23 Mar 2014
Skriflesing Pred.
2 Teksvers Pred. 2v10&11
Liturgie
na Votum Ps. 48 v 1 & 3 (OAB)
Na Wet Ps. 119 v 1 (OAB)
Na gebed Ps. 119 v 39 (OAB)
Slotsang Ps. 46 v 1 & 6 (OAB)
Inleiding
Het u al ooit vir die
grootste leuen in hierdie wêreld geval? As ek maar net ’n miljoen kan kry of
wen dan sal ek gelukkig wees! As ek maar net genoeg geld het sodat ek nie meer
so hoef te sukkel nie, dan sal ek gelukkig wees. As ek genoeg geld het dan kan
ek bekostig om soveel plesier te hê as wat ek wil. As ek genoeg geld het dan
kan ek koop wat my hart begeer. Dan kan ek daardie huis bekostig wat ek nog
altyd wou gehad het. Ons dink so dikwels dat geld die sleutel tot geluk in
hierdie lewe is. Die groot vraag is egter: “kan geld werklik vir ons blywende
geluk kan verskaf?”
Hier in ons teks hoor ons
hoe die Prediker (wat volgens die beskrywings in die boek Salomo is) ook geluk
nagejaag het. Daarin vind ons sy soeke na geluk en die rede waarom hy dit nie
gevind het nie. Daarna gaan ons ook hoor waar ons ware blywende geluk kan vind.
In die eerste plek gaan ons nou stilstaan by Salomo se soeke na geluk.
Die soeke na geluk
Salomo wou bepaal hoe hy
blywende geluk kon vind en daarom het hy ’n eksperiment uitgevoer om te bepaal
hoe hy blywende geluk kon vind. In die eerste plek het hy plesier probeer soos
ons hoor in Pred. 2v1:
Ek het
by myself gedink: laat ek my oorgee aan plesier, laat ek die lewe geniet!
Dit het egter nie geslaag
het nie soos ons hoor in Pred. 2v1b&2
Maar ook
dit het niks opgelewer nie. Van lag moes ek sê: dis sinloos, en van plesier:
wat bring dit?
Toe dit nie slaag nie het
hy drank oorweeg soos ons hoor in Pred. 2v3:
Ek het
gewonder wat sal gebeur as ek my aan wyn oorgee maar tog nog op soek bly na
wysheid, as ek soos ’n dwaas leef totdat ek vasgestel het wat die beste is
waarmee ’n mens hom sy lewe lank in hierdie wêreld besig kan hou.
Hierin kan ons sien dat hy
nie maar net homself onnadenkend aan lewe van plesier en drank oorgegee het
nie, maar dat hy werklik besig was om te probeer uitvind of mens daardeur
blywende geluk kon vind, daarom sê hy dat hy bly soek het na wysheid.
Die volgende ding wat
Salomo getoets het was om groot bouprojekte aan te pak. Hy het huise gebou het
en wingerde aangeplant. Hy het tuine en parke aangelê waarin hy allerhande bome
en vrugte bome geplant het. Hy het die nodige damme aangelê wat water vir die
tuine moes verskaf. Verder het hy ook genoeg slawe en slavinne aangeskaf wat na
al die werk moes omsien. Hy het besittings opgegaar en ook baie geld bymekaar
gemaak soos ons hoor in Pred. 2v8a:
Ek het
vir my silwer en goud opgegaar wat ek gekry het van konings en provinsies.
Verder het hy gesorg vir
genoeg ontspanning soos ons hoor in Pred. 2v8b:
Ek het
vir my sangers en sangeresse gewerf, talle mooi meisies met wie ek die lewe kon
geniet.
Omdat hy dit kon doen, het
hy alles vir hom gekry wat sy hart begeer het soos ons in Pred. 2v10 hoor:
Alles
wat ek begeer het, het ek my veroorloof; ek het my geen plesier ontsê nie.
Dit laat mens dink aan die
ryk filmsterre met hulle groot weelderige huise daar in Hollywood. Die groot
partytjies wat hulle hou en al die meisies wat in sulke klien bikini’s daar om
die swembad rondloop.
Dit bring ons maar net weereens
by die vraag: “kan geld, werklik geluk koop?” Ons moet egter mooi dink voordat
ons te vinnig “nee” antwoord omdat ons weet dat dit die regte antwoord is.
Salomo het tog ook tot daardie slotsom gekom het soos ons hoor in Pred. 2v11:
Maar toe
ek goed nadink oor alles wat ek gedoen het en oor alles waarmee ek my met
soveel sorg besig gehou het, het ek gesien dat alles niks was, ’n gejaag na wind. In hierdie wêreld
bevredig niks nie
As ons doodeerlik met
onsself is, dan sal ons erken dat ek ook graag so ’n miljoen of twee op die
Lotto sal wil wen (selfs al speel ons nie Lotto nie, en dalk koop ek maar so
dan en wan ’n Lottokaartjie). Is die denke dat geld geluk kan koop, nie maar
die rede waarom soveel mense vir geldslenters gevang word nie en dan al hulle
reserwefondse daardeur verloor? Is dit nie die rede hoekom ons soms so maklik
ons swaarverdiende geld op riskante beleggingskemas waag nie?
Dit is eers wanneer ons
die werklike rede verstaan waarom geld en rykdom nie geluk kan koop nie, dat
ons verlos sal word om na rykdom te smag. Dit help nie ons staan net stil by
vers 11 omdat Salomo gesê het dat die soeke na rykdom maar net ’n gejaag na
wind is nie. Dit help selfs nie eens as ons ’n paar voorbeelde ophaal van die
superrykes in ons wêreld wat ten spyte van al hul rykdom sielsongelukkig is
nie, want daar is ook ryk mense wat wel gelukkig is. Rykdom en plesier is
opsigself nie boos en verkeerd nie (ons gaan later stilstaan waarom nie).
Vervolgens gaan ons nou stilstaan by die rede waarom geld en rykdom op hul eie
nie geluk kan verskaf nie.
Geld en rykdom kan op hul eie nie geluk verskaf nie
Waarom het Salomo tot die
slotsom gekom dat alles waarmee hy homself met soveel sorg besig gehou het, op
niks uitgeloop het nie. Waarom was dit ’n gejaag na wind? Hy het wel gesê dat
wysheid beter as dwaasheid is soos ons hoor in Pred. 2v14a:
Die wyse
weet wat hy doen, vir die dwaas is daar net donkerte
Maar tog kom hy tot die
slotsom dat selfs wysheid ook nie kan help nie, want so sê hy vir ons in Pred.
2v14b:
maar dit
weet ek: een en dieselfde lot tref albei.
In Pred. 2 v 16 hoor ons
die rede:
Die wyse
sal net so min as die dwaas altyd onthou word. In tye wat kom, word alles
vergeet. Die wyse sterf net soos die dwaas!
Die wyse sterf net soos
die dwaas! Salomo was baie ryk en wys soos ons hoor in Pred. 2v9:
Ek was
magtiger en ryker as almal voor my in Jerusalem. My wysheid het my goed te pas
gekom.
Ten spyte van sy rykdom en
wysheid kon hy nog steeds nie die straf vir die sonde ongedaan maak nie. Die
wyse sterf net soos die dwaas. Met die sondeval is die mens uit die Paradys
verban en is die mens aan die straf vir die sonde onderwerp, naamlik die dood.
Met al die rykdom en wysheid van hierdie wêreld kan die mens nie die gevolge
van die sondeval ongedaan maak nie! Die wyse sterf net soos die dwaas!
Is dit dan verkeerd om die
lewe te geniet en is rykdom verkeerd? Nee geliefdes, rykdom opsigself is nie
verkeerd nie, solank mens besef dat dit ’n gawe van God is soos ons ook hoor in
Pred. 2v24:
Dit is
nie aan die mens self te danke dat hy kan eet en drink en onder al sy arbeid
nog die goeie kan geniet nie. Ek het ingesien dat dit ’n gawe uit die hand van
God is.
Dit is slegs wanneer die
soeke na rykdom en plesier ’n doel opsigself word, dat dit ’n gejaag na wind
word. Wanneer mens jou geluk in rykdom en plesier soek, dan vind mens dat leeg
en sinloos word. Sonder God word die lewe ’n gejaag na wind. Dit is net by God
waar mens ware geluk en vrede kan vind.
Waar vind ons dus ware en blywende geluk?
Ons vind ware en blywende
geluk alleen by God. Sonde veroorsaak dat ons van God afgeskei raak en wanneer
ons van God geskei is, raak die lewe sinloos en leeg. Sonder God is die lewe ’n
gejaag na wind. Dit is slegs deur Jesus Christus wat ons God weer kan vind
omdat Hy alleen weer vir ons die lewe wat ons verloor het kan teruggee soos ons
hoor in Joh. 11v25:
“Ek is
die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook
In Joh. 14v6 hoor ons dat
Jesus die enigste weg tot die Vader is:
“Ek is
die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur
My nie.
Samevatting
Deur die boek Prediker wys
die Here vir ons watter lewenspad na leegheid lei en help Hy ons om te ontdek
wat die ware doel met die lewe is. Hierdie kennis kan ons beskerm teen die leegheid
wat daar in ’n lewe sonder God is. Hy leer vir ons dat dinge soos kennis, geld,
plesier, werk en gewildheid geen betekenis het nie. Ware bevrediging kom as ’n mens weet dat die
dinge wat ons doen, deel van God se plan vir ons lewens is. Deur sy lewende Woord in die boek Prediker
help die Here ons om ons te bevry van ons ewige sug na mag, goedkeuring en geld
én kan ons ook daardeur nader na God gebring word.
Geliefdes moenie geluk by
verkeerde plekke soos plesier en rykdom soek nie. Laat ons eerder ons geluk by
die Here in Jesus Christus soek, want niks kan in hierdie wêreld vir ons
blywende geluk gee nie, slegs God kan dit doen.
Amen
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking