27 Maart 2016

Jesus het regtig opgestaan!





Jesus het regtig opgestaan!
Mat. 28 : 1-15 teksvers Mat. 28:6   Son 27 Mar 2016 GKE
SONDAG 17
45  Vraag:  Watter nut het die opstanding van Christus vir ons?
Antwoord:  Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak (a). 
Ten tweede word ons nou ook deur sy krag tot 'n nuwe lewe opgewek (b). 
Ten derde is die opstanding van Christus vir ons ’n betroubare waarborg van ons salige opstanding (c).
(a) Rom. 4:25;  1 Pet 1:3;  1 Kor. 15:16.  (b) Rom. 6:4;  Kol 3:1, 5;  Ef. 2:5, 6.  (c) 1 Kor. 15:20, 21.

Sing
Sb. 12-3 v 1 & 2
Sb. 9-2 v 1, 8 & 9
Sb. 15-7 v 4
Sb. 18-7 v 1, 10 & 12

Het Jesus regtig opgestaan? Reeds van die begin af word daar twyfel gesaai oor Jesus se opstanding. Net na Jesus se opstanding het die priesterhoofde en familiehoofde alreeds saamgesweer om Jesus se opstanding te ontken. Hulle het vir die soldate wat getuies van die opstanding was ’n groot som geld gegee en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het. En getrou aan die sondige aard van die mens het die wagte toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.

Vandag nog is daar baie mense wat skepties is oor Jesus se opstanding. Volgens sekulêre denke van ons tyd word verklaar: “Die wetenskap en ons ervaring het bewys: dood is dood en klaar!” Daarom kan die opstanding van Jesus Christus nie as ’n werklikheid, as ’n historiese feit, aanvaar word nie. Dit pas gewoon net nie in ons denkraamwerk in nie. Daarom word dit as ’n mite en ’n legende afgeskryf.

Selfs mense wat hulself steeds Christene noem verklaar dat Jesus nooit werklik opgestaan het nie. Dit word hoogstens as ’n simbool beskou wat vir ons sê: “Hy leef in my hart”, of “Ek ontmoet Hom in die prediking.” Mens wonder wat die inhoud van sulke prediking is? So word ’n gees van skeptisisme gesaai wat selfs opregte gelowiges kan begin laat wonder of Jesus werklik opgestaan het?

Die probleem daarmee is dat twyfel in die opstanding van Jesus is inderdaad twyfel in die wese van ons Christelike geloof. Die Christelike geloof staan of val by die werklikheid dat Jesus waaragtig uit die dood opgestaan het. As Christus egter in die dood vasgehaak het onstaan die vraag: “hoe moet mens die bestaan en voortbestaan van die kerk verklaar?” Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos soos ons inderdaad ook in 1 Kor. 15:17-19 hoor:
En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

As Christus nie opgestaan het nie, dan is alles wat ons hier as kerk saam doen tevergeefs. Dis tevergeefs dat ons, ons kinders laat doop. Dis tevergeefs dat ons eredienste bywoon. Dis tevergeefs dat ons enigsins as kerk bestaan.

Wat maak ons dan met die aanklag dat ons as Christene maar net ’n blinde geloof het wat teen al die bewyse die onmoontlike en onlogiese glo? As gelowiges glo ons inderdaad dat dit ’n historiese feit is dat Jesus uit die dood opgestaan het want die Woord van God laat hoegenaamd geen twyfel hieroor nie. Volgens die Bybel is die Opstanding ’n feit. Dit het werklik gebeur. Dwarsdeur die Nuwe Testament weerklink dit: Die Here het regtig opgestaan! As mens dit nie wil aanvaar nie, watter geloofwaardigheid het die res van die Nuwe Testament of die Bybel nog? Watter sin sou dit in elk geval maak om ’n dooie Heer en Meester te verkondig of tot Hom te bid, as Hy tog nie kan hoor nie?

Ten spyte van ’n aanklag van ’n irrasionele onlogiese geloof teen alle bewyse in, maak ons geloof in die historiese opstanding juis sin omdat dit die beste verduideliking gee vir die feite rondom dit. Die eerste historiese feit rondom die saak is die leë graf van Jesus. Byna al die erkende navorsers aanvaar die leë graf as ’n historiese feit wat deur die getuienis daaroor bevestig word. Enkele van hierdie getuienisse is byvoorbeeld die feit dat die opstanding verkondig is in die stad waar dit plaasgevind het. As die graf nie leeg was nie sou hierdie verkondiging geen geloofwaardigheid gehad het nie.

’n Volgende getuienis is dat die Jode wat teen Jesus was erken het dat die graf leeg was en daarom het hulle die wagte omgekoop om die storie te versprei dat Jesus se liggaam gesteel was soos ons hoor in Mat 28 : 11-15. Dit word ook bevestig in vroeë Joodse geskrifte. Daar is ook bewyse dat selfs in die tweede eeu NC die Jode nog steeds erken dat die graf leeg was en dat hulle allerlei verskonings gehad het om te verduidelik hoekom. Die leë graf het nie juis in hulle guns getel nie, maar tog het hulle dit erken omdat die bewyse daarvoor onomstootlik moes gewees het. As daar nie ’n leë graf was nie sou dit hulle saak versterk en sou hulle dit beslis as argument ter verdediging van hulle teenstand gebruik het.

Markus se weergawe van die leë graf en opstanding dateer so ver terug as net 7 jaar NC. Die beskrywing van Josef van Arimethea as die een wat Jesus begrawe het bevestig Markus se verhaal want hy was ’n bekende in die Joodse samelewing van sy tyd en daarom sal Markus nie valse berigte oor hom kon versprei nie. Dit sal dadelik deur die mense van sy tyd as vals uitgewys gewees het. Verder is dit ook so dat die vroeë datering van die Evangelie volgens Markus daarop wys dat daar nie genoegsame tyd verloop het vir legendes om te ontwikkel het nie. Legendes onstaan eers baie lank (eeue) na die gebeure waaroor die legende gaan.

Jesus het eerste aan die vroue verskyn soos ons hoor in al vier die Evangelies. In daardie tyd het vroue se getuienis nie getel nie. Hulle mag nie eers as getuies in die hof getuig het nie. As die verhaal van Jesus se opstanding ’n mite was sou vroue nooit as eerste getuienisse voorgehou gewees het nie, want hulle getuienis het dan geen waarde gehad nie. Die feit dat Hy eerste aan die vroue verskyn het, is nog ’n verdere bewys van die historiese akkuraatheid van die opstandingsverhaal. Dit is ook die bewys dat Jesus die volle waardigheid van vroue in die samelewing herstel.

So is daar nog baie vaste bewyse dat Jesus se graf leeg was en die opstanding van Jesus gee die beste verduideliking vir die historiese feit dat Jesus se graf leeg was.

Nog enkele bewyse is die feit van die dissipels se prediking. As hulle Jesus se liggaam gesteel het sou hulle geweet het dat hulle ’n leun verkondig. Hulle prediking het daartoe gely dat hulle vervolg en gemartel is en selfs doodgemaak is. Hoekom sou hulle dit verduur het om ’n leuen te verkondig?

Hierdie bewyse is nie die basis van ons geloof nie. Ons baseer nie ons geloof op historiese feite nie. Ons glo omdat die Heilige Gees ons oortuig dat die Skrif die waarheid is. Bogenoemde bewyse bevestig egter dat ons geloof nie irrasioneel of onsinnig is nie. Inderdaad gee ons geloof die beste verduideliking vir die historiese feite wat daar oor Jesus se opstanding is.

Waarom is die opstanding van Jesus Christus so belangrik? Hoekom maak dit saak? Wat beteken dit vir elke gelowige se lewe?

Die Opstanding bevestig dat Jesus se aanspraak dat Hy God is, waar is. As Jesus as ’n dooie in die graf agtergebly het sou dit onsinnig wees om sy aanspraak dat Hy God is te glo. Maar omdat Hy werklik opgestaan het sal dit dwaas wees om nie te glo dat Jesus God is nie. Inderdaad bevestig die Opstanding dat dit wat Jesus oor Homself gesê het, naamlik dat Hy ten volle God en mens is, die waarheid is.

Is daar enigsins rede om te glo dat die Bybel waar is? Of is die Bybel maar net outydse mites en legendes? As Jesus opgestaan het bevestig dit dat Hy God is. As Hy God is dan is sy uitsprake ten opsigte van die Bybel waar en gesagvol. Daarom moet die Bybel die waarheid wees en daarom kan ons glo dat die Bybel waar is en dat dit deur God as sy openbaring geïnspireer is. Daarom kan ons sonder twyfel vashou aan God se beloftes van hoop in die Bybel.

Ons Here leef en daarom is ons godsdiens nie ’n terugkyk nie, maar is dit inderdaad ’n toekomsperspektief. Ons kan die enigste lewende God ken en ons lewenspad vorentoe saam met Hom stap. Ons is nie alleen in die lewe nie. Daarom bely ons ook dat Jesus die straf van die sonde naamlik die dood oorwin het en dat ons inderdaad deel in sy geregtigheid. Ons kan die Skrif glo dat ons op grond van Jesus se kruisiging en opstanding voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het nie. Jesus het vir al ons sondes ten volle betaal en daardeur word die wortel van die dood afgesny.

Ons bely ook verder dat Hy ons deur sy krag ons tot ’n nuwe lewe opgewek het. Ons is nie meer vasgevang in die negatiewe van die sondige wêreld nie. Ons is nie meer gevangenis van die haat, onmin, verdeeldheid, vyandskap en al die negatiewe dinge van die lewe. Ons het nou deel aan die ware lewe waarin liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing deel is van ons lewe. Ons kan deel hê aan die positiewe in die lewe te midde van die hartseer gevolge van die sonde waarin die wêreld nog vasgevang is. Ons kan bo dit uitstyg.

Ons bely ook dat sy dood en opstanding ook ons dood en opstanding is. Die dood is nie meer iets wat ons vrees nie en die verskrikking en hopeloosheid wat die dood gehad het, het nie meer ’n houvas op ons nie. Die dood is nie meer ’n koning van verskrikking nie, maar ’n deurgang tot die ewige lewe.

Met Paasfees herdenk ons in besonder die kruisdood en opstanding van ons Here. Dit is egter nie iets wat net tot een maal ’n jaar beperk is nie. Jesus se opstanding het ’n effek op elke dag van ons lewe en daarom herdenk ons inderdaad elke Sondag sy opstanding waar ons, ons krag vandaan kry om die lewe wat Hy met sy opstanding vir ons gegee het, te gaan lewe.

Jesus het regtig opgestaan, gaan daarom hiervan uit en lewe Jesus se opstanding!
Amen


25 Maart 2016

My God my God, waarom het U my verlaat?

Mat 27 : 45-56 & Ps. 22:2 tv 46
Goeie Vrydag 25 Mar 2016 GKE

Sing: Ps. 22-1 : 1 & 2 of Sb 5-1 : 1 & 4.
Lied 380 : 1 & 2 Jesus, Lam gelei ter slagting
Sb 5-4 : 1 tot 6

Eli, Eli, lemá sabagtani?



Elke keer wanneer ek hierdie woorde hoor dan dink ek aan daardie Vrydag so bietjie meer as 2000 jaar gelede. Ek sien die prentjie van ’n Man wat daar aan die kruis hang en ek hoor daardie ontsettende woorde. Ek sien die pyn en Godverlatenheid in sy oë. Ek voel die onsekerheid van die mense oor die skielike duisternis wat so drie ure gelede neergedaal het.

Sien u ook die dieptepunt van lyding raak wat Jesus verduur het daar aan die kruis? “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is die middelste en dieptepunt van die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis geuiter het. Ontsettende woorde wat ’n mens se hart aangryp en dit laat mens wonder hoe kon Hy wat God is, werklik deur God verlaat word? In die woorde van Johannes die doper (Joh. 1:29) lê die antwoord vir hierdie vraag opgesluit.
Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Ons aanvaar so maklik dat Jesus die sonde laat “weggaan” het. Wanneer ons hoor dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos vergeet ons so maklik wat dit Hom werklik gekos het. Ons haak so maklik vas by die verkeerde persepsie dat Jesus die sonde eenkant toe geskuif het net soos wat mens stof onder ’n mat sou invee. Met hierdie uitroep van Jesus aan die kruis hoor ons hoe Hy dit gedoen het en hoe diep dit Hom werklik geraak het. Hoe verskriklik moes daardie oomblik nie vir Hom gewees het nie?

Wanneer ons die uitroep hoor “My God my God, waarom het U my verlaat?” moet ons dit nie hoor as God wat deur God verlaat is nie. Dis die uitroep van God wat mens geword het en wat die sonde van die mensdom op Hom geneem het. Dit is die hartverskeurende uitroep van elke mens op aarde wat deur sonde van God afgesny is. Die lyding daarvan is so groot dat Hy nie anders kan as om in bange Godverlatenheid na God te roep vir verlossing nie.

Dit is ons pyn, ons seer, ons wanhoop wat uiteindelik ’n stem kry. Dit is die uitroep van God wat as mens ons gebrokenheid op Hom geneem het en die volle wanhoop, angs en sielepyn ervaar om van God geskei te word. “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is die gebreekte verhouding met God wat woorde kry. Daardie leë gevoel en die soeke na iets meer in die lewe wat hoorbaar word.

Wanneer dit vir jou voel of God jou in die steek gelaat het. Wanneer jy wakker lê en bang is vir wat die toekoms vir jou inhou. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit lyk asof die bose besig is om oor te neem en dit voel of die wêreld buite beheer raak. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit voel asof God nie meer omgee nie en dat Hy niks doen om ons te beskerm nie. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit vir jou voel of niemand vir jou omgee nie en almal jou weggegooi het en jy vergete en eensaam eenkant verstoot is. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Wanneer dit vir jou voel of die verhoudings in jou lewe net nie meer wil werk nie. Ek en my huweliksmaat is besig om al hoe verder van mekaar weg te dryf. My verhouding met my kinders bestaan byna nie meer nie. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Wanneer dit vir jou voel of jy God teleur gestel het omdat jy alweer in sonde geval het. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer jy so sukkel om teen die sonde te stry en dit vir jou voel of jy alleen staan in die stryd. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Die uitroep van Jesus aan die kruis “My God, my God, waarom het U my verlaat” is nie net die uitroep van Jesus nie. Dit is ons uitroep. Hy het my angs beleef, my verlatenheid. Die groot verskil tussen Jesus se uitroep en ons gevoel van Godverlatenheid is dat ons verdien om deur God verlaat te word terwyl Jesus onskuldig is. Nogtans het Hy gekies om ware Godverlatenheid in ons plek te dra. Die ander groot verskil is dat alhoewel dit soms vir ons voel of God ons verlaat het, het Hy nie omdat Jesus gekies het om namens ons deur God verlaat te word.

Dit is ’n troos waaraan ons kan vashou. Maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, God is daar en Hy sal my nooit alleen laat nie soos ons ook hoor in Rom. 8:38&39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Hierdie troos is net beskikbaar vir diegene wat die evangelie van Jesus Christus glo. Dis net beskore vir daardie mense wat opreg glo dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy Godverlatenheid in my plek gedra het sodat ek nooit weer deur God verlaat is. Diegene wat egter hardnekkig aanhou om die evangelie van Jesus Christus te minag moet weet dat die verskrikking van Godverlatenheid op hulle wag.

Kom vind jou vrede in Jesus Christus. Neem sy belofte aan. Neem sy woorde “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” te harte, want Jesus het eenmaal in bange Godverlatenheid uitgeroep “My God, my God waarom het U my verlaat?” sodat ons nooit sal nodig hê om ware Godverlatenheid te verduur nie.
Amen


20 Maart 2016

Ons kan waag om weer te droom, Geloof en gebed gee hoop vir die toekoms

Mar 11:12-25 tv’e 13 & 24
20 Mar 2016
Ps. 42-1:1 – 3
Sb 9-3 : 1 & 2
Sb 15-1:1 – 4
Ps. 91-1:1 & 6

Is daar nog hoop vir die toekoms? Durf ons nog waag om te droom binne die harde werklikheid van Suid-Afrika in 2016? Om hierdie vrae te kan beantwoord gaan put ons krag uit die bron van Hoop in hierdie wêreld.

Hier in Mar 10 tot 15 hoor ons die verhaal van een van die grootste gebeure in die geskiedenis van die mensdom. Dit beskryf die gebeure daardie laaste week voor Jesus se kruisiging en sy opstanding drie dae later. Binne in hierdie groter verhaal hoor ons van ’n skynbaar terloopse insident van ’n vyeboom wat nie vrugte gedra het nie. Ons lees so maklik daaroor en mis dan die belangrike boodskap wat dit vir ons inhou. As die Here vir ons iets in die Bybel sê, dan doen Hy dit nie sonder goeie rede nie.

Dit beskryf vir ons die gebeure op die Maandag voor Jesus gekruisig is en Hy weereens op pad na die tempel toe. Mens sou wonder wat het die vyeboom en die gebeure wat daardie dag by die tempel plaasgevind het met mekaar te doen? Hierdie gebeure het ’n baie noue verband, want dit bring ’n boodskap van hoop vir ’n wêreld wat sonder hoop sit. Ons kan waag om weer te droom want Geloof en gebed gee hoop vir die toekoms.

Op pad na die tempel stap Jesus en sy dissipels by ’n vyeboom verby. Omdat Jesus honger was het Hy nader gestap om te kyk of Hy nie dalk ’n vy daaraan kon kry nie. Ten spyte van die pragtige groen blare aan die boom was daar egter nie ’n enkele vrug aan die boom nie.

Dan hoor ons hierdie skokkende woorde: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Dit is Jesus se enigste oordeelswonder. By al die ander wonders word iemand beter. Hongeriges kry kos, storms kom tot bedaring. Drie maal laat hy mense wat gesterf het weer lewe, maar hierdie vyeboom laat Hy doodgaan!

Was Jesus gefrustreerd omdat Hy nie kon kry wat Hy wou hê nie? Was dit dalk die spanning van wat die komende Vrydag op Hom gewag het? Nee geliefdes, Jesus gebruik nooit sy wondermag om Homself te bevoordeel nie. Al sy wonders dra ’n boodskap.

Die vervloeking van die vyeboom en die skoonmaak van die tempel is albei simboliese aksies wat op die geestelike bankrotskap van die mens wys. Uiterlik geen vrugte nie en innerlik korrup.

Jesus het nie die vyeboom vervloek omdat Hy kwaad was vir die vyeboom nie. Sy woede was eerder gerig op alles waarvan daardie vrugtelose boom ’n simbool is: lou, selftevrede en hoogmoedige gelowiges. Die Here het nie behae in geloof wat lou is nie. Hy hou nie van skyn-godsdiens nie.

Dit is juis die soort godsdiens wat Hy in sy tyd as mens in die wêreld gevind het. Die mense was gedurig besig om alles wat Hy gedoen en sê het te kritiseer. Hulle het sy dissipels gekritiseer omdat hulle op die verkeerde tyd geëet het. Hulle het Hom gekritiseer omdat Hy die verkeerde mense vergewe het. Hulle het gekla omdat Hy nie met die “regte” mense gemeng het nie en dat Hy ’n “slegte” invloed op die kinders gehad het. Elke keer as Hy mense bevry het, het hulle probeer om hulle in hulle ou vormgodsdiens terug te druk.

Waar staan ons in hierdie opsig? Is ons nie ook soms te krities en veroordelend omdat mense nie presies ons oorgelewerde gebruike en rituele nakom nie? In watter mate is ons in vormgodsdiens vasgevang? Dra ons die vrug van die Gees? Getuig ons lewens van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,  nederigheid en selfbeheersing?

Dit is maklik om net vinger te wys en te sê: “kyk wat doen julle!” Is daar dalk iemand wat jou te na gekom het wat jy moet vergewe? Het ek dalk anderpad gekyk toe daardie moedelose persoon oor my pad gekom het? Dra ons mekaar se laste? Het die situasie in my lewe en in ons land my ook al op moedverloor se vlakte? Doen ek ook maar net mee aan die moedelose praatjies of sien ek hoop vir die toekoms?

Wat verwag Jesus van ons? Hy verwag meer van ons as net blare van skyngodsdiens. Hy verwag meer as daardie front wat ons so maklik voorhou. Hy wil meer as dit hê, want Hy weet dat ’n skyn vormgodsdiens ’n inherente doodsheid in het. Ervaar jy die vreugde wat ’n verhouding met God inhou? Jesus verwag vrug by ons. Hy wil hê dat die vrug van die Gees duidelik sigbaar is in ons lewens.

Verwag Jesus nie te veel nie? Ons hoor tog duidelik in Mar. 11:13 dat dit nie vyetyd was nie. Was dit nie onbillik van Jesus om ’n vrug aan daardie vyeboom te wou vind terwyl dit nie vyetyd was nie? Verwag Jesus nie van ons ook vrugte wanneer ons soms nie het om te gee nie? Die feit dat dit nie vyetyd was nie, wys vir ons dat daar nie seisoene is waarin ons moet vrug dra nie. Ons moet heel jaar vrugte dra.

Hoe moet ons maak om nie net blare van vertoon dra nie, maar dat ons ook vrug dra? Wanneer Petrus die volgende dag vir Jesus noem dat die vyeboom wat Hy vervloek het heeltemal verdroog het, sou mens verwag dat Jesus vir hom sou sê dat hulle moet sorg dat hulle vrug dra, anders gaan hulle net so verdroog soos daardie vyeboom. Dit is tog immers die boodskap wat die wêreld elke dag aan ons uitbasuin. Jy moet sterk wees teen die aanslae van die wêreld. Ruk jouself reg. As jy geen ander opsie het as om sterk te wees nie sal jy anderkant uitkom. Kom, kom, sit net skouer aan die wiel. Die boodskap van die wêreld is ’n troostelose boodskap wat geen hoop bied nie, want wat moet ek doen as ek nie meer sterk kan wees nie? As dit die antwoord is wat Jesus gegee het, sal dit net soveel gehelp het as wat mens by ’n vrugtelose vyeboom staan en vir dit sê: “jy beter sorg dat jy vrugte dra!”

Genadiglik is dit nie die antwoord wat Jesus gegee het nie. Nee Jesus se antwoord was: (Mar. 11:22) “Julle moet geloof in God hê!” Dit wil sê, “vertrou op God.” Glo dat Jesus gekom het om jou vry te maak van ’n doodse vormgodsdiens. Dat Hy die prys betaal het sodat jy ook die lewe kan smaak. Geloof is die krag wat die vrug van die Gees in jou lewe sal laat groei. Geloof is die krag wat jou met nuwe oë na die wêreld laat kyk. Daarom, geliefdes. Glo dat die evangelie vir jou ook waar is.

Jesus gaan nog verder en deur te verduidelik hoe kragtig geloof werklik is soos ons hoor in Mar 11:23 “Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see, en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.” Is daar in jou lewe ’n berg wat tussen jou en God staan? ’n Berg wat jou hoop so oorskadu dat dit naderhand heeltemal uitgedoof raak? Deur die krag van geloof kan jy daardie berg skuif.

In Mar 11:24 sê Jesus vir ons hoe ons daardie berg met behulp van geloof kan skuif: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ons moet egter nie die konteks waarbinne hierdie belofte gemaak word miskyk nie. Die konteks is dat die Here wil hê dat jy Hom persoonlik moet ken. Dat jy moet verstaan hoe groot sy liefde vir jou is. Moet daarom nie hierdie belofte verskraal tot ’n manier om ’n deftiger motor of indrukwekkende salaris te verseker nie. Die belofte waarvan die Here praat is baie groter as aardse rykdom. Sy droom vir jou is meer as bevorderings en winsgrense.

Hy wil jou bevry van die sonde, vrees en dood. Dit is die berge wat Hy uit jou pad gehaal het. Hy wil hê dat jy Hom werklik moet leer ken en vertrou dat Hy jou sal dra. Hy wil vir jou hoop gee. Dit is die beloftes wat Hy sal verhoor. Waag dit weer om te droom. Gebruik geloof en gebed om hoop te vind vir die toekoms.

Amen