Skrif: 2 Kor. 4:16 – 5:10 – teksvers 2 Kor. 4:17
Ons lewenspad hier op aarde is nie altyd
maklik nie. Seker een van die moeilikste dinge is om te aanskou hoe ’n geliefde
deur ouderdom afgetakel word. Om te sien hoe sy verstandelik en liggaamlik
agteruit gaan waar die wêreld vir haar verander in ’n vreemde, onveilig plek
waar niks meer bekend voel nie.
Dit kan maklik die vraag laat ontstaan:
“Hoekom?” Hoekom moet die lewe soms so moeilik en moeisaam wees? Die Here gee
vir ons deur sy dienaar Paulus ’n antwoord op hierdie vraag. In 2 Kor. 4:16
& 17 hoor ons:
Al
is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir
ons uit op 'n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.
Hier moet ons nie misverstaan nie. Die Here
sê nie hier dat ons swaarkry sommer net niks is nie. Hy gee perspektief. In die
eerste plek sê gee die Here vir ons die troos: “Al is ons uiterlik besig om
te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe” Selfs wanneer dit
vir jou voel of jy nie meer kan nie, het Hy jou nie vergeet nie. Wanneer
ouderdom liggaam en brein begin afbreek en dit vir jou voel of jy nie meer kan
vashou nie, is God daar. Die troos lê daarin dat dit nie gaan oor hoe sterk ons
aan God vashou nie, maar in hoe styf God ons vashou. God gee vir ons die krag
om deur dit te kom deurdat Hy ons dag vir dag vernuwe.
In die tweede plek gee die Here vir ons
perspektief ten opsigte van ons lewe nou en die ewigheid wat vir ons wag. Die
lewensduur van ’n mens hier op aarde is miskien sewentig of tagtig jaar, maar
in vergelyking met die ewigheid is dit “maar gering”. Dink so daaraan.
As ons ’n potloodstreep sou kon trek van so ver as wat mens met die sterkste
teleskoop (ongeveer 93 biljoen ligjare) dan is die sewentig of tagtig jaar wat
ons hier op aarde leef nie eens ’n potloodpuntjie op daardie lyn nie.
Wat ons nou hier sien is die sigbare, maar
die Here sê vir ons dat ons verder moet kyk na die vir nou onsigbare ewigheid.
Om dit te verduidelik gee die Here vir ons die vergelyking van om in ’n tent te
bly teenoor vaste gebou. ’n Tent wat al ’n paar jaar in die wind en weer moet
staan raak redelik verweer. Die seil kry gate in en die tentpale raak gebuig
deur die wind en die storms. En dit is hoe dit met ons gaan. Die lewe stel sy
eise en hoe ouer ons word, hoe meer verweer raak ons en dit laat mens inderdaad
sug na iets beter, soos ons 2 Kor. 5:2 hoor:
Terwyl
ons in die tentwoning leef, sug ons, want ons verlang daarna dat ons woning uit
die hemel ons sal oordek.
Die belofte wat die Here hier gee van ’n
vaste gebou, is ’n ewige tuiste saam met Hom. In Openbaring 21:3 & 4 gee
die Here vir ons net so ’n voorsmakie van hoe ons ewige tuiste saam met Hom
gaan wees:
Toe
het ek 'n harde stem van die troon af hoor sê: “Kyk, die woonplek van God is
nou by die mense. Hy sal by hulle bly; hulle sal sy volke wees, en God self sal
by hulle wees as hulle God. Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood
sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie.
Die dinge van vroeër het verbygegaan.”
Om dit raak te sien moet ons met ons
geloofsoë verby die sigbare hier en nou, verby die verweerde tentwoning kyk.
Die Here sê vir ons hier om verby die swaarkry van hierdie lewe te kyk. Kyk
verby die aftakeling van ouderdom na hoe God alles nuut gaan maak. Sien die
groter prentjie raak.
Die vraag is nou: “Hoe weet ons dat dit die
waarheid is?” Dit is waar, want God wat die hemel en die aarde geskep het gee
vir ons die waarborg deur die Heilige Gees soos ons hoor in 2 Kor. 5:5:
Hy
wat ons vir hierdie oorgang voorberei het, is God. As waarborg hiervan het Hy
ons sy Gees gegee.
Die Griekse woord wat in Afrikaans met “waarborg”
vertaal is beteken letterlik ’n deposito, ’n deel van die volle koopsom wat
vooraf reeds betaal word. Dit gee ’n vaste waarborg van God se teenwoordigheid
in ons lewens. Dit is God self wat ons voorberei vir die oorgang van aardse
lewe na die heerlikheid omdat Hy nou reeds nou iets van daardie toekom gee,
naamlik sy Gees as die ’n deposito en waarborg.
Ons sien en ervaar so ietsie van God se
teenwoordigheid, want selfs wanneer ons liggame afgebreek word deur ouderdom en
siekte en swaarkry, is dit Heilige Gees wat ons dag tot dag vernuwe deur vir
ons geestelike krag te gee om aan te gaan. Dit is ook die Heilige Gees wat
daardie verlange in ons na die vaste ewige woning saam met God gee.
Dis die troos wat die Here vir ons gee. In
hierdie lewe is ons nie alleen nie. God stap die pad saam met ons. Die Heilige
Gees is saam met jou daar waar dit goed gaan met jou en die lewe vol vreugde
is, maar veral daar waar die lewe moeilik raak. Daarmee saam ook die waarborg
dat die gebrokenheid van hierdie lewe nie die finale werklikheid vir ons is
nie. Dit is maar net ’n tydelike tentwoning totdat ons hiervandaan gaan na ons
ewige woning saam met God, waar die verdriet en swaarkry van hierdie lewe nie
meer deel van ons lewens sal wees nie.
Hierdie troos is egter net waar vir diegene
wat glo dat Jesus Christus jou enigste Verlosser en Saligmaker is. Indien jy
glo dat Jesus vir jou sondes aan ’n vervloekte kruishout gesterf het en dat Hy
deur sy opstanding vir jou lewe gee omdat Hy die dood oorwin het, kan jy ook
vashou aan hierdie troos.
Dis die troos en lewende hoop waaraan
gelowiges vashou en daarom hoef ons ook nie bang te wees vir 2 Kor. 5:10 nie.
Ons moet immers almal
voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang volgens wat
hy tydens sy aardse lewe gedoen het, of dit nou goed was of kwaad.
Dit is ’n harde werklikheid, dat almal voor
die regterstoel van Christus sal staan, maar vir die wat in Christus daar
verskyn is daar geen veroordeling nie soos ons Rom. 8:1 hoor omdat die oordeel
reeds verby is volgens Joh. 5:24. Ons staan daar met vrymoedigheid en nie met
vrees nie (1 Joh. 4:17) want Christus self staan vir ons in (1 Joh. 2:1).
Wanneer ons as gelowiges van ’n geliefde
afskeid neem wat na haar ewige woning saam met God verhuis het, is ons hartseer
want haar plekkie in ons lewens is nou leeg, maar wanneer ons afskeid neem,
treur ons nie soos hulle wat geen hoop het nie, want ons kyk met geloofsoë
verby die sigbare werklikheid van hierdie lewe se gebrokenheid na die onsigbare
ewige heerlikheid wat vir ons wag.
Amen.

Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking