Wys tans plasings met die etiket dissipel. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket dissipel. Wys alle plasings

15 Maart 2020

Hoe maak jy 'n verskil in die lewe?

Datum: 15 Mar. 2020 GKE

Skriflesing: Mat. 28 v 10 en 16 - 20
Teksvers: Mat. 28 v 18 – 20



Hoekom is ek hier? Wat is die sin van die lewe? Dis een van die groot lewensvrae waarop elkeen vir hom of haarself 'n antwoord moet kry?

Ons leef in 'n tyd waar mense op hulself en hul eie behoeftes gefokus is. “Watse voordeel hou dit vir my in?” is die algemene beginsel en waarde waarmee die lewe benader word. “Hoekom is ek hier?” word beantwoord met “ek is hier vir myself.”

Dis 'n denkwyse wat ons selfs in die kerk vind. En tog leer die Here ons in sy Woord dat ons anders as die wêreld moet wees. In hierdie laaste woorde van Jesus aan sy dissipels voordat Hy opgevaar het hoor ons ons die essensie van wat dit beteken om 'n Christin te wees.

As jy jouself 'n Christin wil noem moet jy 'n dissipel van Jesus Christus wees. 'n Dissipel is 'n volgeling van Jesus. Die vraag wat ons onsself moet vra: “Is ek 'n ware dissipel van Jesus Christus?”

Om 'n dissipel van Jesus te wees beteken dat jy in Hom moet glo. Jy moet die evangelie glo, naamlik dat Jesus vir jou sondes aan 'n vervloekte kruishout gesterf het. Hy het jou sondeskuld wat tussen jou en God staan op Homself geneem deur die straf vir die sonde, naamlik die ewige dood namens jou te dra. Omdat Hy God is, het Hy die dood oorwin en daarmee gee Hy aan jou 'n nuwe lewe.

'n Dissipel van Jesus Christus is dus iemand wat in Hom glo en ook lewe soos 'n dissipel van Jesus Christus. 'n Dissipel van Jesus Christus se lewe lyk anders as die wêreld se lewe. 'n Dissipel van Jesus Christus is nie op hom of haarself gefokus nie, maar hy of sy maak 'n verskil in die wêreld.

In hierdie afskeidswoorde van Jesus hoor ons hoe 'n dissipel te werk moet gaan om 'n verskil in die wêreld moet maak.

In Mat. 28 v 16 & 17 hoor ons hoe Jesus weer sy dissipels ontmoet nadat Hy uit die dood opgestaan het. Hulle reaksie is om Hom te aanbid. Ons hoor ook dat sommige van hulle getwyfel het. Geliefdes, twyfel jy ook nog?

Luister dan mooi hoe Jesus Homself as te ware aan hulle bekendstel met hierdie herontmoeting. In Mat. 28v18 hoor ons:
“Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.

Hy bevestig hiermee sy Goddelike gesag en daarom kan jy nie maar net sy opdragte wat gaan volg ignoreer nie. As jy dalk nog twyfel, Jesus bevestig hier Hy is die Seun van God. Hy is die Koning aan wie alle mag in die hemel en op die aarde gegee is.

Nou volg Jesus se opdrag in Mat. 29 v 19
maak die mense my dissipels
Dis die hoofopdrag wat Jesus aan sy volgelinge gee. Dit is hoe jy 'n verskil maak in die lewe. Stel Jesus aan die mense voor. Dink net daaraan hoe anders sou die wêreld gewees het as al die mense volgelinge van Jesus was, want 'n volgeling volg Jesus se voorbeeld na om lief te hê, om om te gee vir mense, om uit te reik na die nood in die wêreld. Hoe anders sou die wêreld gelyk het as almal lief was vir mekaar en soos Jesus geleef het?

Saam met hierdie opdrag verduidelik Jesus ook hoe mens te werk moet gaan om sy opdrag uit te voer, dit wil sê hoe maak mens dissipels.

Daar is drie aspekte daaraan verbonde:
Eerstens, “gaan na al die nasies toe.” Gaan uit. Moenie stilsit nie. Spring aan die werk.

Waar begin jy? Jy begin by jouself. Jy kan nie met oortuiging na ander toe gaan om hulle volgelinge van Jesus te maak as jy nie self 'n volgeling is nie. Aanvaar ek wie Jesus sê dat Hy is? Hy is die ewige Koning van hemel en aarde. Is ek bereid om myself aan sy gesag te onderwerp? Is ek bereid om te luister na en te doen wat Hy vir my sê om te doen?

Daarna gaan jy na jou huisgesin. Stel jy die voorbeeld vir jou gesin? Hoe tree jy teenoor jou vrou op? Hoe tree jy teenoor jou man op? Maak jy jou kinders volgelinge van Jesus? Lees julle saam Bybel? Bid julle saam? Bring jy jou kinders gereeld eredienste toe of wys jy vir hulle deur jou voorbeeld dat erediensbywoning nie belangrik is nie? Kom jy jou doopbelofte na?

Daarna gaan jy na jou groter huisgesin, jou broers en susters in die kerk. Ken jy jou broers en suster in die gemeente werklik? Of ken jy hulle maar net van sien af? Weet jy wat in hul lewens aangaan? Weet jy dat daar mense in ons gemeente is wat bitter eensaam is? Mense wat weens ouderdom en siekte nie meer kerk toe kan kom nie. Gesinne waar die vrou alleen is omdat haar man ver buite die grense moet werk. Het jy al besoek afgelê by die eensames? Het jy al aangebied om te hoor of daar iets is waarmee jy kan help?

Maak jy moeite om jou broers en suster wat deur beproewinge gaan te bemoedig? Bid jy vir hulle? Daar’s mense in ons gemeente wie se kinders oorsee is. Het jy al met hulle kontak gemaak om te hoor hoe dit met hulle kinders gaan? Kinders wat hier saam met ons groot geword het in die gemeente. Is jy bekommerd oor ons broers en susters wat weg raak? Wat het jy al gedoen om in liefde na hulle uit te reik?

Stel jy die vreemdelinge wat oor jou pad kom aan Jesus voor? Kan hulle Jesus se liefde in jou lewe raak sien?

Die tweede aspek wat Jesus noem oor hoe om dissipels te maak hoor ons in Mat. 28v19b:
doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees
Met ander woorde hulle moet deel word van die kerk van Christus waarvan alle Christene deel is. Hulle word deel deur aan te sluit by 'n plaaslike gemeente waar broeders en suster in liefde mekaar ondersteun.

Weereens, eerstens die vraag aan jouself: “Is ek waarlik deel van die gemeente of is ek maar net deel in soverre my naam op 'n lidmaatregister is?” Het jy al iemand wat nie aan 'n kerk behoort nie uitgenooi om saam met jou 'n erediens te kom bywoon?

Die derde aspek wat Jesus noem oor hoe om dissipels te maak hoor ons in Mat. 28v 20a:
leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.
Een van die belangrikste aspekte by onderrig gee is dat jy nie net vir iemand kan sê wat om te doen nie. Jy moet vir hom deur jou voorbeeld wys wat om te doen.

Hoe leer jy jou kinders? Kinders doen nie wat ons vir hulle sê om te doen nie. Hulle doen wat hulle ons sien doen.

Jesus sê vir ons in Mat. 11 v 28
“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Stel Jesus bekend aan mense. Moedig hulle aan om sy uitnodiging te aanvaar. Vertel vir hulle van die evangelie en wat die evangelie in jou lewe vir jou beteken het. Vertel vir hulle hoe die evangelie jou lewe verander het.

In Mat. 5 – 7 hoor ons die hoe Jesus die mense leer. Ons hoor byvoorbeeld in Mat. 5 16:
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”
In Mat. 5:24b
maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe
En in Mat. 5v9 hoor ons:
Geseënd is die vredemakers,
want hulle sal kinders van God genoem word.

In Mat. 5v33 - 37 hoor ons dat jy nie 'n eed moet aflê nie want:
Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’, ‘nee’. Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.”

In Mat. 5v44 hoor ons:
Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg,
Om maar net enkele voorbeelde te noem van wat Jesus ons beveel het.

In Mat. 22 v 37 – 40 som Jesus sy opdragte aan ons op:
“‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’  In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat.”

Saam met sy opdrag gee Jesus ook 'n belofte soos ons hoor in Mat. 28v20b:
En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.
Jesus begin deur sy Goddelike gesag te bevestig. Hy is die Koning wat tot in alle ewigheid sal regeer en dan sluit Hy af met hierdie belofte dat ons nooit alleen sal wees nie. Hy het na sy Hemelvaart vir ons die Heilige Gees gestuur as vertrooster.

God is met jou en sal jou nooit in die steek laat nie. In die swaarste aanvegtinge wat oor jou pad kom is Hy daar. Vertrou Hom wanneer Hy sê dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Ons grootste getuienis is juis wanneer ons vir die wêreld wys dat ons op God vertrou wanneer die lewe moeilik raak.

Geliefdes, hoe kan jy 'n verskil maak in die lewe? Stel mense aan Jesus voor. Wys hulle deur jou voorbeeld wat dit beteken om 'n volgeling van Jesus Christus te wees en watse verskil dit in jou lewe maak.

Amen

29 Junie 2014

Kom saam met My en Ek sal julle vissers van mense maak

30 Mar 2014
Skriflesing Mat 4:12-22 teksvers Mat 4:19
Liturgie
Ps. 111-2:1 & 3
Ps. 112-2:1 & 3
Ps. 119-2:7,18 & 19
Sb 3-4:1 & 5

Inleiding
Wanneer mens belydenis van geloof aflê erken jy daarmee dat jy ’n volgeling / dissipel van Jesus wil wees. Wat beteken dit om ’n volgeling van Jesus te wees?

Tyd van voorbereiding
In ons teksgedeelte hoor ons van Jesus wat met bediening (sy werk) hier op aarde begin het en ook waar Hy sy eerste volgelinge geroep het. Om dit egter mooi te verstaan is dit nodig dat ons na die groter prentjie, dit wil sê die agtergrond van die gebeure kyk (konteks). Voor hierdie gebeure het daar twee belangrike gebeurtenisse in Jesus se lewe plaasgevind: sy doop en sy versoeking deur satan in die woestyn soos ons hoor in Mat. 3:31-4:11.

Hierdie gebeure was ’n belangrike tyd van voorbereiding vir Jesus se werk hier op aarde. Daarin het Jesus vir ons gewys dat Hy Homself volledig aan sy Vader se wil onderwerp het. Met sy doop wou Johannes Hom aanvanklik nie doop nie, want hy het gemeen dat hy wat Johannes is eerder deur Jesus gedoop moes word. Jesus maak egter sy besware stil deur te sê (Mat 3:15):
“Nogtans moet jy dit nou doen, want op hierdie manier moet ons aan die wil van God voldoen.”

Met sy versoeking het Hy gewys dat ons die satan oorwin deur volkome gehoorsaamheid aan God. Hiermee het Jesus gewys dat Hy self bereid was om te doen wat Hy van sy volgelinge verwag om te doen. Verder het Hy ook gewys dat oorgawe aan God se wil rus en kalmte bring.

Omdat Jesus egter die sondigheid van die mens geken het, het Hy baie meer gedoen as om net ’n voorbeeld te stel. Hy was tot die dood toe gehoorsaam aan God deur ons straf vir die sonde te dra en daarmee het Hy ons in staat gestel om aan God gehoorsaam te wees. Om ’n volgeling van Jesus te word beteken dus vir ons dat ons ook ’n tyd van voorbereiding moet deur gaan (katkisasie). Ons voorbereiding is egter anders as wat Jesus sin was. In ons tyd van voorbereiding moet ons God leer ken en leer hoe ons, ons verhouding weer met Hom in Jesus Christus herstel kan word.

Toe Jesus na die Woestyn toe gegaan het is Hy deur die Heilige Gees gelei om dit te doen soos ons hoor in Mat 4:1
Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word.
Ons voorbereiding beteken ook dat ons deur die Heilige Gees gely word om die verlossing in Jesus Christus deur middel van geloof aan te gryp. Met ander woorde Ons kry kennis van die verlossing in Jesus Christus se kruisiging en opstanding deur te hoor en die Gees wek in ons die geloofsvertroue dat dit wat ons geleer het die waarheid is. Daarom word die belydenis van geloof ook ingely met “Glo u .....” Ons sal later tydens die belydenis aflegging in meer detail daarby stilstaan.

Daar is dus ’n tyd van voorbereiding nodig sodat ons kan weet wat ons moet glo om ’n volgeling van Jesus Christus te word.

Bekering
Bekering is ’n volgende aspek van ’n volgeling van Jesus. In Mat 4:17 hoor ons:
“Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom.”
Wanneer jy ’n volgeling van Jesus is moet mens jouself bekeer. Bekering beteken ’n radikale rigting verandering in jou lewe. As jy ’n volgeling van Jesus word, kan jy nie maar net met sy ou lewe voorgaan nie. ’n Volgeling van Jesus is nie meer in opstand teen God se wil nie, maar daar is ’n opregte begeerte by hom/haar om gehoorsaam te wees aan God se wil.

Roeping
Bekering bring ’n radikale verandering in mens se lewe te weeg. Gely deur die Heilige Gees luister jy na die roepstem van Jesus. In Mat 4:20 hoor ons:
Hulle het dadelik die nette gelos en Hom gevolg.
en in Mat 4:22 hoor ons weer
hulle het dadelik die skuit en hulle pa verlaat en vir Jesus gevolg.
Dit beteken ’n volkome gehoorsaamheid aan die wil van God.

Wanneer Jesus ons roep om Hom te volg, maak Hy ook ’n belofte: (Mat 4:19)
Kom saam met My, en Ek sal julle vissers van mense maak.
’n Belofte dat Hy ons sal gebruik om te werk in sy koninkryk.

Jesus begin sy bediening deur die lig van God se Koninkryk te bring na daar waar die duisternis oorheers. Hy vestig Homself in Kapernaum aan die bopunt van die meer van Galilea. Dit is die gebied van Sebulon en Naftali wat verag was. In Jes. 8:23 hoor ons dat daar na hierdie gebied verwys word as die land van duisternis. Een van die groot temas in die Bybel is dat God lig is. As mens God dus nie ken nie, woon jy in die duisternis. Dit is juis na hierdie mense wat God nie ken nie, wat Jesus gaan.

Wanneer jy ’n volgeling van Jesus is, het jy die roeping om die evangelie (die goeie nuus van die versoening met God in Jesus Christus) te bring aan mense wat nog in die duisternis leef sonder God omdat hulle Hom nie ken nie. Dit is egter nie ’n taak wat ons in eie krag moet aanpak nie. Hy maak ons vissers van mense. God rus ons toe om die werk te doen wat Hy van ons vra.

Samevatting
Om ’n volgeling van Jesus te word, beteken dat ons moet leer wie Hy is en hoe Hy ons weer met God versoen. ’n Volgeling van Jesus luister na God en daar is by hom/haar ’n opregte begeerte om te doen wat God van ons vra. Jesus gebruik sy volgelinge om aan mense wat Hom nie ken nie te vertel wie Hy is en dat as hulle in Jesus glo hulle God ook persoonlik kan leer ken.

Die Here roep ons: “Kom saam met My” en wanneer ons belydenis van geloof aflê, antwoord ons Hom deur te sê: “ja Here ek wil die pad saam met U stap. Gebruik my in U koninkryk.”


Amen