20 Maart 2016

Ons kan waag om weer te droom, Geloof en gebed gee hoop vir die toekoms

Mar 11:12-25 tv’e 13 & 24
20 Mar 2016
Ps. 42-1:1 – 3
Sb 9-3 : 1 & 2
Sb 15-1:1 – 4
Ps. 91-1:1 & 6

Is daar nog hoop vir die toekoms? Durf ons nog waag om te droom binne die harde werklikheid van Suid-Afrika in 2016? Om hierdie vrae te kan beantwoord gaan put ons krag uit die bron van Hoop in hierdie wêreld.

Hier in Mar 10 tot 15 hoor ons die verhaal van een van die grootste gebeure in die geskiedenis van die mensdom. Dit beskryf die gebeure daardie laaste week voor Jesus se kruisiging en sy opstanding drie dae later. Binne in hierdie groter verhaal hoor ons van ’n skynbaar terloopse insident van ’n vyeboom wat nie vrugte gedra het nie. Ons lees so maklik daaroor en mis dan die belangrike boodskap wat dit vir ons inhou. As die Here vir ons iets in die Bybel sê, dan doen Hy dit nie sonder goeie rede nie.

Dit beskryf vir ons die gebeure op die Maandag voor Jesus gekruisig is en Hy weereens op pad na die tempel toe. Mens sou wonder wat het die vyeboom en die gebeure wat daardie dag by die tempel plaasgevind het met mekaar te doen? Hierdie gebeure het ’n baie noue verband, want dit bring ’n boodskap van hoop vir ’n wêreld wat sonder hoop sit. Ons kan waag om weer te droom want Geloof en gebed gee hoop vir die toekoms.

Op pad na die tempel stap Jesus en sy dissipels by ’n vyeboom verby. Omdat Jesus honger was het Hy nader gestap om te kyk of Hy nie dalk ’n vy daaraan kon kry nie. Ten spyte van die pragtige groen blare aan die boom was daar egter nie ’n enkele vrug aan die boom nie.

Dan hoor ons hierdie skokkende woorde: “Van jou sal niemand tot in der ewigheid ooit weer vye eet nie.” Dit is Jesus se enigste oordeelswonder. By al die ander wonders word iemand beter. Hongeriges kry kos, storms kom tot bedaring. Drie maal laat hy mense wat gesterf het weer lewe, maar hierdie vyeboom laat Hy doodgaan!

Was Jesus gefrustreerd omdat Hy nie kon kry wat Hy wou hê nie? Was dit dalk die spanning van wat die komende Vrydag op Hom gewag het? Nee geliefdes, Jesus gebruik nooit sy wondermag om Homself te bevoordeel nie. Al sy wonders dra ’n boodskap.

Die vervloeking van die vyeboom en die skoonmaak van die tempel is albei simboliese aksies wat op die geestelike bankrotskap van die mens wys. Uiterlik geen vrugte nie en innerlik korrup.

Jesus het nie die vyeboom vervloek omdat Hy kwaad was vir die vyeboom nie. Sy woede was eerder gerig op alles waarvan daardie vrugtelose boom ’n simbool is: lou, selftevrede en hoogmoedige gelowiges. Die Here het nie behae in geloof wat lou is nie. Hy hou nie van skyn-godsdiens nie.

Dit is juis die soort godsdiens wat Hy in sy tyd as mens in die wêreld gevind het. Die mense was gedurig besig om alles wat Hy gedoen en sê het te kritiseer. Hulle het sy dissipels gekritiseer omdat hulle op die verkeerde tyd geëet het. Hulle het Hom gekritiseer omdat Hy die verkeerde mense vergewe het. Hulle het gekla omdat Hy nie met die “regte” mense gemeng het nie en dat Hy ’n “slegte” invloed op die kinders gehad het. Elke keer as Hy mense bevry het, het hulle probeer om hulle in hulle ou vormgodsdiens terug te druk.

Waar staan ons in hierdie opsig? Is ons nie ook soms te krities en veroordelend omdat mense nie presies ons oorgelewerde gebruike en rituele nakom nie? In watter mate is ons in vormgodsdiens vasgevang? Dra ons die vrug van die Gees? Getuig ons lewens van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid,  nederigheid en selfbeheersing?

Dit is maklik om net vinger te wys en te sê: “kyk wat doen julle!” Is daar dalk iemand wat jou te na gekom het wat jy moet vergewe? Het ek dalk anderpad gekyk toe daardie moedelose persoon oor my pad gekom het? Dra ons mekaar se laste? Het die situasie in my lewe en in ons land my ook al op moedverloor se vlakte? Doen ek ook maar net mee aan die moedelose praatjies of sien ek hoop vir die toekoms?

Wat verwag Jesus van ons? Hy verwag meer van ons as net blare van skyngodsdiens. Hy verwag meer as daardie front wat ons so maklik voorhou. Hy wil meer as dit hê, want Hy weet dat ’n skyn vormgodsdiens ’n inherente doodsheid in het. Ervaar jy die vreugde wat ’n verhouding met God inhou? Jesus verwag vrug by ons. Hy wil hê dat die vrug van die Gees duidelik sigbaar is in ons lewens.

Verwag Jesus nie te veel nie? Ons hoor tog duidelik in Mar. 11:13 dat dit nie vyetyd was nie. Was dit nie onbillik van Jesus om ’n vrug aan daardie vyeboom te wou vind terwyl dit nie vyetyd was nie? Verwag Jesus nie van ons ook vrugte wanneer ons soms nie het om te gee nie? Die feit dat dit nie vyetyd was nie, wys vir ons dat daar nie seisoene is waarin ons moet vrug dra nie. Ons moet heel jaar vrugte dra.

Hoe moet ons maak om nie net blare van vertoon dra nie, maar dat ons ook vrug dra? Wanneer Petrus die volgende dag vir Jesus noem dat die vyeboom wat Hy vervloek het heeltemal verdroog het, sou mens verwag dat Jesus vir hom sou sê dat hulle moet sorg dat hulle vrug dra, anders gaan hulle net so verdroog soos daardie vyeboom. Dit is tog immers die boodskap wat die wêreld elke dag aan ons uitbasuin. Jy moet sterk wees teen die aanslae van die wêreld. Ruk jouself reg. As jy geen ander opsie het as om sterk te wees nie sal jy anderkant uitkom. Kom, kom, sit net skouer aan die wiel. Die boodskap van die wêreld is ’n troostelose boodskap wat geen hoop bied nie, want wat moet ek doen as ek nie meer sterk kan wees nie? As dit die antwoord is wat Jesus gegee het, sal dit net soveel gehelp het as wat mens by ’n vrugtelose vyeboom staan en vir dit sê: “jy beter sorg dat jy vrugte dra!”

Genadiglik is dit nie die antwoord wat Jesus gegee het nie. Nee Jesus se antwoord was: (Mar. 11:22) “Julle moet geloof in God hê!” Dit wil sê, “vertrou op God.” Glo dat Jesus gekom het om jou vry te maak van ’n doodse vormgodsdiens. Dat Hy die prys betaal het sodat jy ook die lewe kan smaak. Geloof is die krag wat die vrug van die Gees in jou lewe sal laat groei. Geloof is die krag wat jou met nuwe oë na die wêreld laat kyk. Daarom, geliefdes. Glo dat die evangelie vir jou ook waar is.

Jesus gaan nog verder en deur te verduidelik hoe kragtig geloof werklik is soos ons hoor in Mar 11:23 “Dit verseker Ek julle: Elkeen wat vir hierdie berg sê: ‘Lig jou op en val in die see, en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.” Is daar in jou lewe ’n berg wat tussen jou en God staan? ’n Berg wat jou hoop so oorskadu dat dit naderhand heeltemal uitgedoof raak? Deur die krag van geloof kan jy daardie berg skuif.

In Mar 11:24 sê Jesus vir ons hoe ons daardie berg met behulp van geloof kan skuif: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.” Ons moet egter nie die konteks waarbinne hierdie belofte gemaak word miskyk nie. Die konteks is dat die Here wil hê dat jy Hom persoonlik moet ken. Dat jy moet verstaan hoe groot sy liefde vir jou is. Moet daarom nie hierdie belofte verskraal tot ’n manier om ’n deftiger motor of indrukwekkende salaris te verseker nie. Die belofte waarvan die Here praat is baie groter as aardse rykdom. Sy droom vir jou is meer as bevorderings en winsgrense.

Hy wil jou bevry van die sonde, vrees en dood. Dit is die berge wat Hy uit jou pad gehaal het. Hy wil hê dat jy Hom werklik moet leer ken en vertrou dat Hy jou sal dra. Hy wil vir jou hoop gee. Dit is die beloftes wat Hy sal verhoor. Waag dit weer om te droom. Gebruik geloof en gebed om hoop te vind vir die toekoms.

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking