25 Maart 2016

My God my God, waarom het U my verlaat?

Mat 27 : 45-56 & Ps. 22:2 tv 46
Goeie Vrydag 25 Mar 2016 GKE

Sing: Ps. 22-1 : 1 & 2 of Sb 5-1 : 1 & 4.
Lied 380 : 1 & 2 Jesus, Lam gelei ter slagting
Sb 5-4 : 1 tot 6

Eli, Eli, lemá sabagtani?



Elke keer wanneer ek hierdie woorde hoor dan dink ek aan daardie Vrydag so bietjie meer as 2000 jaar gelede. Ek sien die prentjie van ’n Man wat daar aan die kruis hang en ek hoor daardie ontsettende woorde. Ek sien die pyn en Godverlatenheid in sy oë. Ek voel die onsekerheid van die mense oor die skielike duisternis wat so drie ure gelede neergedaal het.

Sien u ook die dieptepunt van lyding raak wat Jesus verduur het daar aan die kruis? “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is die middelste en dieptepunt van die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis geuiter het. Ontsettende woorde wat ’n mens se hart aangryp en dit laat mens wonder hoe kon Hy wat God is, werklik deur God verlaat word? In die woorde van Johannes die doper (Joh. 1:29) lê die antwoord vir hierdie vraag opgesluit.
Die volgende dag sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!

Ons aanvaar so maklik dat Jesus die sonde laat “weggaan” het. Wanneer ons hoor dat Jesus gekom het om ons van ons sondes te verlos vergeet ons so maklik wat dit Hom werklik gekos het. Ons haak so maklik vas by die verkeerde persepsie dat Jesus die sonde eenkant toe geskuif het net soos wat mens stof onder ’n mat sou invee. Met hierdie uitroep van Jesus aan die kruis hoor ons hoe Hy dit gedoen het en hoe diep dit Hom werklik geraak het. Hoe verskriklik moes daardie oomblik nie vir Hom gewees het nie?

Wanneer ons die uitroep hoor “My God my God, waarom het U my verlaat?” moet ons dit nie hoor as God wat deur God verlaat is nie. Dis die uitroep van God wat mens geword het en wat die sonde van die mensdom op Hom geneem het. Dit is die hartverskeurende uitroep van elke mens op aarde wat deur sonde van God afgesny is. Die lyding daarvan is so groot dat Hy nie anders kan as om in bange Godverlatenheid na God te roep vir verlossing nie.

Dit is ons pyn, ons seer, ons wanhoop wat uiteindelik ’n stem kry. Dit is die uitroep van God wat as mens ons gebrokenheid op Hom geneem het en die volle wanhoop, angs en sielepyn ervaar om van God geskei te word. “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is die gebreekte verhouding met God wat woorde kry. Daardie leë gevoel en die soeke na iets meer in die lewe wat hoorbaar word.

Wanneer dit vir jou voel of God jou in die steek gelaat het. Wanneer jy wakker lê en bang is vir wat die toekoms vir jou inhou. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit lyk asof die bose besig is om oor te neem en dit voel of die wêreld buite beheer raak. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit voel asof God nie meer omgee nie en dat Hy niks doen om ons te beskerm nie. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit vir jou voel of niemand vir jou omgee nie en almal jou weggegooi het en jy vergete en eensaam eenkant verstoot is. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Wanneer dit vir jou voel of die verhoudings in jou lewe net nie meer wil werk nie. Ek en my huweliksmaat is besig om al hoe verder van mekaar weg te dryf. My verhouding met my kinders bestaan byna nie meer nie. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Wanneer dit vir jou voel of jy God teleur gestel het omdat jy alweer in sonde geval het. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer jy so sukkel om teen die sonde te stry en dit vir jou voel of jy alleen staan in die stryd. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”

Die uitroep van Jesus aan die kruis “My God, my God, waarom het U my verlaat” is nie net die uitroep van Jesus nie. Dit is ons uitroep. Hy het my angs beleef, my verlatenheid. Die groot verskil tussen Jesus se uitroep en ons gevoel van Godverlatenheid is dat ons verdien om deur God verlaat te word terwyl Jesus onskuldig is. Nogtans het Hy gekies om ware Godverlatenheid in ons plek te dra. Die ander groot verskil is dat alhoewel dit soms vir ons voel of God ons verlaat het, het Hy nie omdat Jesus gekies het om namens ons deur God verlaat te word.

Dit is ’n troos waaraan ons kan vashou. Maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, God is daar en Hy sal my nooit alleen laat nie soos ons ook hoor in Rom. 8:38&39
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Hierdie troos is net beskikbaar vir diegene wat die evangelie van Jesus Christus glo. Dis net beskore vir daardie mense wat opreg glo dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het en dat Hy Godverlatenheid in my plek gedra het sodat ek nooit weer deur God verlaat is. Diegene wat egter hardnekkig aanhou om die evangelie van Jesus Christus te minag moet weet dat die verskrikking van Godverlatenheid op hulle wag.

Kom vind jou vrede in Jesus Christus. Neem sy belofte aan. Neem sy woorde “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” te harte, want Jesus het eenmaal in bange Godverlatenheid uitgeroep “My God, my God waarom het U my verlaat?” sodat ons nooit sal nodig hê om ware Godverlatenheid te verduur nie.
Amen


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking