Mat
27 : 45-56 & Ps. 22:2 tv 46
Goeie
Vrydag 25 Mar 2016 GKE
Sing: Ps. 22-1 : 1
& 2 of Sb 5-1 : 1 & 4.
Lied 380 : 1 &
2 Jesus, Lam gelei ter slagting
Sb 5-4 : 1 tot 6
Eli, Eli, lemá sabagtani?
Elke
keer wanneer ek hierdie woorde hoor dan dink ek aan daardie Vrydag so bietjie
meer as 2000 jaar gelede. Ek sien die prentjie van ’n Man wat daar aan die
kruis hang en ek hoor daardie ontsettende woorde. Ek sien die pyn en
Godverlatenheid in sy oë. Ek voel die onsekerheid van die mense oor die
skielike duisternis wat so drie ure gelede neergedaal het.
Sien u ook die dieptepunt van
lyding raak wat Jesus verduur het daar aan die kruis? “My God, my God, waarom
het U my verlaat?” is die middelste en dieptepunt van die sewe kruiswoorde wat
Jesus aan die kruis geuiter het. Ontsettende woorde wat ’n mens se hart aangryp
en dit laat mens wonder hoe kon Hy wat God is, werklik deur God verlaat word? In
die woorde van Johannes die doper (Joh. 1:29) lê die antwoord vir hierdie vraag
opgesluit.
Die volgende dag
sien Johannes vir Jesus na hom toe kom. Hy sê toe: “Dáár is die Lam van God wat
die sonde van die wêreld wegneem!
Ons aanvaar so maklik dat Jesus
die sonde laat “weggaan” het. Wanneer ons hoor dat Jesus gekom het om ons van
ons sondes te verlos vergeet ons so maklik wat dit Hom werklik gekos het. Ons
haak so maklik vas by die verkeerde persepsie dat Jesus die sonde eenkant toe
geskuif het net soos wat mens stof onder ’n mat sou invee. Met hierdie uitroep
van Jesus aan die kruis hoor ons hoe Hy dit gedoen het en hoe diep dit Hom
werklik geraak het. Hoe verskriklik moes daardie oomblik nie vir Hom gewees het
nie?
Wanneer ons die uitroep hoor “My
God my God, waarom het U my verlaat?” moet ons dit nie hoor as God wat deur God
verlaat is nie. Dis die uitroep van God wat mens geword het en wat die sonde
van die mensdom op Hom geneem het. Dit is die hartverskeurende uitroep van elke
mens op aarde wat deur sonde van God afgesny is. Die lyding daarvan is so groot
dat Hy nie anders kan as om in bange Godverlatenheid na God te roep vir
verlossing nie.
Dit is ons pyn, ons seer, ons
wanhoop wat uiteindelik ’n stem kry. Dit is die uitroep van God wat as mens ons
gebrokenheid op Hom geneem het en die volle wanhoop, angs en sielepyn ervaar om
van God geskei te word. “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is die gebreekte
verhouding met God wat woorde kry. Daardie leë gevoel en die soeke na iets meer
in die lewe wat hoorbaar word.
Wanneer dit vir jou voel of God
jou in die steek gelaat het. Wanneer jy wakker lê en bang is vir wat die
toekoms vir jou inhou. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My
God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer dit lyk asof die bose besig is
om oor te neem en dit voel of die wêreld buite beheer raak. Jesus weet hoe jy
voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer
dit voel asof God nie meer omgee nie en dat Hy niks doen om ons te beskerm nie.
Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U
my verlaat?” Wanneer dit vir jou voel of niemand vir jou omgee nie en almal jou
weggegooi het en jy vergete en eensaam eenkant verstoot is. Jesus weet hoe jy
voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Wanneer dit vir jou voel of die
verhoudings in jou lewe net nie meer wil werk nie. Ek en my huweliksmaat is
besig om al hoe verder van mekaar weg te dryf. My verhouding met my kinders
bestaan byna nie meer nie. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit:
“My God, my God, waarom het U my verlaat?”
Wanneer dit vir jou voel of jy God
teleur gestel het omdat jy alweer in sonde geval het. Jesus weet hoe jy voel en
Hy roep namens jou uit: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” Wanneer jy
so sukkel om teen die sonde te stry en dit vir jou voel of jy alleen staan in
die stryd. Jesus weet hoe jy voel en Hy roep namens jou uit: “My God, my God,
waarom het U my verlaat?”
Die uitroep van Jesus aan die
kruis “My God, my God, waarom het U my verlaat” is nie net die uitroep van
Jesus nie. Dit is ons uitroep. Hy het my angs beleef, my verlatenheid. Die
groot verskil tussen Jesus se uitroep en ons gevoel van Godverlatenheid is dat
ons verdien om deur God verlaat te word terwyl Jesus onskuldig is. Nogtans het
Hy gekies om ware Godverlatenheid in ons plek te dra. Die ander groot verskil
is dat alhoewel dit soms vir ons voel of God ons verlaat het, het Hy nie omdat
Jesus gekies het om namens ons deur God verlaat te word.
Dit is ’n troos waaraan ons kan
vashou. Maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, God is daar en Hy sal my nooit
alleen laat nie soos ons ook hoor in Rom. 8:38&39
Hiervan is ek
oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige
dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons
van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons
Here.
Hierdie troos is net beskikbaar
vir diegene wat die evangelie van Jesus Christus glo. Dis net beskore vir
daardie mense wat opreg glo dat Jesus vir my sondes aan die kruis gesterf het
en dat Hy Godverlatenheid in my plek gedra het sodat ek nooit weer deur God
verlaat is. Diegene wat egter hardnekkig aanhou om die evangelie van Jesus
Christus te minag moet weet dat die verskrikking van Godverlatenheid op hulle
wag.
Kom vind jou vrede in Jesus
Christus. Neem sy belofte aan. Neem sy woorde “Kom na My toe, almal wat
uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” te harte, want Jesus het
eenmaal in bange Godverlatenheid uitgeroep “My God, my God waarom het U my
verlaat?” sodat ons nooit sal nodig hê om ware Godverlatenheid te verduur nie.
Amen