dieper besef van God se genade in Jesus Christus gekom? Is Jesus se kruisiging en sy opstanding net iets wat ons net met die verstand van kennis neem of is dit ’n hartsaak wat ons tot ’n diepere besef van God se groot genade bring? Is daardie verdieping in ons lewens sigbaar?

Kan die gemeenskap daarbuite sien dat ons gemeente ’n verskil in Reddersburg maak of is ons nog net soos babatjies wat net melkkos kan inneem? As ons nog net in ons babaskoene staan, dan is ons nog nie besig om die roeping van hierdie gemeente uit te voer nie. As my geloofslewe nog so oppervlakkig is dat daar nie ’n verskil merkbaar is nie, kan ek mos nie met oortuiging aan iemand gaan vertel dat Jesus Christus ’n verskil in sy lewe maak nie!

Hoe vind geloofsverdieping in my lewe plaas? Dit gebeur wanneer ek ’n hartsverstaan van God se genade in Jesus Christus begin ontwikkel. Ek self kan dit nie doen nie. In 1 Kor. 3:1 hoor ons hoe mense wat hulle deur die Gees van God laat lei al hoe meer volwasse in hul geloofslewe word. Hoe meer die Gees beheer van my lewe oorneem en hoe minder ek deur my sondige natuur gelei word, hoe meer groei ek in die geloof. Hoe meer volwasse ek in my geloof word, hoe meer word ek bruikbaar in God se Koninkryk.

Die gemeente in Korinte wou Paulus en Apollos teenoor mekaar afspeel, maar Paulus wys hulle daarop dat die werk in God se koninkryk nie om wedywering gaan nie. In die wêreld lê die klem daarop dat mens beter as die mense om jou moet wees om bo uit te kom en as dit nodig word, dan moet jy op mense trap om bo uit te kom! Elkeen vir homself en die duiwel vang die agterste ou! In die kerk van die Here werk dit egter nie so nie. Elkeen het sy spesifieke werk, maar ding nie met mekaar mee nie. Paulus verduidelik hierdie beginsel so mooi wanneer hy vir die Korinte skryf (1 Kor. 3:6&7):
Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei.

Elkeen het sy werk volgens die gawes wat God vir ons gegee het. Die volgende beginsel wat ook hier ter sprake kom is dat ons so dikwels bekommer oor die opbrengs van die werk wat ons doen. Ons wil resultate sien en wanneer dit nie volgens ons standaard plaasvind nie, wil ons inklim en maak en breek om sake reg te kry. Hierdie houding is een van die grootste bronne wat konflik tussen gemeentelede veroorsaak. Hier leer die Here ons egter dat dit nie ons is wat groei veroorsaak nie. Ons moet die werk doen. Ons moet plant en natgooi, maar dit is die Here wat laat groei.

Elkeen in die gemeente moet sy werk doen waarvoor die Here ons geroep het. Deur al die aktiwiteite stel dit die gemeente in staat om haar roeping uit te leef. Die een is egter nie belangriker as die ander nie soos ons hoor in 1 Kor. 3:8:
Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet
Hiermee voeg die Here ’n belangrike beginsel by. Hy beoordeel die gehalte van elkeen se werk. God sal elkeen beloon volgens sy werk. Ons is so geneig om dop te hou hoe goed die ander werk dat ons vergeet om self goed te werk. God besluit egter oor die gehalte van ons werk en daarvolgens sal ons, ons genadeloon ontvang.

Die laaste beginsel wat hier na vore kom is dat ons saam moet werk soos ons hoor in 1 Kor. 3:9:
Ons is medewerkers  in diens van God,
Die Griekse woord wat medewerkers vertaal is, beteken letterlik om saam met mekaar te werk op so ’n manier dat die een die ander ondersteun. In die saailand van God moet elkeen volgens sy gawes plant, natgooi, onkruid uittrek ens. Dit is egter God wat laat groei.

Samevatting
Sonde belemmer geloofsgroei in die gemeente en dit veroorsaak dat ons nie geestelik groei nie. Om geestelik te groei moet ons, ons lewens deur die Gees van God laat lei sodat Jesus Christus se sterwe en opstanding ’n hartsaak word. Dan is ons in staat om elkeen volgens ons Godgegewe gawes te werk en mekaar in daardie werk te ondersteun.

As ons die werk doen hoef ons nie verder daaroor te bekommer nie, want dis God wat laat groei. Ons moet net sorg dat die evangelie boodskap geplant en natgegooi word, God sal sorg dat dit in die harte van mense groei.

Kom ons verdiep ons geloof deur ons deur die Gees van God te laat lei sodat ons ook medewerkers in diens van God kan wees.
Amen