06 November 2012

God bereik sy doel ten spyte van die mens se beste pogings om dit te dwarsboom


21 Okt. 2012 (RB)
Gen. 11; Teksverse Gen. 11:5 & 7
Sing    Lofsang: Ps. 48 v 1               (OAB)
           Na wet:    Ps. 32 v 1               (OAB)
           Na gebed  Ps. 42 v 1             (OAB)
           Slotsang  Ps. 30 v 1               (OAB)

Inleiding
Ons leef vandag in ’n moderne wêreld wat baie ver verwyderd van Babel is. Ons het selfone, televisies, internet en nog veel meer produkte van ons moderne tegnologie tot ons beskikking. Dinge wat in die tyd van Babel ondenkbaar was. Ten spyte van ons totaal anderse leefwêreld is daar tog sekere dinge van die menslike natuur wat nie verander nie en wat by ons en by Babel teenwoordig was. Die wyse woorde van die Prediker is baie waar soos ons in Pred.1:9 hoor:
Wat was, sal weer wees; wat gebeur het, sal weer gebeur. Daar is niks nuuts in hierdie wêreld nie.

Die mens is vandag in hierdie moderne wêreld nog steeds net so opstandig teenoor God as wat hulle in die antieke wêreld van Babel was. In hierdie verhaal van Babel hoor ons hoe die nageslag van Noag nog steeds net so opstandig teenoor God is as wat die mensdom voor die vloed was. Ons hoor hoe die mens absoluut verhard is in sy sonde, maar dat God nog steeds ten spyte daarvan sy genade aan die mens betoon. In hierdie verhaal is daar as te ware twee bedrywe. Die eerste bedryf beskryf vir ons die mens se optrede en sy opstandigheid teenoor God en die tweede bedryf beskryf vir ons God se reaksie op die mens se optrede.

Die mens se opstandigheid teen God.
Van die begin af was die mens opstandig teenoor God ten spyte daarvan dat God net liefde teenoor die mens betoon het. Adam en Eva het daarmee begin toe hulle God se bevel verontagsaam het daar in die Paradys. Hulle kinders het maar net daarmee voort gegaan met Kain wat sy broer Abel vermoor het. Hulle nageslag het so boos geword dat God spyt gekry het dat Hy die mensdom gemaak het. Nadat God weer nuut begin het met Noag, het sy nageslag maar net weer voortgegaan met hul opstand teenoor God.

In Gen. 11:2 hoor ons hoe die mense ooswaarts getrek het totdat hulle by ’n vlakte in Sinar uitgekom het wat vandag as Irak bekend staan. Om ooswaarts te trek beteken om van God se seën af weg te trek na ’n land waar jou hoop verydel sal word soos dit ook die geval met Lot was wat ooswaarts na Sodom en Gemora getrek het.

In Gen. 11:3 hoor ons hoe die mense met mekaar ooreenkom om die tegnologie wat hulle ontwikkel het, te gebruik om ’n stad te bou. In Gen. 11:4 hoor ons waarom hulle die stad wou bou.
Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”

Daar was twee redes waarom hulle die stad wou bou. In die eerste plek wou hulle vir hulself ’n naam maak. Hierin sien ons duidelik hoe die fokus van God af weg skuif na die mens toe. Dit is die wortel van sonde wat reeds by Adam en Eva begin het. Hulle wou net soos God wees. Die kern van sonde is dat die mens nie bereid is om God se gesag in sy lewe te aanvaar nie. Die gevolg daarvan is duidelik. Ongehoorsaamheid aan God se opdragte. God het reeds in die begin die opdrag gegee dat die mens oor die aarde moet versprei om dit te bewerk soos ons hoor in Gen. 1:28:
Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”
Hierdie opdrag word weer aan Noag en sy seuns herhaal soos ons hoor in Gen. 9:1:
God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde.

Hieruit is die opstand teen God baie duidelik. Die mens doen net mooi die teenoorgestelde van dit wat God beveel. Die mens wil homself maar net nie aan God onderwerp nie. Hy vertrou net op homself en sy vermoëns en weier om homself aan God te onderwerp. Dit is vandag nog net soos dit in die tyd van Babel was. In Babel het die mense hulle tegnologie gebruik om strukture te skep waarin hulle hul vertroue kon plaas. Hulle het ’n toring gebou wat tot in die hemel moes ryk sodat hulle nie meer vir God nodig gehad het om daar te kom nie. Hulle kon nou deur hulle eie vernuf daar kom, nie om God te ontmoet nie, maar om self god te wees.

Dit is maar net soos die mens vandag nog is. Ons leef in ’n tegnologiese eeu en mens hoor al hoe meer die argument dat ons moderne tegnologie God oorbodig gemaak het. Daar is ’n al hoe sterker neiging van mense om van die wetenskap ’n godsdiens te maak, alhoewel hulle dit nooit as sulks sal beskryf nie. Ons mag nou wel dalk dink dat dit dalk waar is van die ongelowiges daar buite, maar dit is tog sekerlik nie ’n probleem by ons nie! Die feit is egter dat ons dalk nie soos die geharde ateïste die bestaan van God ontken nie, maar dat ons wel dikwels so leef asof Hy nie bestaan nie. Ons plaas ons vertroue in ons eie vermoëns en vernuf. Ons leef al hoe meer vir onsself en die wêreld en beweeg sodoende al hoe verder van God af.

Die mense van Babel het die bevel van God verontagsaam om die hele aarde te vul. Hulle het op een plek saamgekoek en sodoende God se doel om sy koninkryk oor die hele aarde te versprei probeer dwarsboom. Die kerk doen vandag nog steeds dieselfde! Jesus se opdrag aan sy kerk net voor sy hemelvaart was “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Hoe dikwels ignoreer die kerk nie hierdie opdrag nie? Maak ons nie ook soos die mense van Babel nie? Broei ons mekaar nie ook maar net warm nie, en voer nie die opdrag van die Here uit nie?

God antwoord met genade op die mens se opstandigheid
Wat was God se reaksie op die opstandigheid van Babel? Ons hoor in Gen. 11:5:
Die Here het afgekom om te kyk na die stad en die toring wat die mense vir hulle gebou het
Is dit ironies nie? Ten spyte daarvan dat die mense ’n toring gebou het wat tot in die hemel strek, moes God steeds afgaan! God is en sal altyd ver verhewe bo die mens wees.

God het afgekom om te kyk en Hy het gevind dat die een taal wat die mense gepraat het hulle in hul opstandigheid saamgebind het. Hy was bekommerd dat dit sal veroorsaak dat hierdie samehorigheid hulle so ver sal wegdryf van Hom af dat hulle vir ewig verlore sal gaan. Daarom tree God op. Hy verwar hul taal en verstrooi hulle sodoende oor die hele aarde. Dit wat hulle nie wou doen nie het God kom doen.

Wanneer die mens in opstand teen God kom en van die Hom af wegdraai, dan los God nie die mens nie. Die mens en die aarde waarop ons woon is so ’n stoffie gemeet teen die grootsheid van die heelal en die grootsheid van God dat dit aan God geen verskil sal maak om die mens maar net te ignoreer nie. Dit sal egter vir die mens katastrofies wees as God dit sou doen. Hy doen dit egter nie. Hy kom af na die mens toe deur self mens te word soos ons hoor in Joh. 1:14:
Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.
Die rede daarvoor hoor ons in Joh. 1:12:
Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.

Dit is die evangelie, die goeie nuus wat ons as sy kerk in die wêreld moet uitdra. Die mense van Babel was ongehoorsaam en daarom het hulle die pynlike gevolge daarvan ervaar. Hulle taal is verwar en hulle is verstrooi oor die wêreld. As ons as kerk van die Here ongehoorsaam is aan sy opdrag, dan moet ons nie verbaas wees as dit met ons swaar gaan nie. God gebruik soms tydelike lyding om vir ons ’n ewige heerlikheid te verseker. ’n Kerk wat nie aktief betrokke is by sending en die uitbrei van God se koninkryk nie mag dalk net soos die mense van Babel verstrooi word. Onthou, God bereik sy doel ten spyte van die mens se beste pogings om dit te dwarsboom.

Hoe kry ons dit reg om aan God se opdrag gehoorsaam te wees? Ons moet erns maak met Jesus. As Jesus ’n werklikheid in ons lewens is, sal ons nie anders kan as om teenoor die hele wêreld daarvan te getuig nie. Kom na Jesus toe sodat Hy die vuur en ywer om die evangelie uit te dra in ons harte aan die brand kan steek.
Amen