29 Junie 2014

Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan

20 Apr. 2014 GKE

Joh. 20 v 1-18; teksvers Luk 24 v 33 (Lees ook Mat. 28; Mar 16; Luk 24 & Joh. 20-21)

Lof-Psalm Ps. 92 v 1 (OAB)
Na Wet Ps. 38 v 1 (OAB)
Na Gebed Ps. 42 v 1 (OAB)
Slotsang Sb. 1-1 v 1 & 2 (Sb 24 in ou Swart Ps. boek)

Inleiding
Met Paasfees herdenk Christene wêreldwyd Jesus kruisdood en daarmee saam ook sy opstanding. Paasfees word as een van die belangrikste feeste op die Christelike kalender beskou. Die opstanding van Jesus Christus is die Christen se waarborg tot ’n nuwe lewe in God of anders gestel dit is ons waarborg van die ewige lewe wat nou reeds saam met God begin. Sonder die opstanding is ons geloof waardeloos soos die Here vir ons in 1 Kor. 15 v 17 – 19 sê:
17 En as Christus nie opgewek is nie, is julle geloof waardeloos en is julle nog gevange in julle sondes. 18 Dan is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore. 19 As ons net vir hierdie lewe ons hoop op Christus vestig, is ons die bejammerenswaardigste van alle mense.

Christus se opstanding beteken vir ons die volgende:
1)    Ons Here leef! Ons aanbid nie ’n dooie God nie. Ons kyk nie terug in die verlede na God nie, maar ons kyk vorentoe na ’n lewe saam God.
2)    Ons kan dit doen want Jesus het die skeiding wat sonde tussen ons en God veroorsaak het, met sy kruisdood weggeneem. Sy opstanding is ons waarborg dat Hy die dood oorwin het. Dit gee vir ons die waarborg dat ons voor God staan asof ons nooit enige sonde gedoen het nie.
3)    Deur die opstanding word ons tot ’n nuwe lewe opgewek waar ons die heerlike teenwoordigheid van God ervaar.
4)    Verder is die opstanding ook vir ons ’n waarborg van ons eie salige opstanding in Christus. Die dood hou nie meer vir ons verskrikking in nie. Dit is ’n deurgang tot God waar ons vir ewig saam met God kan lewe sonder trane hartseer pyn of dood.

Hoekom ervaar ons dan nie altyd hierdie wonderlike voordele van die opstanding nie? Hoekom voel dit soms vir ons of God so ver is? Hoekom sukkel ons om hierdie nuwe lewe saam met God te leef? Hoekom kry my ou sondige natuur so dikwels die oorhand in die lewe?

Hier in ons teksgedeelte sien ons dat daar ’n paar blokkasies is wat kan keer dat ons die nut van opstanding in ons lewens kan ervaar. In die eerste plek is daar die blokkasie van vyandskap teen God. Tweedens is daar die blokkasie van woede teenoor God. Derdens die blokkasie van skuldgevoelens. Vierdens is daar die blokkasie hartseer en ’n gevoel van Godverlatenheid.

Blokkasie van Vyandskap:
Ons staan in die eerste plek stil by die blokkasie van vyandskap. In Mat 28v11-15 hoor ons:
11 Terwyl die vroue op pad was, kom party van die wagte in die stad aan en vertel vir die priesterhoofde alles wat gebeur het. 12 Die priesterhoofde het saam met die familiehoofde vergader en die volgende plan gemaak. Hulle het vir die soldate ’n groot som geld gegee 13 en gesê: “Julle moet sê: ‘Sy dissipels het in die nag gekom en sy liggaam gesteel terwyl ons geslaap het.’14 En as die goewerneur daarvan hoor, sal ons hom tevrede stel en sorg dat julle nie bekommerd hoef te wees nie.”
15 Die wagte het toe die geld gevat en gemaak soos hulle voorgesê is.
Hierdie storie word tot vandag toe onder die Jode vertel.
Die wagte wat hierdie gebeure aan die Priesterhoofde vertel was daar. Hulle het presies gesien wat gebeur het soos ons hoor in Mat. 28 v 2 – 4:
2 Skielik was daar ’n geweldige aardbewing. ’n Engel van die Here het van die hemel af gekom, na die graf toe gegaan, die klip weggerol en daarop gaan sit.
3 Sy voorkoms was so blink soos weerlig en sy klere so wit soos sneeu. 4 Van skrik vir hom het die wagte gebewe en soos dooies geword.

Ten spyte daarvan weier die Priesterhoofde om die ware gebeure te glo en hulle dis ’n ander verduideliking daarvoor op. Net so is daar vandag ook mense wat weier om die vertelling van ooggetuies te aanvaar. Hulle glo nie die Bybel nie soos een persoon Donderdag op ’n internet besprekingsforum geskryf het in ’n bespreking oor hoe ons Goeie Vrydag moet vier:
Miskien moet julle eerste van alles uitvind of die karakter van Jesus ooit bestaan het want anders is al die menings pure verniet?
So is daar persone wat die absolute wonder en krag van Christus se kruisiging en opstanding mis omdat hulle weier om in Jesus Christus te glo. Die hartseer is dat as mens hiermee volhard, jy die moontlikheid in die gesig staar om vir ewig sonder God te wees.

Die blokkasie van woede
In die verhaal in Luk. 24v20-23 hoor ons van Kleopas wat bitter ontsteld was:
21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ’n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie.
Kleopas is kwaad omdat hy meen dat Jesus hulle in die steek gelaat het. Hulle het so hard gehoop dat Jesus vir Israel sou verlos van die Romeinse onderdrukking.

Hoe dikwels gebeur dit dat ons ook teleurgesteld voel? Ons het een of ander verwagting gehad wat nie uitgewerk het nie en nou is ons kwaad vir die Here. Die probleem wat Kleopas gehad het was dat hy ’n verkeerde verwagting van Christus gehad het en dat hy ook nie die groter prentjie verstaan het nie. Hy het ’n aardse verwagting van Jesus gehad en hy het nie die groter prentjie van God se koninkryk raakgesien nie. Hoe dikwels is verwagting van Jesus net maar eintlik oor materiële gewin. Ons wil hê dat dit hier en nou moet goed gaan en dit verblind ons vir die teenwoordigheid van God net soos Kleopas en sy metgesel verblind was ten opsigte van Jesus se teenwoordigheid nie. Deur die Woord het Jesus egter Kleopas se verkeerde verwagting reggestel soos ons hoor in Luk 24v27:
Daarna het Hy by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê.
As ons dus kwaad is vir God omdat ons voel dat Hy ons teleurgestel het dan is dit nodig dat ons met sy Woord moet besig wees en wanneer ons dit doen dan sal God Homself aan ons bekendmaak.

Die blokkasie van skuldgevoelens
Petrus het die Here drie maal verloën. Dink net watter skuldgevoel Petrus moes gehad het. Dit is Petrus wat ewe manhaftig verklaar het soos ons in Luk. 22v33 hoor:
“Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
Daarom dat hy ook so half terughoudend is wanneer hy en Johannes gaan kyk na Jesus se leë graf soos ons hoor in Joh. 20v3-4:
3 Petrus en die ander dissipel het toe uitgekom en na die graf toe gegaan. 4 Die twee het saam begin hardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf gekom.

Dink net wat moes binne in Petrus se gemoed aangegaan het. Het Jesus regtig opgestaan? Hy moes weet en daarom het hy by die graf ingegaan waar Johannes net by die ingang bly staan het soos ons hoor in Joh. 20v6:
Ná hom het Simon Petrus ook daar aangekom, en hy het in die graf ingegaan.
In Luk. 24v12b hoor ons:
Vol verwondering oor wat gebeur het, is hy terug huis toe.

Hoe dikwels word ons nie ook as gevolg van skuldgevoelens afgesny van Jesus af nie. Ek het al weer in sonde geval ten spyte van my beste intensies. Ewe grootpraterig het ek net soos Petrus verklaar:
“Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”
En nou staan my sonde al weer soos ’n muur tussen my en die Here. Skaam skuldig sien ek nie kans om vir Jesus in die oë te kyk nie. Genadiglik is dit die beste posisie om in te wees om die Here se genade te ontvang. Dit is eers wanneer ek besef dat ek tot die dood toe skuldig is dat ek werklik kan begryp hoe groot God se genade is. Jesus is getrou en Hy hou nie sy genade terug nie soos ons hoor in Luk. 24v34:
“Die Here het regtig opgestaan en Hy het aan Simon verskyn!”

Geliefdes, as ons deur skuldgevoelens oorweldig word is dit net nodig dat ons weer by Jesus uitkom sodat ons weereens die heerlikheid van sy teenwoordigheid kan ervaar.

Die blokkasie van hartseer en ’n gevoel van Godverlatenheid.
Maria Magdalena se hartseer het gekeer dat sy Jesus herken soos ons hoor in Joh. 20v11:
Maar Maria het buite by die graf bly staan en huil.
In Joh. 20v15 hoor ons:
Jesus vra haar toe: “Mevrou, waarom huil jy? Vir wie soek jy?”
Sy het gedink dit is die tuinopsigter, en sy het vir hom gesê: “Meneer, as u Hom weggevat het, sê vir my waar u Hom begrawe het, en ek sal Hom daar gaan haal.”
Dit gebeur soms dat hartseer ons heeltemal verblind vir die liefdevolle teenwoordigheid van die Here. Dit is die tye wanneer dit vir ons voel of die lewe net te veel is. Die genade is dat die Here verstaan en daarom laat Hy ons nooit alleen nie. Jesus het bange Godverlatenheid ervaar sodat ons nooit weer deur God verlaat sal word nie. Ons moet maar net luister vir sy stem. Jesus het nie vir Maria alleen gelaat nie. Hy het geduldig by haar gebly totdat sy Hom herken het soos ons hoor Joh. 20v16:
Jesus het vir haar gesê: “Maria!”
Sy draai na Hom toe en sê in Hebreeus vir Hom: “Rabboeni!” Dit beteken leermeester.
Wanneer ons deur hartseer verblind word moet ons maar net besig bly met die Here se Woord en ons sal sy liefdevolle stem daar hoor.

Slot
Die blokkasies wat keer dat ons deur die krag van Jesus se opstanding die liefdevolle teenwoordigheid van die Here ervaar is vyandskap teen God, woede, skuldgevoelens en hartseer. As hierdie blokkasies in die pad staan van u verhouding met die Here, kom na Jesus toe. Moenie toelaat dat blokkasies jou van die krag van Jesus Christus se opstanding beroof nie want ons Here het regtig opgestaan !!!!!

Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking