Wys tans plasings met die etiket Jesus gekruisig. Godverlatenheid. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Jesus gekruisig. Godverlatenheid. Wys alle plasings

26 Oktober 2025

Waar was God toe dit gebeur het?

 


Psalm 22 

Teksvers Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Waar was God toe dit gebeur het? Waar was God toe die inbrekers ons in ons huis oorval het? Waar was God toe die ongeluk gebeur het? Hoekom het Hy dit nie gekeer nie? So is daar so baie situasies in ons lewe wat aanleiding gee tot hierdie vrae. Elkeen van ons beleef op een of ander stadium die ellende van die lewe en dit is een van die tergendste vrae wat daar oor die lewe is. Hiermee saam probeer die satan ons oortuig dat God nie omgee nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Dit is ’n vraag wat deur al die eeue heen maar net dieselfde bly. Die omstandighede wat aanleiding tot die vraag gee het dalk verander, maar die noodroep bly dieselfde. Ons weet nie wat Dawid se omstandighede was toe hy Psalm 22 gedig het nie. Moontlik was dit toe hy vir sy lewe moes vlug toe Saul hom wou doodmaak. Moontlik daardie keer toe sy eie seun Absolom sy troon wou afneem. Ons weet nie, maar wat wel duidelik in die Psalm is, is dat dit die dieptes van ellende beskryf wat Dawid op ’n stadium ervaar het.

Die diepste nood wat ’n gelowige kan beleef is die ervaring dat God ons verlaat het. Dit is die ervaring wat Dawid verwoord in Ps. 22:2

My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?

Ons hoor hierin sy intense pyn wat hy beleef het. Die God wat my God is. Die God met wie ek ’n persoonlike verhouding het, het Hom van my onttrek. Hy was nie daar toe ek Hom nodig gehad het nie!

Sy teleurstelling is nog meer intens as ons luister na wat sy voorvaders beleef het in soortgelyke omstandighede soos ons hoor in Ps. 22:5

Op U het ons voorvaders vertrou. Hulle het vertrou en U het hulle gered

Sy ervaring is egter presies die teenoorgestelde. Hy voel soos ’n wurm, ’n voorwerp van bespotting. Sy situasie is so hopeloos dat mense vir hom lag en met hom spot omdat hy in sulke omstandighede nog steeds aan die Here bly vashou. As hy dan so baie van die Here hou, laat Hy hom dan red. So klink die spotstem van hulle wat op hul eie vermoëns staatmaak.

Tog het hy in die verlede ervaar dat God daar is. Dis dan God wat hom sy eerste lewenslig laat sien het en van sy geboorte by hom betrokke was. Dit is wat sy lyding soveel erger maak. Dit voel vir hom of God hom in die steek gelaat het.

Dit is wat lyding aan ’n mens doen. Dit laat jou voel of jy so weerloos is soos water wat uitgestort is. Dis asof jou bene uitmekaar val en jou hart so sag soos was word. Dit voel vir jou of jou lewe net so min as ’n potskerf werd is soos ons hoor in Ps. 22 v 16.

Ek is so min werd soos 'n potskerf,

my tong kleef aan my verhemelte,

U laat lê my asof ek dood is.

Hierdie beeld wat die digter gebruik, verwys na die erdepotte wat destyds in Israel gebruik is. Solank die erdepot heel is, is dit nuttig omdat mens allerlei goed daarin kan bere. Maar as dit gebreek is, is dit niks werd nie. Al wat mens met die stukkende potskerwe kan doen wat oorbly is om dit weg te gooi. Dit is wat lyding doen. Daardie gevoel dat God my in die steek gelaat het en dat ek nikswerd is nie. Groter nood kan geen mens hom voorstel nie.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Wat het Dawid gedoen? Ten spyte van sy negatiewe ervaring, vlug hy nog steeds na God toe, want hy weet daar is niemand anders wat kan help nie. Ps. 22:12 – 22 beskryf sy gebed om hulp. Hy beskryf sy lyding in beeldryke taal. Sy vyande is soos wilde beeste uit Basan wat hom omsingel. Hulle is soos verskeurende brullende leeus wat op hom afstorm.

Wat doen mens wanneer jy in so ’n situasie verkeer? Jy wend jou na God toe in gebed en jy stort jou hart teenoor Hom uit. Jy beskryf vir Hom presies hoe jy voel. Al jou emosies van woede en vrees stort jy voor die Here uit. Dit help nie om die emosies wat jy ervaar te onderdruk nie, want hulle is daar. Die Here verstaan dat jy so voel en daarom kan en moet jy dit vir Hom vertel.

Psalm 22 beskryf die intense lyding van ’n mens wat swaar gely het, maar dit beskryf ook sy dank teenoor die Here wat hom van sy smart verlos het. Alhoewel dit vir Dawid gevoel het dat die Here hom in die steek gelaat het en dit soms vir ons ook so voel, is die werklikheid dat daar net een mens in die hele geskiedenis van die mensdom is wat werklik deur God verlaat was.

In Mat 27:45-46 hoor ons hoe Jesus uitroep

45Van twaalfuur af het daar duisternis oor die hele land gekom, en dit het tot drie-uur geduur. 46Teen drie-uur het Jesus hard uitgeroep: “Eli, Eli, lemá sabagtani?” Dit is: My God, my God, waarom het U My verlaat?

God is al deur die eeue ontelbaar baie keer aangeroep met die klag: “My God, waarom het u my verlaat?” Waar was God toe dit gebeur het? Maar tog was hierdie klag nog net een keer waar, naamlik toe Jesus dit aan die kruis uitgeroep het.

Hierdie middelste van sewe kruiswoorde is die dieptepunt van Jesus se lyding. Dit volg na drie ure van duisternis en stilte waar God en mense geswyg het. Wat het in daardie drie ure gebeur? Die Seun van God het die ewige dood van Godverlatenheid gely. Daarom kan elkeen wat glo in die verlossing van Jesus Christus verseker weet dat hulle nooit weer Godverlatenheid sal ervaar nie. Daarom kon Dawid ook in hierdie gebed waar hy sy ellende in gebed teenoor God verwoord, in die laaste gedeelte God ook dank vir die verlossing wat Hy gee.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy was daar! Dit is Hy wat jou deur die krisis gedra het! Dit is Hy wat by jou is waar jy midde in die krisis staan. Dit is Hy wat die uitkoms gegee het. Dit is Hy wat jou vashou wanneer die aanslae van die lewe op hulle felste op jou afstorm. God is daar.

Ons moet verstaan dat God ons nie altyd uit die situasie neem nie. In hierdie wêreld is ons nog steeds onderwerp aan die gevolge van sonde. Die diepste nood wat ’n persoon kan ervaar, is om van God vervreem te wees. Dit is wat Jesus kom herstel het. Dit is wat Jesus kom herstel het. Met sy kruisdood en opstanding, het Hy die gebroke verhouding tussen God en mens herstel. Ons is egter nog in die wêreld en ons voel nog die nagevolge van die mens se opstand teen God. Ware vrede is nie om vry te wees van moeilike omstandighede nie, ware vrede vind ons in die teenwoordigheid van God.

Wanneer ons in moeilike omstandighede beland voel dit soms of God nie daar is nie, maar Hy is daar en dit is wat Dawid op die uiteinde ook besef het, naamlik dat God ook midde in sy moeilike omstandighede daar was. Daarom verklaar Dawid dat hy voor almal sal getuig wat God vir hom gedoen het en dit is waaroor ons ook moet getuig. Jesus het die skeidsmuur wat sonde tussen ons en God geplaas het, weggeneem en daarom kan ons verseker wees dat God ons nooit alleen sal laat nie. Deur sy Gees is Hy elke oomblik van elke dag by jou. Ons verstaan nie altyd hoekom sekere omstandighede oor ons pad kom nie, maar ons moet vertrou dat God in beheer is en dat Hy ons nooit alleen sal laat nie.

In Ps. 22:28-29 hoor ons

Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer.

Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke.

Hier sien ons dat God besig is om die gebrokenheid van die sondige wêreld te herstel. Dit is die lewende hoop waaraan ons vashou. Daar kom ’n tyd waar ons nie meer aan die ellende van hierdie wêreld onderwerp gaan wees nie. Dit gee ook vir ons ’n perspektief op die huidige werklikheid waarin ons leef. Selfs die gebrokenheid van hierdie wêreld is nie groter as God nie. Wat is die ergste wat die ergste wat met ons kan gebeur in hierdie lewe? Ons kan ons lewe verloor en selfs wanneer dit gebeur, is God steeds daar. Die liggaamlike dood is nie die einde nie, maar slegs die begin van ’n ewigheid saam met God. Daarom hoef ons ook nie die dood te vrees nie.

Waar was God toe dit gebeur het? Hy is daar. Hy laat ons nooit alleen nie, selfs al voel dit soms of Hy nie daar is nie. Wanneer dit voel of God jou verlaat het, neem steeds jou toevlug tot Hom. Jesus het eenmaal ware Godverlatenheid ervaar sodat elkeen wat in Hom glo nooit weer sonder God sal wees nie. Wanneer die lewe vir jou te veel word, stort jou hart teenoor Hom uit en weet dat Hy daar is en dat Hy jou nooit alleen sal laat nie. Selfs al gebeur dit dat jou lewe geneem word is Hy steeds daar.

Wanneer jy in jou nood na God toe vlug en nie weg van Hom af nie sal jy ’n nuwe perspektief daarop ontdek sodat jy Hom selfs midde in jou nood kan loof en prys. Hou in vertroue vas aan God se genade en weet dat Hy daar is, selfs al voel dit nie altyd so nie.

Amen