Skriflesing: Luk. 23:13 – 43 ; Joh. 19:17-35 ; Mat. 27:45 – 46
Teksverse:
Luk. 23;34, 43, 46; Joh. 19: 26-28, 30; Mat 27:46
Inleiding
Wat beteken Paasfees
werklik vir ons? Volgens die winkel advertensies lyk dit of Paasfees gaan oor
sjokolade paashase en sjokolade eiers. Die haas en die eier is oeroue simbole
van vrugbaarheid, want die tydperk waarin ons Paasfees vier, is in die
noordelike halfrond vroeë lente, ’n tydperk van nuwe lewe.
Vir Christene is dit
egter nie waaroor Paasfees gaan nie. Christene herdenk met Paasfees die
kruisiging en opstanding van Jesus Christus so bietjie meer as 2000 jaar gelede
wat plaasgevind het in die tyd wat Joodse Paasfees gevier is.
Wat is die werklike
betekenis van Jesus se kruisiging en opstanding vir ons?
Hierdie betekenis kom
duidelik na vore uit die sewe kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek
het.
Met sewe
kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!” en daarom
gaan ons vanoggend stilstaan by die sewe kruiswoorde.
Sewe is die
volheidsgetal van God en met sewe kruiswoorde hoor ons die volle omvang van
Jesus se liefde vir ons.
In die eerste
kruiswoord bid Jesus vir sy vyande.
Luk. 23 v 34 : “Vader,
vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie!”
Wie is Jesus se
vyande? Die maklike antwoord is hulle wat Hom gekruisig het. Hulle wat saam
geskree het “kruisig Hom!” Daarmee wys ons gerieflik die vinger weg van onsself
af.
Die korrekte
antwoord is dat alle mense as gevolg van sonde vyande van God is.
Die ongemaklike
antwoord is dat ek Jesus se vyand is en daarmee wys die vinger direk terug
na my toe!
Die troos wat ons in
hierdie bede van Jesus vind is dat Hy ook vir my aan die kruis gesterf het soos
ons ook hoor in Rom. 5 v 8:
Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin
dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.
Hierin sien ons hoe
ware liefde van God haat oorwin. Die verantwoordelikheid wat hieruit
voortspruit is dat ek ook my vyande moet vergewe soos wat God my vergewe.
Is ek bereid om God
se liefde in my lewe te laat werk of leef ek nog in vyandskap met God en my
naaste?
In die tweede
kruiswoord sien ons Jesus se liefde in die verlossing wat Hy aan boetvaardige
mense skenk.
Saam met Jesus het is
daar twee misdadigers gekruisig. Een van hulle het die vertroostende woorde van
Luk. 23 v 43 gehoor:
“Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My
in die paradys wees.”
Waarom het net een
hierdie troos gehoor?
Slegs een het besef
hoe verlore hy in sy sonde is terwyl die ander een Christus gespot het en ander
vir sy sonde blameer het. Die een wat gered is het in diepe ootmoed by Jesus
gesmeek soos ons hoor in Luk. 23 v 42:
“dink aan my
wanneer U in u koninkryk kom.”
Volhard ek nog in my
sonde waar ek alles en almal blameer of het ek al tot die diepe besef van my
verlorenheid gekom sodat ek by Jesus verlossing kan soek?
Die troos wat ons in
die tweede kruiswoord ontvang is Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by
Hom verlossing vind.
In die derde
kruiswoord hoor ons die ware vertroosting van Jesus se liefde vir diegene wat
naby Hom is.
Joh. 19v26-27: “Daar
is u seun ........ daar is jou moeder”
In Jesus se diepe
nood dink Hy nie aan homself nie, maar sien Hy steeds die pyn en lyding van
hulle wat vir Hom dierbaar is raak. Met hierdie kruisgebeure het die profesie
van Simeon aan Jesus se moeder waar geword:
En wat jou betref, ’n swaard sal deur jou
siel gaan
In hierdie derde
kruiswoord sien ons Jesus se liefde raak in sy omgee vir die pyn en lyding van
elkeen wat naby Hom is. Sy liefde bied ware vertroosting omdat Hy empatie het
met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.
Die troos wat ons
hierin vind is dat Jesus ook vir ons omgee en dat ons met vertroue na Hom toe
kan gaan vir troos wanneer ons pyn en lyding ervaar. Net soos wat Johannes vir
Maria in sy huis geneem het, sal ons hemelse Vader al sy kinders in sy huis opneem
waar Jesus vir hulle plek voorberei het.
Na hierdie derde
kruiswoord was daar drie uur duisternis. Voor die duisternis rig Jesus Hom tot
die mense.
Na die duisternis rig
Hy Homself tot sy lyde in die vierde en vyfde kruiswoorde. Die duisternis dui
ook vir ons die dieptepunt van Jesus se lyding aan.
In die vierde
kruiswoord hoor ons Jesus se uitroep van Godverlatenheid.
Mat. 27v46: “My God, my God, waarom het U My verlaat?”
Deur die eeue heen
hoor ons hoe mense kerm van Godverlatenheid. Daar was egter net een geval in
die geskiedenis waar God werklik sy rug op iemand gedraai het, toe Hy Homself
van Jesus onttrek het. Dit is wat die ware hel is, naamlik om totaal deur God
verlaat te word. Daardeur het Jesus die volle straf gedra van die
uitverkorenes.
Die troos wat ons in
die vierde kruiswoord ontvang is dat Jesus uit liefde Godverlatenheid ervaar
het sodat ons nooit hoef uit te roep: “My God, my God, waarom het U My
verlaat?”
In ons swaarste
aanvegtinge kan ons verseker weet dat God ons nooit alleen laat nie. Hy is daar
en daarom kan ons met vertroue by hom hulp en skuiling soek wanneer die lewe
moeilik raak en kan ons vashou aan sy belofte wat Hy in Rom. 8 v 38 – 39 vir
ons gee:
Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of
engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of
diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei
nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Met die vierde
kruiswoord hoor ons Jesus se liefde in sy geestelike lyde wat Hy in ons plek
gedra het.
In die vyfde
kruiswoord hoor ons van Jesus se liggaamlike lyde.
Joh. 19v28 “Ek is
dors.” Jesus het na liggaam en siel
gely en daarmee bewys Hy sy liefde vir ons deurdat Hy ons liggaamlik en
geestelik verlos. Hiermee kry ons die troos dat ons by Jesus die lewende water
kan kry wat vir ons ’n lafenis vir ons lyding en droefheid hier op aarde.
Die troos is ook
verder dat Jesus ons daarmee verseker dat die lyding hier op aarde van
verbygaande aard is. Ons sien daarna uit om na hierdie lewe vir ewig by God te
wees waar daar geen hartseer pyn of lyding sal wees nie en dat God self al ons
trane sal afdroog.
Ons kan nou reeds
troos by God vind met die sekere wete dat “die lyding wat ons nou moet
verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal
laat aanbreek nie.” soos hy ons belowe in Rom. 8 v18.
Gaan soek ons, ons
troos by die Here of verval ons nog steeds in ’n troostelose moedeloosheid
wanneer die lewe ons omdop?
Die vierde en vyfde
kruiswoorde was uitroepe van smart en daarmee troos Jesus se liefde ons omdat
Hy bereid was om in ons plek die smart te dra.
Die sesde en sewende kruiswoorde
is uitroepe van oorwinning.
In die sesde
kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde vir ons ’n nuwe begin in die lewe gee.
Joh. 19 v 30: “Dit
is volbring!” Hiermee sê Jesus vir ons dat sy werk as slaaf voltooi is en
dat sy werk as Koning begin. Hy het die oorwinning behaal deur volledig vir ons
sondes te betaal.
Dit is dan ook ’n
draaipunt in die wêreldgeskiedenis. Die mag van die sonde is gebreek. Sonde het
nie meer ’n houvas op ons nie. Ons het nou ’n nuwe lewe saam met God.
In die sesde
kruiswoord hoor ons hoe Jesus se liefde die troos op ons lewensweg is. Al dreig
my lewe om sy doel te mis en doelloos te wees is daar vir my die hoop van ’n
nuwe begin saam met God.
Vir elkeen wat die
sesde kruiswoord ter harte neem is daar die hoop dat my lewe sinvols sal wees
en dat ek my lewensdoel saam met God sal bereik.
Met die
sewende kruiswoord sê Jesus vir ons dat Hy nou ’n nuwe betekenis aan die dood
gee.
Luk. 23v46. “Vader,
in u hande gee Ek my gees oor.”
Met sy lewe het Jesus
vir ons gewys hoe om te leef. Nou wys Hy vir ons hoe om te sterf. Een ding in
die lewe is seker, naamlik dat ons gaan sterf. Dit wat agter die dood lê bly
vir ons ’n onsekerheid. Hier wys Jesus vir ons, ons kan ons nou ook in die dood
veilig in die Vader se hande toevertrou, WANT die dood is nie meer ’n straf nie!
Vir die ongelowige is
die dood ’n absolute hopeloosheid en ’n einde aan alles. Vir die gelowige is
die dood egter slegs ’n deurgang na ’n volgende bedeling waar ons ewig saam met
God sal wees.
Omdat Jesus in ons
plek die straf vir die sonde gedra het hoef ons nie God se woede in die dood te
vrees nie en daarom kan ons vertrou dat God ons veilig sal bewaar.
Die troos wat ons
hierdeur ontvang is die wete dat ek nou in ’n toestand van onsekere donkerte
ingaan waar ek myself nie kan beskerm nie. MAAR, ek weet ek kan myself aan God
se troue Vaderlike sorg toevertrou. Ek vertrou dat God my in die nuwe dag sal
wakker maak.
En Jesus se
opstanding wat ons vandag en elke Sondag herdenk is ons waarborg dat dit die
waarheid is.
Daarom is die dood
vir die gelowige nie die einde nie, maar ’n deurgang tot die nuwe dag van
heerlikheid saam met God.
Samevatting
Die ware betekenis
van Jesus se kruisdood en opstanding kom duidelik na vore uit die sewe
kruiswoorde wat Jesus aan die kruis uitgespreek het.
Met sewe
kruiswoorde sê Jesus vir ons
“Ek het jou onvoorwaardelik lief!”
In die eerste
kruiswoord bid Jesus vir sy vyande en daarin sien ons hoe God se liefde ons
haat oorwin.
In die tweede
kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde vir verlore sondaars wat by Hom
verlossing vind.
In die derde
kruiswoord hoor ons van Jesus se liefde wat ware vertroosting bied omdat Hy
empatie het met die seer wat ons in hierdie wêreld ly.
In die vierde en
vyfde kruiswoorde hoor ons hoe Jesus vir ons gely het. Hy het geestelik en
liggaamlik gely.
Met die vierde
kruiswoord hoor ons van sy Godverlatenheid sodat ons nooit deur God verlaat
sal word nie.
In die vyfde
kruiswoord hoor ons dat niks ons van sy liefde kan skei nie en dat ons
uitsien na ’n bedeling waar daar geen lyding meer sal wees nie.
Die sesde en
sewende kruiswoorde is uitroepe van oorwinning.
Met die sesde
kruiswoord hoor ons dat daar ’n nuwe begin is vir elkeen wat deur sonde
ontspoor is.
In die sewende
kruiswoord hoor ons dat die dood vir die gelowige nie die einde is nie,
maar ’n deurgang tot die nuwe dag van ewige heerlikheid saam met God.
Vind jou verlossing en
vertroosting in die liefde van Jesus wat Hy aan die kruis vir ons gewys het en
nie in die oppervlakkigheid van hierdie wêreld nie.
Amen