26 Maart 2013

Jesus versadig ons geestelike honger met die Brood wat lewe gee


17 Mar. 2013         Joh. 6:22-59 . Teksvers Joh. 6:35

Lof-Psalm Ps. 18 v 1              (OAB)
Na Wet Ps. 86 v 3 & 6            (OAB)
Na Gebed Ps. 33 v 11             (NAB)
Slotsang Sb. 17-1 v1 & 6        (OAB)

Vooraf
Ons het verlede week gehoor dat God Homself as “Ek is wat Ek is” bekendstel. Vandag hoor ons hoe Jesus Homself ook as “Ek is” bekendstel. In die evangelie volgens Johannes vind ons die sewe bekende “Ek is” uitsprake van Jesus:
i   Ek is die Brood wat lewe gee – Joh. 6:35
ii   Ek is die Lig vir die wêreld – Joh. 8:12
iii  Ek is die opstanding en die lewe – Joh. 11:25
iv  Ek is die ingang vir die skape – Joh. 10:7,9
v  Ek is die goeie Herder – Joh. 10:11
vi  Ek is die weg en die waarheid en die lewe – Joh. 14:6
vii Ek is die ware wingerdstok – Joh. 15:1
Met hierdie “Ek is” uitsprake verduidelik Jesus nie net wie en wat Hy werklik is nie, maar Hy vertel ook daarmee wat Hy vir ons doen en wat ons deur Hom kan word. Met die eerste “Ek is” uitspraak sê Hy vir ons, “as julle geestelik honger is, kom kry by My die Brood van die lewe.”

Inleiding
Elke mens het ’n natuurlike geestelike behoefte wat bevredig moet word. By baie mense word daardie behoefte nie bevredig nie omdat hulle op die verkeerde plekke bevrediging daarvoor soek. Die Bybel bied die enigste ware antwoord vir hierdie diepste soeke van die mens, maar die mens wil nie daar gaan soek nie, want die Bybel is ’n spieël wat vir ons wys hoe ons werklik lyk. Die prentjie wat ons vir die wêreld wys lyk heelwat anders, mooi, beskaaf, baie vroom! Die ware prentjie, daardie een wat ons nie eens vir hulle wat die naaste aan ons is wil wys nie, lyk egter heelwat anders. Ons sien daar wat in ons harte skuil en dit is nie ’n mooi prentjie nie!

Ons soek op die verkeerde plek na geestelike voedsel
Elkeen van ons glo dat ons eintlik goeie mense is en daarom is dit nie lekker wanneer mens sien dat dit nie waar is nie. Die algemene reaksie wat ons het is om dit wat ons daar sien te ontken. Ek wil nie werklik die donker geheime sien wat in my hart weggesteek is nie, want dit wys vir my dat ek nie werklik hierdie goeie mens is wat ek dink ek is nie. As ek in die lig van God se Woord na myself kyk dan sien ek hoe vuil die sonde in my lewe my werklik gemaak het. Dan sien ek dat ek eintlik hierdie selfsugtige mens is wat net sy eie belange wil bevorder ten koste van almal om hom. Dan sien ek in myself raak dit wat ek so verafsku wanneer ek dit in ander mense sien.

Wat is die maklikste om weg te kom van hierdie ontstellende prentjie? Ontkenning! Dit kan nie waar wees nie, daar MOET iewers ’n fout wees! Solank as wat ons dit egter ontken gaan ons nooit ware vrede ervaar nie omdat hierdie sonde in ons lewens, dit wat ons nie eens teenoor onsself wil erken nie veroorsaak dat daar tussen my en God ’n afstand is. Hierdie afstand veroorsaak ’n gemis in my lewe. Daardie gevoel van hier kort iets.

Dit sien ons ook by die mense wat Jesus gevolg het. Net kort nadat Hy hulle gevoed het met die wonder van die vermeerdering van die brood vra die mense vir Jesus “Rabbi, wanneer het u hierheen gekom?” In Jesus se antwoord wys Hy hulle dat hulle Jesus maar net volg om hul eie selfsugtige redes soos ons hoor in Joh. 6:26
“Dít verseker Ek julle: Julle soek My, nie omdat julle die wondertekens gesien het nie, maar omdat julle van die brood geëet en versadig geword het. Julle moet nie werk vir die voedsel wat vergaan nie, maar vir die voedsel wat nie vergaan nie en wat ewige lewe gee. Dit sal die Seun van die mens vir julle gee, want God die Vader het Hom die mag daartoe verleen.”

Nou vra die mense wat moet hulle doen? Jesus se antwoord is heel eenvoudig: “Wat God van julle verlang, is dat julle moet glo in Hom wat Hy gestuur het.” Dit is egter nie wat die mense wil hoor nie en daarom vra hulle : “Watter wonderteken kan u doen sodat ons dit kan sien en in u kan glo?” Dit is ons probleem ook. Ons wil nie hoor wat God vir ons sê nie. Hierdie mense het nie werklik agter Jesus aangekom ter wille van Homself nie. Hulle wou net die vermaak ervaar van sy wonders. Dit is die probleem wat ons ook het. Solank as wat ons nie die waarheid van ons sonde in onsself konfronteer nie, gaan ons op die verkeerde manier na God soek. Dan kom ons ook net na God toe vir dit wat Hy vir ons kan doen om ons eie selfsugtige behoeftes te bevredig.

Dit veroorsaak ook dat ons na die verkeerde oplossing gryp om hierdie diepe soeke in ons stil te maak. Dan soek ons na emosionele bevrediging in plaas van ’n diepe geestelike verhouding met God. Dit is dan wanneer ek kerk toe kom met die verwagting oor wat gaan ek daaruit kry terwyl ek eerder kerk toe moet kom om die Lewende God te ontmoet en die vrede van sy teenwoordigheid te ervaar. Ek wil my behoeftes bevredig in plaas daarvan die sondigheid van my hart aanspreek. Ek sien Jesus as ’n goeie leermeester en ’n goeie voorbeeld om na te volg, maar ek sien Hom nie as my Here en Verlosser nie. In kort kom dit daarop neer dat ek ’n god soek wat my kan dien eerder as wat ek God dien! Die Here ken ons en daarom vra Hy ook vir ons (Jes. 55:2):
Waarom betaal julle vir iets wat nie brood is nie, waarom werk julle vir iets wat nie kan versadig nie?

Die enigste bron wat ons geestelike honger bevredig
Jesus gebruik die voorbeeld van brood wat mens se liggaam voed om te verduidelik wat is die ware oplossing vir die diepe soeke wat ons hier in ons hart ervaar soos ons hoor in Joh. 6:35
“Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie.
Die Here het die mens so gemaak dat hy honger word om hom te herinner dat hy kos moet eet om sy liggaam te voed. Net so is daar ’n geestelike honger na die teenwoordigheid van God in ons lewe. Soos mens brood eet en dit deel word van jou en dit jou liggaam voed en sterk maak en lewe gee, moet ons Jesus deur geloof ontvang en dit voed ons geestelik en gee aan ons die ewige lewe.

Dit is net Jesus wat die Brood van die lewe is. Enige iets anders is nie brood nie en dit kan ons nie versadig maak nie. Net soos wat ons sal sterf as ons nie eet nie, sal ons geestelik doodgaan as ons nie Jesus Christus in geloof ontvang nie.

Hoe eet en drink ons die liggaam en bloed van Jesus Christus? Ons doen dit deur in Hom te glo en sy lewende Woord deur die Heilige Gees in ons harte te ontvang. Wanneer ons dit doen dan word hierdie geestelike honger na God versadig. Dit is eers dan wanneer ons ware vrede in ons gemoed ervaar, selfs al staan ons binne in ’n verwoede lewensstorm. Dit is dan dat ons nie bang is nie omdat ons weet dat God hier langs my is en dat Hy my vashou wanneer die lewe te veel word.

Slot
Ek wil nie graag binne in die donkerheid van ons harte inkyk nie omdat ek nie graag wil sien dat ek nie werklik so ’n goeie mens is as wat ek voorgee nie. Diep hier binne in my skuil ’n stuk selfsug wat veroorsaak dat ek van God vervreem word. Dit veroorsaak ’n diepe geestelike honger en verlange binne in my gemoed. As ek nie die ware oorsaak van hierdie geestelike honger vierkantig in die oë kyk nie, dan soek ek verlossing daarvan op die verkeerde plek. As ek dit nie by God soek nie sal ek nooit daarvan ontslae kan raak nie. Jesus Christus is die Brood van die lewe. Ons eet hierdie lewende Brood deur in Jesus te glo en deur die Heilige Gees sy Woord in ons harte te ontvang.

Om ontslae te raak van hierdie diepe geestelike honger en soeke na God, kom na Jesus toe want dit is net Hy wat ons geestelike honger kan versadig met die Brood wat lewe gee.
Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking