26 April 2026

Die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde

 

Psalm 130; Teksverse Ps. 130:1 & 8

Inleiding

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Indien mens nie jou lewensgeluk op die regte plek soek nie, sal jy dit nooit vind nie. Wanneer mens jou lewensgeluk op die verkeerde plek soek dryf jy net al hoe verder van die ware bron van geluk af weg.

Die harde werklikheid is dat dit sonde is om lewensgeluk op die verkeerde plek te soek. Mens kan net by God ware vrede en lewensgeluk vind.

In Ps. 130 hoor ons dan ook hoe sonde die mens van God vervreem. Ons hoor ook van die Psalmdigter se intense verlange om sy gebroke verhouding wat deur sonde verbreek is, met God te herstel.

In hierdie Psalm hoor ons hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sondes oortref. Ons hoor hoe die Psalmdigter by God pleit om hom te red ten spyte van sy sondige korruptheid. Hy pleit by God op grond van sy genade en dan hoor ons hoe God antwoord op die pleidooi.

Wag op die Here en Hy sal jou bevry van die sonde slawerny.

In die eerste plek hoor ons die Psalmdigter se pleidooi:

Here red ons ten spyte van die korruptheid van ons sonde

Ons hoor hoe hy sug: “Uit die dieptes  roep  ek na U, Here.” Dan hoor ons hoe hierdie soeke na God al hoe intenser word: “luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.”

Hierdie soeke na God is alleen omdat die Psalmdigter intens bewus is van sy sonde teenoor die Here soos ons hoor in vers 3:

As U ons sondes in aanmerking sou neem, Here, wie sou dan nog bestaan?

Voordat ons nie intens bewus word van ons sonde en die verwoestende effek daarvan nie, sal daar nooit ’n ware begeerte na God wees nie.

Die rede waarom ons nie altyd werklik besef hoe ernstig sonde is en die effek wat dit op ons lewens het nie, is omdat ons dikwels net teen die simptome van sonde vaskyk.

Liefdeloosheid teenoor ons naaste, selfsug, woede, haat, onsedelikheid is alles net simptome van ’n baie dieper probleem.

Die dieper probleem is dat ons afgode dien in plaas van die ware lewende God. Die afgode in ons lewens lyk miskien anders as die afgode wat die Israeliete gedien het, maar die effek daarvan is net so verwoestend as wat dit vir Israel was. Ons verhouding met die enigste ware lewende God ly skade.

Die afgode in ons lewens is ook nie opsigself noodwendig altyd boos of sleg nie. Ons sien maklik die bose afgode raak, soos die smag na mag en die misbruik van mag. By die meeste van ons is dit nie noodwendig ’n probleem nie.

Die meeste afgode in ons lewens is baie goed vermom in dit wat eintlik mooi en goed is. Dinge soos ons my kinders, my loopbaan, my prestasies in die lewe, my vaardighede, my stokperdjie om maar enkele voorbeelde te noem.

Dit is nie verkeerd om ambisie te hê om te vorder in my loopbaan nie. Dit is nie verkeerd om my talente te gebruik om te presteer in die lewe nie. Dit is nie verkeerd om ’n stokperdjie te hê of om sport te geniet nie.

Wanneer ek egter my sekuriteit en eiewaarde in hierdie dinge begin soek dan begin ek afgode daarvan maak. Wanneer ek byvoorbeeld op my eie prestasies staat maak om vir my sekuriteit en lewensgeluk te verskaf, dan begin ek meer op dit vertrou as wat ek op God vertrou.

Die probleem lê nie daarin dat ek my kinders te lief het nie, maar eerder daarin dat ek God minder liefhet as wat ek hulle het.

Hoe bepaal ek wat is die afgode in my lewe?

Ek moet myself afvra, wat is dit in die lewe wat ek nie bereid is om op te gee nie? Wat is dit wat na my mening vir my sin en betekenis in die lewe gee? Wat is dit in die lewe waarop ek my sekuriteit bou? Wat is dit wat my kwaad maak of wat laat my benoud voel? Wat maak my moedeloos en verskaf aan my ’n skuldgevoel?

Wanneer ek op die gawes van God in die lewe begin fokus sonder om God wat dit gee raak te sien, dan maak ek selfs van die goeie dinge in die lewe afgode. Wanneer ek my vertroue nie in die Here stel nie, maar in die gawes wat Hy gee, dan is ek besig met afgodery.

Op ons eie sal ons nooit die afgode in ons lewe raak sien nie. Dit is die Heilige Gees wat dit vir ons uitwys. Dit is die Gees wat dit vir ons moontlik maak om soos die Psalmdigter na die Here te roep uit die diepte van ons ellende. Daarom moet ons bid dat die Heilige Gees ons lei en dan kan ons ook die Here aanroep en vra:

Red ons van ons sondes op grond van U genade

In Ps. 130:4 hoor ons:

Maar by U ís daar vergifnis: daarom word U steeds gedien.

God openbaar sy vergifnis aan ons deur die soenverdienste van Jesus Christus aan die kruis en sy oorwinning van die dood. Die Psalmdigter het vooruit daarna gekyk terwyl ons terugkyk na daarna. Ons en die Psalmdigter se hoop is dat ons uitsien na Jesus wat weer op die wolke sal kom om ons finaal van die pyn en leiding te kom verlos.

Dit is alleen op grond van sy offer aan die kruis dat ons kan bely: “Maar by U is daar vergifnis.” Dit is alleen op grond van hierdie genade van God dat ons kan weet dat ons nie goedkeuring en aanvaarding van God en die mense om ons moet verdien nie, omdat Jesus reeds God se goedkeuring, aanvaarding en liefde vir ons aan die kruis verdien het.

Op grond van God se liefde vir ons in Jesus Christus kan ons saam met Psalmdigter bely dat ons, ons hoop alleen op God plaas en dat ons ’n intense verlange het om saam met Hom te wees soos ons hoor in
Ps. 130:5-6

Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.

Sonder die Here se genade sal ons Hom wat die enigste ware bron van vrede en lewensgeluk is, nooit vind nie. Dit is alleen God wat dit moontlik maak omdat Hy deur sy Gees vir ons alles gee wat nodig is om op Hom te vertrou.

Dit wat die Here vir ons gee, vra Hy egter ook van ons

Hoop op God en glo sy belofte dat Hy ons sal bevry van ons sondeslawerny

In Ps. 130:7 hoor ons:

Wag op die Here, Israel, want by die Here is daar troue liefde, by Hom is die verlossing seker.

Om op die Here te wag beteken dat ons Hom moet vertrou. Dit beteken om "met groot verwagting uit te kyk." soos iemand wat op die uitkykpos staan en die horison dophou omdat hy weet die hulp is op pad.

Dit is nie net ’n kortstondige hoop nie, maar ’n doelbewuste keuse om jou fokus op die Here gevestig te hou, ten spyte van die omstandighede.

Dis nie ’n passiewe aksie van wag maar om te sien wat sal gebeur nie, maar ’n aktiewe wilsbesluit om met jou hele wese volhardend in geloof en gespanne verwagting op die Here wag vir die sekere uitkoms wat Hy gaan gee.

Ons moet op sy troue verbondsliefde vertrou wat Hy deur Jesus Christus op Golgota vir ons gewys het. Om God te vertrou beteken om te glo dat die verlossing by Hom alleen seker is, om te glo dat Jesus die enigste weg na God is soos Hy ook vir ons in Joh. 14:6 sê:

Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.

Om die Here te vertrou beteken dat Hy alleen ons van ons sondes, dit wil sê die afgode in ons lewens sal verlos soos ons hoor in Ps. 130:8:

Hy alleen sal Israel verlos van al sy sondes.

Die afgode in ons lewens maak van ons slawe deur ons afhanklik van hulle te maak. Dan soek mens jou geluk byvoorbeeld in die uitleef van jou loopbaan eerder as wat mens jou geluk by God alleen soek.

Die Here verlos ons daarvan sodat ons maar alleen ons geluk by Hom soek. Dan kan mens ook die vreugdes, gawes en talente wat die Here vir ons gee geniet in die wete dat dit ’n gawe uit God se hand is. Dan kan ons weet dat God ons lewensgeluk bepaal, want lewensgeluk is nie in ons omstandighede gevestig nie. Dit is in die persoon en karakter van God wat die hemel en die aarde geskep het gesetel.

slot

Waar vind mens ware geluk en wat keer dat ons dit vind?” Sonde beroof ons van ware lewensgeluk in die lewe omdat dit keer dat ons, ons geluk by God alleen soek.

Deur God se genade in Jesus Christus verlos Hy ons van die sonde in ons lewe. Beleef daarom hoe die wonder van God se genade die nare werklikheid van ons sonde oortref.

Soek jou vrede en lewensgeluk net by God alleen en nie in die dinge van hierdie lewe nie en geniet so die goeie in die lewe as gawes uit God se hand sonder om afgode daarvan te maak.

Soek jou vrede en lewensgeluk by die Here alleen in Jesus Christus, want die wonder van God se genade oortref die nare werklikheid van ons sonde.

Amen


04 April 2026

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons “Ek het jou onvoorwaardelik lief!”

 


Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35 ; Mat. 27:45 – 46

Teksverse: Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19: 26-28, 30; Mat 27:46

 Inleiding

Wat beteken Paasfees werklik vir ons? Volgens die winkel advertensies lyk dit of Paasfees gaan oor sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier is oeroue simbole van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier, is in die noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe.

Vir Christene is dit egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met Paasfees die kruisiging en opstanding van Jesus Christus so bietjie meer as 2000 jaar gelede wat plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.

Wat is die werklike betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons?

Hierdie betekenis kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het.

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!” en daarom gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe kruiswoorde.

Sewe is die volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons die volle omvang van Jesus se liefde vir ons.

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.

Luk. 23 v 34 : “Vader, vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Wie is Jesus se vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle wat saam geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg van onsself af.

Die korrekte antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde vyande van God is.

Die ongemaklike antwoord is dat ek Jesus se vyand is en daarmee wys die vinger direk terug na my toe!

Die troos wat ons in hierdie bede van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos ons ook hoor in Rom. 5 v 8:

Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.

Hierin sien ons hoe ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat hieruit voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my vergewe.

Is ek bereid om God se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog in vyandskap met God en my naaste?

In die tweede kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan boetvaardige mense skenk.

Saam met Jesus het is daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die vertroostende woorde van Luk. 23 v 43 gehoor:

“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Waarom het net een hierdie troos gehoor?

Slegs een het besef hoe verlore hy in sy sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander vir sy sonde blameer het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus gesmeek soos ons hoor in Luk. 23 v 42:

dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

Volhard ek nog in my sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe besef van my verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek?

Die troos wat ons in die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir diegene wat naby Hom is.

Joh. 19v26-27: “Daar is u seun ........ daar is jou moeder”

In Jesus se diepe nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die profesie van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:

En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou siel gaan

In hierdie derde kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn en lyding van elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

Die troos wat ons hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met vertroue na Hom toe kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net soos wat Johannes vir Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy kinders in sy huis opneem waar Jesus vir hulle plek voorberei het.

Na hierdie derde kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig Jesus Hom tot die mense.

Na die duisternis rig Hy Homself tot sy lyde in die vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui ook vir ons die dieptepunt van Jesus se lyding aan.

In die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.

Mat. 27v46:  “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

Deur die eeue heen hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net een geval in die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai het, toe Hy Homself van Jesus onttrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal deur God verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die uitverkorenes.

Die troos wat ons in die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde Godverlatenheid ervaar het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”

In ons swaarste aanvegtinge kan ons verseker weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar en daarom kan ons met vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe moeilik raak en kan ons vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir ons gee:

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Met die vierde kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in ons plek gedra het.

In die vyfde kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.

Joh. 19v28 “Ek is dors.”  Jesus het na liggaam en siel gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons liggaamlik en geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die lewende water kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier op aarde.

Die troos is ook verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding hier op aarde van verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en dat God self al ons trane sal afdroog.

Ons kan nou reeds troos by God vind met die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie.” soos hy ons belowe in Rom. 8 v18.

Gaan soek ons, ons troos by die Here of verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid wanneer die lewe ons omdop?

Die vierde en vyfde kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se liefde ons omdat Hy bereid was om in ons plek die smart te dra.

Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die lewe gee.

Joh. 19 v 30: “Dit is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as slaaf voltooi is en dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal deur volledig vir ons sondes te betaal.

Dit is dan ook ’n draaipunt in die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het nie meer ’n houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.

In die sesde kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg is. Al dreig my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die hoop van ’n nuwe begin saam met God.

Vir elkeen wat die sesde kruiswoord ter harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees en dat ek my lewensdoel saam met God sal bereik.

Met die sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die dood gee.

Luk. 23v46. “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.”

Met sy lewe het Jesus vir ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in die lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly vir ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons, ons kan ons nou ook in die dood veilig in die Vader se hande toevertrou, WANT die dood is nie meer ’n straf nie!

Vir die ongelowige is die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir die gelowige is die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar ons ewig saam met God sal wees.

Omdat Jesus in ons plek die straf vir die sonde gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te vrees nie en daarom kan ons vertrou dat God ons veilig sal bewaar.

Die troos wat ons hierdeur ontvang is die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte ingaan waar ek myself nie kan beskerm nie. MAAR, ek weet ek kan myself aan God se troue Vaderlike sorg toevertrou. Ek vertrou dat God my in die nuwe dag sal wakker maak.

En Jesus se opstanding wat ons vandag en elke Sondag herdenk is ons waarborg dat dit die waarheid is.

Daarom is die dood vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van heerlikheid saam met God.

Samevatting

Die ware betekenis van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het.

Met sewe kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!”

In die eerste kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons haat oorwin.

In die tweede kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom verlossing vind.

In die derde kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.

In die vierde en vyfde kruiswoorde hoor ons hoe Jesus vir ons gely het. Hy het geestelik en liggaamlik gely.

Met die vierde kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

In die vyfde kruiswoord hoor ons dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons uitsien na ’n bedeling waar daar geen lyding meer sal wees nie.

Die sesde en sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.

Met die sesde kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe begin is vir elkeen wat deur sonde ontspoor is.

In die sewende kruiswoord hoor ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van ewige heerlikheid saam met God.

Vind jou verlossing en vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die kruis vir ons gewys het en nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.

Amen