24 Mar. 2013 Gen.
1:1-3 ; Joh. 1:1-12; ; Joh. 3:19-21; Joh. 8:12; Joh. 12:35-36
Teksverse – Joh. 8:12
Lof-Psalm Ps. 107 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 19 v 4 (OAB)
Na Gebed Ps. 1 v 1
& 4 (NAB)
Slotsang Ps. 119 v39 (OAB)
Vooraf
Soos ons verlede Sondag
gehoor het, is ons tans besig met die sewe “Ek is....” uitsprakevan Jesus.
i Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Ons het verlede
stilgestaan by “Ek is die Brood wat lewe gee” waar ons gehoor het dat Jesus ons
geestelike honger versadig met die Brood wat lewe gee. Vandag is ons by die
tweede “Ek is...” uitspraak: Ek is
die Lig vir die wêreld; waar die Here vir ons sê dat ons ligmense is omdat Jesus
die Lig vir die wêreld is.
Inleiding
Sonder lig is lewe
onmoontlik. Voordat daar lig was daar nie lewe nie. In Gen. 1:2 hoor ons dat
voor daar lig was, was die aarde heeltemal onbewoonbaar en alles was in
duisternis gehul. Maar God vat die duisternis uit sy skepping weg deur net te
sê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. Hierna volg die skeppings
gebeure waarvan ons in Gen. 1 hoor. God skep lewe en Hy sê dit is baie goed.
Die oomblik toe God lig bring, kom daar lewe. Lewe vir plante, diere, voëls en
eindelik vir die mens.
Wanneer Jesus dus in Joh.
8:12 sê: “Ek is die lig vir die wêreld” verwys Hy terug na hierdie
skeppingsgebeure. Hy verduidelik vir ons hiermee wie en wat Hy werklik is en Hy
vertel ook vir ons daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. In
Joh. 1:2-5 hoor ons:
Hy was
reeds in die begin by God. Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ’n
enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar
lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis,
die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die bron van lig
en lewe en lig en lewe is onafskeidbaar deel van mekaar. Wanneer Jesus dus vir
ons sê: “Ek is die lig vir die wêreld”, sê Hy vir ons Hy is die Bron,
die Kern en die Oorsprong van alle lig.
Duisternis
Direk nadat Jesus daar in
die tempel by die offergawekiste uitgeroep het “Ek is die lig vir die wêreld”,
sê Hy:
Wie My
volg, sal nooit in die duisternis lewe nie
Lig wys na God en
duisternis na dit wat boos is, sonde en die in sonde gevalle wêreld. Kort na
die skeppings gebeure kom daar weer ’n diep donkerte oor die aarde. Die mens
val in sonde en dit bring die swart donkerte van sonde, dood en die hel.
In die plek van vreugde en
vrede kom daar, hopeloosheid, ongeluk, onmin. Weer is daar duisternis oor God
se skepping, maar tog hou God aan om lig te wees. Die duisternis van die sonde
kon nie die lig uitdoof nie soos ons hoor in Joh. 1:5:
Die lig
skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.
Jesus is die ware Lig wat
na die wêreld toe gekom het. Jesus het die houvas van donkerte op ons lewens
gebreek en daarom hoef die uitverkore kinders van God nie meer in die
duisternis van die sonde te leef nie.
Hoe weet mens of hierdie
belofte vir jou bedoel is? In Joh. 1:12 hoor ons:
Maar aan
almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om
kinders van God te word.
Elkeen wat die Lig van
Jesus in geloof aanneem hoef nie meer in die duisternis te leef nie. Die
teendeel is egter ook waar soos ons hoor in Joh. 3:19-20:
En so
kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense
eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg. Elkeen
wat kwaad doen, haat immers die lig en kom nie na die lig toe nie, sodat sy
dade nie aan die kaak gestel moet word nie.
Hoe weet mens dus dat jy
’n kind van God is? In Joh. 3:21 hoor ons:
Maar wie
volgens die waarheid handel, kom na die lig toe, sodat dit duidelik kan blyk
dat sy dade in gehoorsaamheid aan God gedoen is.
As jy na die Lig toe kom,
dan weet jy dat jy ’n kind van die Lig is. As jy Jesus volg hoef jy nie meer in
duisternis te leef nie.
Kinders van die Lig
Wat ’n wonderlike troos is
dit nie! Ons kan kinders van die Lig wees! Volgelinge van Jesus kry die
wonderlike troos dat hulle nie meer in die donkerte van die sonde vasgevang is
nie, inteendeel hulle sal die lig hê wat lewe gee. Dit is die belofte wat Jesus
maak wanneer Hy sê: “Ek is die Lig vir die wêreld. Wie My volg sal die lig hê
wat lewe gee.” Die vraag wat elkeen vanoggend van ons vir onsself moet vra is:
“Is ek ’n volgeling van Jesus Christus?” Want om die Here se ligglans in my
lewe te ervaar moet ek Jesus ken en liefhê. As ek deur die Gees gelei word om
te sê: “ja Here, ek het U waarlik lief met alles wat in my is, dan het ek die
Lig wat lewe gee!
Wat beteken dit vir my as
ek die Lig het wat lewe gee? Dit beteken ek is ’n kind van die LIG. Iets van
God se Lig moet nou deurbreek in my lewe, in my gedagtes, in my beplanning, in
my besluite en my dade. My lig is moontlik die enigste Bybel wat baie mense
ooit sal lees!
Dit is belangrik dat ons
moet verstaan dat dit nie my eie krag is wat my lig laat skyn nie. Ons is soos
hierdie ligte wat mens in die son los sodat sy battery gelaai kan word en
wanneer die donker kom dan skyn dit omdat die son die batterye gelaai het.
Hoe laai ek my geestelike
batterye sodat ek as ligdraer vir Jesus kan skyn? In Ps. 119:105 sê die
Here vir ons:
U woord
is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad.
As ek gereeld die Woord
lees en daarmee besig is in Bybelstudies en eredienste, word my geestelike
batterye gelaai. As ek nie my geestelike batterye laai nie raak dit al hoe
moeiliker om op die donker onseker pad van die lewe te beweeg. As my battery
gelaai is, kan die lig van die Woord so skyn dat ek weet wat om te doen wanneer
ek voor moeilike keuses in die lewe te staan kom.
Hoe skyn my lig om die
donkerte van die mense wat die Here oor my pad stuur te verlig? Hoe reageer ek
wanneer die besige winkel assistent ’n fout maak? Hoe reageer ek wanneer die ou
mens net so ’n bietjie geselsskap en tyd uit my besige skedule vra? Maak ek tyd
vir my gesin? Is ek net so ongeskik terug wanneer ek met ’n ongepoetse
ongeskikte mens gekonfronteer word? In kort kan ek myself afvra: “is ek ’n
ligmens?”
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking