10 Mar. 2013 Eks. 3 : 1 – 4 : 17 . Teksverse Eks. 3
: 14 & 15
Lof-Psalm Ps. 33 v 1 &
2 (OAB)
Na Wet Ps. 103 v 1
& 2 (OAB)
Na Gebed Ps. 119 v 18
(NAB)
Slotsang Sb. 2-4 v1
& 3 (OAB)
Inleiding
Soms voel dit of God ons
vergeet het en ons nie weet waarheen ons met ons lewens op pad is nie. Ek
wonder of Moses nie ook so gevoel het toe hy daar in Midian sy skoonpa se skape
moes oppas nie. Moses wat in ’n koningspaleis as ’n prins grootgemaak is, is
nou maar net ’n gewone skaapwagter. Onthou hoe sy ma hom in ’n mandjie op die
Nyl tussen die biesies versteek het toe die koning van Egipte beveel het dat al
die seuntjie babas van die Israeliete doodgemaak moet word en hoe die koning se
dogter hom daar gevind het en hom geneem het en as prins in die paleis
grootgemaak het.
Moses het egter nooit
vergeet dat hy ’n Israeliet is nie en daarom het hy as volwasse man ook weer op
’n keer gaan kyk hoe dit met sy volkgenote gaan. Dit is dan ook hier waar die
ongeluk hom getref het. Hy het gesien hoe ’n Egiptenaar een van die
Israelitiese slawe mishandel en hy was woedend daaroor. Die gevolg was dat hy
die Egiptenaar doodgemaak het en dat hy op die uiteinde vir sy lewe moes vlug
die vreemde in. Dit is dan hier waar ons Moses baie jare later vind. Hy is nou
al ’n grootman wat getroud is en kinders het, maar hy is net ’n gewone
skaapwagter.
Kom ons nie ook maar op ’n
punt in mens se lewe waar ek voel, waarheen is ek nou eintlik op pad heen met
my lewe nie? As jongmens het ek soveel drome gehad en hier sit ek nou in ’n
doodloopstraat. Dit is op hierdie punt in Moses se lewe waar hy skielik vir God
ontmoet toe hy dit die minste verwag het. Is dit nie ook maar tekenend van ons
ervaring in die lewe nie? Wanneer ek nog dink dat God my nie in my nood hoor
nie, stap Hy skielik in my lewe in!
In hierdie verhaal van
Moses leer ons dan ook dat God ’n spesifieke doel met elkeen van ons het. Ons
leer:
i dat God
gewone mense roep om die nood van die wêreld te verlig;
ii Wie God werklik is wat ons roep en
iii dat mens so
maklik vol verskonings kan wees vir die werk waarvoor God ons roep!
God roep gewone mense om
die nood van die wêreld te verlig
Ons ontmoet Moses hier
waar hy maar net ’n gewone skaapwagter was. Hy was niks spesiaal nie, maar net
nog ’n gewone mens van sy tyd net soos wat ons ook maar gewone mense van ons
tyd is. Op ’n dag verskyn die Here aan Moses in ’n brandende doringbos terwyl
hy besig was om skape op te pas. Moses was besig met ’n alledaagse dagtaak ver
van enige altaar af toe die Here aan hom verskyn het.
Ons is so geneig om God in
die buitegewone te soek, maar God is in ons alledaagse lewe teenwoordig, daar
waar ons besig is om ons dagtaak te verrig. God het egter ’n spesiale roeping
vir Moses gehad soos ons hoor in Eks 3:7:
Daarna
sê die Here: “Ek het die ellende van my volk in Egipte duidelik gesien en hulle
noodkrete oor die slawedrywers gehoor. Ek het hulle lyding ter harte geneem.
Moses is geroep om die
Israeliete uit die ellende van hul slawerny in Egipte te gaan verlos.
Hoor ons die noodkrete van
mense wat in sonde vasgevang is? Sien ons die ellende daarvan raak? God hoor en
sien dit en Hy neem hulle lyding ter harte. God sien die nood van mense wat Hom
nie ken nie raak. Hy gebruik gewone mense soos ek en julle om verligting te
bring vir die nood van die wêreld.
Eksodus vertel vir ons die
verhaal waar God die Israeliete verlos het uit die slawerny van Egipte. Die
Jode wat in ballingskap was het moed geput uit hierdie verhaal dat hulle uit
die ballingskap verlos sou word en beide die verlossings wys heen na Jesus
Christus wat die mensdom uit hul nood van sondeslawerny kom verlos het.
God roep ons as gewone
mense om diegene wat in die slawerny van sonde vasgevang is van hul nood en
ellende te verlos deur die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing na hulle
te bring.
Wie is God is hierdie God
wat ons roep?
In Eks 3:5 & 6 hoor
ons:
Die Here
sê toe vir hom: “Moenie nóg nader kom nie. Trek uit jou skoene, want die plek
waarop jy staan, is gewyde grond.” Verder sê Hy: “Ek is die God van jou
voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob.”
God is heilig en dit is Hy
wat vanaf die begin die God van die voorvaders was. Moses is egter nog onseker
en daarom vra hy wat is God se eienaam?
Dan antwoord God vir Moses
soos ons hoor in Eks 3:14 & 15:
Toe sê
God vir Moses: “Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my
na julle toe gestuur.”
Verder
sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van
julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het
my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam , dit is die Naam waarmee Ek
aangeroep moet word van geslag tot geslag.
In die eerste plek
antwoord die Here met “Ek is wat Ek is.” Hy is die enigste ware God wat van die
begin af daar is en ook in die toekoms daar sal wees, want die Hebreeus vir Ek
is wat Ek is kan ook met Ek sal wees wat Ek sal wees vertaal word. Christus sluit
ook hierby aan met die “Ek is” uitsprake wat ons in die evangelie volgens
Johannes hoor en waarby ons ook DV in die volgende paar Sondae se prediking
gaan stilstaan. In Open. 21:6 hoor ons:
Ek is
die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde. Aan elkeen wat dors het, sal Ek
te drinke gee uit die fontein met die water van die lewe, verniet.
En hiermee saam maak God
ook sy verbondsnaam bekend. In Hebreeus word dit met die konsonante JHWH
weergegee. Die Jode het die naam nie uitgespreek nie uit eerbied vir die gebod
dat mens nie die naam van God mag misbruik nie. Wanneer hulle die naam JHWH
moes lees het hulle dit uit respek vervang met Adonai wat Heer of meneer
beteken. In die Afrikaanse Bybels word die naam met Here / HERE vertaal terwyl
dit in Engels met Lord vertaal word. Daar is ’n baie ryke betekenis aan hierdie
Naam gekoppel. In wese beteken dit: “die Een wat altyd teenwoordig is” en dit
beklemtoon God se vaste voorneme om altyd daar te wees vir sy kinders. Dit het
Hy ook weer bevestig met Jesus Christus, Immanuel dit wil sê God by ons.
Dit is die
alomteenwoordige God wat van die begin af daar was en wat ook in die toekoms
daar sal wees wat ons roep om die nood van mense wat in sonde vasgevang is te
verlig.
Verskonings, verskonings,
verskonings!
Ten spyte van die
wonderbaarlike verskyning van God in die brandende doringbos en ook dat Hy
persoonlik vir Moses vertel wie en wat Hy werklik is, het Moses nog steeds
verskonings! “Sê nou die Israeliete glo my nie en hulle luister nie na my
nie en hulle sê die Here het nie aan my verskyn nie?” Vir hierdie
verskoning het die Here ’n antwoord. Die wonderteken van Moses se kierie wat in
’n slang verander en weer terug na ’n kierie toe. Sy hand wat melaats word en
weer gesond word. Die water wat in bloed verander!
Nou kom Moses met ’n
tweede verskoning soos ons hoor in Eks. 4:10:
“Ag,
Here, ek kan nie goed praat nie; ek kon nie vroeër nie en ek kan ook nie nou,
hier waar U met my praat nie. Ek praat swaar, en my tong sukkel.”
En dan sê die Here vir
Moses dat ook dit nie ’n probleem is nie en Hy sê vir hom: “Gaan nou, Ek sal
jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.”
Nou het Moses nie meer
verskonings nie, maar nog steeds is hy onwillig: “Asseblief tog, Here, stuur
liewer iemand anders.” Is dit nie hoe ons ook maar is nie geliefdes? Eers
het ons allerlei verskonings wat op die oog af klink of dit baie meriete het.
Ons het elkeen goeie redes oor waarom ons nie betrokke kan wees in die gemeente
met die werk wat nodig is sodat die evangelie van Jesus Christus uitgedra kan
word nie. Ek het ’n besige skedule, ek het nie tyd nie, ek is nie daarvoor
geskik nie, ek kan nie goed praat nie, ek is te oud, ek is te jonk. U weet wat
al die verskonings is wat ons so maklik voorhou. Geliefdes, hoe lank wil ons
nog die Here se geduld beproef?
Slot
Die Here roep ons om die
nood van die wêreld te verlos met die goeie nuus van Jesus Christus se
verlossing. Hy rus ons toe vir die werk. Ons staan nie alleen nie, want ons is
daar om mekaar te ondersteun. Laat ons Hom daarom nie kwaad maak met al ons
verskonings nie!
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking