29 Junie 2014

Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak

30 Mar 2014
Skriflesing Mat 4:12-22 teksvers Mat 4:19
Liturgie
Ps. 111-2:1 & 3
Ps. 112-2:1 & 3
Ps. 119-2:7,18 & 19
Sb 3-4:1 & 5

Inleiding
Wanneer mens belydenis van geloof aflê erken jy daarmee dat jy ’n volgeling / dissipel van Jesus wil wees. Wat beteken dit om ’n volgeling van Jesus te wees?

Tyd van voorbereiding
In ons teksgedeelte hoor ons van Jesus wat met bediening (sy werk) hier op aarde begin het en ook waar Hy sy eerste volgelinge geroep het. Om dit egter mooi te verstaan is dit nodig dat ons na die groter prentjie, dit wil sê die agtergrond van die gebeure kyk (konteks). Voor hierdie gebeure het daar twee belangrike gebeurtenisse in Jesus se lewe plaasgevind: sy doop en sy versoeking deur satan in die woestyn soos ons hoor in Mat. 3:31-4:11.

Hierdie gebeure was ’n belangrike tyd van voorbereiding vir Jesus se werk hier op aarde. Daarin het Jesus vir ons gewys dat Hy Homself volledig aan sy Vader se wil onderwerp het. Met sy doop wou Johannes Hom aanvanklik nie doop nie, want hy het gemeen dat hy wat Johannes is eerder deur Jesus gedoop moes word. Jesus maak egter sy besware stil deur te sê (Mat 3:15):
“Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Met sy versoeking het Hy gewys dat ons die satan oorwin deur volkome gehoorsaamheid aan God. Hiermee het Jesus gewys dat Hy self bereid was om te doen wat Hy van sy volgelinge verwag om te doen. Verder het Hy ook gewys dat oorgawe aan God se wil rus en kalmte bring.

Omdat Jesus egter die sondigheid van die mens geken het, het Hy baie meer gedoen as om net ’n voorbeeld te stel. Hy was tot die dood toe gehoorsaam aan God deur ons straf vir die sonde te dra en daarmee het Hy ons in staat gestel om aan God gehoorsaam te wees. Om ’n volgeling van Jesus te word beteken dus vir ons dat ons ook ’n tyd van voorbereiding moet deur gaan (katkisasie). Ons voorbereiding is egter anders as wat Jesus sin was. In ons tyd van voorbereiding moet ons God leer ken en leer hoe ons, ons verhouding weer met Hom in Jesus Christus herstel kan word.

Toe Jesus na die Woestyn toe gegaan het is Hy deur die Heilige Gees gelei om dit te doen soos ons hoor in Mat 4:1
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.
Ons voorbereiding beteken ook dat ons deur die Heilige Gees gely word om die verlossing in Jesus Christus deur middel van geloof aan te gryp. Met ander woorde Ons kry kennis van die verlossing in Jesus Christus se kruisiging en opstanding deur te hoor en die Gees wek in ons die geloofsvertroue dat dit wat ons geleer het die waarheid is. Daarom word die belydenis van geloof ook ingely met “Glo u .....” Ons sal later tydens die belydenis aflegging in meer detail daarby stilstaan.

Daar is dus ’n tyd van voorbereiding nodig sodat ons kan weet wat ons moet glo om ’n volgeling van Jesus Christus te word.

Bekering
Bekering is ’n volgende aspek van ’n volgeling van Jesus. In Mat 4:17 hoor ons:
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Wanneer jy ’n volgeling van Jesus is moet mens jouself bekeer. Bekering beteken ’n radikale rigting verandering in jou lewe. As jy ’n volgeling van Jesus word, kan jy nie maar net met sy ou lewe voorgaan nie. ’n Volgeling van Jesus is nie meer in opstand teen God se wil nie, maar daar is ’n opregte begeerte by hom/haar om gehoorsaam te wees aan God se wil.

Roeping
Bekering bring ’n radikale verandering in mens se lewe te weeg. Gely deur die Heilige Gees luister jy na die roepstem van Jesus. In Mat 4:20 hoor ons:
Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
en in Mat 4:22 hoor ons weer
hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.
Dit beteken ’n volkome gehoorsaamheid aan die wil van God.

Wanneer Jesus ons roep om Hom te volg, maak Hy ook ’n belofte: (Mat 4:19)
Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.
’n Belofte dat Hy ons sal gebruik om te werk in sy koninkryk.

Jesus begin sy bediening deur die lig van God se Koninkryk te bring na daar waar die duisternis oorheers. Hy vestig Homself in Kapernaum aan die bopunt van die meer van Galilea. Dit is die gebied van Sebulon en Naftali wat verag was. In Jes. 8:23 hoor ons dat daar na hierdie gebied verwys word as die land van duisternis. Een van die groot temas in die Bybel is dat God lig is. As mens God dus nie ken nie, woon jy in die duisternis. Dit is juis na hierdie mense wat God nie ken nie, wat Jesus gaan.

Wanneer jy ’n volgeling van Jesus is, het jy die roeping om die evangelie (die goeie nuus van die versoening met God in Jesus Christus) te bring aan mense wat nog in die duisternis leef sonder God omdat hulle Hom nie ken nie. Dit is egter nie ’n taak wat ons in eie krag moet aanpak nie. Hy maak ons vissers van mense. God rus ons toe om die werk te doen wat Hy van ons vra.

Samevatting
Om ’n volgeling van Jesus te word, beteken dat ons moet leer wie Hy is en hoe Hy ons weer met God versoen. ’n Volgeling van Jesus luister na God en daar is by hom/haar ’n opregte begeerte om te doen wat God van ons vra. Jesus gebruik sy volgelinge om aan mense wat Hom nie ken nie te vertel wie Hy is en dat as hulle in Jesus glo hulle God ook persoonlik kan leer ken.

Die Here roep ons: “Kom saam met My” en wanneer ons belydenis van geloof aflê, antwoord ons Hom deur te sê: “ja Here ek wil die pad saam met U stap. Gebruik my in U koninkryk.”


Amen

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking